Johannes 13: 1-7

Teksgedeelte: Johannes 13:1-17

Fokusvers: V14

Tema: Christus het ons gedien, skoongewas en deel gemaak van Hom, daarom moet ons ook die mense rondom ons dien.

Hoofpunt 1: Die nederige gesindheid van ʼn dienskneg waarmee Christus ons gedien het.

Hoofpunt 2: Hierdie bediening behels dat Hy ons heeltemal skoon gewas het en deel gemaak het van Hom.

Hoofpunt 3: Ons moet nou as Christene die mense rondom ons met dieselfde nederige gesindheid dien.

Inleiding:

Het iemand al ooit vir jou die volgende woorde gesê: “Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie”? As ʼn mens mooi oor hierdie stelling dink, is die persoon eintlik besig om te sê: “moet nie my voorbeeld volg nie” of “ ek weet wat ek doen is verkeerd, moet dit nie ook doen nie”.

In die gedeelte wat ons vandag gelees het, sien ons dat ons Here Jesus presies die teenoorgestelde doen. In ons fokusvers lees ons woorde wat eerder beteken: “doen soos wat ek gedoen het” of “volg my voorbeeld”.

Hierdie is wel meer as net praktiese dinge wat ons moet doen. Dit is eerder ʼn voorbeeld van ʼn gesindheid of lewensingesteldheid wat alle Christene behoort te hê. As dit net ʼn praktiese voorbeeld was, sou ons baie meer gereeld mekaar se voete gewas het.

Agtergrond

Voordat ons kyk na hierdie gebeurtenis, en wat dit beteken, kom ons kyk eers na die agtergrond waarvan ons lees in vers 1 en 2. Jesus en sy dissipels is in Jerusalem en hulle eet ʼn maaltyd saam. Dit vind plaas voor die fees van die Pasga. Dit is ʼn fees waar elke gesin in Israel ‘n lam moes slag en dit moes eet saam met bitter kruie en ongesuurde brood. Die Jode moes gedurende hierdie fees in besonder terugdink hoe God hulle uit Egipteland, waar hulle slawe was, verlos het.

Ons lees ook dat hierdie maaltyd plaasvind op die aand voor Jesus se kruisiging. Jesus weet dat sy uur gekom het om vanaf die wêreld oor te gaan na sy Vader toe. Jesus gebruik dan hierdie besonderse “laaste aand” voor sy kruisiging om sy dissipels voor te berei, nie net vir die kruisiging nie, maar vir die tydperk na die kruisiging.

Wanneer die verheerlikte Jesus aan hulle verskyn na die kruisiging, stuur Hy hulle uit om sy kerk te stig. Hierdie gesprek en voorbeeld is daarom baie belangrik vir die dissipels se bedieningswerk met die stigting van die vroeë kerk. Jesus het hierdie aand gebruik om vir hulle ʼn belangrike gesindheid of beginsel te leer wat hulle in hulle bediening moet hê.

Maar wat behels hierdie belangrike beginsel?

Om dit makliker te kan onthou, gaan ons na die teks kyk volgens drie punte, naamlik:

  • Punt 1: Die nederige gesindheid van ʼn dienskneg waarmee Christus gedien het. (Verse 3-5)
  • Punt 2: Hierdie bediening behels dat Hy sy kinders heeltemal skoon gewas het en deel gemaak het van Hom. (Verse 6-10)
  • Punt 3: Ons moet nou as gelowiges die mense rondom ons dien met dieselfde nederige gesindheid. (Verse 11-17)

Punt 1: Die nederige gesindheid van ʼn dienskneg waarmee Christus gedien het. (Verse 3-5, 16-17)

In vers 3 lees ons dat alles in Jesus se hande oorgegee is. Daar staan ook dat Hy van God af kom en na God toe teruggaan. Met ander woorde, ons lees van sy goddelikheid en van sy almag. Jesus is God, wat homself nie net tot die gestalte van ʼn mens verneder het nie, maar tot die van ʼn dienskneg.

In vers 4 en 5 word die praktiese uitbeelding van die werk van ʼn dienskneg beskryf in wat Jesus vir sy dissipels gedoen het. Jesus trek sy bokleed uit, omdat Hy nou gaan werk. In daardie dae het die mense ʼn mooi bokleed gedra wat amper soos ʼn jas of ʼn mantel was, om die klere wat hulle daaronder aangehad het, te bedek. Hierdie onderklere was nie so mooi nie en dit was amper vernederend om daarin gesien te word. Hierna was Jesus die dissipels se voete. In daardie dae was dit ʼn taak wat vir slawe gegee is om te doen. Die mense van daardie tyd het gereeld baie ver gestap. Hulle skoene was ook nie so gemaklik soos die van vandag nie en was waarskynlik soortgelyk aan sandale. Vuil en seer voete was daarom ʼn baie algemene ding en slawe moes gereeld hulle meesters se voete was.

Vers 3 en vers 4-5 staan dus langs mekaar om ʼn punt te bewys. Vers 3 verklaar Jesus se posisie as God en koning, waarna vers 4 en 5 dadelik beskryf hoe Jesus die werk van ʼn slaaf doen. Jesus doen dinge wat nie hoort by ʼn koning nie, nog minder by God. Waarom doen Jesus dit? Gewoonlik is die belangrikste mense eerder die wat gedien word, nie die wat dien nie. ʼn Koning is iemand wat baie diensknegte het en wat self gedien word, nie een wat ander dien nie.

Die punt wat hierdie verse probeer oordra, is die volgende: die koninkryk van God werk anders. In hierdie koninkryk is die belangrikste mense nie die wat gedien word nie, maar eerder die wat ander dien. Ons lees in vers 16 van ons teksgedeelte dat ʼn eienaar nie belangriker is as ʼn slaaf nie. Die koninkryk van God is nie gevul met mense wat vir hulleself lewe nie. Dit is nie gevul met mense wat lewe om gedien te word nie, maar eerder met mense wat lewe om ander te dien. Dit is nie gevul met mense wat dink hulle is belangriker as ander nie.

As gelowiges is ons deel van hierdie koninkryk. Ons is deel van die kerk van God. Ons het daarom ook dieselfde verantwoordelikheid as die dissipels van vroeër, net soos die dissipels moet ons ook hierdie gesindheid of beginsel in ons lewens toepas.

Ons raak gereeld vasgevang in hierdie wêreld se “selfvervullende praktyke”. Ons wil graag die korporatiewe leer klim, graag dinge doen en besluite maak wat ons belangriker maak, wat vir ons meer mag en krag gee. Dinge wat vir ons meer aansien gee, selfs in die kerk. Ons gaan dalk kerk toe net vir die aansien, net om te lyk soos ʼn goeie mens. Ons bou graag eerder aan ons eie klein koninkrykies, eerder as wat ons bou aan ander, eerder as wat ons bou aan die koninkryk van God.

Jesus, wat almagtig en wat koning is, het gedurende sy lewe op aarde onselfsugtig opgetree en die mense rondom Hom gedien. Hierdie bediening vind natuurlik sy klimaks in sy bedieningswerk aan die kruis. Paulus verduidelik hierdie baie duidelik in Fil. 2 vers 5 tot 11. “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader”.

Alles wat hierdie bedieningswerk vir ons beteken, word verder verduidelik en uitgebrei in die volgende verse van ons teksgedeelte en dit is ook ons tweede punt.

Punt 2: Hierdie bediening behels dat Hy sy kinders heeltemal skoongewas het en deel gemaak het van Hom. (Verse 6-10)

Van vers 6 tot 10 lees ons van ʼn gesprek wat ons Here Jesus en Petrus met mekaar het. Ons sien dat Petrus dit ook vreemd vind dat sy meester nou sy voete gaan was. Hy dink net soos meeste van ons ook sou: my Here moet nie my voete was nie, ek moet eerder sy voete was. Daarom se Petrus vir Jesus dat Hy nooit sy voete sal was nie, tot in alle ewigheid nie. Jesus se antwoord hierop is werklik besonders. Hy sê vir Petrus: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie”.

Wat beteken hierdie stelling? Dit beteken dat ons nie onsself kan red nie. Om deel te hê aan Christus, om deel te hê aan die ewige lewe, om deel te hê aan sy verlossingswerk, moet ons eers deur Hom gewas word. Ons moet gewas word, want ons is vuil. Ja, selfs ons beste dade is met sonde besmet. Ons staan almal skuldig voor God en is afhanklik van ons Here Jesus se bediening aan ons om skoon gewas te word.

Jesus het ons gewas deur die straf vir ons sonde te dra. Hierdie straf het sy klimaks aan die kruis bereik. Jesus het aan die kruis ware godverlatenheid ervaar. God se toorn en straf vir ons sondes is op Hom uitgestort. Christus het ons op hierdie manier meer gedien as wat denkbaar is. Hierdie is die grootse en beste manier waarop ons gedien is en ooit gedien sal kan word.

Toe Petrus besef dat Jesus nie net praat van voete was nie, verander Petrus se gesindheid heeltemal. Hy besef toe hoe groot sy sonde is en hoe afhanklik hy van die Here is. Hy antwoord toe vir Jesus en sê: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig”, maar Jesus antwoord hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon”. Die 33-53 vertaling sê: “iemand wat gewas is, is heeltemal rein”.

Is dit nie wonderlik nie? Hierdie beteken dat as Christus ons gewas het, as Hy ons op hierdie manier gedien het, is ons nou heeltemal skoon. Die vuil van ons sondes is heeltemal afgewas. Ons staan nou voor God as nuwe mense. Ons kan nou met ware vrymoedigheid in Christus tot God nader en in ʼn lewende verhouding met hom lewe. Ons is nie dieselfde nie. Ons is anders as voorheen. Deur die Heilige Gees wat in ons werk, kan ons hierdie dinge glo. Hy werk ook in ons sodat ons nuwe mense word. Ons word nuwe mense in Christus wat streef om sy wil te doen.

Maar wat is sy wil? Hoe behoort ons te lewe? Dit is ʼn baie goeie vraag. Ons vind God se wil in die Bybel. God openbaar homself en sy wil aan ons in sy Woord en daarom moet ons tyd met sy Woord spandeer. Ook in ons teksgedeelte vandag, sien ons hoe God homself en sy wil aan ons openbaar. In die verse wat oorbly, vind ons so ook ʼn direkte opdrag hoe ons behoort te lewe en dit is ook so ons derde punt.

Punt 3: Ons moet nou as gelowiges die mense rondom ons dien met die selfde nederige gesindheid. (Verse 12-17)

In vers 12 Vra Jesus vir sy dissipels: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het?”. Hierna verduidelik Hy vir hulle wat hierdie praktiese uitbeelding beteken en hoe ons daarop behoort te reageer.

Ons lees dan in ons fokusvers, vers 14: “As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was.” In die 1933/53-vertaling word die woord “behoort” vertaal met “verplig”, om hierdie rede is julle verplig om mekaar se voete te was.

Hierdie beteken nie dat ons letterlik mekaar se voete moet te was nie, maar eerder dat ons hierdie selfde nederige gesindheid van ʼn dienskneg teenoor mekaar moet aanneem. Hierdie gesindheid of lewensingesteldheid is ʼn noodwendige gevolg en verpligting van iemand wat deur Christus gewas is tot ʼn nuwe mens. Hierdie gesindheid teenoor mekaar hoort by iemand wat in Christus ʼn nuwe mens gemaak is. Ons behoort mekaar te dien. Ons is verplig om mekaar te dien. Ons is deur Christus mense gemaak wat mekaar dien.

Hoe behoort ons mekaar te dien? Ons moet onsself hierin laat lei deur die Heilige Gees. Dit is Hy wat vir ons die krag en onderskeidingsvermoë gee om mekaar te dien. Ons moet dus onder sy leiding hierdie lewe van ʼn dienskneg aanpak. Dit is Hy wat gawes binne ons bewerk wat ons kan gebruik om mekaar te dien. Ons lees van hierdie gawes in Rom. 12:9-18:

“Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”

As ons hierdie gedeelte lees, sien ons mooi hoe ons hierdie nederige gesindheid moet aanneem en uitleef. Ons moet nie onsself as die belangrikste ag nie. Ons lees dit ook in ons teksgedeelte in vers 16 – ʼn slaaf is nie belangriker is as sy eienaar nie. Daar is nie een mens wat belangriker is as ʼn ander nie. Mense het verskillende rolle en verantwoordelikhede in die samelewing, in die kerk en in die gesin. Dit is waar. Party se verantwoordelikhede is meer as ander en hulle is in ʼn leidende rol, maar niemand is minderwaardig of minder belangrik in die koninkryk van God nie. Almal behoort dus mekaar te dien. Ja, ons behoort selfs ons vyande te dien.

Ons moet op die uitkyk wees vir enige fisiese, emosionele en geestelike nood rondom ons. Ons moet ʼn sensitiwiteit ontwikkel teenoor die mense rondom ons. Ons moet leer om hulle in ag te neem en die nood in hulle lewens raak te sien. Hierdie sensitiwiteit kom vanuit ʼn plek van liefde. As ons baie lief is vir die mense rondom ons, wil ons werklik die beste vir hulle hê, nie waar nie? As ons lief is vir die mense rondom ons, wil ons hê dat hulle nie op enige manier moet swaarkry nie. Ons wil dit ook natuurlik vir hulle lekker en aangenaam maak. Ons moet hierdie gesindheid van ‘dienende liefde’ orals met ons saamdra.

Hierdie beteken nie dat ons altyd al die probleme rondom ons sal oplos nie, ons gaan dit nie reg kry nie. Dit beteken net dat ons graag ʼn positiewe invloed wil hê oral waarheen ons gaan. Ons wil mense op ʼn beter plek los nadat ons met hulle te doen gehad het. Ons wil die liefde van God oral versprei. Ons wil graag die mense rondom ons dien. Praktiese voorbeelde hiervan, is eenvoudige dinge soos: mense help met take soos dinge dra en skoonmaak, tot groter sake soos emosionele ondersteuning in ʼn moeilike tyd.

Ons moet die mense rondom ons ook geestelik dien. Die beste manier om dit te doen, is deur vir mekaar te bid. Om mekaar op te dra aan die almagtige God. Ons moet so ook die Woord van God met die mense rondom ons deel in liefde. Op hierdie manier bou ons aan mekaar en so ook aan die koninkryk van God. Ons bou nie aan ons eie klein koninkrykies nie. Ons lewe nie om gedien te word nie, maar om te dien.

In die laaste vers van ons teksgedeelte lees ons dat “wie hierdie dinge weet en dit doen, gelukkig sal wees”. Die 1933/53 vertaling sê dat hulle salig sal wees. Dit is die belofte wat God aan ons gee. Ware geluk, ware salige geluk, lê nie by selfsugtige, wêreldse praktyke nie. Dit verskaf dalk net tydelike geluk in die oomblik. Nee, ware salige geluk lê daarin dat ons die werk van die Here doen. Dat ons sy koninkryk opbou en mekaar dien.

Slot

Aan die begin van die preek het ons gehoor dat Jesus vir ons in hierdie gedeelte sê: “doen soos wat Ek gedoen het”. Wat het Hy gedoen? Christus het sy kinders gedien. Hy het gedien op ʼn groter en beter manier as wat denkbaar is. Hy het ons skoongewas van al ons sondes. Ons is nou heeltemal skoon, asof ons nog nooit vuil was nie. Hy het ons deel gemaak van Hom. Ons het nou deel aan die ewige lewe. Wat moet ons nou doen? Wat moet ons reaksie hierop wees? Ons moet die mense rondom ons dien. Ons moet die nederige gesindheid van ʼn dienskneg aanneem. Ons moet nie vir onsself lewe nie, maar ons moet lewe om ander te dien.

Amen.