1 Kor. 15:12-28

Teksgedeelte: 1 Kor. 15: 12-28 (1983 vertaling)

Fokusverse: Verse 16-20 (1983 vertaling)

“As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.”

Heidelbergse Kategismus: Sondag 17 Vraag en Antwoord 45

45 Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ‘n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ʼn betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

(a) Rom. 4:25; 1 Pet. 1:3; 1 Kor. 15:16. (b) Rom. 6:4; Kol. 3:1, 5; Ef. 2:5, 6. (c) 1 Kor. 15:20, 21.

Tema: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood is ons nou regverdige mense gemaak wat ʼn nuwe ewige lewe lei en weet ons dat ons self ook gaan opstaan uit die dood.

Hoofpunt 1: Christus het opgestaan uit die dood.

Hoofpunt 2: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood, is ons nou regverdige mense gemaak.

Hoofpunt 3: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood, het ons ʼn nuwe ewige lewe.

Hoofpunt 4: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood, weet ons dat ons ook self gaan opstaan uit die dood. 

Inleiding

As iemand vir ons vra: wat is die evangelie? Sal baie van ons waarskynlik antwoord: Christus het vir my sondes gesterf. Hierdie antwoord is nie verkeerd nie, maar dit is nie die volle waarheid nie. Jesus het nie net gesterf vir ons sondes nie, Hy het ook opgestaan uit die dood. Hy het die dood oorwin. 

Broers en susters, watter troos bring Jesus se opstanding vir ons? Vind ons troos daarin dat ons Here Jesus Christus vir ons die dood oorwin het?

Ons kan onsself dan ook afvra: sal ons dit aanvaar as iemand sê dat hulle ʼn gelowige is, maar hulle aanvaar nie die opstanding van die dooies of die opstanding van Christus nie? Het ons geloof enige waarde of waarheid indien Christus nie opgestaan het nie? Die teksgedeelte wat ons vanaand gelees het, sê nee. Ons geloof staan en val by die opstanding van Christus.

Hoofpunt 1: Christus het opgestaan uit die dood.

In ons teksgedeelte is Paulus besig om aan die gemeente in Korinte belangrike dele van die evangelie, wat hulle dalk verkeerd verstaan het, te leer en te verduidelik. Daar is persone aan wie hy die brief geskryf het, wat nie geglo het in die opstanding van die dooies nie. Met die woorde “opstanding van die dooies” word daar bedoel dat ons ook eendag liggaamlik uit die dood uit sal opstaan wanneer Jesus weer kom. Hy sê dat hulle dan ook nie werklik glo in die opstandig van Christus nie.

Paulus sê dat, indien jy nie glo in die opstanding van die dooies nie, verstaan jy nie werklik wat dit beteken dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie. Indien jy nie glo in die opstanding van die dooies nie, gló jy ook nie werklik in die opstanding van Christus nie. Christus het die dood volkome oorwin – geestelik en liggaamlik. Hy verduidelik dan verder dat iemand wat nie glo in die opstanding van Christus nie, nie werklik hoop het vir die lewe hierna nie. Die opstanding van Christus is duidelik  ʼn kerndeel van ons geloof en dit is noodsaaklik dat ons dit glo. 

Vir iemand wat nie in die opstanding van Christus glo nie, moet die dood iets baie vreesaanjaend wees. Vir so iemand is daar is nie werklik troos in Christus nie. Daarom sê Paulus in vers 19 dat, indien iemand so glo, hulle die bejammerenswaardigste van alle mense is. Hulle noem hulleself “Christene”, maar hulle glo nie in hulle fondasie van hoop vir die lewe hierna nie. Hulle is daarom nie werklik Christene nie. Paulus verduidelik juis in vers 17 en 18 dat so iemand se geloof waardeloos is. Hulle is dan steeds ʼn gevangene van die sonde en daar is vir hulle geen ewige lewe nie. As Christus nie die dood oorwin het nie, gaan hulle wat in Christus gesterf het verlore.

Dit is egter nie wat ons glo nie. God het Christus uit die dood laat opstaan. Maar wat beteken dit vir ons? Watter troos vind ons daarin dat Jesus dit gedoen het?

Hoofpunt 2: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood is ons nou regverdige mense gemaak

Ons bely in die antwoord van Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus dat Christus se opstanding uit die dood beteken dat ons nou (1) geregverdig is voor God en (2) dat ons nou reeds die nuwe ewige lewe het. Dit beteken ook (3) dat ons kan weet dat ons self weer eendag liggaamlik gaan opstaan.

Ons kyk eers na wat dit beteken om geregverdig  te wees voor God. Die term “ons het geregtigheid deur Christus verwerf”, soos dit in ons belydenis staan, beteken dat ons nou “regverdig” gemaak is deur Christus. Die woordjie “reg” is in albei die woorde. Regverdigheid is wat gebeur wanneer jy kry wat jy verdien. Dan het geregtigheid geskied.

Christus maak ons regverdig deur sy dood en sy opstanding. Ons lees veral hoe sy dood ons verlos in 2 Korinthiërs 5:21: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” Die term “sonde vir ons gemaak” kan so verstaan word: die Vader het Hom hanteer asof Hy al die sonde van al die gelowiges gedoen het – hede, verlede en toekoms. Hy het die straf van die ewige dood vir ons sondes gedra. Dit is die regverdige straf wat ons elkeen verdien het.

Christus het egter nie net doodgegaan vir ons sondes nie. Hy het ook uit die dood uit opgestaan. Dit is juis waaroor Sondag 17 gaan. Ons lees veral hiervan in Rom. 6:5-6: “Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.”

Dit is daarom noodsaaklik dat ons glo in die opstanding van Christus, want dit is juis daardeur wat ons saam met Hom opstaan tot nuwe mense. As ons dit nie glo nie, dan glo ons net ʼn halwe evangelie. Deur Christus se dood en opstanding is ons geregverdig. Hy het ons verhouding met God   “reg-gemaak”. Dit wat eers deur die sonde verkeerd of stukkend was, is deur Christus se dood en opstanding “reg” gemaak.

Baie van ons is seker bekend met die beeld van die hofsaak wat gebruik word om die evangelie te verduidelik. Ek het eenmaal gehoor hoe iemand dit op ʼn ander manier verduidelik en dit was vir my baie waardevol. Ons, as die misdadiger, staan skuldig in die hof. God, as regter, gaan ons vonnis vir die misdade of sondes wat ons gedoen het. Jesus kom dan en Hy dra die straf vir ons sonde.

Dit is alles waar, Jesus het dit vir ons kom doen. Hy het vir ons sondes gesterf. Daar is egter iets nie pluis in die bogenoemde beeld nie. Dit voel nie vir ons werklik regverdig nie. Ons kan onsself maar indink, ons sou nie gemaklik daarmee wees het as ʼn misdadiger skotvry uit ʼn hofsaak stap nie. Dink jouself net in, iemand het een van jou geliefdes vermoor en gedurende die hofsaak bied iemand aan om die moordenaar se straf te dra en die moordenaar kan daarna weer vrylik rondloop. Ons sou vir seker nie daarmee tevrede wees nie. Dit is nie regverdig nie.

Dit is egter nie al wat gebeur gedurende ons hofsaak nie. Jesus kom nie net en dra die straf vir ons sondes nie. Hy kom ook en maak ons nuwe mense – geheel en al nuwe mense. Dit is nie dieselfde misdadiger wat nou losgelaat word nie. Dit is geheel en al ʼn nuwe mens. Deur Jesus wat opgestaan het uit die dood, staan ons saam met Hom op as nuwe mense. Die ou mens is saam met Hom gekruisig en die nuwe mens lewe nou saam met Hom.

Die manier hoe Christus hierdie prakties in ons lewens doen, is deur die Heilige Gees. Hy het die Heilige Gees gestuur om in ons harte te woon en te werk sodat ons nuwe mense kan word. Die ou mens was ʼn slaaf van die sonde, maar die nuwe mens is van die sonde verlos. Dit beteken egter nie dat ons nou in hierdie bedeling glad nie meer sondig nie. Dit is waar dat ons steeds sondig, maar ons moet daagliks bekeer van ons sonde. Dit is iets wat ons moet doen deur die krag van die Heilige Gees. In Christus is ons reeds nuwe mense, maar in hierdie bedeling leer ons nog steeds hoe om soos hierdie nuwe mense te lewe. Deur die werk van die Heilige Gees groei ons sodat ons daagliks bekeer van ons sonde en nuwe mense word. Ons word stelselmatig wie ons reeds in Christus is.

Die Heilige Gees werk in ons harte sodat ons die sonde haat. Hy wys ook vir ons die sondes in ons lewens deur die Skrif uit, sodat ons daarvan kan bekeer en kan begin om te lewe in die nuwe lewe wat ons in Christus het. 

Hoofpunt 3: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood het ons ʼn nuwe, ewige lewe.

Ons kan onsself nou afvra wat dit beteken dat ons as nuwe mense tot ʼn nuwe lewe opgewek is, soos ons in Sondag 17 bely. Ons teksgedeelte sê juis in vers 18 dat ons nie net ons hoop op Christus moet vestig vir hierdie lewe nie. Ons moet ook ons hoop op Hom vestig vir die lewe hierna. Wat dit beteken, is dat ons in Christus reeds die ewige lewe het. Ons gaan nie verlore nie. Ons lewe nou reeds die ewige lewe. Die dood is vir ons nie werklik die dood nie. Dit is net ʼn deurgang na die ewige lewe saam met die Here.

Ons wat in Christus is, se siele gaan direk na die dood na die Here toe, indien Hy nie voor dit weer kom nie. Ons is dan saam met Hom daar in die heme,l waar ons volkome sy teenwoordigheid en goedheid ervaar. Daar is dus nie ʼn bewusteloosheid na die dood nie. Na die dood is ons ten volle by ons bewussyn. Ons is óf daarvan bewus dat ons by die Here is, óf nie. Die wat nie by die Here is nie, is in die hel. Die hel is waar God al sy goedheid en genade van jou af ontneem en jy ervaar net die pyn van sy straf. Dit is die ewige dood wat Christus gedra het sodat ons die ewige lewe kan hê.

Hoofpunt 4: Deur Christus wat opgestaan het uit die dood weet ons dat ons ook self gaan opstaan uit die dood. 

Broers en susters, ons vind nie net troos daarin dat net ons siele deur Christus gered word nie, ook ons liggame word deur Christus gered. Daarom bely ons in die laaste deel van Sondag 17 dat ons deur Christus se opstanding vir seker kan weet dat ons ook liggaamlik gaan opstaan. Dit is juis waaroor Paulus hier aan die gemeente in Korinte skryf. Hy het nie net gekom om ons siele te verlos van die dood nie, maar ook ons liggame. Ons moenie in ons gedagtes sy verlossing beperk tot net ons siele nie. Christus se opstanding is vir ons ʼn betroubare waarborg van ons eie opstanding.  Hierdie selfde liggame van ons gaan deur die krag van Christus opgewek word en weer met ons siele verenig word wanneer Hy weer kom.

In die teksgedeelte net na die een wat ons gelees het, verduidelik Paulus aan die gemeente oor die opstanding van die dooies en hoe dit werk. Hy verduidelik dat, met Christus se wederkoms, Hy die hemel en die aarde gaan vernuwe. Die nuwe hemel en die nuwe aarde gaan nie verganklik en besmet met die sonde wees nie. Dit gaan ʼn perfekte plek wees waar ons in prefekte verhouding met God gaan lewe vir ewig. Ons gaan dan nuwe liggame kry wat gepas sal wees om te lewe in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Dit sal daarom liggame wees wat ook nie meer verganklik is en besmet is met die sonde nie. Dit gaan dieselfde liggame wees wat ons nou het, maar dit gaan nuut gemaak en verheerlik word, sodat dit gepas is om saam met God vir ewig te lewe.

Baie mense lewe met ʼn groot vrees vir die dood, maar ons hoef nie meer die dood te vrees nie, want ons lewe saam met Christus. Ons is nie soos die heidene nie. Na die dood is daar vir hulle net onsekerheid. Die dood is vir hulle die einde, maar vir ons is dit net ʼn nuwe begin. Ons verwissel die tydelike met die ewige. Ons lewe verder in die ewige lewe saam met ons Vader, omdat Christus vir ons die dood oorwin het en uit die dood opgestaan het.

Slot

Broers en susters, ons het aan die begin vir onsself afgevra: watter troos vind ons in die opstanding van Christus? Dit is ʼn sentrale deel van ons geloof en as ons dit nie glo nie, is daar nie werklik vir ons troos nie.

God het egter sy seun opgewek uit die dood. Christus het nie net vir ons sondes gesterf nie, maar hy het ook opgestaan. Hy het die dood vir ons oorwin. Deur dit te doen, het Hy ons verhouding met God reggemaak. Hy het die straf wat ons verdien, gedra en van ons nuwe mense gemaak. Hy het vir ons die ewige lewe gegee waarin ons nou reeds lewe. Die dood is daarom vir ons net ʼn deurgang. Sy opstanding is ook vir ons ʼn betroubare waarborg dat ons ook self eendag gaan opstaan wanneer Hy weer kom. Ons gaan nuwe liggame kry waarmee ons saam met God in die nuwe hemel en die nuwe aarde kan lewe. Daarom vind ons ware troos in die opstanding van die Here.

Amen.