Hab. 1:1-17

Teksgedeelte: Habakuk 1:1-17

Fokusgedeelte: Habakuk 1:12

Tema: God is ons ewige heilige rots waarop ons moet vertrou, al verstaan ons nie hoekom Hy doen wat Hy doen nie.

Hoofpunt 1: God is ons ewige heilige rots.

Hoofpunt 2: Ons moet op Hom vertrou, al verstaan ons nie hoekom Hy doen wat Hy doen nie.

Inleiding

Broers en susters, wanneer ons na die woorde van Habakuk luister, kan ons nie glo dit is iets wat hy rondom 2600 jaar terug gesê het nie. Habakuk se klaaglied aan die begin klink soos iets wat ons iemand vandag oor Suid-Afrika sal hoor sê. Dit klink soos ʼn gebed wat iemand vandag sal bid wanneer hulle met die Here worstel oor ons omstandighede in Suid-Afrika.

As ons kyk na die geweld, onderdrukking en onregverdigheid rondom ons, wil ons die selfde gebed bid. As ons sien hoe almal rondom ons nie meer lewe volgens dit wil van die Here nie, wil ons die selfde bid. Here laat tog reg en orde geskied hier in hierdie land van ons. Dit laat ons dan met die groot vraag waarmee so baie van ons al geworstel het, en waarmee Habakuk geworstel het: Here hoekom laat U dit toe? Hoekom doen U nie iets nie? Hoe lank moet ek nog wag voordat U iets kom doen?

 Hoofpunt 1: God is ons ewige heilige rots.

Habakuk was baie waarskynlik ʼn inwoner van Jerusalem. Hy het dus in die suideryk van Israel, nadat die volk van die Here na Salomo se koningskap in twee ryke in geskeur het, gewoon. Die noorderyk is teen hierdie tyd reeds deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer. Die Assiriese wêreldmag was egter in hierdie tyd besig om al swakker te word.

Iets wat die boek van Habakuk baie merkwaardig maak, is dat dit ʼn profetiese boek is. Die Here praat met Habakuk en gee aan hom die opdrag om die woorde wat hy gehoor het te gaan verkondig, maar ons lees nêrens van ʼn gebeurtenis waar Habakuk dit eintlik doen nie. Nee, die eerste twee hoofstukke van Habakuk is eerder ‘n gebed of ʼn gesprek tussen die Here en Habakuk. Ons het die voorreg om te sien hoe die Here en een van sy profete met mekaar praat. Die laaste hoofstuk is dan ʼn mooi psalm of lied wat Habakuk geskryf het.

Ons kan dan ook aflei dat die tyd waarbinne die gebeure van Habakuk plaasgevind het, ʼn baie donker en slegte tyd was vir die volk van die Here. Hulle het nie volgens die wil van die Here gelewe nie. Habakuk het rondom hom gekyk en net onreg, geweld en onveiligheid gesien. Dit het nie noodwendig materieel sleg gegaan met die volk nie, maar dit het vir seker geestelik baie sleg gegaan met die volk en dit was baie onveilig.

Ons kan waarskynlik baie daarmee vereenselwig. As ons rondom ons kyk, voel dit ook vir ons asof die goddeloosheid die gelowiges wil oorweldig. Daar is so baie geweld en korrupsie in ons land. Hier in Venterstad is dat amper op ons voorstoep. Die armoede en drankmisbruik is onmisbaar.

Habakuk roep dan uit teenoor die Here en vra, wanneer gaan U iets doen? Wanneer gaan U hierdie mense oordeel? Wanneer gaan U reg oor onreg laat geskied en hierdie goddeloosheid tot ʼn einde bring? Dit is die gebed van baie Suid-Afrikaners nou al vir baie jare. As ʼn mens na die wêreldtoneel kyk, gaan dit glad nie beter nie. Dit voel of dit die gebed is van die mensdom al vir baie jare. Elke generasie kom met sy eie moeilikheid. Dit is alles ʼn gevolg van die sonde.

Die Here antwoord dan vir Habakuk van vers 5 af en sê vir Hom: Ek het alreeds iets gedoen. Dit is reeds aan die kom. Ek het nog net vir niemand gesê nie, want niemand sou dit glo nie. Die Here sê vir Habakuk dat hy besig is om die Chaldeërs ʼn sterk nasie te maak. Hulle gaan die volgende wêreldmag word. Die Here gaan hulle gebruik om die volk te straf. Party vertalings noem die Chaldeërs die Babiloniërs. Dit is dieselfde groep mense – dit is net ʼn ander naam vir hulle.

Die Chaldeërs of die Babiloniërs het bekend gestaan as ʼn baie wrede en gewelddadige nasie. Wanneer hulle kom om ʼn dorp te verower, het hulle nie net die mans in die dorp doodgemaak nie. Hulle het alles wat lewe voor die voet uitgewis en alles verbrand. Die mense, diere, bome en gewasse. Hulle het ʼn plek so vernietig dat absoluut niks oorbly nie. Die Here sê vir Habakuk dat Hy hierdie mense gaan gebruik om die Israeliete te straf. Habakuk kan nie die Here se antwoord glo nie. Eers kla hy die Here daarvan aan dat hy niks doen nie en nou voel hy dat die Here te veel wil doen. Dit is te erg, Here. Ek weet ek wou hê dat U die onreg moet stopsit, maar ek wou nie hê dat u ʼn ander nasie moet gebruik om alles uit te wis nie. Hoe kan u gebruik maak van ʼn meer goddelose nasie as ons om ons te straf?

Hy sê in vers 13 dat die Here se oë te rein is om sulke onreg te sien. Hy dink die Here kan dit nie eers sien nie, wat nog van dit aktief toelaat en gebruik in sy plan. Dit is egter nie waar nie. Die Here sien dit. Die Here sien alles. Die Here sien nou ook alles wat in ons land gebeur. Hy sien ook alles wat nou in Oekraïne en Rusland gebeur. Hy sien alles wat nou in Israel en Palestina gebeur. Hy sien alles wat in Nozizwe en Lyciumville gebeur.

Die Here is nie die een wat die kwaad doen nie. Hy laat dit egter toe, en wat ons verstande te bowe gaan, is dat Hy dit gebruik in sy ewige plan en sy ewige plan is goed. Ons verstaan dalk glad nie hoekom Hy nou doen wat Hy doen nie. Ons verstaan ook nie hoekom Hy gaan doen wat Hy gaan doen nie. Ons sou waarskynlik, net soos die mense in Habakuk se tyd, Hom nie geglo het as Hy ons gesê het nie. Broers en susters, dit is moontlik dat, net soos in Habakuk se tyd, dinge selfs nog slegter gaan word. Die Here belowe nêrens in sy Woord dat dinge in hierdie bedeling vir ons beter gaan word nie. Inteendeel, as ons kyk na wat die boek van Openbaring sê, lyk dit of dinge slegter gaan word.

Die groot vraag is, wat is ons reaksie in hierdie donker bedeling? Wat doen ons met hierdie nuus? Dit gaan nou sleg, dit mag dalk selfs nog slegter gaan en ons verstaan nie altyd hoekom dit gaan soos dit gaan nie. Ons verstaan nie hoekom God doen wat Hy doen en hoekom Hy toelaat wat Hy toelaat nie.

Ons het hier ʼn goeie voorbeeld in wat Habakuk gedoen het. Habakuk worstel met die Here daaroor. Die woord “Israel” beteken: hy wat met die Here stoei, of met die Here geworstel het. Dit is hoekom Jakob die naam Israel gekry nadat Hy met die Here gestoei het. Daarna staan die Hele volk bekend as die volk wat met die Here stoei. Ons is ook deel van die volk van die Here. Ons is ook mense wat met die Here stoei. Ons moet net altyd weet, die Here is in beheer van elke oomblik van die gestoei. Die geveg gaan altyd soos wat Hy wil hê dit moet gaan. Hy gaan op die ou einde altyd wen. Hy is te sterk opponent, maar ons gaan altyd sterker wegstap nadat ons met ons leermeester gestoei het.   

Dit is in ʼn sin wat met Habakuk ook gebeur het. Hy bid tot die Here oor hierdie saak waarmee hy so worstel. Hy bid op ʼn manier wat eintlik in ons kultuur vir ons onbekend is. Ons kan hierby by Habakuk leer. Hy bid op ʼn baie eerlike en direkte manier tot die Here. Hy sê goed wat ons nie sal droom om te sê nie. Hoe lank nog moet ek wag Here? U kan tog nie sulke onreg toelaat nie, Here! Hoekom Here? Habakuk is eerlik en direk met die Here. Hy lê sy hart se begeertes voor Hom neer. As jy met iemand ʼn goeie oop en stabiele verhouding het, is jy nie bang om met daardie persoon te praat nie. Dit is ook die verhouding wat ons met die Here het. Ons moet met Hom praat.

Wat ons dan verder by Habakuk leer, is ten spyte daarvan dat hy nie verstaan hoekom die Here doen wat Hy doen nie, sy geloof in Hom nie wankel nie. Daar is so baie ongelowiges wat sê: ek verstaan God nie en daarom bestaan Hy nie. Na die verligting het die mens die idee dat hy/sy alles wat bestaan moet kan verstaan. Ek is die slimste ding in die heelal. As God nie is soos wat ek dink Hy behoort te wees nie, dan bestaan Hy nie. As God nie reg en geregtigheid laat geskied soos wat ek wil hê dit moet geskied nie, dan is Hy onregverdig en verkeerd en Hy bestaan nie. As hy nie inpas by my boksie nie, dan is Hy nie.

Broers en susters, dit is wat die voorbeeld van Habakuk se worsteling met die Here vir ons so sinvol maak. Ons sien dat ons oop, eerlik en direk met die Here kan wees. Ons sien egter ook dat ons ten spyte daarvan nog steeds moet onthou met wie ons praat. Ons sien ook hierin hoe dit vir Habakuk tot ruste bring. Ons gaan later in die boek sien hoe Habakuk deur hierdie worsteling vrede vind in die Here, ten spyte van sy omstandighede. Hy begin nou reeds hierdie vrede vind.

In sy eerlike worsteling met die Here noem Hy nog steeds die Here sy Heilige God en rots. In ons fokusvers (12) staan daar: “U is tog van altyd af daar, Here; U is my heilige God; ons sal nie sterwe nie. U, Here, het die Galdeërs aangestel om die vonnis te voltrek, U, ons Rots, het hulle die mag gegee om ons te straf.”

Hoofpunt 2: Ons moet op Hom vertrou, al verstaan ons nie hoekom Hy doen wat Hy doen nie.

In dieselfde sin sê Habakuk: “Die Here gaan die Chaldeërs stuur om ons te straf” en hy sê “Die Here is my Ewige Heilige God en Rots en Hy sal ons nie laat sterwe nie”.

Ja, hy verstaan nie hoekom God doen wat Hy doen nie. Hy is eerlik, opreg en rou voor die Here, maar hy besef weer opnuut wie die Here is en Hy vind daarin rus en vrede. Hy sê die Here is ewig. Hy is van ewigheid af al daar. Hy is alwys. Hy is buite tyd. Hy weet wat Hy doen. Al verstaan ons dit nie. Dit is soos ʼn ouer wat aan ʼn jong kind ʼn reeks reëls gee om te gehoorsaam om die kind te beskerm. Die kind verstaan nie hoekom die reëls daar is nie, want die kind is te jonk, maar die ouer verstaan dit. Daar is meer afstand tussen ons en die Here as wat daar is tussen ouer en kind. Juis daarom gaan ons nie alles verstaan wat die Here doen nie.   

Hy noem die Here “My Heilige God”. Dit wys dat hy geweet het God is heilig. Heilig beteken anders en verhewe. Die Here is heeltemal anders as ons en verhewe bo ons. Die sonde kan nie voor Hom bestaan nie en daarom moet die sonde gestraf word. Dit beklemtoon verder die afstand tussen ons en God, tog dui dit aan dat hy ʼn persoonlike verhouding het met God. Hy noem God “my God”. God se verhewenheid bo ons beteken nie dat God ver weg van ons af is nie. Nee, ons heilige God het ons sy kinders gemaak. Hy is nie ver van ons af nie.

Hy is ons rots en ons sal nie sterf nie. In die Joodse kultuur was ʼn rots ʼn simbool vir vastigheid. Dit was ʼn simbool vir iets waarop jy kon staatmaak, wat nie deur die golwe van die lewe omgegooi sou word nie. Hierin vind Habakuk ten midde van sy worsteling met God ook sy vrede. God is nog altyd en sal altyd sy rots wees en daarom weet hy dat hy nie sal sterf nie.

Broer en susters, ons weet dit vandag nog beter as wat Habakuk dit geweet het. Ons weet vir seker dat God ons rots is en ons nie sal sterf nie, al gaan dit nog slegter in ons land, al tref hoe ʼn groot ramp ons, ons weet die Here is ons rots en ons sal nie sterf nie. Ons weet dit vir seker, want Hy het sy enigste seun vir ons gestuur. Hy het vir ons sondes sterf en uit die dood uit opgestaan. Hy het die dood oorwin sodat ons ewig sal lewe.

Slot

Broers en susters, Habakuk se stryd met die Here oor hoekom Hy dinge laat gebeur soos wat dit gebeur, is een wat ons vandag ook nog kan hê. Hy het egter in sy worsteling met die Here rus gevind in wie die Here is. Ons moet ook daarin rus vind. God is ons ewige heilige rots waarop ons moet vertrou, al verstaan ons nie hoekom Hy doen wat Hy doen nie.

Amen