Teksgedeelte: Romeine 3:21-31 (1953)
Fokusgedeelte: Romeine:21-22 (1953)
Belydenis: HBK Sondag 23 V&A 59-61
Tema: God maak ons regverdig voor Hom deur geloof in Christus.
Hoofpunt 1: God maak ons regverdig voor Hom.
Hoofpunt 2: Ons word regverdig gemaak deur geloof in Christus.
Inleiding
Vraag 60 van die Heidelbergse kategismus vra een van die grootste kernvrae van ons geloof. Dit vra: hoe word jy regverdig gemaak voor God? Met ander woorde, hoe word jy gered? Dit is ook ongelukkig iets waaroor die kerk deur die eeue baie verskil het. Die reformasie het grootliks gebeur as gevolg van hierdie vraag. Ons kan daarom sê die grootste kerkskeuring in die geskiedenis het gebeur as gevolg van hierdie vraag.
Groot teoloë deur die eeue het op verskillende maniere gesê dat die kerk staan en val by wat sy glo oor hoe sy regverdig gemaak word. Hulle het dit gesê, want hoe jy hierdie vraag antwoord, bepaal grootliks hoe jy vir God sien, hoe jy jouself sien en hoe jy die evangelie verstaan. Daarom is dit noodsaaklik dat ons vandag hierdie vraag vanuit die Woord beantwoord, sodat ons die evangelie reg verstaan en ook God eer vir wie Hy is.
Hoofpunt 1: God maak ons regverdig voor Hom.
Voordat ons kom by vraag 60, moet ons eers kyk na vraag 59. Dit koppel hierdie Sondagsafdeling aan die vorige reeks waarna ons gekyk het, die bespreking van die apostoliese geloofsbelydenis. Dit is die kerninhoud van ons geloof. Die vraag is dan nou, wat het ons geloof tot gevolg? Wat gebeur met die gelowiges? Daarom vra vraag 59: “wat baat dit jou dat jy dit alles glo?”. Die antwoord op die vraag is dat ons, deur hierdie dinge te glo, in Christus voor God regverdig gemaak word en erfgename gemaak word van die ewige lewe. Vraag 60 vra dan die volgende logiese vraag, maar hoe word ʼn mens regverdig voor God? Wat gebeur met jou wanneer jy glo?
Dit is baie hartseer dat die kerk so geskeur het oor die antwoord op hierdie vraag en ook dat daar so baie mense is wat verskil oor hierdie vraag. Die woord van die Here maak dit tog so duidelik vir ons. Ons sien duidelik in Rom. 3 dat dit God is was ons regverdig maak voor Hom. Dit is nie ons wat ons eie regverdigheid bewerk of verdien deur wetsonderhouding of enige iets anders nie. Ons kan dit nie uit ons eie verdien nie. God gee dit vir ons vanuit genade deur geloof in Christus. Ons moet hier ook sê dat geloof nie ʼn “werk” is wat jy moet doen om gered te word nie. Ons lees in Ef. 2:8 dat geloof ʼn geskenk van God is. Geloof is die middel waardeur jy gered word. Dit is jy wat jou vertroue in Christus sit, maar dit is nie iets wat jy uit jou eie uit doen nie. Dit word binne jou bewerk deur die Heilige Gees. Redding kom van God, die kom nie van jouself af nie. Dit is ook presies wat V&A 61 sê. Dit gaan nie oor wat jy doen nie. Dit gaan oor wat Christus gedoen het.
Paulus verduidelik dan juis dit in ons teksgedeelte vanoggend. Hy skryf hier aan Jode en nie-Jode in die gemeente in Rome en daar was moontlik Jode wat onder die verkeerde indruk was dat ʼn mens jouself kan red deur die wet van die Here te onderhou. Dit is egter vir geen mens moontlik nie. Indien jy dit probeer doen, moet jy weet dat Jy gaan faal. Vers 21 van ons teksgedeelte sê dat ons hierdie regverdigmaking nie ontvang sonder die wet nie.
Daar staan ook dat die “wet en die profete” van hierdie regverdigmaking getuig. Die term “wet en profete” beteken die “Ou Testament”. Die wet is ʼn ander woord vir die eerste vyf boeke van die Ou-Testament. Dit is Genesis tot Deuteronomium. Dit is omdat dit die wet van Moses bevat. Die profete verwys dan na die profetiese boeke van die Ou-Testament. Dit is net die manier hoe hulle in daardie tyd na hierdie geskrifte verwys het. Ons moet onthou dat die Nuwe-Testament hier nog besig was om geskryf te word. Daarom het die terme Ou- en Nuwe-Testament nog nie bestaan nie. Wat Paulus hier met ander woorde sê, is dat die Ou-Testament reeds sê dat ʼn mens hierdie regverdigmaking nie op grond van wetsonderhouding ontvang nie.
Daar staan dan in vers 22 dat hierdie regverdigmaking kom vanuit geloof in Christus en word sonder onderskeid gegee aan almal wat in Hom glo. Met ander woorde, dit maak nie saak hoe, waar of wanneer ons glo of tot geloof gekom het nie. Indien jy in Christus glo, dan is jy regverdig voor God.
Vers 23 sê dan die volgende opvallende woorde: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”. Dit eggo dieselfde boodskap as baie verse in die Ou-Testament. Ps. 14: 2-3 en Jesaja 53:6 sê dieselfde, om twee te noem. As almal dan gesondig het en skuldig staan voor God, is dit dan onmoontlik dat ons ons verlossing kan ontvang op grond van enige iets wat ons self kan doen. Dit was waar vir die gelowiges van die Ou-Testament en dit is waar vir ons ook. Wanneer ons werklik hierdie deel van onsself besef, dan is daar geen ander uitweg vir ons buiten die genade van die Here nie.
Die vraag is dan, maar hoe word ons gered? Hoe bewys God aan ons hierdie genade? Hoe word ons regverdig voor God? Voordat ons verder gaan, moet ons eers vir onsself vra, wat is regverdigheid? En wat is genade?
Regverdigheid is wanneer jy kry wat jy verdien. Ons het nou net gehoor dat almal gesondig het. Almal staan skuldig voor God. Daarom verdien almal die ewige dood. Dit is regverdig. Vers 24 sê dan dat ons vanuit genade, sonder verdienste, geregverdig word deur die verlossing wat daar vir ons in Jesus Christus is. Dit is al manier hoe ons gered kan word, vanuit genade.
Genade is onverdiende guns. Dit is ʼn goeie ding wat jy ontvang wat jy nie verdien het nie. Genade is daarom altyd sonder verdienste. Dit is deel van genade se definisie. God het ons uit genade gered, nie omdat ons dit op een of ander manier verdien het nie.
Hoofpunt 2: Ons word regverdig gemaak deur geloof in Christus.
Die vraag is dan, hoe is God beide regverdig en genadig? Almal het gesondig. God is regverdig. Dit beteken almal moet die regverdige straf op hulle sondes kry. Tog red God ons van hierdie ewige straf sonder om sonde ongestraf te laat bly. Terloops, ons moet hier raaksien dat God ons van Homself red. Hy is die een wat die ewige straf op die sonde uitvoer. Daarom red Hy ons van Homself af. Die vraag is dan hoe kan ek regverdig word voor God sonder om die ewige dood te verdra? Dit is die kruks van vanoggend se woordbediening. Dit is alleen deur die bloed van Jesus Christus.
Ons lees in vers 25 en 26 dat Hy met sy bloed vir my skuld betaal. Hy het die straf vir my sonde in my plek gedra. Hy dra my verdienste. Wat egter die groot wonder is, is dat Hy ook sy verdienste aan my gee. Christus het nooit gesondig nie. Daarom staan Hy regverdig voor God. Ek word deur Hom regverdig gemaak omdat Hy vir my sy verdienste gee en omdat Hy my verdienste dra. Deur Christus se reddingsdade is God beide regverdig en genadig. Hy is regverdig, want Hy straf die sonde, maar Hy is genadig, want red ons van die straf op die sonde. Vers 26 sê dat deur op hierdie manier te red, bly Hy regverdig, tog maak Hy ons steeds regverdig.
ʼn Baie interessante ding wat vers 25 ook noem, is dat hierdie ook die manier is hoe die gelowiges van die Ou-Testament gered is. Daarom staan daar dat Hy “sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God.” Redding is deur Christus alleen en daarom is hulle redding ook deur Christus. Christus het gesterwe vir die sondes van al die gelowiges van die verlede, hede en toekoms. Hy het die straf gedra van al God se kinders van alle tye. Daarom is die gelowiges van die Ou-Testament ook gered deur geloof in God. Dit is hulle geloof wat hulle gered het, nie hulle wetsonderhouding nie.
Om hierdie rede mag ons nie op onsself roem nie. Dit is nie ons wat onsself red nie. Dit is God alleen wat ons red. Dit is Hy alleen wat alle lof en eer en heerlikheid moet ontvang. Al wat ons tot ons redding bydra, is die sonde waarvan ons gered moet word.
Vers 31 vra dan ʼn baie goeie vraag: “Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof?” Aangesien ons redding nie afhanklik is van ons wetsonderhouding nie, kan ons nou maar lewe soos ons wil? Hoef ons selfs nog die wet te lees?
Paulus antwoord sy eie vraag deur te sê dat ons die wet bevestig deur die geloof. In die verse voor ons teksgedeelte sê Paulus in vers 20 dat ʼn mens die sonde leer ken deur die wet. Hy sê later in hoofstuk 6 vers 1-2: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?” Met ander woorde, Christus het ons nuwe mense gemaak. Ons het nou die sonde afgesterf, ons wil nou volgens die wet lewe tot eer van die Here. Hy sê dan in hoofstuk 8:4 dat ons deur die krag van die Heilige Gees volgens die wet kan begin lewe. Die wet wys vir ons hoe ons deur ons geloofslewe tot eer van God kan lewe. Op hierdie manier kom die wet werklik tot sy volle reg, soos daar staan aan die einde van vers 31. Ons kan daarom nie anders as om tot eer van die Here volgens die wet van die Here lewe nie.
Met ander woorde, die Here het nooit die wet aan die volk van die Ou-Testament gegee sodat hulle daardeur die geleentheid gegee word om dit te onderhou sodat hulle gered kan word nie. Hy het geweet die mens sal dit nie regkry nie. Om sy kinders te red deur Christus, is nog altyd deel van God se ewige plan. Hy gee daarom die wet aan ons sodat ons in hierdie lewe kan sien dat ons van sy redding afhanklik is. Hy gee dit ook aan ons, sodat ons vanuit geloof, omdat ons reeds gered is, as sy kinders tot eer van Hom kan lewe. Dit is hoekom ons op Sondae die wet lees. Ons moet deurlopend ons lewens daarteenoor meet en al hoe meer en meer deur die krag van die Heilige Gees daarvolgens lewe.
Slot
Broers en susters, ons moet die troosryke waarheid besef van dit waarna ons vanoggend gelyk het. Dit is die waarheid wat ons volkome geloofsekerheid gee oor ons saligheid. Ek word nie gered op grond van myself of my vermoëns of enige iets anders nie. Ek word gered deur God self vanuit genade deur geloof wat die Heilige Gees in my bewerk. Ek is regverdig gemaak deur die bloed van Christus en daarom is ek ʼn nuwe mens. Ek is ʼn nuwe mens wat die wet van God tot die beste van my vermoë onderhou tot eer van God, nie om myself te probeer red nie.
Amen