Teksgedeelte: Markus 8:27-38 (1983)
Fokusvers: Markus 8:34 (1983)
Tema: Christus het Homself vir ons opgeoffer, daarom moet ons onsself opoffer, ons kruis opneem en Hom volg.
Hoofpunt 1: Christus het Homself vir ons opgeoffer.
Hoofpunt 2: Ons moet onsself opoffer, ons kruis opneem en Hom volg.
Inleiding
Wat beteken dit werklik om ʼn Christen te wees? Wat behels dit? Is dit net iets wat maklik kom? Is dit net ʼn lekker klub of organisasie om van deel te wees? Offer jy maar net ʼn uurtjie van jou tyd op Sondagoggende op? Of is dit iets wat jou hele lewe behels? Is dit iets waarvoor jy jouself volkome opoffer?
Hoofpunt 1: Christus het Homself vir ons opgeoffer.
In vandag se teksgedeelte is dit juis wat Jesus vir ons sê. Om werklik ʼn Christen te wees beteken om jouself volkome op te offer, jouself te verloën en Hom te volg. Hy praat met sy dissipels en ʼn skare mense wat Hom gevolg het. Vanuit die konteks van die teksgedeelte kom ons agter dat die dissipels en skare nie werklik verstaan het wat dit beteken om Jesus te volg nie. Die vraag is of ons werklik verstaan wat dit beteken om Jesus te volg?
Voor die teksgedeelte wat ons vandag gelees het, het Jesus ʼn reeks wonders gedoen. Hy het die brode en die visse vermeerder, Hy het mense gesond gemaak. Daar het groot skares mense agter Hom aangedrom. Hulle wou deel hê aan die wonders wat Hy gedoen het.
Jesus vra dan vir die dissipels: wie sê die mense is Ek? Hulle noem dan dat die mense sê dat Jesus een of ander profeet is. ʼn Mens wat wonderwerke doen en die woord van God verkondig. Jesus vra egter dan vir die dissipels wie hulle sê Hy is. Petrus antwoord tereg dat Jesus die messias is. Hy is die een wat sou kom om die volk te verlos. Hy is nie net nog ʼn profeet nie.
Die Ou-Testament profeteer op baie plekke dat daar ʼn messias gaan kom om die volk van die Here te verlos. Die Jode het almal gelewe met ʼn messiasverwagting. Baie Jode in Jesus se tyd het gehoop dat die messias sou kom om hulle te verlos van die Romeinse Ryk. Die Romeinse Ryk was aan bewind in daardie tyd en hulle het die Jode onderdruk. Die Jode het daarom gewag vir iemand om hulle te kom verlos van hulle aardse omstandighede. Hulle het ʼn messias gesoek om selfsugtige redes.
Hulle het ʼn magtige militêre leier, soos koning Dawid, verwag. Iemand wat sou kom en die volk weer sou verenig en organiseer tot ʼn sterk militêre mag wat die Romeine en enige ander vyande sou oorwin. Hulle het vir seker nie iemand verwag wat sou kom om te ly nie. Dit is vreemd, want Jesaja profeteer juis dat die messias iemand sou wees wat sou ly, verneder sou word en ander sou dien. Van Jesaja 42 af word geprofeteer dat die messias ʼn lydende dienaar sou wees.
Hier is enkele verse uit Jesaja 53: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Die Jode wou egter nie so ʼn messias gehad het nie. Dit is dalk hoekom hulle daardie teksgedeeltes misgelees het. Hulle het iemand gesoek wat by hulle prentjie sou inpas van hoe ʼn messias sou lyk. Hulle het iemand gesoek wat indrukwekkend sou wees vir mense en wat die Jode weer ʼn magtige volk sou maak. ʼn Mens sou dink dat die dissipels ten minste die regte messiasverwagting sou hê. Ons sien egter uit Petrus se optrede dat dit nie die geval was nie. Nadat Jesus dan sê dat dit nodig is vir die messias om te ly en verwerp te word, vat Petrus vir Jesus eenkant toe en hy berispe Hom.
Dink net hoe dit moet wees om God self te berispe, om vir Jesus self te sê Hy is verkeerd? ʼn Mens kan amper nie glo dat Petrus dit doen nie. Jesus se reaksie verbaas ons ook. Jesus sê vir Petrus: “Moet nie in my pad staan nie Satan, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat mense wil hê.” Hoekom noem Jesus hier vir Petrus Satan? Een van die redes is dat die woord “satan” nie regtig ʼn naam is nie. Dit is eerder ʼn woord wat beteken “teenstander”. Petrus het hier in Jesus se pad gestaan. Jesus moet God se wil uitvoer, nie mense se wil nie. Petrus het egter sy eie idee gehad van wat die messias moet wees en doen, net soos die ander Jode.
Dit is ook interessant dat die satan, die teenstander, vir Jesus met dieselfde ding in die woestyn versoek het. Ons lees hiervan in Mat. 4. Nadat Jesus gedoop is, het Hy na die woestyn toe gegaan vir 40 dae en 40 nagte, waar die satan Hom versoek het. Een van die versoekings waarmee die satan Jesus versoek het, is dat die satan aan hom al die koninkryke van die aarde sou gee, sonder dat Hy sou moes ly. Die satan het vir Hom gesê, buig voor my en word die magtige aardse leier wat die mense verwag het jy sou wees. Jesus het geweet Hy sou ook dan nie die lyding hoef deur te gaan nie.
Jesus het egter nie vir die temptasie geval nie. Hy is mens en daarom is Hy net soos alle mense deur die satan getempteer, maar Hy is ook God en daarom het Hy nooit daarvoor geval nie. Hy volg nie die wil van die mense nie. Hy volg die wil van God. Hy het geweet Hy moet ly en daardeur sou Hy die mense nie net verlos van hulle aardse probleme nie, maar van hulle ewige probleme. Jesus het toe vir ons gely. Hy het Homself heeltemal vir ons opgeoffer. Hy het die straf van die dood wat ons verdien het, gedra. Hy het daardeur koning geword van hemel en aarde vir ewig. Nie net van tydelike aardse koninkryke nie.
Hoofpunt 2: Ons moet onsself opoffer, ons kruis opneem en Hom volg.
Die groot vraag is of ons ook net vir Jesus wil hê om ons aardse probleme op te los? Het ons ook dalk ʼn verwronge beeld van wat Jesus vir ons kom doen het, en van wat dit beteken om Hom nou te volg? Jesus het Homself vir ons opgeoffer en daarom moet ons ook nou onsself vir Hom opoffer. Die skare en die dissipels wou iemand hê wat hulle tydelike probleme sou oplos, want vir hulle gaan dit net oor hulleself. Wil ons ook net hê Jesus moet ons tydelike aardse probleme oplos? Gaan dit net oor onsself? Of verstaan ons dat Jesus gekom het om ons ewige probleme op te los en weet ons dit gaan oor Hom?
Jesus se daarom in ons fokus vers: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, …”
Wat beteken dit om jouself te verloën en jou kruis op te neem? Ons kan miskien dink dat die dissipels en die skare wat dit gehoor het, dit ook nie sou verstaan nie. Jesus is natuurlik op hierdie punt nog nie gekruisig nie, tog maak Hy hier die verwysing na die kruis. Die Jode was egter baie bekend met die martelpraktyk van kruisiging. Dit is die manier hoe die Romeine misdadigers gestraf het. Dit was algemeen die gebruik van die Romeine om iemand te gesel en dan om hulle te forseer om hulle kruis te dra tot op die plek waar hulle gekruisig sou word. Almal sou dan gesien het hoe daardie persoon hulle kruis dra.
Dit is daarom moontlik dat die term “om jou kruis te dra” ʼn algemene term kon wees wat beteken het om die moeilikste en swaarste ding moontlik te doen. Wat beteken dit dan as Jesus sê dat om hom te volg beteken om jou kruis te dra? Beteken dit net eenvoudig dat daar moeilike dinge gaan wees wat ons as Christine moet doen? Beteken dit net eenvoudig dat ons soms dinge gaan moet verdra wat nie maklik is nie, of beteken dit iets meer?
Ons sien wat dit werklik beteken in wat Jesus voor en na dit sê. In die eerste plek sê Hy dat ʼn mens “jouself moet verloën”. Na dit sê Hy: “want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit ‘n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal ‘n mens kan gee in ruil vir sy lewe?” Ons moet ook onthou dat Jesus hierdie vir die skare en die dissipels sê, net nadat hy Petrus tereggewys het dat hy omgee oor dit wat die mense wil hê en nie oor dit wat God wil hê nie.
Om jou kruis op te tel en vir Jesus te volg, is daarom duidelik ʼn baie radikale lewensverandering waar jy nie meer vir jouself of enige iets anders lewe nie, jy lewe nou vir God. Jy lewe vir Christus. Hy het sy lewe vir jou opgeoffer. Hy het aan die kruis vir jou gesterf en nou moet jy jou kruis optel en vir Hom lewe. Dit is nie net ʼn bietjie swaarkry hier en daar wat ons moet verdra nie. Dit is ʼn deurlopende opoffering van die self en wat die beste sal wees vir jou en jou belange en jou gemak en ʼn totale lewe van oorgawe vir die Here. As jy jou lewe op hierdie manier opgee vir die Here, dan sal jy ook die ewige lewe kry.
Daarom staan daar: wat help dit jy wen die wêreld maar jy verloor jou lewe? Die woord wat hier met “lewe” vertaal is, kan ook vertaal word met “siel”. Dit beteken dat dit nie help nie jy verkoop jou siel en spandeer elke dag alles van jou om aarde dinge bymekaar te maak en te kry nie. Dit help niks nie. Ons lewe vir die Here, nie vir die dinge van die wêreld nie. Dit is beteken dat jy nie bang is om in woord en daad te lewe soos wat Jesus wil hê jy moet lewe nie. Hy sê immers in die vers net hierna: “Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”
Die vraag is dan, hoe lyk dit prakties hier waar ons lewe in Venterstad? Hoe kan ons prakties ons lewens so inrig dat ons volkome vir die Here lewe? Hoe kan ons elkeen elke dag ons kruis dra? Dit gaan daaroor dat ons dit wat ons doen vir die Here doen.
Die eerste ding wat ons moet besef, is dat ons die nie doen vanuit eie krag nie. Ons doen dit deur die krag van die Heilige Gees wat in ons harte werk. Hy is die een wat ons tot geloof in Jesus bring en Hy is ook die een wat ons die krag gee om Jesus te volg en ons daarin lei.
Daarom, indien jy ʼn man is, moet jy ʼn man wees vir jou vrou soos wat die Here dit van jou vereis, nie soos wat die wêreld dit doen of verwag nie. Dieselfde met vrouens teenoor hulle mans. Die wêreld het baie idees oor hoe ʼn huwelik moet lyk. Die vraag is, hoe wil die Here hê moet ons huwelike lyk?
Wanneer ons ouers is teenoor ons kinders, doen ons dit ook soos die Here dit van ons verwag, nie soos wat die wêreld sê ons moet dit doen nie. Verder werk ons vir ʼn heel ander rede as die wêreld. Vir die wêreld gaan werk net ook geld, mag of aansien. Vir die gelowige gaan dit oor die Here. Ons gebruik die gawes wat die Here vir ons gegee het om ander op te bou en vir ander te sorg. Ons doen dit nie vir onsself of vir aardse dinge nie.
Ons verhoudings met ander mense lyk ook heel anders. Ons lewe nie in verhouding met ander net vir eie gewin nie. Ons lewe in verhouding met ander juis om ander op te bou en te ondersteun. Daar is onder ons ʼn eenheid en ʼn vergewingsgesindheid wat vir die wêreld nie sin maak nie.
Beteken “om jouself te verloën” dat jy dan nou glad nie vir jouself omgee nie? Dat jy glad nie meer vir jouself lief is nie? Hoegenaamd nie. Dit beteken net dat jy al hoe minder en minder volgens jou eie wil lewe en al hoe meer en meer volgens die wil van die Here.
Dit wonderlike is wanneer jy ander en jouself op hierdie manier liefhet. Wanneer jy nie optree volgens die wil van ander of volgens die jou eie wil nie, maar volgens die wil van God, dan word alles eintlik eers reggetrek. Dan gaan alles eers eintlik goed. Dit is eers wanneer jy werk vir die Here, wat jou werk vir jou werklik sinvol sal wees. Dit is eers wanneer jy ander liefhet soos wat God vir ons leer, dat ons ware vrede sal begin bewerkstellig in ons verhoudings met mense.
Slot
Broers en susters, Jesus het nie gekom om ons net te verlos van ons tydelike aardse probleme nie. Hy het ons verlos van ons ewige probleme. Hy het Homself opgeoffer, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sou hê. Daarom moet ons onsself ook vir Hom opoffer. Ons moet onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg. Ons doen nou alles wat ons dink, sê en doen tot eer van sy naam.
Amen