Teksgedeelte: Sefanja 3: 1-20 (1983)
Fokusgedeelte: Sefanja 3: 14-17 (1983)
Tema: Die Here het ons gered van sy straf en daarom moet ons oor Hom juig, sing en bly wees.
Hoofpunt 1: Die Here het ons gered van sy straf.
Hoofpunt 2: Ons moet oor Hom juig, sing en bly wees.
Inleiding
Die genade en die regverdigheid van die Here is iets wat vir ons gereeld baie moeilik is om te verstaan. Dit gaan eintlik ons verstand te bowe. Die Here is in beheer van alles en Hy weet alles. Hy sien al die sonde wat die mens doen, raak en sy regverdigheid bepaal dat dit gestraf moet word. Sy almag bepaal dan natuurlik dat Hy dit kan straf. Tog is Hy nie net regverdig nie, Hy is ook genadig. Dit is iets wat ons moet verstom. Hoe hy ons ten spyte van al ons sondes red.
Hoofpunt 1: Die Here het ons gered van sy straf.
Dit is iets wat baie duidelik na vore kom in die boek van Sefanja. Die Here se absolute regverdigheid, maar ook sy groot genade. Die meeste van die boek van Sefanja handel oor die Here se regverdige oordeel oor Israel en ook oor die ander volke rondom Israel. Tog lees ons hier aan die einde van die profesie dat die Here ʼn oorblyfsel sal red. Ons het van hierdie oordeel gelees in die eerste deel van hoofstuk 3 van vers 1 tot 8, maar in vers 9 is daar ʼn draaipunt. Ons lees dan van die Here wat die oorblyfsel sal red.
Sefanja skryf hierdie profesie in ʼn baie interessante tyd in die geskiedenis van die volk van die Here. Die volk van die Here het na die tyd van koning Salomo in twee ryke geskeur. Hulle het in twee aparte koninkryke in geskeur. Dit is die noorderyk van Israel en die suideryk van Juda. Sefanja profeteer teenoor die suideryk van Juda. Hy profeteer in die tyd toe Josia oor Juda koning was.
Josia het koning geword toe hy 8 jaar oud was, omdat sy pa, Amon, vermoor is nadat hy vir net twee jaar regeer het. Voor dit het sy oupa, Manasse, vir 55 jaar regeer. Hy was waarskynlik die slegste koning wat Juda gehad het. Hy het afgodsdiens in die land bevorder. Hy het selfs altare vir afgode in die tempel van die Here laat sit. Hy het ook so ver gegaan om sy eie seuns te offer.
Koning Josia het egter goeie hervorming laat plaasvind. Hy het die afgodsdiens van sy oupa stopgesit en weer die wet van die Here begin lees. Die profesie van Sefanja het dalk ʼn goeie rol gespeel daarin om die volk te help om weer op die regte pad te kom. Dit was egter nie genoeg nie. Die volk was ongelukkig steeds baie sondig en die Here sou hulle nog steeds straf. Hulle sou deur die Babiloniërs weggevoer word.
Die boek van Sefanja vind waarskynlik plaas kort voor die tydperk waarin die boek van Habakuk, waarna ons vroeër die jaar gekyk het, plaasgevind het. Habakuk vind plaas na koning Josia se dood, maar voordat die volk weggevoer is deur die Babiloniërs of die Chaldeërs, soos wat hulle in Habakuk genoem word. Soos ons gesien het in Habakuk, was die volk steeds baie sondig. Geweld en onreg was die norm en daarom oordeel die Here sy volk.
Dit is juis dit waaroor Sefanja ook profeteer in hierdie boek. Die Here gaan sy volk oordeel. Hy spreek ook die oordeel van die Here uit oor al die ander volke wat ook nie die Here dien nie. ʼn Term wat oor en oor herhaal word in die boek van Sefanja, is “die dag van die Here” wat gaan kom. Dit is die oordeelsdag wanneer daar betaal gaan word vir die sondes wat teenoor die Here gedoen is.
Die Here se dan egter iets wat baie opvallend is in hoofstuk 3:8-9. Hy sê dat sy oordeel se doel nie is om almal finaal uit te roei nie. Dit is om hulle skoon te maak. Dit is om hulle nuut te maak sodat hulle hom weer sal dien:
“Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here, wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat. Ek het besluit om nasies bymekaar te maak, koninkryke saam te roep en op hulle my gramskap uit te stort, die volle gloed van my toorn: die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede. Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.”
Dit is hoe die Here hier met sy volk werk en ook hoe Hy soms met ons werk. Wanneer Hy straf oor sy kinders laat kom, is dit om hulle nader aan Hom te trek en nie om hulle weg van Hom af te stoot nie. Ons moet dankbaar wees dat die Here ons tug, of ons straf, om ons weer op die regte pad te kry. Dit is verreweg beter dat Hy dit doen as wat Hy ons net los. As Hy ons net gelos het, was ons verlore, maar deur sy tugtiging word ons gered.
Dit beteken egter nie dat Hy ons straf elke keer wat dit met ons sleg gaan nie. Elke keer wanneer dit met ons swaar gaan, moet ons nie dink dat dit is omdat Hy ons straf nie. Wanneer ʼn mens die boek van Job lees, dan sien ʼn mens raak dat Job verskriklik swaar gekry het, maar dit was nie omdat die Here hom gestraf het nie. Die Here is egter steeds deurlopend besig om met ons te werk. Hy doen wat Hy doen en laat toe wat hy toelaat met ʼn rede, al sien ons dit nie altyd raak nie, of verstaan ons dit nie.
Sefanja se profesie gaan egter oor meer as net die Babiloniese ballingskap wat oor Juda gaan kom. Natuurlik is die profesie daarin vervul, maar wanneer ʼn mens kyk na alles wat Sefanja profeteer, sien ons dat dit oor meer gaan.
Die eerste ding wat ons moet raaksien, is dat die oordeel oor baie verskillende nasies en oor die hele aarde uitgespreek word, nie net Jerusalem nie. Die Here sê ook dat Hy mense van alle nasies gaan reinig. Ons het saam gelees in vers 9 dat “die volke” verander sal word. Die volke se lippe sal rein gemaak word. Almal wat die Here rein gemaak het, sal dan soos een man sy naam uitroep.
Hierdie profesie wys daarom duidelik nie net op die Babiloniese ballingskap nie. Dit profeteer ook oor die finale oordeelsdag wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. Die “dag van die Here” verwys nie net na die dag wat die Here sy volk laat wegvoer het in ballingskap nie, maar dit verwys nog dieper na die finale “dag van die Here”. Dit is die finale oordeelsdag wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. Die is die dag wat die Here die wêreld werklik nuut gaan maak. Wanneer God se finale oordeel oor al die sonde finaal gaan kom. Dan gaan die wonderlike beeld waarvan ons lees vanaf vers 14-20 volkome plaasvind. Dit is ʼn dag waarna ons met ons hele hart moet uitsien.
Hoofpunt 2: Ons moet oor Hom juig, sing en bly wees.
Die inhoud van ons fokusverse, Sefanja 3:14–17, stem so ooreen met wat ons lees in Openbaring 21:3-6. Dit is vir ons as Nuwe Testamentiese gelowiges duidelik dat daar in Sefanja, net soos in Openbaring, geprofeteer word oor die eindtye. Ons sien ook hoe die profesie duidelik deur ons Here Jesus Christus vervul is.
Die dinge wat ons raaksien is:
- Dat alle hartseer verby is en dat daar groot vreugde gaan wees.
- Dat God ons verlos van ons sonde en straf.
- Dat God self by ons gaan woon.
- Dat God mense van alle nasies gaan red.
Ons gaan nou die twee teksgedeeltes lees dan kan u gerus na die parallelle oplet:
Sefanja 3:14-17
“Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem! Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf, Hy het jou vyande laat padgee. Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie. Daardie dag sal daar vir Jerusalem gesê word: Moenie bang wees nie, Sion, moenie jou hande moedeloos laat hang nie! Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”
Sion is die berg waarop die tempel van die Here gestaan het. Dit was ʼn teken van God se teenwoordigheid en ook die plek waar die volk primêr die Here gedien het.
Openbaring 21:3-6
“Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.”
Ons sien duidelik dat Jesus die profesie van Sefanja vervul. Die wonderlike ding is dat, alhoewel ons dit eendag na die wederkoms van Christus volkome gaan ervaar, kan ons nou reeds ʼn deel daarvan ervaar. Christus het reeds die oorwinning vir ons behaal deur sy reddingsdade. Hy is die Here wat ʼn einde gemaak het aan ons straf. Hy is die koning van Israel, want Hy is die koning van die heelal. Hy is die krygsman wat red. Hy het dit alles vir ons gedoen deur sy reddingsdade. Hy het vir ons sondes gesterf en die dood oorwin. Ons is nou die kinders van God wat gereinig is.
God se Regverdigheid en genade is alleen moontlik deur ons Here Jesus Christus. God se regverdigheid vereis dat alle sonde gestraf moet word. Deur Christus wat ons straf aan die kruis gedra het, is Hy die een wat ons straf vir ons tot ʼn einde gemaak het. Dit is deur Hom wat God aan ons genade bewys.
Ons word dan daartoe geroep om te juig en bly te wees met alles wat ons is. Ons gaan hierdie blydskap eendag volkome ervaar, maar broers en susters, ʼn vraag wat ons onsself moet afvra is of ons nou reeds werklik bly is in die Here? Vind ons nou reeds werklik onuitspreeklike vreugde in die Hom? Besef ons werklik die wonder van ons redding en die vreugde daarvan dat God by ons is? Daarom moet ons juig en sing en bly wees in Hom. Wanneer die Heilige gees in ons woon, dan weet ons die Here is by ons. Ons moet Hom ook vra om ons aan die waarhede van ons redding te herinner en daardeur ook aan ons hierdie vreugde te skenk.
Een van die groot wonders van ons teksgedeelte vandag is nie net dat ons bly is in Hom nie, maar dat Hy bly is in ons. Besef ons dit? Besef ons hoe die Here oor ons voel ten spyte van ons sonde? Dit is iets wat ons verstand te bowe moet gaan. Die Here is so bly oor ons dat Hy oor ons sing. Dit moet ʼn mens se asem wegslaan. As ons weer die laaste deel van vers 17 lees:
“Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.”
Partymaal kan ʼn mens dink dat niemand werklik vir jou omgee, oor jou gelukkig is of met jou tevrede is nie. As jy ʼn kind van die Here is, is dit egter nie waar nie. As jy ʼn kind van die Here is, dan sing die almagtige God oor jou. Dit is hoe groot en hoe wonderlik die liefde en die genade van die Here is. Ons mag daarom nooit voel dat ons nie vir iemand iets beteken nie. Ons bring groot vreugde tot die almagtige skepper van hemel. Ons maak Hom bly.
Slot
Broers en susters, ons het vandag die besonderse profesie van Sefanja gelees. Van die swaar oordeel tot die pragtige verlossing. Hierin sien ons duidelik die Here se regverdigheid en genade, wat in Christus vervul is, raak. Christus is die een wat die profesie van Sefanja kom vervul het en wat dit eendag met sy wederkoms finaal gaan vervul. God het ons verlos van ons sonde en Hy is so bly oor ons dat Hy oor ons sing. Mag ons daarom ook bly wees met alles wat in ons is en oor Hom sing.
Amen