Teksgedeelte: Filippense 3:1-16 (1983)
Fokusgedeelte Filippense 3:3 (1983)
Tema: Ons is deur Christus gered, daarom vertrou ons op Hom en dien ons God deur sy Gees.
Hoofpunt 1: Ons is deur Christus gered.
Hoofpunt 2: Ons vertrou op Hom en dien God deur sy Gees.
Inleiding
Broers en susters, hierdie is die laaste Sondag van die jaar. Baie mense gebruik hierdie tyd om introspeksie te doen. Hulle kyk na die jaar wat verby is en stel nuwe doelwitte vir volgende jaar. ʼn Paar vrae wat mense vir hulleself kan vra in hierdie tyd, is: “waar kom ek vandaan en waarheen is ek op pad”? ʼn Ander goeie vraag om te vra in hierdie tyd is: “waarop vertrou ek of waarop roem ek om die toekoms mee in te gaan?”
Hoofpunt 1: Ons is deur Christus gered
In vandag se teksgedeelte wys die apostel Paulus vir ons hoe hy op hierdie drie vrae sou antwoord. Hy skryf hierdie brief uit die tronk uit soos hy vermeld in hoofstuk 1:12-30. In hierdie brief bemoedig hy die gelowiges in die gemeente van Filippi. Hy bemoedig hulle deurlopend om vreugde te vind in die Here, soos ons ook gelees het in vers 1 van ons teksgedeelte. Hy bemoedig hulle ten midde van vervolging en dwaalleer om vas te hou aan die evangelie en die geloof.
Juis in ons teksgedeelte sê Paulus dat dit nie vir hom moeite is om dinge te herhaal nie, want dit gee vir die gelowiges sekerheid in dit wat hulle glo. Ons het nodig om herinner te word, broers en susters. Ons moet aanhou herinner word aan die evangelie. Ons moet mekaar aanhou herinner aan dit waarin ons glo, want as ons nie weet waarin ons glo nie, sal ons val vir enige iets val. Wanneer ons nie weet wat ons glo nie, val ons juis vir dwaalleer.
Paulus begin dan in vers 2 om dwaalleer aan te spreek waarmee die gemeente, en ook ons vandag nog, gekonfronteer word. Dit is ʼn dwaalleer waar jy op iets anders staatmaak as Christus vir jou redding. Wanneer ons begin doelwitte stel vir die nuwe jaar is dit ook maklik om ʼn gesindheid aan te neem waar jy net op jouself wil vertrou. ʼn Mens kan ook maklik val vir groepe soos die Israelvisie en Mormone. Daar word so baie valse inligting op sosiale media versprei. Hy noem die mense wat hierdie dwaalleer verkondig in die oorspronklike taal “honde”. Mense wat kwaad stig en mense wat vashou aan die betekenislose besnydenis.
Paulus verwys hier na ʼn groep mense wat geglo het dat jy moet besny word om gered te word. Hulle het ook geglo jy moet die wet van Moses perfek onderhou om gered te word. Hulle het geglo jy dat jy jou verlossing kan verdien deur perfekte gehoorsaamheid. Hulle het nie vertrou op Christus vir hulle redding nie, maar eerder op hulle eie vermoëns .
Broers en susters, verlossing is gegrond op geloof in Christus alleen. Christus is die een wat ons red. Ons red nie onsself nie, daarom beskryf Paulus hoe die ware geloof werk in vers 3, ons fokusvers. Hy sê ons is die ware besnydenis. Reeds in die Ou Testament, in Deut. 30:6, staan daar dat die Here ons harte sal besny sodat ons Hom met hart en siel sal liefhê. Dit gaan nie in die eerste plek oor wat ons buite doen nie. Dit gaan oor wie ons binne is wat dan uitvloei na ons dade toe.
Vers drie beskryf dit so mooi wanneer dit sê:
“…óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.”
God kom en verander ons harte deur die Heilige Gees en daarom dien ons Hom. Ons dien Hom nie om verlos te word nie. Ons dien Hom omdat ons reeds verlos is. Ons vertrou nie op onsself nie, maar op Christus. Ons roem op Hom alleen. Dit is die Heilige Gees wat ons harte verander of besny, soos ons lees in Deut. 30:6, sodat ons al ons vertroue op Christus plaas. Dit is wat dit beteken om in Hom te glo.
Om dan een van die vrae te antwoord wat ons aan die begin gevra het. Dit is op Christus alleen wie ons vertrou, maak nie saak wat in die nuwe jaar gebeur nie. Ons vertrou op Christus en daarom het ons sekerheid. Met dit in gedagte, hoe moet ons dink aan die ander twee vrae? Waar kom ek vandaan en waarheen is ek op pad? Wat beteken die pad wat die Here met my gestap het tot dusver toe, en hoe moet ek dink aan die pad vorentoe?
Dit is baie interessant dat Paulus hier van vers 4-6 praat van sy verlede. In verse 7 tot 9 verduidelik hy ook hoe hy daaroor dink. Hy sê in vers 4 dat, indien daar iemand sou wees wat op sy werke kon roem om hom te red, dan sou dit hy wees. Maar in vers 7 verduidelik hy dat al sy werke vir hom nou waardeloos is, want dit was nie werklik tot eer van Christus nie.
Hy verduidelik in verse 4-6 basies dat hy die Jood van alle Jode was. Hy het alles reg gedoen wat die Jode geglo het jy moet doen om gered te word. Hy is gebore uit ʼn goeie Joodse stam, die stam van Benjamin. Hy is op die agtste dag besny. Hy het die Joodse geloof met groot ywer bestudeer en die wette met radikale dissipline onderhou. Hy het selfs die Christene vervolg, want hulle het iets anders verkondig as dit waarin hy geglo het. As daar iemand is wat op grond van sy werke, volgens die Jode, gered moes word, dan was dit hy.
Tog weet hy nou dit alles beteken niks. Dit wat hy eers gereken het as ʼn bate vir sy redding, beskou hy nou as ʼn verlies. Ons kan nie onsself red nie. Selfs ons beste werke is met die sonde besmet. Broers en susters, wanneer ons dink aan ons verledes en dit wat ons alles gedoen het, sien ons hoe die Here ʼn pad met ons gestap het en is ons dankbaar vir al die maniere wat Hy ons gevorm het, maar ons moenie daarop roem nie. Ons moenie dink dit tel iets tot ons redding nie.
Paulus gebruik in die oorspronklike taal ʼn baie lelike woord vir sy verlede. Die 1983-vertaling vertaal dit met verwerplik. Dit word in die ou vertaling vertaal met drek. Dit alles is vir hom waardeloos in vergelyking met Christus. Christus is sy enigste regte bate. Meer as dit, Christus is sy grootse skat.
In vers 9 verduidelik hy dat Christus sy enigste regte bate is, want dit is op grond van Christus alleen wat ons vrygespreek kan word, of soos die 1953-vertaling sê, “geregverdig” kan word. Om geregverdig te wees beteken om reg voor God te wees. Ons is elkeen sondig. Ons is nie reg voor God nie. Is daar enige iets wat meer vreesaanjaend is? Om te weet dat jou verhouding met die almagtige God van hemel en aarde nie reg is nie. Dit is iets wat ons tot diep in ons siele moet ontstel. Om te weet dat Jesus ons verhouding met God deur sy sterwe en opstanding reggemaak het, moet dan vir ons die wonderlikste ding ooit wees.
Daarom sê Paulus in vers 7 dat om Christus te ken, alles oortref in waarde. Daarom is al die dinge waarnatoe hy gestreef het vroeër in sy lewe vir hom nutteloos. Daarom wil Hy niks anders hê as om Christus beter te leer ken nie. Daarom streef hy nou daartoe om soos Christus te lewe.
Hoofpunt 2: Ons vertrou op Hom en dien God deur sy Gees
Broers en susters, ons moet dan vir onsself ook afvra, is Christus ons grootse skat? Is Christus die mees waardevolle ding in ons lewens? Besef ons wat dit beteken dat Hy ons regverdig gemaak het voor God? Besef ons wat dit beteken dat ons nou op Hom kan vertrou bo alles? As dit werklik so is, as ons harte op hierdie manier besny is, as die Heilige Gees werklik hierdie geloof in ons harte bewerk het, dan moet ons lewens so lyk. Ons moet daarna streef om die Here te dien en om soos Christus te lewe.
Daarom se Paulus in vers 10 dat al wat hy wens, is om Christus te ken. Hierdie woorde beteken nie dat Paulus net meer kennis oor Jesus wil hê nie. Dit beteken dat hy geheel en al homself met Christus wil vereenselwig. Hy wil homself met Christus identifiseer. Hy wil wie hy is, wat hy doen en hoe hy voel, alles in Christus vind. Hy sê dat dit beteken dat ʼn mens in hierdie lewe moet deel te hê aan Christus se sterwe, ook met die wete dat ons eendag deel sal hê aan sy opstanding. Dit beteken om in hierdie lewe die goeie stryd te stry en alles te doen om meer soos Christus in hierdie lewe te lewe tot eer van God.
Broers en susters, besef ons dat Paulus hier verduidelik dat hy so hunker na Christus dat hy heeltemal bereid is om swaar te kry daaroor? Inteendeel, hy sê dit is ʼn kerndeel daarvan. Swaarkry in die strewe na Christus is deel van die gelowige se lewe. Is ons bereid om hierdie swaarkry te ervaar? Indien ons nie is nie, is Christus werklik ons grootste skat? Die wonderlike ding, broers en susters, is dat indien Christus werklik ons grootste skat is, en ons weet ons het Hom reeds, dan het ons ʼn onuitblusbare vreugde in ons. Paulus skryf hierdie brief, wat deurlopend ons aanmoedig om ons vreugde in die Here te vind, uit die tronk uit. Dit beteken nie dat ons nie hartseer en terneergedruktheid ervaar nie, nee, ons doen. Deur dit alles het ons egter ʼn vreugde en ʼn vergenoegdheid in Christus. Ons het daarom ook altyd hoop en moed om die stryd te stry.
ʼn Opvallende ding wat Paulus ook vir ons leer in verse 12-16, is hoe ons met hierdie gesindheid in ons lewens op die pad vorentoe moet aanpak. Dit is dan die laaste antwoord van die drie vrae wat ons aan die begin gevra het. Waarheen is ons op pad? Hoe moet ons die res van ons lewens lewe noudat ons met sekerheid weet dat Christus ons regverdig gemaak het voor God en noudat Hy ook ons grootse skat is? Noudat ons hieraan herinner is, verander dit die doelwitte wat ons stel vir die nuwe jaar?
Vers 12 sê ons moet onsself daartoe inspan om soos kinders van die Here te lewe, want Christus het ons reeds sy eiendom gemaak. Ons doen dit met die wete dat ons in hierdie lewe nie perfek is nie en nie perfek gaan word nie. Paulus sê self hy het nog nie hierdie doel bereik nie. Hy span homself egter in om by die wenstreep te kom soos hy in vers 14 sê, sodat hy die hemelse prys kan behaal waartoe hy in Christus geroep is.
Broers en susters, dit moet ook ons gesindheid wees. Ons is geroep om in hierdie lewe tot eer van God te lewe totdat ons eendag by Hom is waar ons dit perfek gaan doen. Ons weet ons gaan dit nie in hierdie lewe bereik nie, maar ons moet daarnatoe streef. Dit sluit aan by die dwaalleer waarteen Paulus die gemeente gewaarsku het in die eerste verse. Hierdie mense het gedink hulle kan volkome tot eer van die Here lewe en daardeur hulleself red. Paulus weet hy kan nie volkome tot eer van die Here lewe in hierdie lewe nie. Daarom is hy afhanklik van Jesus vir sy redding. Hy weet hy is reeds deur Jesus gered en daarom lewe hy deur die krag van die Heilige Gees tot eer van die Here.
Hy sê dan in vers 15 dat iemand wat op die bogenoemde manier lewe volwasse is in hulle geloof. Dit is Iemand wat elke dag hulleself inspan om werklik die skat na te streef met die wete dat hulle dit nooit perfek gaan doen nie, maar tog gaan aanhou groei. Die lewe van ʼn Christen is een met baie terugslae. Die terugslae is gereeld ons wat sondig. Om die regte ingesteldheid en reaksie teenoor hierdie terugslae te hê, is deel van volwasse wees in die geloof.
Ons moet besef ons het teen God gesondig. Ons moet besef dat dit verskriklik is. As Christus ons grootste skat is, dan haat ons die sonde. Dit bring berou en bekering in ons gemoed. Ons is ook altyd ontevrede met hoe ons nou is, want ons besef ons skiet tekort. Ons besef ons het nog nie die doel bereik nie, maar ons weet ook dat ons Christus se eiendom is en dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie, soos ons bely in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus. Ons groei daarom elke dag om meer soos Christus te wees. Ons vind groot vreugde in ons redding in Christus ten spyte van alle omstandighede.
Slot
Broers en susters, waarop vertrou ons, waar kom ons vandaan en waarheen is ons op pad? Die belangrike vrae wat ons vir onsself vra. Paulus het onder die inspirasie van die Heilige Gees ons vandag bemoedig en ook vir ons gewys hoe hy waarskynlik op hierdie vrae sou antwoord.
Ons vertrou op Christus alleen en op niks anders nie. Ons roem nie op ons eie dade van die verlede nie, maar alleen op Christus wat ons enigste ware bate is en alles oortref in waarde. Ons kan dan saam met Paulus in verse 13 en 14 bely:
“… ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”
Amen