Eksodus 3: 1-4:17

Teksgedeelte: Eksodus 3:1 – 4:17 (1983)

Fokusgedeelte: Eksodus 3:14 (1983)

Tema: God is wat Hy is en Hy stuur

Hoofpunt 1: God is wat Hy is

Hoofpunt 2: God stuur

Inleiding

Wie is ek? Broers en susters, dit is een van die belangrikste vrae wat ʼn mens vir jouself kan vra. Dit is belangrik om te weet wie jy is. Dit is belangrik om te weet wat jou identiteit is.  

Die vraag is dan, waarin vind ons as Christene in die eerste plek ons identiteit? Vind ons dit in onsself? In die wêreld? In waar ons vandaan kom? In wat met ons gebeur het? Of vind ons dit in iets anders? Moses het in ons teksgedeelte dieselfde vraag gevra en hoe het die Here hom geantwoord?  

Hoofpunt 1: God is wat Hy is

Voordat ons daarby kom, kom ons begin eers by die begin. Kom ons kyk waar Moses vandaan kom en wat met hom gebeur het. Waarin het hy moontlik sy identiteit gevind het voor ons teksgedeelte vanoggend.

Moses is gebore in ʼn tyd wat die farao die getal van die Joodse volk wou beperk. Na Josef se tyd het die volk van Israel ʼn groot volk in Egipte geword en hulle het almal die Egiptenare se slawe geword. Die farao het egter bang geword, want die Israeliete was meer en sterker as die Egiptenaars. Om hulle te onderdruk en hulle getalle in te perk, het die farao beveel dat al die Joodse seuns wat gebore word, doodgemaak moes word.

Om hierdie te vermy, het Moses se ma hom in ʼn mandjie weggesteek in die Nylrivier tussen die riete. Die farao se dogter het hom daar in die Nyl gekry, hom jammer gekry en besluit sy gaan hom grootmaak as haar eie kind. Sy kry toe ʼn Hebreeuse vrou wat onlangs ʼn kind gehad het vir die babatjie om aan te drink. Soos wat die Here dit bewerk het, was hierdie vrou Moses se eie ma. Die voorsienigheid van die Here is wonderlik.

Moses is in die paleis grootgemaak as ʼn prins van Egipte. Hy het egter nooit sy Hebreeuse herkoms vergeet nie. Hy het gesien hoe sy eie mense onder dwangarbeid onderdruk word. Hy het toe eendag gesien hoe ʼn Egiptenaar een van sy volksgenote slaan. Moses het, toe hy opgemerk het dat daar niemand was wat gekyk het nie, die Egiptenaar doodgeslaan en sy lyk onder die sand weggesteek. Hy het baie waarskynlik hier gedink en gevoel asof hy die een is wat sy volk gaan verlos. Hy is die man, hulle gaan hom volg. Hy is die prins van Egipte wat verandering gaan bring.

Daar was later ʼn geval waar Moses gesien het hoe twee Hebreërs, twee van sy eie mense, met mekaar baklei. Hy vra toe vir die een: “Hoekom slaan jy hou broer?”. Toe reageer hy deur te sê: “Wie het vir jou regter gemaak oor ons? Gaan jy my ook doodslaan soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?” Moses het toe geskrik, want sy geheim het uitgekom. Ons weet nie hoe Moses gevoel het oor die gruwelike sonde van moord wat hy gepleeg het nie. Ons weet egter hy het nie goed gevoel daaroor toe die mense agtergekom het wat hy gedoen het nie. Toe sy geheim by die farao uitkom, wou die farao vir Moses doodmaak. Moses vlug toe na Midian toe en hy trou daar met ʼn priester van Midian se dogter.

Daar verloop toe heelwat tyd tot en met ons teksgedeelte. Moses is hier al ʼn heelwat ouer man. Hy pas sy skoonpa se vee op. Ons moet raaksien dat dit nie sy eie vee is nie, maar sy skoonpa s’n. Dit is omdat hy waarskynlik nie vee van sy eie het nie. Die man wat eers ʼn prins was in Egipte, pas nou vir ʼn geruime tyd ʼn ander man se vee op. Die man wat vol bravade ʼn Egiptenaar doodgeslaan het in opstand vir sy volksgenoot, is waarskynlik nou ʼn ander man. Hy is iemand wat al vir ʼn lang tyd weggevlug het. Hy is iemand wat waarskynlik nog steeds bang is.

Die engel van die Here verskyn dan in ʼn brandende bos aan Moses. Hierdie engel van die Here word die Here self genoem later in vers 4. Die boodskapper het nie net namens God gepraat nie. Hy het as God self gepraat. Hierdie is ʼn manier hoe daar aan ons beskryf word hoe die onsigbare God homself op ʼn sigbare manier aan ons openbaar het. Moses sien dat die bos brand, aanhou brand en nie uitbrand nie. Dit is ʼn vreemde verskynsel. Daar in die woestyn was al die bosse waarskynlik baie droog en verskroei deur die son. ʼn Mens sou daarom verwag hierdie bos vinnig sou uitbrand.

Dit het egter nie gebeur nie. Die Here laat ʼn wonderwerk gebeur om Moses se aandag te kry. Wanneer ons iets wil laat brand, het die vuur wat ons maak een of ander brandstof nodig. Dit wat brand, word verteer. Dit is egter nie die geval met God nie. Sy vuur het nie brandstof nodig nie.  Toe Moses naderkom, roep die stem van die Here vir Moses uit die bos uit: “Moses, Moses!” Wanneer die Jode iets ernstig wou beklemtoon, het hulle dit herhaal. Die Here roep hier vir Moses twee keer op die naam. Dit word duidelik beklemtoon dat die Here met Moses wil praat. Die Moses wat gevlug het. Die Moses wat nie meer die prins van Egipte is nie.

Moses antwoord toe: “Hier is ek”. Dit moes werklik ʼn vreesaanjaende oomblik vir Moses gewees het. Die stem van die Here praat met hom uit ʼn bos wat nie uitbrand nie. Na al hierdie jare waar Moses gevlug het, kies die Here nou om in te gryp. Die Engel van die Here bring self aan Moses ʼn boodskap. Die Here sê dan vir Moses dat hy nie moet naderkom nie. Hy moet eers sy skoene uittrek, want die grond waarop op hy staan, is gewyde grond of heilige grond. Hoekom sou die stem van die Here dit vir Moses gesê het? Om jou skoene uit te trek, was ʼn teken van respek in daardie tyd. Dit is in baie kulture vandag nog so. Hy moet respek toon vir die heiligheid van God.

Besef ons die heiligheid van die Here? Besef ons dat ons nie eintlik sommer net tot die Here kan nader nie? Die woord heilig beteken afgesonder en verhewe. Die Here is heeltemal anders as sy skepping. Hy is radikaal verhewe bo sy skepping. Sonde kan eenvoudig nie voor Hom bestaan nie. Soos vuur verteer, so sal die heiligheid van die Here ons verteer. Die enigste manier hoe ons tot die Here kan nader, is deur die reddingsdade van ons Here Jesus Christus. As dit nie vir Hom as middelaar was nie, kon ons nie tot die Here nader nie. Die vraag is of ons dit werklik besef of maak ons min daarvan om voor die Here te verskyn? Weet ons dit is heilige grond hierdie?

Die Here het vir Moses gesê dat hy die God van sy voorvaders is. Moses het toe sy gesig toegemaak, want hy was bang om te kyk. Hy het besef waarmee hy besig is. Hy het besef hy nader nou tot die almagtige God en daarom het hy in ontsag sy gesig toegemaak.   

Daarna sê die Here vir hom in vers 7 dat Hy die ellende van sy volk gesien het en dat Hy hulle noodkrete gehoor het. Dit is belangrik dat ons hier stilstaan vir ʼn oomblik. Dit is baie moontlik dat ons kan voel asof die Here ons nie sien of hoor nie. As ons kyk na ons eie omstandighede en die swaarkry, ongeregtigheid en hartseer wat ons ervaar, dan mag ons voel asof die Here ons nie sien of hoor nie. Dit is egter nie waar nie. Hy sien en hoor en Hy stuur op die regte tyd. In ons ons teksgedeelte het Hy vir Moses gestuur. Hy het in dit tyd van die Nuwe Testament vir Jesus gestuur en hy gaan een dag weer vir Jesus stuur.

Hoofpunt 2: God stuur

In vers 10 sê die Here dan vir Moses dat hy die een is wat Hy wil gebruik om die volk te verlos. ‘n Mens sou dink Moses sou bly wees hieroor. Hy het geweet hoe sy volk onderdruk word in Egipte. Hy het ʼn man wat sy volksgenoot geslaan het, doodgemaak. Maar nee, Moses dink nou hy kan dit nie doen nie. Daarom vra hy in vers 11: “ Wie is ek…?”.

“Wie is ek…?”, vra Moses. Met ander woorde: “Ek kan dit mos nie doen nie. Ek het mos nie die vermoë nie. Die farao gaan nie vir my luister nie.” Moses het selfs daarin getwyfel dat die volk vir hom sou luister. Hoe antwoord die Here hom dan op sy vraag? Die Here sê vir hom: “Ek sal by jou wees…”

Die Here sê nie hier vir Moses “Ag man, ek is seker jy kan” nie. Alhoewel dit deel van die Here se voorsienigheid was, sê die Here ook nie vir Hom: “Ek het jou laat oplei in die paleis juis sodat jy weet hoe om met die farao te praat” nie. Die Here wys nie hier vir Moses op enige menslike eienskap wat hy self het nie. Die Here sê vir hom: “Ek is by jou!”. Ons is so geneig om te vra “Wie is ek?”. Die regte vraag is eerder “Wie is God?”. Moses moes hier leer dat hy nie moet staatmaak op homself nie. Hy moet staatmaak op die Here. Dit gaan nie hier oor selfvertoue nie. Die gaan oor vertroue op God en wie Hy is.

God beskryf aan Moses wie Hy is in hierdie teksgedeelte op ʼn baie aangrypende manier. As ons verder lees, sien ons Moses voel nog steeds verwerp deur sy volksgenote. Dit is ook duidelik dat sy volksgenote vir God vergeet het. Moses vra vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

God antwoord dan vir Moses in ons fokusvers: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Dit is ʼn baie bekende vers in die Bybel, maar ons moet erken dit maak eintlik nie op die oog af sin nie. Wanneer ons dieper dink, besef ons egter die diepte hiervan.

God beskryf Homself nie hier met enige byvoeglike naamwoorde nie. Deur te sê, ek is wat ek is, openbaar God homself hier as onvergelykbaar. Daar is geen ander een soos Hy nie. Daar is nie werklik woorde wat hom volledig kan beskryf nie. Deur die Bybel openbaar God homself aan ons met baie ander beskrywende woorde, maar ons moet besef dat ons nooit werklik sy wese in hierdie bedeling sal verstaan nie.  Ons moet God deur sy Woord leer ken, maar ons moet besef ons gaan dit nooit in hierdie bedeling regkry nie. Hy is wat Hy is.

Hiermee sê God ook dat Hy bestaan in volledige onafhanklikheid. Hy het niks of niemand anders nodig nie. Hy bestaan van ewigheid af en gaan in ewigheid bestaan.  Alles is “uit Hom, deur Hom en tot Hom” soos ons lees in Rom. 11:36 . Hy is wat Hy is.

Verder sê God vir Moses dat hy vir hulle moet sê dat “die Here, die God van hulle voorvaders…” hom gestuur het. God sê in vers 15 dat hy “die Here” is. In die oorspronklike Hebreeus staan daar Jahweh, wat ons vertaal as “Here”. Hierdie naam word gereeld gebruik in verband met die verbondsverhouding wat God met sy volk het. Julle is my volk en ek is julle Here en ek bly aan julle getrou. Julle het miskien in Egipte van my vergeet, maar ek het nie van julle vergeet nie.

Jesus Christus het na Homself ook verwys as “Ek is”. Toe Hy die godsdienstige leiers probeer oortuig het dat Hy die verlosser was, het Hy gesê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Johannes 8:58; vgl. ander “Ek is”-stellings). Toe wou hulle Hom stenig. Glo jy dat Jesus Christus die God van Moses is? Jesus self het gesê: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe” (Johannes 8:24). Hy is nie bloot ‘n onderwyser of morele voorbeeld nie, maar God. Die Bybel stel Hom voor soos Thomas Hom bely: Here en God (Johannes 20:28).

As ons terugkom by ons teksgedeelte, sien ons dat Moses nog steeds dink hy is nie die man vir die werk nie. God sê vir hom presies wat gaan gebeur. Die oudstes van die volk van Israel gaan hom glo, maar die farao gaan nie. Die Here gaan sy regverdigheid ten toon stel deur Egipte ernstig te teister weens die farao se harde hart. Dit is Interessant dat God vir Moses sê dat hy net drie dae van die farao moet vereis vir die volk om die Here in die woestyn te gaan dien. Die Here se plan is tog duidelik om die volk heeltemal te verlos uit Egipte uit, nie net vir drie dae nie. Hoekom sou God dit doen? Is dit om die farao te mislei en vir hom te jok? Dit is duidelik nie die geval nie, want God mislei nie mense nie.

Die eerste opsie is dat God duidelik ten toon wou stel hoe hard die farao se hart werklik is. Hy wil nie eers vir die volk drie dae gun nie, wat nog te sê van heeltemal laat gaan. Die ander opsie is dat die term “drie dae” ʼn uitdrukking was in daardie tyd wat beteken het om baie ver weg te reis. Die farao sou met ander woorde verstaan het dat die volk eintlik heeltemal weg wou gaan.

Die punt bly dieselfde. Die Here roep hier vir Moses om hom te gebruik om die volk te verlos, maar hy voel nie hy kan dit doen nie. Moses gee redes hoekom hy nie wil of kan nie, maar die Here gee vir hom oplossings. Die Here wys dan vir hom drie wonderwerke wat hy kan doen om die mense te oortuig. Moses wil nog steeds hê dat die Here iemand anders moet stuur. Moses sê hy praat stadig en sy tong sukkel. Die Here sê vir hom dat Hy die een is wat monde en tonge maak. Om hom by te staan, stuur hy sy broer om saam met hom te gaan, om namens hom te praat.

Na al die dinge wat gebeur het, is Moses uiteindelik gehoorsaam aan die Here en ons lees in die volgende teksgedeelte hoe hy teruggaan Egipte toe.

Slot

Broers en susters, wat ons uit vandag se teksgedeelte uit moet leer is: die regte vraag om te vra is nie “Wie is ek?” nie. Die vraag om te vra is: “Wie is die Here?”. Hy openbaar homself as “Ek is”, want Hy is onvergelykbaar. Hy is groter as wat ons ooit sou kon besef. Hy is met ons en Hy stuur.

Broers en susters, Hy stuur ons elkeen. Ons moet sy werk doen. Ons moet dalk nie ʼn volk van slawerny gaan verlos nie, maar die Here het werk vir ons elkeen, hier in Venterstad in hierdie gemeente. Ons moet hier sy liefde en evangelie verkondig. Dit is moontlik dat die Here jou na ʼn ander plek toe stuur en as dit die geval is, dan moet jy gaan, maar die punt is Hy stuur.

Wanneer ons dan voel, “maar wie is ek?” moet ons eerder vra, “wie is God”. Ons moet onthou wat Jesus, die een wat ook “Ek is” is vir sy dissipels gesê het in die heel laaste vers volgens die evangelie van Matteus:

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Mat 28:19-20

Amen