Psalm 144

Teksgedeelte: Psalm 144

Fokusvers: Psalm 144: 2

Tema: Die Here is my Toevlug, my Redder en die Skild by wie ek skuil, maar hoe skuil ek by Hom?

Inleiding

  • In die Bybel – verál in die Ou-Testament – lees ons gereeld dat die Here ons Toevlug is.
  • Ons kry byna dertig keer die belofte dat die Here vir ons ‘n Toevlug en ‘n Skuilplek is.
    • In vanoggend se preek gaan ons kyk na presies wat ons bedoel as ons sê dat die Here ons Toevlug is.
    • Ons gaan ook kyk na wat God se redding beteken en, laastens, gaan ons kyk hoe ons, op ‘n praktiese manier, by die Here kan skuil.

Die Here is my Toevlug

  • Eerstens is dit belangrik om raak te sien dat Psalm 144 tydens baie unieke omstandighede geskryf is.
    • Die feit dat die psalmdigter praat van die Here wat sy hande leer om te veg en sy vingers hoe om oorlog te maak, maak dit vir ons duidelik dat hierdie Psalm in ‘n tyd van oorlog geskryf is.
    • Nóg ‘n rede vir hierdie argument, is omdat ons in ons fokusvers hoor dat God volke (letterlik) aan die koning onderdanig maak.
      • In daardie tyd was dit die gebruik dat die volk wat in ‘n oorlog verslaan is, aan oorwinnaar-koning gehoorsaam moes wees.
      • Indien hierdie verslaande mense nie die oorwinnaar-koning se gebruike en godsdiens wil navolg nie, word hulle doodgemaak.
    • ‘n Vérdere rede waarom ons sê dat Psalm 144 tydens oorlog geskryf is, is omdat ons in vers 10 lees dat dit alleen Gód is wat aan konings die oorwinning gee en hulle van hulle vyande red.
  • Tydens ‘n oorlog is dit vir niemand maklik nie.
    • Selfs die volk wat oorwin, kry swaar en moet hárd veg om oorwinning te bereik.
    • Selfs die stérkste soldate word moeg.
    • Selfs die brááfste konings word beleef angs, want ‘n mens is broos en teer.
      • En dit is waarom die psalmdigter sy hulp in die Here, alleen, bely.
      • Want hy besef dat die mens nietig is.
        • In vers 3 en 4 word Psalm 8 en Psalm 102 (vgl. ook Pred. 6: 12) word amper woordeliks aangehaal.
          • Ja, want wat is die mens dat God aan hom/haar wil dink?
          • Ons lewe gaan so vinnig soos ‘n skaduwee verby.
  • En juis dáárom bely die psalmdigter sy geloof in God.
  • Selfs hierdie magtige koning, wat sy vyande oorwin, besef waar sy hulp wáárlik vandaan kom.
  • En dáárom noem die digter van Psalm 144 die Here sy “Skuilplek” of sy “Toevlug”.
    • Die woord wat hier gebruik word, beteken letterlik: “’n veilige plek waarheen iemand na toe kan vlug as daar gevaar is”.
    • In die konteks van Psalm 144 se agtergrond, maak dit dan sin dat die digter die Here as sy Toevlug beskryf.
    • Want dit is waar gelowiges wil wees wanneer hulle in gevaar is – styf in God se arms.
      • Kinders van die Here vlug létterlik na God toe die oomblik as daar gevaar rondom hulle is.
      • Hier, onder God se vleuels van beskerming, vind gelowiges dan troos.
    • En dit is ook heeltemal reg van gelowiges om na God toe te vlug vir beskerming – eintlik word dit van ons verwag om, in die eerste plek, nooit onder God se beskerming uit te beweeg nie.
  • ‘n Ander woord, wat soortgelyk aan “toevlug” is, en wat ook in ons fokusvers voorkom, is die woord “skuilplek” of “bergvesting”.
    • Hierdie woord wil ‘n plek beskryf wat op ‘n besonderse manier versterk is: soortgelyk aan ‘n militêre fort.
    • Hierdie fort, of vesting, was omring met stéwige mure sodat daar weerstand teen die vyand gebied kon word.
    • Wat besonders is van die skuilplek wat hier, in Psalm 144 beskryf word, is dat dit teen ‘n berg gebou is.
      • Dit is teen die helling van ‘n berg gebou met die doel om, van ‘n afstand af, die vyand te kan sien aankom.
      • Daar, teen die berg, kry ‘n mens ook perspektief, want nou sien ‘n mens wat wérklik rondom jou aangaan.
        • Die Here is die Psalmdigter se wonderlike, stewige, Skuilplek waarheen hy kan vlug die oomblik wanneer die vyand sy lewe begin bedreig.        
  • Psalm 144 bevat nie net, hier en daar, aanhalings van ander Psalms en Skrifgedeeltes nie, dit het gewéldig sterk ooreenkomste met Psalm 18.
    • Net soos Psalm 144, erken die digter van Psalm 18 óók dat die Here sy Rotsvesting, Bergskuiling en Bevryder is.
    • Die Here word óók aangeroep as die psalmdigter se énigste Toevlug in tye van benoudheid.
      • Toe bande van die dood en die doderyk die digter omring het, lees ons het hy alléén na God om hulp geroep (Ps. 18: 5 en 6).
      •  Ja, selfs toe die dood voor sy deur was, het hy stééds op God blý vertrou.

Die Here is my Redder en die Skild by wie ek skuil

  • Afgesien daarvan dat die Here sy “Toevlug” en “Bergvesting” is, noem die digter van Psalm 144 die Here ook sy “Redder”.
  • Ons fokusvers maak dit duidelik dat God nie net sy kinders beskerm nie, God het die mag om hulle ook uit hulle omstandighede uit te red.
    • Al is die koning hóé ‘n goeie leier, besef hy, nederig, dat dit net Gód is wat vir hom en sy volk verligting kan bring.
    • Die psalmdigter besef dat dit net Gód is wat mense uit hulle krisissituasies kan verlos.
  • In Psalm 144: 2 bely die digter dat die Here sy Verlosser is, wat die mag het om hom uit ‘n doodsituasie uit te red.
  • Maar, soos in baie ander Psalms, lê daar in Psalm 144 ook ‘n dieper betekenis.
    • Hierdie Psalm sing nie nét van tydelike hoop in krisissituasies nie, dit sing ook van éwige Hoop.
    • Hierdie psalm sing nie nét van tydelike beskerming teen die vyand nie – dit sing ook van éwige Beskerming.
    • Psalm 144 sing nie nét van ‘n tydelike koning nie – dit sing óók van ‘n Ewige Koning.
  • Ja, geliefdes, Psalm 144 profeteer die koms van ons wáre Koning en Verlosser, Jesus Christus!
    • Met ons Here, Jesus Christus se kruisdood en opstanding het Hy die vyand finaal oorwin.
    • Hy doen dit nie nét deur die duiwel letterlik te verslaan nie, maar óók om die mag van die sonde te breek (Openb. 20: 1 – 10).
      • Jesus Christus is die wáre Oorwinnaar-Koning.
      • Alle volke sal aan Hom onderdanig wees.
      • Elke knieg sal voor Hom moet buig en elke tong sál moet bely: Christus is die Here tot eer van die Vader (Rom. 14:11; Fil. 2: 9 – 11).
  • Geliefdes, ons aanbid die léwende wáre God, wat die mag het om énige iets te doen (Matt. 28: 18).
    • Hy het ons nie nét van ons tydelike nood verlos nie, Hy verlos ons van ons éwige nood!  
    • Ons is duur gekoop om “kinders van God” genoem te word.
      • En daarom wil ons, soos die digter in vers 9, die Here loof en prys!
      • Ons wil ‘n nuwe lied met nuwe klank sing!
      • Ons wil die Here eer vir al sy wonderlike genade!
        • Want dit is na die Hére toe, waarna ons kan vlug as die sonde ons wil beetpak.
        • Dit is by die Hére waar ons kan gaan skuil wanneer die lewe se stormwinde rondom ons huil (Ps. 18: 1 (Totius)).
        • Ek wil die Here prys vir sy wonderlike genade, want die Hére bied vir my ‘n skild waar ek kan gaan skuil.
        • Die Heilige Gees bedek my, van alle kante af, sodat geen brandpyl van die bose my kan tref nie (Ef. 6: 16).

Hoe skuil ek (prakties) by Hom?

  • Ons het nou wéér opnuut die wonderlike nuus gehoor, dat Jesus Christus ons van die éwige dood gered het.
    • En daarom kan ons met groot vrymoedigheid by die Here gaan skuil.
      • Want die Here het ons lief.
      • Hy wil hê dat sy kinders naby Hom moet wees – stýf teen sy bors.
    • Ons, as gelowiges, wéét dat die Here ons Toevlug is.
    • Ons beséf dat dit die béste by God is.
      • Maar ons sukkel soms om na Hóm toe te vlug.
      • Dit is soms vir ons moeilik om by Hóm te gaan skuil.
  • So hoe kan ons dit regkry om prakties by die Here te gaan skuil?
    • Ons kan, op ‘n praktiese manier, by die Here gaan skuil, deur eerstens Hom as ons énigste Toevlug te bely.
    • Maak, aktief, die besluit dat die Hére jou Toevlug is.
      • Dit is nódig omdat ons sondige geaardheid ons baie keer na die verkeerde dinge toe laat vlug.
      • Baie keer soek ek ontvlugting in aanvaarding of in vriende of in wêreldse dinge.
        • Maar die oomblik as ek besef dat hierdie “wêreldse skuilplekke” baie wankelrig is, dán begin dinge verander.
        • Want dán begin my oortuiging verander.
        • Dán besef ek dat ek opsoek moet wees na ‘n onwankelbare skuilplek.
          • Dit is dán wat die Heilige Gees my oortuig dat ek alleen in God-drie-enig sekuriteit kan vind.
  • Omdat dit nie altyd vir ons natuurlik kom om na die Hére toe te vlug nie, is dit dalk nodig dat ons dit moet aanleer.
    • Wanneer daar bv. ‘n traumatiese ding in my lewe gebeur, is dit belangrik dat ek eers voor die Here sal stil word.
    • Nou kan ek tot die Here van die heelal bid en vra dat ek Hóm as my Enigste Skuilplek sal kies.
    • Ek kan die Heilige Gees sméék dat Hy kragtig in my sal werk, sodat ek alle ánder opsies opsy skuif, en my redding alleen in die Here soek.
    • Om my geloof te versterk kan ek ook my Bybel oopmaak, en weer van al God se wonderlike beloftes lees.
    • Ek kan ook ‘n gelowige omgewing rondom my skep, en my gesin vra dat ons mekaar daaraan sal herinner dat die Here ons énigste Bergvesting is.
    • Ek kan ook my vriende en medegelowiges vra om vir my te bid dat ek na die regte dinge toe sal vlug wanneer die lewe se storms kom.
      • Dit is maar ‘n paar praktiese riglyne wat ons kan navolg om te sorg dat ons gedurig na die Here toe te vlug vir beskerming en redding.  
  • Psalm 144 het begin met die psalmdigter wat sy nietigheid voor die Here besef, en aan die einde van die psalm lyk dit anders.
    • Hierdie wonderlike Psalm begin met ‘n beeld van die sonde en gebrokenheid, en dan sluit dit af met ‘n beeld van volmaaktheid.
    • ‘n Beeld van vrugbaarheid en vooruitgang.
      • In verse 12 – 14 hoor ons van al seën wat iemand, wat by die Here skuil, ontvang.
      • Maar hierdie seëninge is nie onmiddellike belonings wat dié mense ontvang wie na die Here toe vlug nie.
      • Dit is éwige seëninge wat ons wél eendag uit genade gaan ontvang.
        • Want hierdie lewe is gebroke en tydens hierdie lewe ervaar ons ook swaarkry (1 Pet. 2: 19; 4: 13).
        • Maar dit gee aan ons net nóg meer rede om na die Here toe te vlug.

Slot

  • Geliefdes, die Here is ons Enigste Toevlug.
    • Ons ervaar dit – veral – tydens hierdie unieke tyd waarin ons nóú leef.
  • Soek daarom, daagliks, die Here op.
  • Soek die Here op, dáár waar dit net jy en jou oop Bybel is.
  • Doen moeite met jou persoonlike stiltetyd en vlug na God toe.
  • Want, dáár teen die steil berg, kry ‘n mens weer perspektief.
  • Dáár, alleen, is ek vas en veilig.
  • Daar – en nét dáár – kan ek met groot sekerheid gaan skuil.
  • Amen.