2 Samuel 7: 1 – 16

Skrifgedeelte: 2 Samuel 7: 1 – 16

Fokusgedeelte: 2 Samuel 7: 5 – 7

Tema: Omdat God alomteenwoordig is, lyk die huise waarin Hy woon, anders as wat ons dink.

Inleiding

  • ‘n Lidmaat het vir my in die week gesê dat ons nou iets moet dóén aan die feit dat ons nie meer eredienste kan hou nie.
    • Sy sê dit voel vir haar, asof die regering vir God eenkant toe druk en vir God op ‘n manier weghou van ons af.
    • Wie is hulle om vir God uit die kerkgebou te druk”, was haar ontstelde woorde.
  • Wat mooi van hierdie lidmaat se gesindheid is, is dat die kerk vir haar belangrik is.
  • Sy wil graag by die Here wil wees – en dit is wonderlik.
    • Maar hierdie lidmaat verstaan nog nie hoe die Here se teenwoordigheid werk nie.
  • In vandag se preek gaan ons kyk op watter manier God teenwoordig is.
  • Ons gaan ook kyk na die begrip “huis van God” en hoe ons dit moet verstaan.

God is alomteenwoordig

  • Iets van hierdie lidmaat se gesindheid herinner ons aan die gesindheid van koning Dawid.
    • Vandat Dawid koning van Juda geword het, is hy in konstante oorlog teen Israel.
    • Ons moet onthou dat die twaalf-stamme ryk “nie-amptelik” geskeur het.
      • Daar was nou twee konings in Israel: Dawid en Is-Boset die seun van die vorige koning, Saul.
        • Nou was daar, aan die één kant, twee stamme met Dawid as hulle koning.
        • En aan die ánder kant, tien stamme, met Is-Boset as húlle koning (2 Sam. 1 – 5).
        • En só het hierdie twee konings gedurig oorlog teen mekaar gevoer.
          • Om alles te kroon was daar óók nog die Fillistyne – ons kan sê die ongelowiges – waarteen Dawid ook gereeld oorlog gevoer het.
          • Dit alles lees ons in die eerste paar hoofstukke van 2 Samuel.
  • En dan kom ons by die gedeelte wat ons saam gelees het.
  • In 2 Samuel 7 hoor ons dat koning Dawid teruggekeer het na sy eie huis, nadat die Here vir hom rus gegee het van al sy vyande in sy omgewing.
    • Hier, by die huis, kon hy ook aan ander dinge dink, en nie net heeltyd aan die oorlog nie.
    • Noudat hy rustig by die huis is, kan hy aan ander dinge aandag gee.
      • En omdat sy geloof vir Hom belangrik was, daarom dink Hy aan die Hére.
      • Noudat ons ingeperk is, dink baie van ons ook dalk aan die Here en aan die kerk, en dit is wonderlik.
      • Maar ons moet altyd seker maak dat ons gedagtes – ook oor die kerk – in lyn is met God se wil.
  • Want noudat Dawid rustig by sy eie huis is, dink hy vir ‘n oomblik aan die Here se huis.
  • Dawid dink aan die kerk – of in daardie tyd die tempel.
    • Dawid besef dat hy, as koning van Israel, in hierdie pragtige paleis woon wat met sederhout versier is.
    • Maar die ark van God staan in ‘n tent.
      • In daardie tyd, was die Here se heerlikheid in daardie ark teenwoordig – maar die Israeliete het gedink dat dit ook nét tot daardie ark beperk was.
    • Dawid het egter ook goed geweet dat die Here die Almagtige God van hemel en aarde is.
    • En daarom het dit hom ontstel dat hy, as nietige mens, in só ‘n pragtige permanente paleis woon, maar die Here – die Almagtige – woon in ‘n tydelike tent.
      • En in ‘n sekere sin verstaan ons Dawid se ontsteltenis.
      • Ons voel ook dat God altyd beter omstandighede as ‘n koning moet geniet.
      • Selfs die profeet, Natan, het óók so gevoel.
        • In sy menslikheid, sê hy vir die koning: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is met u”, voeg hy selfs by.
      • Maar hierdie was ménslike planne en nooit Gód se wil nie.
  • Daarom het die Here se Woord daardie nag tot die profeet, Natan, gekom.
    • Die Here maak dit duidelik dat Hy nog nooit in ‘n huis gewoon het nie.
    • Vandat Hy die Israeliete uit Egipte laat wegtrek het, het die Here nog altyd saam met die volk beweeg.
      • Hy was nog altyd in die tabernakel en in die tent teenwoordig.
    • Bo dit álles het God nog nooit tevore vir één van sy kinders die opdrag gegee om vir Hom ‘n huis te bou nie.
      • Die Here gee aan Natan die opdrag om dit aan koning Dawid te gaan vertel.
  • Die Here se vérdere woord aan Dawid is, dat hy moet onthou dat dit die Hére is wat vir Dawid, letterlik, agter die skape uit die veld uitgehaal het, en van hom ‘n koning gemaak het.
    • Oral waar Dawid heengegaan het, was die Here bý hom.
    • Dit was die Hére wat aan Dawid die oorwinning oor sy vyande gegee het.
    • Dit was ook die Hére wat aan sy kinders ‘n woonplek op die aarde gegee het, en nie anders om nie.
  • En nou wil Dáwid vir die Hére ‘n huis bou?
    • Dit is dalk ‘n rein gedagte, maar dit is ‘n verdraaide opvatting, want die mens sorg nie vir God nie – God sorg vir die mens.
      • Iets wat duidelik na vore kom in hierdie hoofstuk, is dat God ook nie in ‘n gebou ingeperk kán word nie.
      • God woon nie in mensgemaakte huise of geboue nie.
      • Sy héle wese is groter as geboue, tempels en kerke.
        • Want God is alomteenwoordig.
        • Hy is nie net in ‘n tempel of in ‘n kerkgebou teenwoordig nie – Hy is órals teenwoordig.
        • Daar is nie ‘n sentimeter op aarde waar Hy níé is nie.
        • Daar is nie ‘n ‘n millimeter in die atmosfeer waar God níé teenwoordig is nie.
        • Ons Here is van ewigheid tot in ewigheid alomteenwoordig.
        • Hy is, élke sekonde, órals teenwoordig.
          • En tog is God ook bó die skepping verhef – Hy is so kompleks dat ons gedagtes Hom nie kan omvat nie.
            • Hoe kan ons dan dink dat God nét in die kerk teenwoordig is?
            • Of dat die owerheid of die virus Hom, op ‘n manier, van ons kan skei?  

Die huise waarin God woon

  • Geliefdes, God kan deur niks en niemand ingeperk word nie.
  • Hy is oral teenwoordig – verséker in die kerk, maar ook by ons, in ons huise, in ons skole en in ons hospitale.
  • Dít is iets wat die gelowiges in die res van die Bybel góéd verstaan het.
    • Salomo, wat ná Dawid koning geword het, en wat die opdrag gekry het om die tempel te voltooi, sê self in sy gebed: “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!?” (1 Kon. 8: 27).
    • Dawid erken tóg later dat die Here orals teenwoordig is:
    • In Psalm 139 besing hy die wonder dat God in die Ooste, in die Weste, in die Noorde én in die Suide is.
    • God is in die hemel, op die aarde en selfs in die mees geheime plekke is – want vir die Hére is die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag.
      • En daarom vra Dawid in Psalm 139: 7: “Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan U teenwoordigheid te ontkom?”
  • In die Nuwe Testament is God se alomteenwoordigheid óók duidelik.
    •  Die diaken, Stefanus, bely, o.a. dat God oral teenwoordig is, en dat Hy vanuit die hemel regeer.
    • Nét voordat hy gestenig word, is sy woorde: “God, die Allerhoogste, woon nie in geboue wat deur mense gemaak is nie” (Hand. 7: 48).
    • Nie lank daarna nie, praat Paulus met die Ateners oor die “onbekende god” wat hulle o.a. aanbid.
    • Hy sê in Handelinge 17: 23 – 25 vir hulle: “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde. En Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee.
  • Geliefdes, dit is dus duidelik dat God nie van mensgemaakte geboue afhanklik is nie.
  • Dit is óns, mense, wat afhanklik is van kerkgeboue.
    • En daarom het God die samekomste, om Hom te aanbid, vir sy kinders moontlik gemaak.
    • Koning Salomo hét die tempel voltooi.
    • Nóú kon die volk saamkom om God te aanbid.
  • Eeue later, word ‘n Ander Koning uit die nageslag van koning Dawid en koning Salomo gebore.
    • Jesus Christus is die wáre Koning van die konings.
    • Maar Hy is ook die Koning van sy kerk, hier op aarde.
    • Hy roep sekere mense uit om deel te wees van die ware kerk oor alle eeue.
    • Nadat ons Here, Jesus Christus, vir hierdie uitverkore kinders se sonde aan die kruis gesterf het, vaar Hy na die hemel toe op.
      • Hy vaar triomfantlik na die hemel toe op, sodat Hy dáár oor sy kerk kan regeer – tot in alle ewigheid!  
  • In die Here se groot genade gee Hy dan vir sy kinders die kerk, sodat hulle kan saamkom.
  • Want dit is hier waar ons weer ons medegelowiges kan sien, saam die Here kan aanbid en mekaar met ons geestelike gawes kan bedien.
    • Maar ons moet onthou dat die fisiese kerkgebou ook maar net ‘n gebou is.
      • Dit is die suiwer Woordverkondiging, wat belangrik is.
      • Dit is die feit dat God se aangesig gesoek word, wat belangrik is.
      •  Dit is die feit dat God aangeroep word, wat belangrik is.
      • Dit is die teenwoordigheid van die Heilige Gees, wat belangrik is.
    • Dit gaan nie oor die kerkgebou, en selfs nie oor watter mense dáárdie Sondag teenwoordig is nie.
    • Dit gaan oor Gód se teenwoordigheid en die feit dat sy Woord dáár gepreek word.
  • Baie mense noem die kerkgebou die “huis van God” of die “huis van die Here”, maar wanneer ons só oor die kerk praat, moet ons verstaan wat ons sê.
    • Soos ons reeds vanuit die Skrif gesien het, kán die kerk nie die Here se fisiese huis wees nie.
    • Hy is orals teenwoordig, en nie nét in die kerkgebou nie.
      • Daarom kan ons eerder na die kerk verwys as “’n fisiese gebou waar gelowiges saamkom om die Here te aanbid”.
        • Solank ons onthou dat God nie in die tempel of kerkgebou agterbly as die lidmate uitstap nie.
        • As dít die geval is, is ons nie waarlik “kerk” nie.
  • Want dit is duidelik in die Here se Woord dat ons, as Christene, kerk is waar ons ook-al rondbeweeg.
    • Of “weet julle nie dat julle die tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3: 16).
      • Selfs al is ons buite die kerkgebou, is ons steeds kerk – en rééds dan.
      • Want dit is hier, in die wêreld, waar ons vir ongelowiges kan wys hoe die Here se kerk lyk.
    • Want dit is soos Paulus in 2 Korintiërs 6: 16 sê: “Ons is immers die tempel van die lewende God.”

Slot

  • Geliefdes, God woon nie in ons kerkgebou nie, maar in elkeen van ons se harte.
    • Dit het koning Dawid nie verstaan nie.
    • Toe hy na verskeie gevegte gerus het, het hy tyd gehad om te dink aan maniere hoe om God te eer.
    • Hy wou graag ‘n huis vir die Here bou – ‘n rein gedagte maar ‘n kortsigtige gedagte.
  • Noudat ons baie tyd by die huis spandeer, moet ons versigtig wees dat ons gedagtes nie op loop gaan nie.
  • Die feit dat ons, vir ‘n baie lang tyd, fisies nie kan kerk toe gaan nie, moet ons nie moedeloos maak nie.
    • Kom ons kyk eerder na die positiewe: die bediening gaan steeds voort.
    • Dalk word baie méér mense op hierdie manier bereik as ‘n normale erediens.
  • Om op hierdie, virtuele, manier erediens te hou, sal altyd ons tweede keuse wees.
  • Ons almal sien daarna uit om weer saam te kom, en die Here sáám te aanbid.
    • Maar dit wat ons nou ervaar, is nog glad nie vervolging van die kerk nie.
    • Ons kan steeds die Here, in die gerief van ons huise, aanbid.
    • En dit is wat die Here nou van ons elkeen verwag.
      • Om daar waar jy is, die Here se teenwoordigheid op te soek.
      • Om saam met jou gesin die wonders van die Evangelie te ontdek!
  • Word vandag getroos met die feit dat die Here se huis méér as die kerkgebou is.
  • Die regering druk nie God uit die kerkgebou nie.
  • Geen mens of instansie sal dit ooit kan regkry nie.
  • Juis omdat God Gees is, kán Hy nie ingeperk word nie.
  • God is alomteenwoordig.
  • Hy woon éwig in ons harte – en dít is wat ons in hierdie tyd troos. Amen.