Skriflesing: Kolossense 1: 21 – 29
Fokusgedeelte: Kolossense 1: 22 – 24
Tema: Deur Christus is ons met God versoen. Daarom kan ons in geloof volhard al ervaar ons soms lyding.
Inleiding
- In die eerste drie verse wat ons vandag saamgelees het, word die héle Evangelie vir ons opgesom.
- As ek Kolossense 1: 21 – 23 kan memoriseer, dan sal ek vir die res van my lewe onthou waaroor alles wérklik gaan.
- As ek maar net hierdie drie verse vir ‘n ongelowige kan gee, dan het ek die die kern van die Evangelie vir daardie persoon gegee.
- Ons kan hierdie drie verse, as fondament, gebruik om verskillende gesprekke oor die Here te begin.
Deur Christus het God Homself met ons versoen
- Paulus begin deur vir die gelowiges in Kolosse te sê dat hulle voorheen vêr van God af was en vyandiggesind teenoor die Here geleef het.
- Waarom sê Paulus dít vir hierdie arme mense?
- Hy het hulle dan nie eens geken nie – hoe kan hy so uitgesproke teenoor hulle wees?
- Dit is omdat hierdie stelling van Paulus, vir álle mense waar is, geliefdes.
- Dit is nie nét die Kolossense wat vroeër vyande van God was nie, álle mense het vyandiggesind teenoor hulle Skepper geleef.
- Toe Adam en Eva in sonde geval het, is die hele mensdom vervloek.
- Die sonde van Adam en Eva het veroorsaak dat hulle, en alle mense ná hulle, van God vervreem geword het.
- Paulus praat ook hieroor in sy brief aan die Efesiërs:
- Hy sê dat die Efesiërs vroeër ánders was as wat hulle nou is.
- In Efesiërs 2: 12 sê hy: “(Vroeër) was julle sonder Christus, uitgesluit van die burgerskap van Israel, vêr van God af, sonder deel aan die verbonde en beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.”
- Die sondeval het dus veroorsaak dat álle mense teen God gerebelleer het en van God vervreem geraak het.
- Of soos Paulus in Kolossense sê: “vyandiggesind teenoor God en vêr van Hom verwyder geraak het.”
- Eers het die mens homself van God vervreem deur homself vir God weg te steek daar in die Tuin.
- En later is die mens totaal uit die Tuin weggestuur – wég van God se genadige aangesig.
- Die sondeval het óók veroorsaak dat mense van mekáár vervreem geraak het.
- Waar Adam en Eva, aan die begin, ‘n volmaakte huwelik-verhouding gehad het, het die sonde dit reggekry om tussen hulle te kom.
- Nou hunker die vrou op ‘n sondige manier na haar man – deur sy rol in die huwelik te probeer inneem.
- En nou heers die man op ‘n sondige manier oor sy vrou – deur haar te beheer in plaas daarvan om haar in liefde te lei en te ondersteun (Gen. 1 – 3).
- Waar Adam en Eva, aan die begin, ‘n volmaakte huwelik-verhouding gehad het, het die sonde dit reggekry om tussen hulle te kom.
- Die sonde het óók veroorsaak dat mense in gesinsverband van mekaar vervreem geraak het.
- Omdat die sonde die hele samelewing gebreek het, is daar sommige kinders wat teen hulle ouers rebelleer, en is daar ook ouers wat hul gesag teenoor hulle kinders misbruik.
- Ons verhoudings met die breër gemeenskap het ook skade gelei.
- Dit is die sonde wat veroorsaak dat ons van ons medegelowiges vervreem raak deur nie te wil uitreik na mense toe nie. Dit is die sonde wat veroorsaak dat baie mense nie wil saam kom om die Here te aanbid nie.
- Laastens het die sondeval ook veroorsaak dat ons verhouding met die natuur skade gelei het.
- In plaas daarvan om die aarde te bewoon en, tot God se eer, te bewerk, besoedel en verniel die mens nou die aarde.
- In plaas daarvan om oor die skepping te heers deur dit reg te bestuur, vernietig die mens die skepping deur die balans in die ekosisteem te beïnvloed en deur die natuurlike hulpbronne uit te put.
- Dit is hoe álle mense vroeër geleef het – en baie leef nóú nog só.
- Maar God se uitverkore kinders leef nóú anders.
- Ware gelowiges wil nie teen God in opstand kom nie.
- Ware gelowiges is nie vyandig teenoor God en hul medemens nie, want ware gelowiges het genade ontvang.
- God het Homself met sy uitverkore kinders versoen!
- Hy het Homself met ons versoen deur sy Enigste Seun na hierdie aarde toe te stuur.
- En die Kolossense wéét wie Jesus Christus is.
- Paulus het sopas vir die Kolossense presies vertel wie Jesus Christus is.
- In die vorige gedeelte het ons Jesus Christus leer ken soos Hy werklik is.
- Onthou u verlede week se preek?
- Onthou u hoe Hy aan u verkondig is?
- Onthou u hoe God alles deur Hóm geskep het?
- Hoe Hy Mens geword het en hier onder ons kom woon het?
- Hoe Jesus Christus vrede kom bewerk het tussen God en sy kinders – vrede bewerk het tussen sondaar mens en volmaakte Vader.
- Juis omdat ons die voorreg het om vir God, deur Jesus Christus, deur sy Woord, te leer ken, is ons ánders as die sondige wêreld.
- Want ons Here, Jesus Christus, het aan die kruis gesterf om ons te heilig – om ons vir God af te sonder.
- Ons Here, Jesus Christus, is deur God vervloek sodat ons sonder smet en sonder skuld voor God mag verskyn.
- Hy het egter óók die dood oorwin en na die hemel toe opgevaar om weer sy plek as ewige Regeerder in te gaan neem.
- Met hierdie groot wonderwerk gee Jesus Christus aan ons ‘n ewige hoop, nl. die sekerheid dat óns ook – sóós Hy – ewig sal lewe.
- Ons Here, Jesus, gee aan ons die vaste hoop dat Hy die wêreld sal kom herskep.
- God sal weer die wêreld herskep – en Hy sal dit wéér deur Jesus Christus doen.
- Dan sal dit weer soos vóór die sondeval wees.
- ‘n Samelewing wat níé van God vervreem wil wees nie.
- ‘n Samelewing waar die sonde níé tussen ons en God kom inbeweeg en ons teen God laat rebelleer nie.
- Want op die nuwe hemel en aarde sal ons nie vyandiggesind teenoor God en ons medemens wees nie – want die vyand is dán totaal en al vernietig.
- Hier, op die nuwe hemel en aarde sal álles – ook die natuur – in vólle harmonie en volmaaktheid funksioneer.
- Dan sal dit weer soos vóór die sondeval wees.
Daarom kan ons in die geloof volhard al ervaar ons soms lyding
- Maar geliefdes, soos ons weet, het die wederkoms van ons Here, Jesus Christus nog nie plaasgevind nie.
- God het nog nie alles kom nuut maak soos wat dit voor die skepping was nie.
- En juis daarom ervaar ons nog soms moeilike dae.
- Omdat alles in die skepping nog die gevolge van die sonde dra, is ons samelewing gebroke (Rom. 8: 20 e.v.).
- Maar ons, as gelowiges, het reeds die sekerheid dat daar wél in die toekoms ‘n herskepping gaan plaasvind.
- Ons het die sekerheid dat hierdie swaarkry – wat ons so gerééld beleef – net tydelik is.
- Romeine 8: 18 maak dit aan ons duidelik wanneer ons daar lees: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”
- En hier, in ons fokusvers, is dit ook baie duidelik: Juis omdat ek ‘n gelowige is, het ‘n váste hoop in die Here.
- Juis omdat ek die Here in sy Woord leer ken het – en presies weet wie Jesus Christus vir my is – kan ek stérk bly staan in my geloof.
- Juis omdat ek weet dat, híérdie kant van die ewigheid, net tydelik is, kan ek volhard in my geloof.
- Ek sal, dit wat oor my pad gekom het, kan hanteer, want ek het ‘n váste hoop wat in my lééf!
- Ek sal deur daardie inténse mediese-behandeling kan deurdruk, want ek wéét dit is net tydelik.
- Ek sal stérk kan bly staan wanneer ek met my skoolwerk sukkel, of wanneer my verhoudings skade lei, want my hóóp is op die Here.
- Maak nie saak in watter slegte omstandighede ek geplaas word nie – ek sal nie toelaat dat dit my losruk van die hoop wat in my is nie.
- Want ek, as uitverkore kind van God, wéét dat hierdie lewe nie volmaak is nie.
- Maar ek fokus nie dáárop nie – ek fokus op die lewe wat vir my voorlê.
- Ek fokus op my eenheid met Jesus Christus – op die manier hoe die Heilige Gees my aan Hom vasbind.
- Ek fokus op my geloof in God-drie-enig, want dit alléén motiveer my om, elke dag, kans te sien vir die uitdagings van dáárdie dag.
- Geliefdes, ons word op só ‘n besonderse en intieme manier aan ons Here, Jesus Christus, vasgebind, dat ons deel kry aan álles waaraan Hý deel het.
- Wanneer Paulus dan sê dat hy deel het aan die lyding van Christus, dan bedoel hy nie daarmee dat Christus se lyding deur ons aangevul moet word nie.
- Christus se lyding tydens sy aardse lewe – en veral aan die kruis – was volmáák en genóégsaam.
- Hy het al ons lyding op Hóm geneem – ten volle – en dit is afgehandel.
- Maar weens ons besondere eenheid met Christus, het ons deel aan die eggo’s van die lyding wat Hy moes deurmaak.
- Wanneer Paulus dan sê dat hy deel het aan die lyding van Christus, dan bedoel hy nie daarmee dat Christus se lyding deur ons aangevul moet word nie.
- En wanneer ons, as kerk, of bedienaars van Christus, dan lyding en vervolging ervaar dan hoef ons nie moedeloos of angstig te word nie.
- Dit is ‘n voorreg om te ly ter wille van die Evangelie – want dit toon juis ons eenheid met Christus aan.
- In Filippense 1: 29 hoor ons dat God aan ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar óók deur vir Hom te ly.
- En daarom kan Paulus hom selfs in sy lyding verblý – want dit gee vir hom die sekerheid dat hy op ‘n wonderlike, mistieke, manier aan Christus verbind is.
- Ja, Paulus verbly hom, want hy wéét dat gelowiges ten vólle met Christus verenig is – deur die gawe van die geloof.
- Wanneer ons geloof ons met ons Verlosser laat verenig, dan word ons nie onvolledig met Hom verenig nie, geliefdes.
- Ons word ten volle met Christus verenig.
- Daarom sê Paulus in Romeine 8: 17: “Aangesien ons deel het aan Christus se lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.”
- En dit is waarom ons in ons geloof kan volhárd, geliefdes!
- Al ervaar ons dalk die érgste tipe lyding denkbaar, het ons die vaste sekerheid dat dit – net soos hierdie aardse lewe – ook sal verbygaan.
- Die hartseer wat ek ervaar as ek langs die oop graf van ‘n geliefde staan;
- die dag as ek hoor dat ek my werk verloor het;
- die teleurstelling wat ek ervaar nadat ek vir die soveelste keer nie met iets misluk het – dit is álles dinge wat die vermoë het om ons te laat wankel.
- Maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees kan ons stáánde bly – al kom hierdie teleurstellings oor ons pad.
- Mag ons élkeen oortuig word van die vaste hoop wat in die hemel vir ons wag.
- Dan sal niks in hierdie lewe ons losruk van die hoop wat ons bely nie.
- Die vaste sekerheid dat ons Here, Jesus Christus, álles sal herskep sodat dit weer volmaak sal wees, soos dit vóór die sondeval was.
Slot
- Geliefdes, aan die begin van die preek het ons gehoor dat die héle Evangelie in drie verse opgesom kan word.
- Voorheen was ons álmal vyandiggesind teenoor God weens die gevolg van die sondeval.
- Ons álmal het van God vervreem geraak.
- Weens die sonde was alles gebroke.
- Ons verhouding met God, met ons medemens en met die natuur.
- Maar toe bewys God, deur Christus, aan ons besóndere genade!
- God het Homself met ons versoen deur sy Enigste Seun te stuur om vir gelowiges se sonde te betaal.
- As dit nie vir Jesus Christus se verlossing was nie, sou ons nog stééds vyande van God gewees het.
- Maar deur die wonderlike genade van geloof en gehoorsaamheid, leef ons nou ánders.
- Ons is met Christus verénig, en deel nou o.a. aan sy liefde.
- Ons is skoongewas met sy bloed, ons deel nou aan die belofte van die ewige lewe!
- Maar dit is nie ál manier waarop ons met Christus verenig is nie.
- Ons deel óók in sy lyding, want ons is volledig één met Hom!
- En daarom ervaar ons soms teëstand, want ons, as kerk, is liggaam van Christus.
- En al ervaar ons soms lyding en hartseer, omdat ons in ‘n gebroke samelewing leef, het ons stééds hoop.
- Al beleef ons – nou nog – die gevolge van die sondeval, het ons steeds ‘n vaste sekerheid!
- Want ons weet dat ons Here wéér aarde toe gaan kom.
- Ons het die troos dat alles dán nuut gemaak gaan word.
- Dán gaan daar nie één oomblik van hartseer of pyn of trane wees nie.
- Mag elkeen van ons, geduldig, en met vólle sekerheid, hierop wag.
- Amen.
*Bid vir gebroke gesinne. Rebellie, misbruik, verbale en fisiese mishandeling, egskeidings wat gesinne verwoes. Bid dat die Heilige Gees gesinne weer sal herstel – sien uit die na die herskepping hierna, waar God alles ten volle sal nuutmaak.