Kolossense 3:12 – 4:1

Skrifgedeelte: Kolossense 3: 12 – 4: 1

Fokusgedeelte: Kolossense 3: 14 en 15

Tema: God roep ons tot naasteliefde op sodat ons ‘n volmaakte eenheid kan wees.


Inleiding

  • Is dit vir jou moeilik om ander mense lief te hê? 
  • Wees eerlik met jouself en dink mooi hieroor na. 
    • Om jou eie gesin en familie lief te hê, kom dalk nog vir ons maklik – maar wat van mense wat níé familie is nie? 
    • Wat van mense wat níé jou vriende is nie? 
    • Het jy húlle wérklik lief? 
  • By monde van Paulus gaan die Heilige Gees vanoggend aan om ons te leer wat van gelowiges verwag word. 
  • Die héle boek, Kolossense, is ‘n wonderlike oproep tot ‘n gehoorsame lewe voor God. 
    • En, soos ons nou al gesien het, is hierdie oproep nie maar net ‘n koue en kliniese “voorsê” vir gelowiges nie. 
    • Ons word telkens in hierdie brief herinner aan dit wat die Here rééds vir ons gedoen het – en dít is ons motivering om in gehoorsaamheid op sy opdragte te reageer. 

God roep ons tot naasteliefde op

  • Voordat Paulus die gelowiges in Kolosse tot aksie oproep, gee hy dus eers ‘n réde vir sy oproep. 
  • Hy kom nie net uit die bloute en roep hierdie mense op tot goeie werke nie. Daar is ‘n stérk motivering vir al hierdie bevele van Paulus. 
  • Reeds in die eerste vers wat ons vanoggend saamgelees het, kry ons hierdie motivering: 
    • Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig…” ens. wees. 
  • Paulus gee dus aan die Kolossense ‘n rede waarom hulle gedrag goed moet wees. 
  • Hy gee inteendeel twee redes, geliefdes: 
    • Julle is die uitverkore volk van God én 
    • julle is mense wat Hy baie lief het.” 
  • Eerstens moet die gelowiges wat hierdie brief lees, besef dat God hulle, voor die skepping, rééds uitverkies het. 
  • En tweedens moet hierdie mense besef dat God hulle besónder liefhet.
    •  Vanuit ‘n reuse skare van die héle mensdom het God sekere mense letterlik uit die skare uitgeroep om sy kinders te wees. 
    • In die Vader se gróót liefde het Hy vir Homself sekere mense uitgesoek om ánders as die massa te wees – om heilig te wees soos Hy heilig is. 
      • God het sekere mense uitgekies wat aan Hom gehoorsaam sal wees, waar die res van die mense aan die wêreld en die bose gehoorsaam is. 
      • Hy het hulle uitgesoek omdat Hy hulle liefhet. 
        • Al wil ons dit nie altyd erken nie, is dit die héél beste by God, en daarom kies Hy sekere mense uit om, éwig, by Hóm te wees. 
  • Die lidmate van die gemeente in Kolosse het dus ‘n spesifieke identiteit: hulle is “uitverkore kinders van God wat Hy baie liefhet.” 
    • Geliefdes, al het daar baie jare verby gegaan vandat Paulus hierdie brief geskryf het, ontvang ons dieselfde identiteit. 
    • Ook óns is kinders van God wat Hy baie liefhet. 
      • My identiteit bepaal wie ek is en waarvoor ek staan. 
      • My identiteit sê presies wie ek is. 
        • Wanneer ons dan vanoggend hoor dat óns ook uitverkies is tot die ewige lewe dan raak dit ‘n mens. 
        • Wanneer ons hoor dat God nie nét die Kolossense liefhet nie, maar ook óns, hier in en om Venterstad, dan verander ons uitkyk op die lewe, nie waar nie? 
  • Want nou besef ek dat die Here van my wéét. 
  • Nou kom ek agter dat God my rááksien en dat Hy my líéfhet. 
    • Hy het nie net ánder mense gekies om sy kinders te wees nie – maar ook vir mý! 
    • Ook ék is spesiaal in sy oë en dit beteken tog dat God ‘n sekere verwagting van my het. 
      • Nou kan ek nie meer sê dat die ánder mense so of so moet maak nie – ook ék behoort nou op ‘n sekere manier te lewe. 
      • Ek behoort nou ook op te tree soos iemand wat aan God behoort. 
      • En dit beteken dat my optrede moet verander, geliefdes. 
        • Ons het dit nou al verskeie kere in die boek Kolossense gehoor. 
      • Omdat God ons uitverkies het, behoort ons nou te lewe soos kinders van God en nie soos kinders van die wêreld nie. 
        • Prakties beteken dit dat ons sal bréék met ons ou gewoontes van aanhoudende sonde. 
        • Dit beteken dat ons, van nou af, moet néé sê vir al die versoekings wat oor ons pad kom. 
  • Vers 12 herinner ons ook daaraan dat God ons liefhet. 
  • God het ons só innig lief, dat Hy bereid was om sy Enigste Seun te gee sodat Hý namens óns gestraf word. 
    • Jesus Christus het in ons plek die woede van God gedra. 
    • Die oordeel wat op ons moes afkom, het Christus op sý skouers geneem, geliefdes. 
    • Hy was bereid om, in ons plek, aan daardie kruis te sterf omdat Hy ons liefhet
    • God het ons so innig lief, dat Hy sy Seun in ons plek laat sterf het, want Hy het geweet dat ons dit nie sal maak nie. 
      • As dit nie vir God se besondere liefde was nie, sou nie één van ons vandag hier gewees het nie. 
      • Ons álmal sou die ewige dood ontvang het. 
        • Maar in God se besondere liefde vir ons, verander Hy nou ons lot. 
        • Te danke aan Jesus Christus se opofferende liefde ontvang ons nou nie die ewige dood nie, maar die ewige lewe! 
  • En daarom word ons opgeroep tot ‘n totaal ander lewe as vroeër. 
  • Want noudat Jesus Christus reeds vir al ons skuld betaal het, kán ons op die regte manier lewe. 
  • Deur die werking van die Heilige Gees is ons daartoe in staat om volgens God se wil te lewe. 
    • En daarom hoef ons nie weg te skram wanneer ons opgeroep word tot goeie dade nie. 
    • Daarom hoef ons nie verskonings uit te dink wanneer God van ons vra om in liefde teenoor ons naaste te leef nie. 
    • Want, al is dit dalk nie vir my máklik om ander mense – buiten my eie gesin – lief te hê nie, is dit nie onmóóntlik nie. 
  • Wanneer die Heilige Gees kragtig in my kom werk, dan raak ek al meer meelewend teenoor my naaste. 
  • Dit raak vir my al makliker om teenoor ander gelowiges goedgesind te wees. 
    • Ek begin hulle nou sien as mense wat – net soos ek – deur God uitverkies is. 
    • Ek begin nou te besef dat ek, in werklikheid, niks béter as hulle is nie. 
  • En daarom maak die Heilige Gees my nederig sodat ek in verdraagsaamheid met ander mense wil leef. 
    • Naasteliefde beteken nie om alle mense op ‘n soetsappige manier lief te hê nie, maar dit beteken wél om geduld met my naaste te hê. 
    • Dit beteken dat ek my naaste sal erken as “mens” en hom/haar met respek sal hanteer.   

Volmaakte eenheid gebou op liefde, vrede en dankbaarheid

  • Ons fokusvers sê dat hierdie onderlinge liefde/naaste liefde die band is wat ons tot volmaakte eenheid saambind. 
    • Onderlinge liefde is die gom wat ‘n gemeente saambind. 
    • As daar nie naasteliefde in ‘n gemeente is nie, dan sal daardie gemeente nie op ‘n gesonde manier kan voortbestaan nie. 
      • Want wat help dit ons werk hard in ‘n gemeente en doen baie dinge, maar ons doen hierdie dinge nie uit liefde nie? 
      • Al deel ons selfs álles wat ons het vir ander mense uit, maar ons gee dit sonder liefde, dan beteken daardie kos, klere, geld of tyd wat ons gegee het eintlik niks nie, geliefdes. 
        • Naasteliefde is geduldig. 
        • Dit is vriendelik en nie afgunstig nie. 
        • Dit is nie grootpraterig en verwaand nie. 
        • Onderlinge liefde handel nooit onwelvoeglik nie en soek nooit sy eie belange nie. 
        • Hierdie tipe liefde is nie liggeraak nie en hou nie boek van die kwaad nie. 
        • Naasteliefde verlekker hom nooit in onreg nie en soek altyd na die waarheid. 
        • Dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles (vgl. 1 Kor. 13: 4 – 7). 
  • Dit is na hierdie tipe liefde waarna ons moet streef, geliefdes. 
  • Dit is na hierdie tipe liefde waarna ons, as gemeente, opsoek moet wees. 
  • Die oorspronklike taal sê dat ons onsself moet “beklee” met hierdie liefde. 
    • Soos dit ‘n proses is om ‘n nuwe stel klere aan te trek, net só moet dit vir ons ‘n proses wees om mekaar opreg lief te hê. 
    • Dit verg dalk inspanning, maar die resultate is die moeite werd! 
    • Ons moet aktief besluit om mekaar lief te hê, want dit is ál hoe ons dit gaan regkry om as ‘n volmaakte eenheid sáám met mekaar te leef. 
  • Wanneer ons mekaar op die regte manier liefhet, dan sal ons ook in vrede met mekaar kan saamleef, soos ons in ons fokusvers opgeroep word om te doen. 
  • Wanneer ons mekaar met Christus se liefde kan liefhê, dan sal Christus se vrede ook in ons harte kan heers (vers 15). 
    • En wanneer dít gebeur, dán is ons ‘n volmaakte eenheid. 
    • Dán is ons ‘n gemeente wat mekaar reg hanteer en sáám in één rigting beweeg. 
      • Met groot dankbaarheid sal ons die Woord met mekaar kan deel. 
      • Ons sal met groot opgewondenheid die Here saam kan loof en prys, soos vers 16 sê, want ons is dankbaar vir die mense waarin ons verander het. 
      • Ons is diep dankbaar dat God van ons nuwe mense gemaak het wat nou sy liefde en vrede verstaan. 
        • En omdat ons so dankbaar is, wil ons van nou af reg lewe. 
        • Omdat ons Hom innig dankbaar is, reageer ons in wederliefde teenoor God én ons naaste!
  • Maar, geliefdes, hierdie dankbaarheid word nie slégs in gemeente-verband uitgeleef nie. 
  • Ek straal nie nét by die kerk liefde uit nie. 
  • Ek leef nie nét vir daardie uur of twee op ‘n Sondag in vrede met my medemens nie. 
    • Wanneer die Heilige Gees my wérklik nuutgemaak het, dan leef ek ook by die húís my dankbaarheid teenoor die Here uit. 
    • En dit is waarom Paulus in die laaste paar verse fokus op hoe gesinslede teenoor mekaar moet optree. 
      • In die huwelik word dit van ons verwag om mekaar te respekteer en mekaar lief te hê. 
        • Ek besef weer hoe die Here my met my lewensmaat geseën het. 
        • Ek is dankbaar teenoor die Here vir die persoon wat Hy aan my toevertrou, en daarom pas ek my huwelik op. 
        • Noudat ek in ‘n huwelik is, weeg my lewensmaat se belange altyd swáárder as my vriende se belange of selfs my éie belange. 
  • As kind is ek dankbaar vir die ouers wat ek gekry het, en daarom respekteer ek hulle – al stem ek dalk nie altyd saam met hulle nie. 
  • En as ouer het ek my kind lief, want die liefde van Christus oorheers nou my hart. 
  • Selfs by die werk leef ek my Christenskap uit en behandel ek my kollegas met verdraagsaamheid en respek. 
  • Al het ek mense in diens, herinner die Heilige Gees my daaraan dat húlle ook vir God belangrik is. 
  • En wanneer ek vir iemand werk, dan verwens ek nie hom/haar nie maar doen wat van my verwag word. 
    • Want ek, as nuutgemaakte kind van God, ontvang die insig om álles wat ek doen, vir die Hére te doen en nié om deur mense raakgesien te word nie.  

Slot

  • Is dit vir jou moeilik om ander mense lief te hê? 
  • Om jou eie gesin en familie lief te hê, kom dalk nog vir ons maklik – maar wat van mense wat níé familie is nie? 
    • Geliefdes, deur die Here se genade is dit tóg vir ons moontlik! 
    • Omdat Hy van ons nuwe mense gemaak het, kán ons ons medegelowiges liefhê deur hulle met respek en geduld te hanteer. 
  • Bó dit alles het God óók ons identiteit verander. 
    • Ek is nie ‘n mislukking as mens, of iemand wat nie kán verander nie. 
    • Ek is ‘n uitverkore kind van God wat Hy baie lief het. 
      • En daarom reageer ek hierop met gedrag wat by my identiteit pas. 
      • Ek tree met respek en verdraagsaamheid teenoor álle mense op – veral teenoor my eie mense. 
  • My liewe broer en suster, is hierdie tipe gedrag al deel van jou lewe? 
  • Amen.