Skrifgedeelte: Kolossense 4: 2 – 18
Fokusgedeelte: Kolossense 4: 2 tot 4
Tema: Wat moet ek doen wanneer my omstandighede my inperk?
Inleiding
- Met die inperking wat nou al soveel maande aanhou begin baie van ons gefrustreerd raak.
- Ons wil gááag by ons geliefdes uitkom, maar dit is steeds byna onmoontlik.
- Sonder ‘n besonder goeie motivering kan ‘n mens nie die provinsiale grense oorsteek nie.
- In ‘n sekere sin is ons nóú nog meer onseker oor hoe om alles te hanteer.
- Want die virus het nou skrikwekkend náby gekom.
- Hoe moet ek maak?
- Ek wil die mense ondersteun, ek wil my familie sien, ek wil meer rondbeweeg – maar ek is nou éérs versigtig.
Bid vir mekaar
- Geliefdes, vandag gaan ons maar na één voorbeeld in die Bybel kyk wat vir ons leiding hieroor kan gee.
- Vanoggend kyk ons hoe ander gelowiges optree wanneer omstandighede hulle inperk.
- Ons moet onthou dat Paulus in die tronk was toe hy hierdie brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het.
- Hy is ‘n gevangene omdat hy geglo het in die opstanding uit die dood.
- Die Joodse en Romeinse regerings het dit nie toegelaat dat Paulus oor Jesus praat as die opgestane Christus nie.
- Hierdie mense het gedink die opstanding uit die dood is maar net ‘n mite.
- As Paulus en die ander apostels dan sê dat Christus die dood oorwin het, en dat gelowiges ook uit die dood gaan opstaan, dan wou hulle met gewéld die apostels stilmaak.
- En dit is die rede waarom Paulus in die tronk is.
- Hy is ‘n gevangene omdat hy die waarheid gepraat het.
- Ons moet onthou dat Paulus in die tronk was toe hy hierdie brief aan die gemeente in Kolosse geskryf het.
- “Dit is onregverdig”, sou baie van ons sê.
- “Amper nét so onregverdig soos ons wat nou ingeperk in ons huise moet sit.”
- ‘n Mens kan só redeneer: – moedeloos en pessimisties.
- Óf jy kan met ‘n ánder ingesteldheid na jou omstandighede kyk.
- Kom ons kyk hoe Paulus opgetree het, daar waar hy in moeilike omstandighede geleef het:
- Al is hy in die tronk bemoedig hy dié mense wat vry rondloop.
- Hy herinner sy medegelowiges dat hulle moet volhard in gebed.
- Paulus herinner ook sy medegelowiges dat hulle aan mekaar moet dink en mekaar moet groet.
- Kom ons kyk hoe Paulus opgetree het, daar waar hy in moeilike omstandighede geleef het:
- So op die oog af, klink dit na vréémde raad van Paulus.
- Terwyl hy van sy medegelowiges vervreem is, gee hy hierdie opdragte vir hulle.
- Terwyl hulle nie fisies by mekaar kan uitkom nie, is dit Paulus se laaste woorde aan hierdie gemeente.
- Is dít wérklik die gedagte waarmee hy hulle wil los?
- Dat hulle moet bid en mekaar moet groet in hierdie unieke tyd wat hulle nie by mekaar kan wees nie.
- Ja, geliefdes, juis dít is Paulus se laaste raad aan hierdie gemeente.
- Die eerste opdrag waarvan ons vanoggend lees, is dat hierdie gemeente in gebed moet volhard.
- Paulus gee hierdie opdrag omdat gebed die heel belangrikste ding is wat ‘n mens kan doen as jy alleen is.
- Paulus is nie by die Kolossense nie, en die Kolossense is nie by hom nie.
- Hulle omstandighede verhoed hulle om bymekaar te kan wees.
- Maar, wanneer dit vir ons onmoontlik is om fisies by ons geliefdes te wees, dan hoef ons nie moedeloos te wees nie.
- Al kan ons soms nie ons gevoelens met ander mense deel nie, dan kan ons dit stééds met God deel.
- En dit is, o.a., wat gebed so besonders maak, geliefdes!
- Want al is mense nie altyd bereikbaar nie, is God altyd dáár wanneer ons tot Hom roep!
- En dit is juis wanneer ons nie net sommer vinnig na iemand toe kan gaan nie, wanneer ons gedwing word om na God toe te gaan.
- Dit is juis wanneer ons beweging beperk word, wanneer ons gedwing word om met Dié te praat wat bý ons is – in dieselfde vertrek.
- Want al is mense nie altyd bereikbaar nie, is God altyd dáár wanneer ons tot Hom roep!
- Om met God te kan praat deur gebed is ‘n wonderlike voorreg wat ons nie altyd benut nie.
- Want tydens gebed is ons met dié belangrikste Persoon in gesprek:
- met dié Almagtige Skepper van hemel en aarde.
- Hy het ons, en alles rondom ons, nie maar net gemaak nie – Hy hou alles steeds in stand.
- Alles in die skepping funksioneer in ‘n perfekte harmonie.
- God het ons lief en tree na ons beste belange op.
- Hy stuur sy Enigste Seun om vir al die skuld van ons sonde te betaal.
- Jesus Christus kom woon op die aarde en kom sterf aan die kruis om ons te verlos van die ewige dood.
- Hy staan drie dae later uit die dood op en verander só ons lot.
- Deur sy oorwinning oor die dood ontvang ons ook nou die ewige lewe.
- Want ons, as gelowiges, is met Hom verenig.
- Ons leef in verbondenheid met Hom omdat ons, sonder twyfel, in Hom glo.
- Die Heilige Gees het van ons núwe mense gemaak en ons lewe nou ánders as vroeër.
- Deur die werk van die Heilige Gees dink ons nou aan die dinge daar bó, waar Christus aan die regterhand van God sit.
- Jesus Christus kom woon op die aarde en kom sterf aan die kruis om ons te verlos van die ewige dood.
- Omdat ons hierdie verandering ondergaan het – omdat God ons identiteit verander het – raak gebed vir ons al makliker en al belangriker.
- Ons besef nou dat dit goed is om met mense te praat, maar dat dit die béste is om met God te praat.
- Want dit is slegs Gód is wat ons omstandighede wérklik kan verander.
- En daarom is dit belangrik dat ons sal “volhard” in gebed soos ons in ons fokusvers lees.
- Want wanneer ons gerééld bid, dan sal ons fokus konstant op die régte dinge wees – ongeag van ons omstandighede.
- Wanneer ons aanhou om met die Here in gesprek te bly, dan sal ons nie heeltyd vaskyk in negatiewe dinge soos “eensaamheid” en “afgesonderheid” nie.
- Ons sal nie voel dat ons onregverdig behandel word en dat ons te na gekom word nie.
- Want wanneer ons bid, dan besef ons dat ons nie eintlik eensaam en afgesonder is nie – God is daar en Hy luister.
- Wanneer ons bid dan besef ons dat ons besónders bevoorreg is, want ons het die geleentheid om met die Almagtige in gesprek te tree.
- Wanneer ons aanhou bid, dan besef ons dat ons niks het om te vrees nie – ook nie die virus nie – want dié Oorwinnaar oor sonde en dood kén ons omstandighede.
- Hý is, ten volle, in beheer van álles en ons het direkte toegang tot Hóm.
- Ons lees ook in Handelinge 1: 14 dat die dissipels in gebed volhard het ná Christus se Hemelvaart.
- In Romeine 12: 12 roep Paulus die gelowiges op om in gebed te volhard.
- En in Efesiërs 6: 18 sê hy: “Doen alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.”
- En dit bring ons by ons fokusgedeelte se tweede gedagte.
- Al kan gelowiges nie fisies bymekaar wees nie, kan hulle stééds vir mekaar bid!
- Dit is ‘n direkte bevel van Paulus: “Bid ook vir óns.” “Dra óns ook op in julle gebede.”
- Om vir voorbidding te vra is nie ‘n skande nie, geliefdes.
- Om vir ander mense te vra dat hulle vir jou oor iets spesefiek moet bid, is nie ‘n teken van swak geloof nie.
- Ons het in Woensdag se oordenking uit Jakobus ook gehoor dat dít juis wýs dat jy in die krag van gebed glo!
- Dit is opmerklik waarvóór Paulus voorbidding vra.
- Hy vra nie dat ander mense vir hom moet bid dat hý geseën sal word of dat sý drome sal waar word nie.
- Paulus vra dat die Kolossense moet bid dat daar ‘n deur vir die Evangelie moet oopgaan.
- Paulus vra vir voorbidding sodat hy die Woord suiwer sal verkondig.
- Want dit is die belangrikste, nie waar nie?
- Dat die Evangelie suiwer en duidelik verkondig word.
- Al kan ons, in hierdie tyd, nie fisies bymekaar uitkom nie, kán ons steeds die mees sinvolste ding doen.
- En dit is om – op verskeie maniere – die Here se Woord met mekaar te deel.
Groet mekaar met die doel om mekaar te bemoedig
- Iets wat baie opvallend in hierdie laaste hoofstuk is, is die feit dat Paulus merendeels groete boodskappe aan die gemeente oordra.
- Van vers 7 tot vers 18 noem Paulus die name van verskeie mense wat die gemeente binnekort sal besoek en ánder wat hulle groete oordra.
- Waarom doen Paulus dit?
- Waarom lê hy soveel klem op groete boodskappe?
- Hy doen dit sodat die gelowiges van Kolosse kan moed hou, geliefdes!
- Paulus noem die name van mense wat aan hulle bekénd is, sodat hulle met ‘n hoop kan leef!
- Want al is die Kolossense nóú eensaam en verward, het hulle die vooruitsig dat mense soos Tigikus en Onesimus op pad is (vers 7 – 9).
- Dit is nie meer lank nie, dan kom hierdie twee medewerkers van Paulus, wat hy baie lief het, om vir hulle te kom vertel hoe dit wérklik met Paulus gaan.
- Al is die gelowiges in Kolosse eenkant en afgesonder kom hierdie manne binnekort om die kommer in hulle gemoed heeltemal weg te neem (vers 8).
- Die gelowiges in Kolosse het dus ‘n réde om te bly hoop!
- Want hulle word verseker dat hulle medegelowiges aan hulle dink en dat hierdie mense hulle werklik liefhet.
- Want ook Aristargos, Markus en Jesus Justus stuur vir hulle groete.
- Hierdie drie manne het saam met Paulus gewerk en hulle beywer vir die Koninkryk van God.
- Hulle is Paulus se medewerkers en medegevanges.
- Óók hulle is in die tronk omdat hulle van Christus se opstanding uit die dood getuig het.
- Hulle is dus betroubare mense wat vir Paulus ‘n groot troos is.
- Maar ook Epafras, die stigter van die gemeente in Kolosse, stuur vir hierdie mense groete.
- Vir hoeveel meer motivering as dit kan ‘n mens vra?
- Die feit dat Epafras ernstig vir hulle bid, wýs vir die Kolossense dat hy nie van hulle vergeet het nie.
- Hy onthou hulle nog en dra hulle, élke dag, op in sy gebede.
- Al het die Kolossense hom lánk terug gesien, het hulle nou weer núwe moed!
- Ook Lukas, die dokter, en Demas, sy medewerker, stuur hulle groete – betroubare, gesiene mense.
- En bó dit alles moet die Kolossense nie net hierdie groete boodskappe ontvang sodat hulle éie harte warm kan raak nie.
- Paulus verwag ook dat hulle sý groete aan die mense in hulle omgewing moet oordra.
- Want op hierdie manier word ‘n mens bemoedig wanneer jou omstandighede jou op ‘n manier inperk.
Slot
- Geliefdes, wat moet óns doen wanneer óns omstandighede ons inperk?
- Wat kan óns doen wanneer ons graag by ons geliefdes wil uitkom, maar wanneer dit net nie vir ons moontlik is nie?
- Bid aanhoudend vir hulle.
- En stuur vir hulle opregte groete.
- So eenvoudig soos dit.
- Want wanneer ons volhard in gebed, dan blý ons gedagtes by God en by dié dinge wat wérklik saak maak.
- Dán word ons gedagtes nie afgelei deur dinge soos vrees en bekommernis nie.
- Al kan ons nou, in ‘n tyd soos hierdie, nie fisies by mekaar wees nie, kan ons stééds vir mekaar bid en aan mekaar groete stuur met die doel om mekaar te bemoedig.
- Ons kan nog stééds vir mekaar voorbidding doen en mekaar daaraan herinner dat ons nié van mekaar vergeet nie.
- Want wanneer ons hierdie twee eenvoudige dinge doen, dán sal ons – en ons geliefdes – áltyd vól moed en vól hoop kan wees. Amen.