Skriflesing: Haggai 2: 1 – 23
Fokusverse: Haggai 2: 4, 5 en 9
Tema: Skep moed en moenie bang wees nie, want die Heilige Gees sal altyd by julle bly – totdat die tyd van die Toekoms-tempel aanbreek
Inleiding
Ons almal weet hoe dit voel om moedeloos te wees. Wanneer dit voel asof niks in die lewe wil uitwerk nie, dan voel ‘n mens moedeloos. Ons voel moedeloos wanneer ‘n mens nie ‘n oplossing vir iets kry nie. Wanneer ons moedeloos voel, dan voel ons ook magteloos. Dink maar aan hoe moedeloos ‘n mens voel wanneer jou kinders op skool sukkel. Of wanneer iemand naby aan jou ernstig siek is en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Soms kom ‘n mens in ‘n situasie waar jou hande afgekap is. Jý kan nie by daardie teater ingaan en die operasie doen nie. Jý kan nie namens jou kind die eksamen gaan skryf nie.
Skep moed en moenie bang wees nie, want die Heilige Gees sal altyd by julle bly
Maar iets wat ‘n mens seker die mééste moedeloos maak, is wanneer jy hárd aan iets gewerk het, maar jy sien nie resultate nie. Jy het dalk verskriklik hard vir die toets geleer, maar jy kom dit nog steeds nie deur nie. Jy het dalk álles vir daai siek ooi gedoen en dan vrek sy nog steeds. Jy het ure ingesit en baie geld spandeer – baie moeite gehad – en dan kry jy nog steeds nét nie die resultate nie.
Die gelowiges in ons teksgedeelte het presiés so gevoel. Hulle het hard gewerk en geswoeg en gesweet, en nog steeds word dit wat hulle gedoen het, afgeskiet. Geliefdes, onthou u hoe ons verlede week gehoor het van die gelowiges wat uit die Ballingskap teruggekeer het? Onthou u hoe hulle die geleentheid gekry het om na hulle éie land en na hulle éie mense terug te keer sodat hulle die Here se tempel kon herbou? Ons het gehoor dat hierdie mense egter moedeloos was en treurig en traag om aan die werk te kom. Dit wat tydens die Ballingskap gebeur het, het hulle moed gebreek. Hulle standaarde het gesak en al meer soos heidene begin lewe. Dít wat eers belangrik was, was nou nie meer belangrik nie. “Die Here se tempel kan maar so staan – ons wil eers aan ons eie huise bou”, het die mense gesê. “Dit wat vir God belangrik is, is nie nóú ons prioriteit nie.” “Ons is te moeg en moedeloos om ook nog ook aan die témpel aandag te skenk.”
Omdat die gelowiges hierdie sondige gesindheid gehad het, stuur die Here dan sy profeet, Haggai, om hierdie mense te herinner aan wie God is. Die Here praat deur Haggai om hierdie volk te herinner waarom die tempel belangrik is. Dit is in die témpel waar die Here op ‘n baie besonderse manier aan die Woord kom. Die Here woon nie in die tempel nie, maar Hy roep sy kinders om dáár bymekaar te kom. Wanneer gelowiges só bymekaar is, en God se Woord oopmaak, dan beleef hulle die Here se besóndere nabyheid. Wanneer gelowiges só saamkom dan is dit iets aangrypliks. Dit is híér waar ons mekaar aan die Here se wonderlike beloftes herinner. En dit is presies wat Haggai gedoen het. Hy het weer aan die volk perspektief gegee en hulle aan die Almagtige Here se eie woorde herinner: “Ek is by julle, sê die Here” (Haggai 1: 13). Met hierdie woorde het die Heilige Gees die Israeliete aangevuur om met ‘n núwe lus en ywer die vervalle tempel op te bou.
Maar wat gebeur toe? In vandag se gedeelte lees ons dat die volk wél hierdie nuwe ywer in hulle gehad het, maar dat hulle nie die tempel gebou het soos hulle veronderstel was om dit te bou nie. In vers 3 lees ons die Here se skerp woorde: “Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na níks in vergelyking met die vorige nie?” Hoe moedeloos moes hierdie woorde nie die volk gemaak het nie? Hier is hulle besig om hulle bés te gee, maar dit is nie goed genoeg nie! Hulle het waarskynlik alles in gesit, net om te hoor dat húlle handewerk niks in vergelyking met Salomo se handewerk is nie (2 Sam. 7: 12 en 13).
Ons moet egter verstaan dat hierdie tempel, op daardie stadium, nog nie klaar gebou was nie. In Esra 3 lees ons dat die volk die bou van die tempel begin vier het, nog voordat hierdie gebou voltooi was. Die oomblik toe die bouers die fondamente van die tempel klaar gelê het, het almal reeds reg gestaan met trompette en simbale om die Here te loof vir die bou van die tempel – maar dit was te vroeg! Die tempel was nog nie naastenby klaar nie, toe begin die mense dit al vier. Bo dit alles lees ons daar in Esra, dat die mense wat die vórige tempel onthou het, getreur het oor hierdie “nuwe tempel”. “Hulle het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van die tempel gelê word. Baie ander het egter luidkeels van vreugde gejubel. Niemand kon die gehuil tussen die blye gejubel hoor nie, so hard het die mense gejubel,” lees ons daar in Esra 3: 12 en 13.
Dit is maar sewintig jaar vandat die vorige tempel vernietig is totdat hierdie een gebou word. Baie mense kon dus onthou hoe die vorige een gelyk het in vergelyking met hierdie fondamente. Dink maar net aan die kritiek van hierdie ouer mense. Al het hulle te vroeg begin feesvier oor die tempel, kan ons onsself net indink hoe ontmoedig hierdie bouers was. Selfs hulle béste is nie goed genoeg nie. Dalk het jý ook al só gevoel: dat jy wil tou opgooi, want wat méér kan ek gee? Dalk was jy ook al só moedeloos, want wat méér kan ek doen?
Maar wat lees ons in ons fokusvers, geliefdes? “Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here. En jy, Jesua, seun van Josadak, skep moed. En julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here. Begin met die werk want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige.” Wéér word die volk herinner dat die Here, die Almagtige, bý hulle is. Soos ons in verlede week se gedeelte gehoor het, belowe die Here wéér aan sy kinders dat Hy mét hulle is. Hy ondersteun nie net hierdie mense in hulle werk nie – Hy dryf hulle. In sy almag is niks vir Hom onmoontlik nie. Dit is Hý wat aan hulle die energie en die kundigheid gee om hierdie tempel te voltooi. Want die bou van die tempel is vir Hom belangrik, geliefdes. Die tempel gee vir sy kinders die geleentheid om saam te kom om Hom te ontmoet. En daarom troos Hy hierdie mense en moedig Hy hulle aan om moed te skep. Al is hulle poging nie na wense nie, is Hy stééds by hulle. Hy bly getrou aan sy beloftes al kan die mens nie dieselfde sê nie. Al is ons ontrou – Hy bly getrou (2 Tim. 2: 13). Dit was nog altyd so gewees – van Abraham en Moses se tyd af (vers 5) – en dit sal altyd só wees.
Waarom is dit moontlik dat God so geduldig met gelowiges bly?Ons ken die antwoord, geliefdes! Die Here gee keer op keer aan ons geleentheid om moed te skep – Hy herinner ons élke dag dat Hy met ons is – alleen op grond van dit wat sy Seun vir ons gedoen het. Slegs omdat Jesus Christus alle gelowiges se swakheid en sonde op Hom geneem het, sien God ons oor. Dit is nét uitverkore kinders van die Here wat hierdie voorreg het, geliefdes. As daardie Israeliete nié deel was van die Verbondsvolk nie, sou hulle nie wéér die geleentheid gekry het om die tempel te herbou nie. As God ons nie innig lief gehad het nie, sou Hy nie ons laat moed skep het nadat ons ontmoedig is nie. Daarom kan ons onsself as besonder bevoorreg beskou – want Hý wat alle rede gehad het om moed op te gee, het volhard. Tot die bittere dood toe het Hý volhard – ter wille van óns wie só maklik moedeloos word.
Die Heilige Gees sal met julle wees, totdat die tyd van die Toekoms-tempel aanbreek – én daarna
Hierdie beloftes van die Here in Haggai 2 is dus ook op óns van toepassing. Omdat ons sondige mense is, skiet ons vêr tekort. Ons probeer dalk ons bes, maar ons is op ‘n sondige manier “kerk” hier op aarde. Daar is altyd ‘n mate van selfsug en eiewilligheid in die dinge wat ons doen – al doen ons dit vir die Here. Ons pogings om ons roeping hier in die gemeente uit te leef, sal nooit genoeg wees nie. Maar dit mag ons nie ontmoedig nie, geliefdes! Want ook vir óns is die belofte van God ‘n realiteit. Hy is ook by óns, soos Hy by sy volk oor al die eeue was. En daarom hoef ons nie moedeloos of bang te wees nie, want die Almagtige Verbondsgod is bý ons. Hy sal met óns wees in alles wat ons in sy Naam aanpak.
Tot wanneer sal Hy met ons wees? Tot wanneer sal Hy ons herinner aan sy nabyheid? Net totdat ons werk hier in die gemeente, of hier op aarde klaar is? Nee geliefdes, die Here beloof sy éwige nabyheid aan ons! Die Here se nabyheid was nie nét by die Ou-Testamentiese gelowiges toe hulle die tempel herbou het nie. God verseker hulle: “My Gees sal áltyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” Aangesien hierdie belofte vir alle gelowiges geld, word dit ook in die Nuwe-Testament herhaal. Net voor Christus se kruisiging verseker Hy die Nuwe-Testamentiese kerk: “Ek sal My Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om éwig by julle te wees, naamlik die Gees van die Waarheid.”
Te danke aan dit wat Christus namens ons deurgemaak het, sal God-Drie-Enig gelowiges nóóit verlaat nie. Dink weer aan Christus se laaste woorde aan sy dissipels: “Onthou: Ek is by julle, al die dae, tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28: 20). Die Here se heerlike nabyheid sal tot en met Christus se wederkoms bý ons wees. Dit is dán wat die roem van die tempel groter sal wees as in die verlede, soos ons daar in ons laaste fokusvers lees.
Want in die toekoms gaan daar wéér ‘n tempel gebou word, geliefdes. En hierdie keer sal dit ‘n tempel wees wat God dádelik goedkeur. Want dit is nie ‘n fisiese, mensgemaakte, gebou nie, maar God sélf. In sy volmaaktheid is God se Seun die Wáre Tempel van God. Hy sal fisies, óral, teenwoordig wees. Op die Nuwe Hemel en Aarde sal ons dus, in Christus se volmaaktheid, wéér bymekaar kom om God ewig te loof en te prys. Dán sal ons nie net God se teenwoordigheid tydelik ervaar nie, maar dan sal ons Hom self sien! Helder en sigbaar (vgl. Openb. 21: 22).
Slot
Mag dít die wérklike rede wees waarom ons, in hierdie lewe, moed hou, geliefdes. Want ons wéét dat daar ‘n wonderlike toekoms vir ons wag. ‘n Toekoms sonder enige moeite of teleurstellings. ‘n Toekoms waar ons nooit weer magteloos sal voel nie. ‘n Toekoms waar ons nooit óntmoedig sal wees nie, maar altyd blýmoedig in die Here sal wees.
Skep dus moed, geliefdes en leef julle roeping uit! Want die Here, die Almagtige, sal áltyd by julle bly. Amen.