Skriflesing: Psalm 41: 1 – 14 (2020 Vertaling)
Fokusvers: Psalm 41: 10 (2020 Vertaling)
Tema: Die seer wat skinder veroorsaak
Inleiding
Elkeen van ons weet hoe dit voel wanneer iemand van ons skinder. Jy sien twee of drie mense lag en gesels lekker saam, en as jy nader stap om saam te gesels hou hulle skielik op. Of jy sien hoe iemand letterlik agter hulle hand iets vir iemand anders fluister en in jou rigting kyk – en dalk selfs vinger wys.
Dalk vat hierdie gedagtes jou terug na jou laerskooldae – of dálk het jy dit maar ónlangs ervaar. Die feit is, elkeen van ons weet hoe dit voel wanneer iemand agter jou rug van jou praat.
In vanoggend se preek gaan ons kyk na hoe ‘n Christen se houding teenoor skinderstories moet wees. Ons gaan kyk wat ons moet doen as ons in die versoeking kom om te skinder, en hoe ons moet optree wanneer iemand anders agteraf iets oor ons sê. Ons gaan, o.a., ook kyk hoe ons behoort op te tree wanneer iemand ‘n skinderstorie aan ons wil oorvertel.
Die seer wat skinder veroorsaak
Die Psalm wat ons vanoggend saam gelees het, raak hierdie kwessie aan. Psalm 41 is niks anders as ‘n belydenis van geloof en ‘n intieme gebed nie. In die eerste vier verse van hierdie Psalm, herinner die digter homself aan hoe ‘n gelowige se lewe behoort te lyk. Hy sê daar in vers 1: “Gelukkig is die mens wat die hulpelose in ag neem”. Ander vertalings sal sê: “Salig, of welgeluksalig, is die mens wat op die hulpelose of arme ag gee.” Hierdie “saligspreuk” gaan verder en sê dat iemand wérklik geseënd is wanneer jy iemand, wat swakker as jy is, respekteer. Want wanneer die dag van onheil en gevaar aanbreek, sal God jou beskerm en aan die lewe hou. Mense wat naasteliefde aan ander bewys – en dit werklik bedoel – sal deur die Here ondersteun word wanneer hulle siek is, lees ons daar in vers 4. Die Here sal só ‘n gelowige genees as hy/sy siek is. Hierdie hele belydenis van vers 1 – 4 word dus gebou op die fondasie van één Christelike eienskap: nl. dat die Here sy trou aan húlle sal wys wie mense in ag neem wat – op daardie stadium – swakker as hulle is.
Maar hoe tree die mense op wat die naaste aan die psalmdigter is? Hoe reageer die mense van Psalm 41 teenoor hierdie skrywer wanneer hy swak en siek en ellendig is? Hulle gee glad nie op hom ag nie, geliefdes! Hulle hanteer hom met alles behálwe liefde en respek! In vers 10 lees ons wat hierdie mense se gesindheid teenoor die digter was: Toe hy op ‘n ernstige siekbed gelê het, het hulle hom net kwaad toegewens. Hulle het heeltyd gewonder: “Wanneer sterf hy?” “Wanneer verdwyn sy naam?” Dít is waarom die digter sê dat hulle sy vyande is (vers 6). Al was hulle fisies naby aan hom, was hulle eintlik vêr van hom verwyder. Hulle sit letterlik en wag vir hom om dood te gaan, geliefdes. Hulle sien uit na die dag waarop sy naam nie meer deur die mense genoem sal word nie. Die dag waarop sy eer en inpak in die samelewing nie meer onthou sal word nie.
Die digter van Psalm 41 sê dat hierdie mense selfs gemáák het asof hulle sy vriende is, deur hom te besoek, maar nie met opregte bedoelings nie. In vers 7 praat hy van iemand wat hom op sy siekbed besoek, maar dan met ‘n verskuilde agenda. Hierdie persoon maak net asof hy/sy belangstel in hoe dit met die digter gaan, maar eintlik gee hy/sy net voor. Dáár by die digter praat hy/sy mooi simpatieke woorde, maar as hulle uitmekaar gaan, dan begin hierdie persoon op ‘n negatiewe manier oor die digter se toestand te praat. In vers 7 hoor ons dat hierdie persoon ‘n huigelaar genoem word. Die wérklike rede waarom hierdie sogenaamde “vriend” kom kuier het, was nie om die digter te ondersteun nie, maar om inligting te kry waaroor hy/sy kon skinder. In vers 8 hoor ons hoe die digter se vyande onder mekaar fluister oor sy toestand. Selfs die vriend wat hy vertrou het, skinder oor hom. Selfs al het die digter van Psalm 41 verskeie kere saam met hierdie persoon geëet – selfs al was hierdie persoon fisies afhanklik van hom – verraai hy/sy stééds die skrywer, soos ons daar in ons fokusvers lees. Selfs daardie persoon wat jy vertrou kan moontlik die hakskeen teen jou lig, soos ons in vers 10 lees. Wat beteken dit? Selfs al was hierdie ‘n sogenaamde “vriend” wou hy/sy letterlik die digter vertrap. Ons kan ook daaraan dink dat hierdie verraaier die digter met die hakskeen – die sterkste deel van die voet – wou skop.
Dalk het jý ook al iets soortgelyks ervaar. Dalk het dit ook al vir jóú gevoel asof iemand se woorde só kragtig is dat dit voel asof jy omgeskop word. Dalk het jy ook al gevoel hoe seer dit is wanneer iemand ná aan jou, skinderstories oor jou vertel.
Om te skinder of om agter iemand se rug te praat, is sonde, geliefdes. Om iemand se persoonlike sake met ‘n ander persoon te bespreek, sonder dat hulle daar is, is verkeerd. Sélfs al praat ons die waarheid oor iemand anders, maar ons doen dit op ‘n geheimsinnige manier, dan blý dit verkeerd. Want daardie persoon is nie dáár om hom/haarself te verdedig nie. In effek benadeel ons daardie persoon se goeie naam deur hom/haar met iemand anders te bespreek. Wanneer iemand skinder, dan doen hulle dit gewoonlik met die doel om iemand anders te kritiseer. Hulle doen dit gewoonlik met die met ‘n sondige motief – hulle doen dit met die doel om iemand af te kraak. Gewoonlik ontstaan skinderstories óók weens die sonde: omdat ek op iemand anders se lewe jaloers is, wil ek hom/haar aftakel met snedige, kwaadwillige, opmerkings.
Jakobus sê mos in sy brief dat ‘n mens se tong die mag het om baie skade aan te rig. Dit is soos ‘n klein vuurtjie wat die mag het om ‘n hele hoop hout aan die brand te steek. Dít wat jy van iemand anders sê, het die vermoë om daardie persoon se héle lewe te ruïneer. Op ‘n hele paar ánder plekke in die Bybel word die sonde van skinder aangespreek: In Eksodus 23: 1 staan daar letterlik: “Jy mag nie valse gerugte van iemand anders versprei nie.” Daar is ook verskeie Spreuke wat hieroor handel soos: “wie ‘n gerug/skinderstories versprei, is ‘n dwaas” (Spr. 10: 18). Of “Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; ‘n betroubare mens bewaar ‘n geheim” (Spr. 11: 13). Spreuke 16: 28 sê dit seker die duidelikste: “Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis. Iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.” In Romeine 1: 29 hoor ons dat hierdie tipe gedrag kenmerkende gedrag van die heidene is. Paulus sê dat die ongelowiges onbetaamlik optree: “Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug en kwaad: vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid en kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, kwaadstokers, haters van God...”
In 2 Timoteus 2: 16 kry die gelowige die raad: “Maar onheilige en sinlose praatjies moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval.” Titus kry weer die raad om vir – verál die vroue van die gemeente – te herinner dat hulle nie kwaadpraters moet wees nie (Tit. 2: 3). En in Efesiërs 5: 4 kry ons, as gelowiges, die bekende opdrag: “Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie. Nee, dank aan God pas by julle.”
Geliefdes, soos ons kan sien word skinderstories of agteraf gepratery deur die Here veroordeel. Dit is onaanvaarbaar as God se kinders stories oor ander gelowiges versprei. Dit is sonde wanneer iemand, in die geheim, iemand anders bespreek – verál wanneer daardie persoon swak of ellendig is.
Nou hoe moet ons, as gelowiges, se houding teenoor skinderstories wees? Omdat ons gelowiges is, moet ons dit óók veroordeel, geliefdes! Wanneer die Here se wil vir ons belangrik is, sal ons ontsteld word wanneer ons agterkom iemand praat van ‘n persoon agter sy/haar rug. Dit word van ons verwag om die waarheid van die Here só lief te hê, dat dit ons grief wanneer iemand agter hulle hand oor iemand anders fluister.
En wat kan ek doen as ek in die versoeking kom om van iemand anders te skinder? Vir baie gelowiges is dit moeilik om op te hou skinder – want net soos alle ander sondes is dit vir die mens tot ‘n mate lekker. ‘n Mens kry ‘n gevoel van mag wanneer jy iemand anders kan afkraak. Die sondige mens verlekker hom/haar baie keer as ‘n ander persoon ‘n fout gemaak het. Baie keer dryf hierdie gevoel ‘n mens só vêr dat jy nie kan wág om te bel en sê: “Het jy van hierdie of daardie een se groot skande gehoor?” “Kan jy gló dat daardie persoon só onbevoeg is, of met dit of dat sukkel?”
Geliefdes, wanneer ons só optree, is dit tyd om met hierdie sonde te breek. Ons Kategismus sê so mooi dat ons hierdie tipe optrede, met alles in ons, moet vermy (HK Sondag 43). Bid dat die Heilige Gees in jou sal werk dat jy sal besef hoe seer ‘n skinderstorie iemand kan maak. Besef dat daardie persoon, wat jy besig is om so swart te smeer, óók na die beeld van God gemaak is (Jak. 3: 9).
En ons, wie baie keer die skinderstories aanhoor, het ook ‘n opdrag, geliefdes. Dit word van ons verwag om dadelik die persoon te keer wat iets oor iemand anders in ons ore wil fluister. Sê reguit vir die persoon dat jy nie wil deelhê aan iets geheimsinnig nie. As iemand vir jou iets vertel wat hy/sy nie voor daardie persoon sal sê nie, dán kan jy versigtig wees. Ons bely in Sondag 43 dat ons altyd ons naaste se eer en goeie naam moet beskerm. As kind van die Here, sal ek alles in my vermoë wil doen om my naaste se menswees te bevorder.
En as jy dalk die slagoffer is, van mense wat gedurig slegte dinge oor jou sê, is daar hoop! Al praat mense oor jou om jou doelbewus af te kraak – al voel dit vir jou asof jou béste vriend jou verraai – kry jy vandag die versekering dat jy nie alleen hierdeur hoef te gaan nie. Baie ander gelowiges – soos die digter van Psalm 41 – voel ook só.
Maar iets wat ons vandag die meeste troos is dat ons Here, Jesus Christus, óók verstaan hoe seer dit is wanneer iemand aspris agteraf met jou is. In Johannes 7: 32 hoor ons hoe die skare mense oor Jesus fluister nadat Hy sê dat Hy die Ware Verlosser is wat deur sy Vader na hierdie wêreld toe gestuur is. En dit is nie al nie, geliefdes! Ons fokusvers vanoggend is ‘n heenwysing na Hóm! In Johannes 13: 18 haal Jesus Christus hierdie einste vers aan. Hy sê dat die Skrif vervul moet word wat sê: “Die een wat My brood geëet het, het sy hakskeen teen My gelig – hý het My in die rug gesteek”. Natuurlik verwys ons Here na Judas Iskariot wat later daardie nag Jesus gevange sou laat neem. Een van Jesus se éie dissipels verraai Hom. Jesus Christus ervaar die mees intense vorm van opsetlike rugstekery.
Slot
Maar dit moes gebeur, geliefdes! Dit moes gebeur dat Hy aan daardie kruis gely het, en later gesterf het. Want, as Almagtige God het Hy óók uit die dood opgestaan! Hy oorwin die dood en die sonde – óók die sonde van skinder. Te danke aan hierdie liefdesdaad van Hom, verstaan Hy nie net hoe ons voel wanneer iemand ons in die rug steek met hulle woorde nie. Hy verseker ons ook dat Hý ons nooit sal teleurstel nie. Wanneer ons swak en skaam oor iets voel, fluister Hý nie agter ons rug oor ons nie. Nee, deur sy Woord en Gees fluister Hy sy woorde van bemoediging in ons ore – helder en duidelik sodat ons dit kan hoor. Hy rus ons toe met die wete dat ménse se skinderstories oor ons, nie bepaal wie ons is nie. Slegs sý opinie oor ons maak saak. Slegs dit wat Hý van ons dink, is wérklik geldig, geliefdes.
Mag elkeen van ons die erns hiervan besef. Mag ons besef hoe seer ons iemand maak wanneer ons agter hulle rug van hulle praat. Mag ons ons medemens sien as iemand wat na God se beeld geskep is.
Kom ons doen moeite om mekaar se goeie name te eer, geliefdes. Kom ons bou mekaar eerder met ons woorde op, as wat ons aanhou om die hakskeen teen mekaar lig. Amen.