Skriflesing: Jesaja 35: 1 – 10
Fokusvers: Jesaja 35: 3 en 4
Tema: Wanneer ons die Here werklik kén, dan sal ons mekaar kan versterk en bemoedig.
Inleiding
Hierdie tyd van die jaar is gekenmerk vir ‘n moeilike tyd. Die jaar is so te sê verby, maar tog is daar nog so baie dinge wat moet plaasvind. Die eksamen lê nog voor, die jaarlikse afsluitings-funksies moet nog gereël word – soveel dinge moet nog gebeur en die tyd om dit te doen is baie min. Bó dit alles is dit vir baie mense ‘n emosioneel moeilike tyd – veral na ‘n jaar soos hierdie. Die gevolge van die landwye inperking het ons álmal geaffekteer. Die mense rondom ons voel moeg, moedeloos, uitgeput, sat.
Kennis van die Here
Dit voel vir ‘n mens asof jy besig is om deur ‘n woestyn te stap. Jy stap ‘n paar tree, maar vorder nie regtig nie. Wanneer dít die geval is, is ‘n mens se energie min, ‘n mens se kos en water is min, ‘n mens se hoop is min. ‘n Mens stap onder die gloeiende sonstrale sónder om die eindbestemming te sien. In ‘n woestyn stap ‘n mens sonder om te weet wanneer die pad ophou. Al wat jy kan doen is om aan te hou – al wat mens kan doen is om die een voet voor die ander te sit, deur die sagte, sinkende, sand.
‘n Mens stap ook sonder om te weet watter gevare daar alles rondom jou is. ‘n Woestynreis is ‘n onsekere reis. Mens moet heeltyd op die uitkyk wees vir wilde diere wat jou wil verskeur of ‘n skelm mens wat jou wil beroof. Want jy weet nie wat agter die volgende duin vir jou lê en wag nie. ‘n Woestynreis is ‘n angswekkende reis.
Gelowiges wéét wat ‘n Woestynreis behels, geliefdes. Rééds in Eksodus lees ons van die Here se volk wat deur die woestyn moes reis – op pad na die Beloofde Land. In God se groot liefde en ontferming gee Hy vir hulle uitkoms. Die Getroue Verbondsgod lei hulle uit Egipte, deur die woestyn, na die land, Kanaän. Soos ons weet was dit nie ‘n maklike pad vir die Here se volk nie – hulle het vir veertig jaar lank daar rondgeswerf – totdat hulle die Here leer ken het.
En nou is die Here se volk wéér in ‘n woestyn: letterlik én figuurlik. Jesaja word as profeet geroep om vir die Here se volk in die Ballingskap te gaan preek. Net soos in Egipte is hierdie mense wéér gevangenis in ‘n vreemde land, vêr van die bekende af weg. Omdat hulle in hulle sonde volhard, gee die Here hulle oor aan goddelose leiers. Ons kan onsself net in hierdie gelowiges se situasie indink: hierdie mense is weggeruk van hulle eie blyplek, na hierdie vreemde omgewing. Hulle is uit hulle eie land uit verban en deur vreemde mense weggevat na ‘n plek waar hulle nié wil wees nie: na ‘n land met ‘n vreemde kultuur, vreemde gebruike en gewoontes en ‘n vreemde godsdiens.
Wéér beleef die Here se kinders ‘n woestyn-tydperk in hulle lewens. Ons lees in Jesaja 35 van ‘n volk wie se hande slap hang van moedeloosheid. Ons lees van gelowiges wat se knieë al geknak het van moegheid en angs. Ons hoor van mense wat bang geword het vir die gevaar rondom hulle. Ons lees van die volk se vyande; van mense wat die gelowiges se lewe bedreig. Ons lees van stom mense, kreupeles, dowes en blindes. Ons lees selfs van die aarde wat verskroei is deur ‘n geweldige vuur. Daar word na jakkalse en ander roofdiere verwys: dit is tekens van ‘n verlate gebied, tekens dat daar nie meer ‘n beskawing in die omgewing oor was nie. Daar bestaan nie meer so iets soos ‘n opgevoede, ontwikkelde, gemeenskap in daardie omgewing nie.
Maar, geliefdes, dit is nie ál wat ons in Jesaja 35 lees nie. Ons lees nie slégs van die dorheid, swakheid en doodsheid van hierdie volk nie. Ons lees óók van Hóm wat lewe gee! Geliefdes, ons lees ook van Hóm wat die mag het om dinge hándomkeer te laat verander! En dit is presies waarom God vir Jesaja na hierdie volk toe gestuur het: Deur Jesaja se bereidwilligheid, kom God sélf aan die Woord. Hy herinner hulle aan wie God is – want die volk het vergeet in Wie presies hulle glo. Daarom het die bannelinge moed verloor. Hulle liggame was fisies afgetakel. Ons fokusvers sê dat hulle hande letterlik slap gehang het en dat hulle knieë onder hulle geswik het. Soos iemand wat inmekaarsak van te min energie het hierdie mense se liggame in mekaar gesak. Soos ‘n bejaarde se liggaam onder hom/haar meegee van swakheid, só was dit vir hierdie mense. Maar hierdie kinders van God was ook emosioneel afgetakel. Hier is hulle: in ‘n vreemde land, onder ‘n vreemde regering, gestroop van alle sekuriteit. Hulle word onderdruk terwyl hulle daar in Ballingskap is. Hulle regte word van hulle ontneem. Hulle vryheid word van hulle ontneem. Bó dit alles word hulle lewens bedreig. Hulle vyande wens hulle net die slégste toe – daar is geen hoop op uitkoms vir hierdie volk nie.
Dit ís die geval indien ‘n mens van God vergeet, geliefdes. Maar juis in die Here se oneindigende liefde, herinner Hy sy kinders Wie Hy is. God stuur vir Jesaja om vir hierdie mense te sê dat dít nie die lot van gelowiges is nie. Jesaja roep hierdie mismoedige, hulpelose, volk op en sê: “Wees sterk, moenie bang wees nie, julle God is hier. Hy kom om wraak te neem, om julle vyande te straf.”
Geliefdes, dít is die manier waarop God Homself bekendmaak in sy Woord: as die Almagtige Heerser van alles en almal. Hý alleen het alle gesag. Hý alleen het die finale sê oor elke mens hier op aarde – van die mees geringe tot die mees belangrikste. Hý stel regeerders aan en Hy maak ‘n einde aan hulle regering. As Hoogste Heer heers Hý oor alle nasies (Ps. 66). Alle mense sal voor Hom moet buig – of hulle nou in Hom glo of nie. Almal sal moet erken dat Hy die Belangrikste en mees Gesagvolste in die heelal is (Ps. 110; Fil. 2). Almal sal, in alle nederigheid, die knieë voor sy Koningskap moet buig – selfs die goddeloses, geliefdes. In skaamte sal hulle moet bely dat hulle denke al die tyd verkeerd was. Hulle sal hulle ongeloof en sondige optrede voor God die Vader móét erken.
En die Here sál oor hulle oordeel, geliefdes. In ons fokusvers word die volk in ballingskap getroos met die woorde van God Sélf: “Moenie bang wees nie, julle God is hier. Hy kom om wraak te neem. Hy kom om julle vyande te straf.” Geliefdes, as hierdie belofte van God ons vandag nie hoop gee nie, dan sal niks ons hoop kan gee nie. God beloof dat Hy oppad is om heilige wraak teenoor die vyande van gelowiges te neem. Ons het dit netnou tydens die Wetlesing óók gehoor: “Dit is Mý reg om te straf; Ék sal vergeld, sê die Here.” ‘n Gelowige kan nie self wraak neem nie. Dit is die Hére se werk. Dit is sý reg om dit te doen. Baie van ons het dit ook tydens huisbesoek bespreek: Daar in Psalm 9 het ons gehoor wat ‘n gelowige se reaksie op veronregting moet wees: – Al is dit natuurlik van ‘n mens om kwaad met kwaad te wil vergeld, word die Here se kinders opgeroep om ánders te reageer.
Deur die werking van die Heilige Gees word ons opgeroep om die Here in sy Woord te leer ken, geliefdes. Ons word opgeroep om te erken dat die Here in beheer van álle dinge is – óók van die onreg en verdrukking. Ons word opgeroep om die Here te vertrou wanneer Hy sê dat Hy al die onreg raaksien en – op sy tyd – ‘n einde daaraan sal maak. Ons word opgeroep om, in gebed en persoonlike Bybelstudie, na die Here toe te vlug en onder sy vleuels van genade te gaan skuil. Dáár, téénaan die Almagtige, is dit vir ons die béste. Dáár is ons veilig. Dáár kan ons skuil, tótdat die Laaste Oordeel verby is.
Bemoedig mekaar
Watter Persoon in die Die-Eenheid oordeel alle mense? God die Vader oordeel oor alle menslike lewe, maar Hy doen dit deur sy Seun, Jesus Christus. Vir die volk in Ballingskap was die koms van Christus ‘n belofte in die toekoms. Vir ons is die koms van Christus ‘n vervulling van hierdie belofte. Wanneer ons die Here werklik kén soos Hy Homself aan ons bekend maak in sy Woord, dan sal ons wéét dat hierdie belofte van Jesaja 35 in vervulling gegaan het – net soos alle ander beloftes van God. Jesus Christus hét Mens geword – in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde (HK S 14). Omdat ons die Here in sy Woord leer ken, wéét ons ook dat ons deur Hom verlos is. Ons, aan wie die Heilige Gees ware geloof gegee het, beséf dat Hy aan die kruis moes hang as betaling vir al ons sondes. Ons besef dat Hy die volle oordeel van God gedra het – in óns plek.
En daarom kom gebruik ons vandag weer Nagmaal. Ons dink vandag weer, op ‘n besonderse manier, hieroor. Die tekens brood en die wyn laat ons beter verstaan hoe sy liggaam gebreek is en hoe sy bloed moes vloei – ook vir my persoonlik.
Wanneer ons dus die Here ken, dan vertrou ons Hom ook. Wanneer die Heilige Gees geloof in ons harte werk, dan sien ons die Here se getrouheid in ons lewens raak. En omdat ons Hom as die Betroubare leer ken, kan ons Hom ook vertrou wanneer Hy in ons fokusvers sê dat Hy kom om ons van ons vyande te red. Ja, fisies red die Here ons van ons aardse vyande: Ons leer Hom ken as die Hoogste Regter wat oor alles en almal sal oordeel. Maar die Here red ons ook van ons geestelike vyande, geliefdes. Hy verlos ons ook van die Bose, die wêreld se aanloklike goddeloosheid en ons eie sondige begeertes.
En daarom, omdat ons die Here op só ‘n wonderlike manier leer ken, bly ons vol moed – selfs in die moeilikste dae. Omdat ons, deur die genade, weet Wie die Here is, hou ons moed tydens ons eie woestynreis deur die lewe. Ons hoor vandag maar wéér hoe niks vir Hom onmoontlik is nie. Hy het die mag om van ‘n dorre woestyn, ‘n vrugbare lushof te maak. Hy het die mag om ons omstandighede totaal en al te verander! Ons Here, Jesus, het selfs uit die dood uit opgestaan – niks is vir Hom onmoontlik nie!
Daarom word ons, as gelowiges, opgeroep om mekáár te bemoedig en te versterk. As gemeente word dit van ons verwag om mekaar gedurig aan die Here se beloftes te herinner. Sê, met alle vrymoedigheid, vir mekaar: “Maak julle slap hande weer sterk; versterk julle wankelende knieë!” “Besef weer opnuut wie die Here is!” As jy sien dat jou mede broer of suster angstig is, sê vir hom/haar: “Hou moed, moenie bang wees nie, want die Here het jou reeds uit alle angs en sonde verlos.” Wanneer die woede oor onreg in jou opborrel, herinner mekaar dat die Hére kwaad met kwaad sal vergeld. Wanneer dit lyk asof iemand alle hoop in die lewe verloor het, herinner daardie persoon dat die Here wéér sal kom. Want dit leer die profesie van Jesaja 35 óók vir ons.
Ja, geliefdes, ons Here, Jesus, sal een lááste keer kom om alles te herstel. Met sy wederkoms sal Hy alles nuutmaak. Die gebrokenheid van die wêreld sal dán herskep word. Op daardie dag sal die oë van blindes oopgaan. Die ore van dowes sal oopgaan. Lammes sal kan rondspring en stommes sal tot eer van die Here kan sing! Alle gelowiges sal op ‘n groot pad loop – die Here tegemoet. Dit is ‘n gewyde pad wat slégs deur God se uitverkore kinders gebruik sal word. Dit is ‘n veilige pad – geen gevaar sal daar gekry word nie. Dit is ‘n mooi pad – met Christus se wederkoms sal Hy die dorre woestyn in ‘n vrugbare lushof verander.
Slot
Hou daarom moed, geliefdes! Selfs al voel hierdie aardse lewe soos ‘n moeilike woestynreis, wéét ons wat vir ons wag. Selfs al was – en is – hierdie ‘n moeilike jaar vol uitdagings en bekommernisse kan ons stééds aan die Here se beloftes vashou. Die Here belowe dat Hy alle onreg sál straf. Hy sien jou raak daar waar jy swaarkry. Hy weet van jou siekte. Hy is bewus van jou bekommernisse.
Wanneer jy Hom werklik kén, sal jy dit besef. Wanneer jy Hom werklik ken, sal jy jouself met sy Woorde kan bemoedig. Wanneer jy Hom werklik ken, sal jy ook ander kan versterk met sy wonderlike Woord. Amen.