Skriflesing: Jesaja 43: 1 – 7 en Kolossense 2: 6 – 15
Fokusverse: Jesaja 43: 1 en Kolossense 2: 12
Tema: God roep sy kinders op die naam en bind hulle aan Homself vas: die Doop is die teken daarvan.
Inleiding
Wat maak vandag se erediens anders as al die ander? Wat maak ‘n doop so spesiaal? In vanoggend se preek gaan ons kyk na wat presies die doop is, en waarom ons ons kinders doop. Ons gaan stilstaan by die manier waarop God met sy kinders werk en hulle tot die ewige lewe lei. Vanoggend gaan ons raaksien hoe die sakrament van die Heilige Doop die héle Evangelie aan ons verkondig.
God roep sy kinders op die naam en bind hulle aan Hom vas
Ons sal later in die preek hoor presies wat ‘n sakrament is. Kom ons vestig éérs ons aandag op die twee gedeeltes wat ons sopas saam gelees het: Jesaja 43 bevat duidelik God se éie woorde – “Luister, só sê die Here wat jou geskep het, wat jou gevorm het.” So sê die Here, lees ons. So sê JHWH. Die feit dat hiérdie benaming van God genoem word, is nie toevallig nie, geliefdes. Hierdie Naam van die Here, JHWH, het ‘n besondere betekenis. Dit is die Naam wat God gebruik as Hy van Homself as die God van die Verbond praat. Wanneer hierdie Naam van die Here gebruik word, dan word daar in die besónder na Hom verwys as die Here van die Verbond.
‘n Verbond is ‘n ou Afrikaanse woord wat soortgelyk is aan ooreenkoms of ‘n kontrak. ‘n Verbond vertel vir ons hoe God-Drie-Enig Homself aan sy kinders wil verbind. Die Verbond verduidelik wat God se verhouding met sy kinders is – in die verlede, hede en toekoms. God die Vader sluit ‘n verbond met sy kinders. Die Eerste Persoon in die Drie-Eenheid gaan ‘n ooreenkoms met sy kinders aan – dit is waarom Hy God die Váder genoem word. In sy almag en totale verhewenheid, buig Hy na die mens af en maak bemoeienis met hom en haar. Al is Hy totaal en al ánders as ons, mense, is daar tóg raakpunte tussen ons en Hom. Dit is omdat sy Verbond ‘n band is wat met bloed gebind word, geliefdes. In die Ou-Testament is die seuns besny – bloed moes vloei – ‘n offer moes gebring word. Hierdie teken, van bloed wat vloei, bind die twee partye van die Verbond dan baie nou saam.
Te danke aan hierdie bloed-band, te danke aan God se groot liefde vir sy kinders, soek die Here sy afgedwaalde kinders op. Al het die sonde, wat die mens by Adam en Eva geërf het, ons van God vervreem, reik Hy steeds na sy kinders uit. Omdat God lankmoedig is (lank neem om kwaad te word) gee Hy vir hulle nóg ‘n kans. Nadat Adam in sonde geval het, maak God ‘n nuwe begin met sy kinders – Hy doen dit, eers met Noag, en later met Abraham.
Dit is belangrik dat ons moet raaksien dat Gód die Verbond met die mens sluit, en nie anders om nie. By die Verbond kom die inisiatief van Gód se kant af. Omdat Hý hierdie unieke ooreenkoms dan inisieer, kan Hý ook die reëls daarvoor neerlê. Hy belowe vir Abraham dat Hy die volk, Israel, se Vader sal wees, maar beveel dat hierdie volk Hom dan moet gehoorsaam. God belowe dat Abraham ‘n ontelbare nageslag sal hê – maar dat hierdie nageslag náby die Here moet bly leef. God belowe dat Hy hierdie volk van alle gevaar sal beskerm en hulle in al hulle behoeftes versorg, maar dan eis Hy gehoorsaamheid van Israel. Soos ons weet was die volk ontrou, en het hulle nie húlle deel van die verbond nagekom nie. Daarom laat God hulle vir 40 jaar lank in die Woestyn rondswerf sodat hulle weer goed kan besef Wié Hy is, en dat hulle totaal en al afhanklik van Hom is.
Later sluit God weer ‘n Verbond – hierdie keer met Koning Dawid. Die Here belowe dat sy nageslag áltyd op die koninklike troon sal heers. Daarna sluit God wéér ‘n verbond met sy kinders – hierdie keer met die volk in Ballingskap. Geliefdes, dit is nie elke keer ‘n ánder Verbond wat God met gelowiges sluit nie. Dit is maar één Verbond wat elke keer opnuut bevestig word. Weer reik God na sy kinders uit – hierdie keer deur sy geroepe profete. By monde van Jesaja soek God weer sy kinders op. Hy herinner hulle weer dat dit Hý is wat hulle geskep het. Hý het hierdie gelowiges in die skoot van hulle moeders gevorm. In sy onuitblusbare liefde sê Hy vir elke gelowige lid van die volk: “Moenie bang wees nie. Ek verlos jou. Ek het jou op jou Naam geroep, jy is Myne.” Dit is van die béste trooswoorde waarvoor enige iemand kan vra! Al het hierdie volk die Here keer op keer teleurgestel, gee die Verbondsgod vir hulle die belofte dat Hy bý hulle sal wees as hulle deur water moet gaan en dat Hy dáár sal wees wanneer riviere hulle wil wegspoel. As ‘n vuur dreig om hierdie kinders te verskroei, sal God intree en hulle van die vlamme red. Want Hý is die Almagtige. Die Heilige van Israel. Hý is hulle God en Redder.
Dat die Here sy volk op die naam roep, is belangrik, geliefdes. Hiermee leer ken ons nóg ‘n eienskap van God: Hy is intiem, persoonlik, by sy kinders betrokke. Al is Hy totaal en al bo hulle verhewe, kén Hy hulle op die naam.
Vandag sluit God wéér ‘n Verbond met een van sy kinders. Vandag sit die Here sy Verbond voort. Hy roep vanoggend vir klein Lukas op sy naam en belowe hom: “Jy is Myne. Lank voor die skepping het Ek jou uitverkies om deel te wees van My Verbond. Daarom hoef jy nie bang te wees nie, want Ek verlos jou.” Ook met ons, as ouers, sluit die Here vandag hierdie Verbond. Dit is ons plig om vir Lukas van die Here se wonderlike beloftes te leer. Dit is ons besondere roeping om hom te vertel presies Wie die Here is en hoe Hy sy kinders sien. Ons word geroep om vir Lukas te leer dat, so klein soos wat hy is, hy ook erfsonde het. Maar dat hy óók volkóme deur Jesus Christus verlos is. Ons as ouers, en julle as gemeente, moet vir hom leer dat ‘n mens slégs op grond van genade vrygespreek word. Alleen deur in Christus se verlossing te gló, kan ‘n mens gered word.
Want ook met Jesus Christus het die Here ‘n Verbond gesluit. Die Nuwe Verbond. Nét soos by die Ou-Testamentiese verbond, moes bloed wéér vloei. Hierdie keer nie net ‘n bietjie nie, maar ontstéllend baie. Ons Here, Jesus Christus, moes aan die kruis sterf om die Nuwe Verbond te laat realiseer, geliefdes. Hy bring Een, Laaste, Volmaakte Offer. Hy offer Homself vir ál God se uitverkore kinders. Sy bloed bind alle gelowiges aan Hom vas, sodat sý gehoorsaamheid ook vir húlle kan geld. Christus is ook die vervulling van die Verbond: Sy opstanding uit die dood en sy Hemelvaart, bevestig dat Hy aan God se eise voldoen het – volkome.
Die Doop is die teken hiervan
Nadat Christus die Nuwe Verbond bekragtig het, verander die teken van die verbond. Omdat die Offer rééds gebring is, en sy bloed rééds gevloei het, is dit nie meer nodig dat mense-bloed moet vloei nie. Die teken van die Nuwe-Testamentiese verbond is nou wáter, wat daarop dui dat die gelowige skoongewas is van sy/haar sonde. Soos water ‘n vuil liggaam skoonwas, só reinig Christus se bloed ons van álle sonde. Ons sien vandag hierdie teken wanneer ons die sakrament van die Heilige Doop vier.
‘n “Sakrament” is ‘n heilige, sigbare, teken en seël. In die Protestantse kerke het ons net twee sakramente, nl. die Doop en die Nagmaal. God gee dan die Doop en die Nagmaal as tekens vir sy kerk om daardeur te wys hoe lief Hy ons het. Hy wéét dat ons baie keer vir ‘n teken vra, of ‘n teken soek. Omdat ons geloof swak is, soek ons baie keer na ‘n teken om ons geloof te versterk of ons manier van glo, te bevestig.
Die Doop en die Nagmaal word ook seëls genoem. Dit is omdat God sy wonderlike beloftes aan ons verseël, geliefdes. Soos ‘n belangrike dokument in ‘n koevert verseël word, so verseël God sy beloftes aan ons. Dit is toegeplak – daar is ‘n bewys dat nog niemand dit oopgemaak het nie – want die inhoud daarvan is baie belangrik! Wanneer God iets aan ons belowe – wanneer Hy hierdie tekens aan ons gee – dan is dit baie kosbaar. Dit is só spesiaal, dat die inhoud daarvan slégs vir gelowiges bedoel is. Dit is nét vir ware gelowiges wat die sakrament van die Doop en die Nagmaal spesiaal en kosbaar sal wees.
Juis te danke aan Christus se kruisdood, is daar vir gelowiges se sonde betaal. So seker as wat ons die water van die doop sien, só seker kan gelowige ouers wees dat hulle kindjie van sy/haar sondes gereinig is. Lukas ontvang vandag hierdie teken én die belofte dat God hóm ook van sý sonde gereinig het. Maar nét omdat ‘n mens gedoop is, beteken nie dat jy outomaties gered is nie. Daarom moet ons hom aan hierdie kosbare teken herinner. Herinner hom dat hierdie belofte ook aan hóm verseël is. Herinner hom daaraan dat hý ‘n geestelike besnydenis ondergaan het. Want die Heilige Gees het ook aan hóm ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gegee. Die God van die Verbond belowe vandag hom: Ek sal jou kliphart uithaal en aan jou ‘n hart van vleis gee. Ek sal My Gees aan jou gee en maak dat jy volgens My voorskrifte leef en My bepalings gehoorsaam en nakom”, soos ons in Esegiël 36 hoor.
Wanneer Lukas hierdie groot genade besef, dán sal Hy náby aan die Here wil leef, in Hom gewortel en op Hom gebou soos Paulus in Kolossense 2: 7 sê. Wanneer ‘n gelowige vir God deur sy/haar lewe leer ken, dan is hy/sy vás in die geloof. Dan sal niemand ‘n mens op ‘n dwaalspoor kan lei nie, want jy wéét wat die waarheid is. Jy kén die Here en wéét hoe sy verhouding met jou werk. Wanneer jou ouers en die gemeente hulle plig by nagekom het, dan sal jy onthóú wat jy geleer het: nl. dat Christus jou sondige natuur weggeneem het – dat Hy vir jou betaal het. Te danke aan God-Drie-Enig besef ‘n mens dat jou geloof jou op só ‘n manier aan Christus vasbind, dat jy aan sy kruisdood én opstanding deel het. Dít sal ‘n mens laat vasbyt in hierdie aardse stryd. Die wete dat jy met ‘n bloedband aan dié Almagtige verbind is, laat jou moed hou wanneer dit swaar gaan.
Slot
Niemand is van swaarkry gevrywaar nie. Net omdat ek gedoop is, of selfs ‘n Christen is, beteken nié dat ek ‘n maklike lewe sal hê nie. Klein Lukas gaan ook deur sy lewe deur die diep water moet gaan. Soms sal dit vir hom voel asof ‘n rivier hom wil wegspoel of asof ‘n vuur hom wil brand.
Maar geliefdes, omdat hy ‘n gelówige is, kry hy vandag ‘n ryke troos! God het hom op die Naam geroep! God sê vir hom: “Lukas, jy is Myne!” “Jy het onsigbare teken op jou voorkop.” “Moenie bang wees nie!” “Ek is by jou!” “My Seun het reeds vir álles betaal!” Amen.