Skriflesing: Lukas 1: 26 – 56
Fokusvers(e): Lukas 1: 37; 46 – 48
Tema: God openbaar sy almag teenoor geringe mense en ontvang alle eer
Inleiding
Hierdie is ‘n tyd waarop ons, as gelowiges, onsself op die Kerstyd voorberei. Stadig maar seker raak ons al meer bewus van die Feesseisoen. Omdat ons ernstig oor ons geloof is, wil ons, híérdie jaar, op die régte manier die Kerstyd ingaan. En dit is presies waarby ons vandag in ons preek hierby stilstaan.
God openbaar sy almag teenoor geringe mense
In verlede week se preek het ons die Lofsang van Sagaria behandel, en vandag kyk ons na die Lofsang van Maria. Net om onsself vinnig te herinner: Sagaria en sy vrou, Elisabet, kon nie kinders kry nie. Maar toe verskyn die engel, Gabriël, aan hom en sê dat Elisabet swanger sal word en aan Johannes geboorte sal skenk. Omdat Sagaria en sy vrou nog boonop op ‘n hoë ouderdom was, kon hy nie die engel se boodskap van God glo nie.
In dieselfde tyd het Maria óók ‘n boodskap van God, deur Gabriel ontvang wat sê dat sy óók binnekort ‘n Seun in die wêreld sal bring, wat sy Jesus moet noem. Omdat Maria nog ‘n maagd was, vang hierdie boodskap haar onkant. Al was sy aan Josef verloof, wéét sy dat dit onmoontlik is dat sy binnekort ‘n Seun sal kan kry. Sy was nét so verbaas dat die engel vir haar sê dat sý die begenadigde is. In daardie tyd is vroue beskou as minderwaardig. Wanneer jy, as vrou, nie kinders het nie dan het die samelewing selfs nóg minder van jou gedink. Waarom word reeds sý dan gekies vir hierdie voorreg? En hoe gaan dit werk dat sy swanger word?
Maria word gekies sodat die profesie van Jesaja 7 vervul kon word: “’Kyk die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring en sy sal Hom Immanuel noem.” Verder is Maria gekies omdat Jesus gebore moes word uit die fisiese nageslag van Dawid (Matt. 1: 1 – 16). Soos ons weet was dit deur die werking van die Heilige Gees dat Maria swanger geword het – want Christus is ter selfde tyd 100% God en 100% Mens. Vir Maria was hierdie gedagte ook buitengewoon. Maar sy vra nie vrae nie, geliefdes. Sy sê nie vir die engel, Gabriel, dat dit onmoontlik is nie. Ons kan iets van onvoorwaardelike geloof by hierdie jong maagd leer, nie waar nie? Sy is nie ‘n pessimistiese kritikus nie, maar ‘n oprégte gelowige.
Maar ons moet nie dink dat Maria naïef was omdat sy nog ‘n jong meisie was nie. Die oorspronklike taal sê dat Maria diep nagedink het oor wat die engel vir haar gesê het. Sy peins diep oor die engel se boodskap en verwerk alles wat sy sopas gehoor het. Net soos Sagaria, glo Maria nie dadelik die Engel, Gabriël, as hy sê dat sy binnekort ‘n seun sal kry nie. Maar hoekom raak Maria nie ook stom soos Sagaria nie? Wat maak Sagaria se vertwyfeling ánders as Maria se vertwyfeling? Geliefdes, al is Maria rasioneel, bevraagteken sy nie die engel se boodskap nie. Sagaria se agterdogtigheid teenoor die engel se boodskap het egter veroorsaak dat hy die Here se boodskap aan hom bevraagteken. Sagaria was opsoek na ‘n teken wat sou bevestig dat Gabriël se woorde wérklik die waarheid is. Daarom word hy stom, tot en met die geboorte van Johannes die Doper.
Maria, daarenteen, vra nie vir ‘n teken nie – sy glo vás dat dit wat aan haar vertel word, sal gebeur. Maria besef dat sy bó die logiese moet glo – want sy besef dat énige iets vir God moontlik is. Maria besef Wie die Here is. Sy ervaar Hom as haar persoonlike God en Vader. God is háár God. Hy is háár Verlosser. In haar loflied maak sy Hom ook as die Almagtige God bekend. Sy maak Hom as die Heilige God bekend. Maria maak die Here bekend as die Een waarvoor gelowiges ontsag het. Om die Here te vrees, of om ontsag vir God te hê, beteken nie om vir God bang te wees nie, geliefdes. Dit beteken wél om ‘n diepe respek vir die Here te hê. Dit beteken om altyd méér respek vir die Hére se wil te hê as wat ‘n mens die mense rondom jou respekteer.
Maria se geloof in God-Drie-Enig is dus ‘n kosbare geloof. Sy dink ná oor die woorde van die engel, Gabriël. Sy tree nie oorhaastig op nie, maar bedink alles rustig – al is dit asemrowende nuus. Al ontvang sy die nuus dat sy binnekort aan die Langverwagte Verlosser geboorte sou skenk – al klink dit hoé vêrgesog – gló sy dit met ‘n hart vol vrede. Al is sy bloedjonk getuig haar antwoord dat sy volwasse in haar geloof is: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Die feit dat Maria ‘n volwasse persoonlikheid gehad het, kom ook duidelik deur in haar lofsang. Waar Elisabet uitbundig was in haar kort lofsang teenoor Maria, was Jesus se ma meer bedaard. Die oomblik toe Maria by Elisabet aankom en haar groet, het die kindjie wat Elisabet dra, van vreugde beweeg. Dit was nie maar ‘n normale gevoel van beweging wat ‘n ma tydens swangerskap kry nie. Ons lees dat die Heilige Gees vir Elisabet vervul het. Reeds hier het Johannes die Doper eintlik met sy werk as profeet begin het. Die Heilige Gees bring hom in beweging om vir Elisabet aan te dui dat die Hére in hulle midde is (vers 43)! Elisabet besef haar geringheid voor die Here en Maria nóg meer. In haar loflied tot eer van Jesus Christus besing sy die grootheid en almag van God. Maria verbly haar in die Here en in sy verlossing, want Hy het haar in haar geringheid raakgesien. Hy versorg haar elke dag en gee haar nou die besondere voorreg om sy Seun se aardse ma te wees.
Wanneer sy aan die gemeenskap waarin sy woon, dink, dan besef sy dat sy baie min werd is in hulle oë. Maar wanneer sy aan haar God dink, dan besef sy dat Hý haar hoog ag. En dit is net genade! Want sy het niks om op te roem nie. Maar dit is juis hoe die Here werk, geliefdes. In sy almag doen Hy groot dinge aan swak, weerlose mense, sodat sý krag duidelik sigbaar word. In sy getrouheid ontferm Hy Hom oor mense wat deur ander verstoot word, sodat almal sy groot liefde kan raaksien. Nadat die Here in ‘n mens se lewe ingryp, dan kan niemand wonder Wie dit was wat verandering gebring het nie. Nadat die Here een van sy kinders se omstandighede verander het, dan is daar geen twyfel dat dit Hý was nie.
Niks is vir Hom onmoontlik nie, geliefdes. Hy sal sorg dat almal sal besef presies Wie Hy is. Want dit is Hý wat hoogmoediges in hulle grootheidswaan uitmekaarjaag (vers 51). Dit is Hý wat die gesag het om mense van aansien van hulle mensgemaakte trone af te ruk en daardie posisie aan geringe mense te gee (vers 52). Dit is Hý wat kan besluit om behoeftiges met sy goeie gawes te oorlaai en die rykes met leë hande weg te stuur (vers 53). Want slégs Hý het die finale sê. Wanneer sy kinders verontreg word, sal Hý optree en radikale orde bring.
Daarom ontvang Hy alle eer
In haar loflied herinner Maria alle gelowiges dat die Here dink aan dié wat Hom as hulle enigste Here eer. Met ‘n mond vol lof herinner sy ons dat die Here Homself oor sy kinders ontferm – van geslag tot geslag. Want die Here ís getrou aan sy beloftes, geliefdes. Hy sal altyd dáár wees vir sy kinders. Tot in alle ewigheid sal Hy verlossing vir sy kinders bewerk.
Ons, wie ná Christus se geboorte leef, het óók alle rede om God-Drie-Enig te loof, nie waar nie? In die Bybel het ons álle bewyse dat ons Verlosser wél gebore is. In alle nederigheid word Hy deur sy jong ma in ‘n krip neergelê. Dádelik kom daar besoekers om aan Hom hulde te bring. Met groot blydskap kom buig hulle in aanbidding voor die Verlosser, Jesus Christus. Regdeur sy aardse lewe, eer en loof en prys gelowiges Hom. Maar daar is ook dié wat Hom en sy almag verwerp en verloën. En daarom word Hy oorgelewer om gekruisig te word. Weens hulle aktiewe ongeloof word Hy ter dood veroordeel.
Maar, wáre gelowiges hou áán om Hom, as hulle Enigste Saligmaker, te eer. Hulle blý lojaal aan Hom – tot en met sy kruisdood – en selfs daarná. Want die Heilige Gees oortuig hulle dat Hý lofwaardig blý. Sy lewe het nie daar by Golgota geëindig nie, geliefdes. Hy staan drie dae later uit die graf op en vaar na die hemel toe op om van dáár af tot in alle ewigheid te heers!
Daarom ontvang Jesus Christus alle eer, geliefdes. Hy bewys Homself keer op keer as ons Volmaakte Verlosser. Dit is dieselfde Heilige Gees wat met Jesus se geboorte in Maria gewerk het, wat ook vandág in ons werk. Dit is Hý wat aan ons die behoefte gee om God-Drie-Enig met gelowige harte – met alles in ons – in ons te loof en te eer. Geloof is dus nie ‘n aktiewe besluit van die mens se kant af nie, nee, dit is Gód wat ‘n mens tot geloof bring – deur die werking van die Heilige Gees. Wanneer ek in die Here glo – wanneer ek Hom wil prys vir my verlossing – dan is dit ‘n gawe van God.
Omdat Maria verstaan het wat hierdie verlossing behels, sing sy haar loflied tot eer van God. Sy kan dit bykans nie gló dat die Here haar só begenadig dat sy ‘n persoonlike Verlosser het en nog boonop – as sy aardse ma – ‘n baie belangrike rol in sy lewe mag speel nie. Daarom loof sy die Here met alles wat in haar is!
Slot
Hoe reageer jý op die Wonder van Kersfees? Watter emosie het jy op hierdie oomblik in jou hart? Mag elkeen van ons ook vandag die Wonder van Kersfees besef. Mag ons onsself op die regte manier voorberei op hierdie Feesseisoen wat ons binnegaan. Mag ons weer aan ons Verlosser se Menswording en geboorte dink en besef watter groot Wonderwerk sy hele bestaan is.
Ons is niks beter as Maria nie. As gelowiges is ons ook nietig in die wêreld se oë. Maar kom ons onthou wie ons is in die Hére se oë. Te danke aan sy kruisdood en opstandig is ons meer as oorwinnaars! Te danke aan sy gehoorsaamheid ontvang ons die ewige lewe – iets wat nie aan alle mense behoort nie. Kom ons loof daarom die Here, geliefdes – nie nét met hierdie Kersfees nie, maar élke dag van ons lewe! Kom ons prys die Here – nié net tydens ‘n erediens nie, of as dit met ons goedgaan nie. Kom ons wy ons hele lewe toe aan lóf tot ons Drie-Enige-God. Amen.