Handelinge 4: 1 – 20

Skrifgedeelte: Handelinge 4: 1 – 20

Fokusvers: Handelinge 4: 12

Heidelbergse Kategismus Sondag 11

Vraag: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie.

Vraag: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem. Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie ‘n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met ‘n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is.

‘n Boodskap om ons Verlossing beter te verstaan

Inleiding

In verlede week se preek het ons die Lofsang van Maria behandel. Ons het gehoor dat die engel, Gabriël, aan haar verskyn het en vir haar gesê het dat sy swanger sal word en dat sy ‘n Seun in die wêreld sal bring en dat sy Hom “Jesus” moet noem. Omdat sy nog ‘n maagd was, was sy verstom oor die engel se woorde. Sy besef egter die Wonder daarvan om die Langverwagte Messias se aardse ma te mag wees. Daarom sing Maria haar loflied tot eer van God!

Vandag gaan ons wéér van Jesus Christus hoor – ons gaan ook wéér van die maagd, Maria, hoor. Maar vandág se Boodskap is nie ‘n Kersboodskap nie, maar ‘n Boodskap wat ons help om ons Verlossing beter te verstaan.

Opsoek na verlossing?

Ons Kategismus sê dat Jesus se Naam “Verlosser” beteken. Maar dit is nie die opstellers van die Kategismus wat hierdie betekenis aan die Naam, “Jesus”, gee nie. Dit is God, self, wat hierdie betekenis aan Jesus se Naam gee. In Mattheus 1: 21 hoor ons God se Boodskap aan Josef en Maria: “Maria sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Daar is dus ‘n rede waarom Hy hierdie spesifieke Naam moet kry, geliefdes. Julle moet Hom “Jesus” noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Die Naam, “Jesus”, beteken “Verlosser”. 

Hý is gekies om hierdie baie besonderse roeping uit te leef. Die Seun van God is gesálf – Hy is uitgewys en toegerus – om gelowiges van hulle sondes te verlos. Daarom word Hy ook Christus genoem. “Christus” beteken weer “Gesalfde”. God die Vader het Hom met die Heilige Gees toegerus om sy roeping hier op aarde uit te leef. Jesus Christus is ál Een wat bekwaam is om gelowiges van hulle sonde te verlos. Onthou u wat by Jesus se doop gebeur het? Die oomblik toe die Heilige Gees soos ‘n duif op Jesus afgekom het, het sy amptelike werk, as Verlosser, begin.

Regdeur Jesus Christus se aardse lewe, verlos Hy gelowiges uit hulle fisiese nood. Hy genees melaatses. Hy laat blindes weer sien. Hy genees verskeie fisiese gebreke van mense. Hy laat verlamde mense weer loop. Hy dryf bose geeste uit mense uit en maak siekes gesond. Jesus verlos mense van hulle fisiese pyn en angstigheid (vgl. Matt. 6 -12). Maar Hy verlos óók gelowiges uit hulle emosionele nood: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is”, sê Hy. “Ek sal vir julle rus gee.” “Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag, My las is lig.”

Dit is egter nie ál waarvan Jesus uitverkorenes verlos nie. Die belangrikste – Hy verlos ons óók van die mag van die Bose. Hy leer sy dissipels om ook – gereeld – daarvoor te bid: “Verlos ons van die Bose.” Hiérvoor is Jesus Christus gesalf. Hiérvoor is Hy aangewys! Nie om wonders van fisiese gesondmaking te doen nie, maar om ons uit die mag van die sonde te verlos. En as Volkome Mens en Volkome God, kán Hy dit doen. Aangesien Hy sondelose Mens geword het, maar terselfde tyd God geblý het, is Hy ál Een Wie ons van ons sondes kan verlos (Heidelbergse Kategismus Sondag 5 en 6).

Ja, geliefdes, dit is alleen in sý Naam waarin daar vir ons verlossing te soek en te vind is. Daar is by niks en niemand anders verlossing moontlik nie. Mense wat redding in hulself, in ander mense of hulle voorgeslagte soek, sal dit nie kry nie. Mense wat tot ander mense bid, se gebede sal nie verhoor word nie. Om tot die heilige Maria of tot enige ander mens vir verlossing te bid – is verkeerd, geliefdes. Daar is in geen ander naam, behalwe in die Naam Jesus Christus, verlossing moontlik nie. Maak nie saak hoe “goed” of “wys” of “geliefd” die persoon is nie, niemand is dit werd om te doen wat Christus alleen kan doen nie. Hy sê self: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe, behalwe deur My nie.”

Daar is dus géén ander manier om by die Here uit te kom nie, geliefdes. Ons hoor vandag so gereeld dat alle gelowe op dieselfde eindbestemming sal uitkom. “Maak nie saak of ek ‘n Boeddhis, ‘n Hindoe of ‘n Christen is nie, op die ou end ontmoet ons mekaar iewers.” “Maak nie saak wat jy aanbid nie, op die ou end kom ons by dieselfde god uit.” Ongelukkig is dít baie mense se argument, geliefdes. Maar dit kan nooit ‘n uitverkore kind van God se siening wees nie. Nee, vir ons is daar maar één Weg na die Vader toe. Vir ons is daar maar één Waarheid. Ons ontvang die Ewige Lewe alleen op één Manier. En dít is deur ons Ènigste Verlosser, Jesus Christus. Niemand kom by die Vader, behalwe deur Hom nie.

Buiten Jesus Christus bestaan daar geen verlossing nie

Dit is presies wat Petrus en Johannes vir die Joodse Raad gesê het. Hierdie twee apostels van die Here was besig om ‘n groot groep Jode te leer wie Jesus is, toe daar verskeie mense op hulle afstorm om hulle gevange te neem. Ons lees dat daar priesters, die tempelwag en Sadduseërs gekom het om hierdie twee gestuurdes van God, gevange te neem. Die mense wat dus gesorg het dat daar goeie orde in die tempel moes plaasvind, het gemeen dat Petrus en Johannes buite orde was. Die Sadduseërs word ook spesifiek genoem: – hulle was nie deel van die sg. “Tempel-polisie” nie, maar het waarskynlik die Joodse maghebbers aangehits om vir Petrus en Johannes te vang. Want die apostels het van Jesus Christus se opstanding uit die dood getuig (Hand. 3: 15 e.v.). As Oorwinnaar oor die sonde en dood het Jesus Christus aan hulle verskyn, maar die Sadduseërs wou dit nie glo nie. Die Sadduseërs ontken dat Christus uit die dood opgestaan het, en daarom beskou hulle Petrus en Johannes se woorde as byna godslasterlik. Tóg het die Heilige Gees in baie mense gewerk sodat hulle die Evangelie-Boodskap aangeneem en geglo het.

Die volgende oggend is Petrus en Johannes voor die belangrikstes in Jerusalem ondervra. Baie van dieselfde mense wat maar onlangs vir Jesus Christus ondervra het, verhoor nou Jesus se navolgers (vgl. Joh. 18: 24). Hierdie Joodse Raad wou by die apostels hoor deur watter Krag en in Wie se Naam het hulle die verlamde man genees het. Met volle ywer en toewyding gryp Petrus en Johannes hierdie geleentheid aan om van Jesus Christus te getuig! Vol van die Heilige Gees spreek Petrus en Johannes hierdie belangrike groep mense toe! Hulle sê dat hulle hul dienswerk in die Naam van Jesus Christus doen. Deur die krag van Christus se opstanding uit die dood, het hierdie verlamde man vir die eerste keer in sy lewe opgestaan (Hand. 3: 1-5).

Johannes en Petrus haal ook ‘n Skrifgedeelte uit die Ou-Testament aan wat hulle verweer teenoor die Jode versterk. Omdat hierdie belangrike Jode die Ou-Testament goed geken het, luister hulle skielik met meer aandag na die apostels se woorde. Sonder om te skroom sê Petrus vir hulle dat húlle is wat vir Jesus, die Belangrikste Klip van die gebou, afgekeur het. Weens hulle stompsinnigheid en formalisme wou hulle nie Jesus as die Messias aanváár nie. Hulle wou nie gló dat Hy deur God gestuur is om sy kinders uit die dood te verlos nie. Dit was deur húlle toedoen dat Jesus Christus daardie nag in Getsémane gevang is en oorgelewer is om gekruisig te word. “Maar”, getuig die apostels, “juis Hý het die belangrikste Klip in die gebou geword.” Al word Hy dus deur mense verwerp, verloën en bespot, herstel sy Vader Hom in sy eer. Op die derde dag staan Jesus Christus uit die dood op om daardeur die dood ten volle te oorwin.

Geliefdes, die apostels het dus van elke geleentheid gebruik gemaak om hulle Verlosser aan ander te verkondig. Hulle was getrou aan hulle roeping! Hulle skroom nie vir die Waarheid nie. Hulle deins nie terug as hulle in sg. “belangrike geselskap” kom nie. Want dit is vir hulle onmoontlik om nié te praat oor wat hulle gesien en gehoor het nie. Hulle geloof in Christus se verlossing gee vir hulle ‘n onwankelbare geloofsekerheid. Waar die Joodse Raad onseker is, en wonder watter straf om vir hierdie twee gestuurdes van God te gee, het Petrus en Johannes ‘n diep sekerheid dat húlle van die Waarheid getuig. Al word hulle verbied om enige iets in die Naam van Jesus te doen, sal hulle áltyd meer gehoorsaam aan God wees as aan mense.

Geliefdes, hoe reageer ons wanneer ons die geleentheid kry om van Christus se verlossing te getuig? Skram ons dalk vir hierdie opdrag van die Here weg, of praat ons daaroor met vrymoedigheid? As gelowiges ontvang ons álmal die opdrag om van Jesus Christus se kruisdood en opstanding te getuig – tydig en ontydig (2 Tim. 4: 2). Wanneer jy voel asof dit nie in jou persoonlikheid is om oor die Here te praat nie – wanneer jy voel asof jy nie genoeg kennis oor die Here het nie – dink weer aan die apostels van Handelinge 4. Hulle was maar ongeleerde en eenvoudige mense, maar hulle het met alle vrymoedigheid getuig van wat hulle gesien en gehoor het. Die Heilige Gees werk kragtig in hulle dat hulle selfs die waagmoed gehad het om teenoor die Joodse kerkleiers van Jesus Christus te getuig.

Is jy só seker van jou verlossing deur Christus dat dit vir jou ook onmoontlik is om nié te praat oor wat jy gesien en gehoor het nie? Wanneer ‘n gelowige terugdink aan al die kere waar die Here hom/haar uit fisiese en emosionele gevare gered het, dan sál hy/sy dankbaar teenoor die Here wees. Wanneer jy besef hoe die Here jou oor al die jare staande gehou het, dan kan jy nie anders as om van sy liefde te getuig nie.

Het jy ook al die Here se verlossing in jou lewe ervaar? Glo jy dat Hy vir jóú persóónlik verlossing bewerk? Glo jy dat Hy ook vir jou sondes ten volle betaal het? Dat sy opstanding uit die dood ook vir jóú die ewige lewe verseker? Getuig dan, met alle vrymoedigheid en waagmoed, van jou Verlosser, Jesus Christus!

Slot

Geliefdes, daar is werklik in geen ander naam enige verlossing te soek of te vind nie. Dit is slégs in en deur Jesus Christus wat ons van alle boosheid verlos sal word. Dit is duidelik: “Hý bring die verlossing en niemand anders nie.” Daar is nie ‘n grys-area hieroor nie. Alle gelowe sal nié by dieselfde god uitkom nie.

Slegs een van twee dinge is moontlik: Óf jy glo vás dat Jesus Christus – alleen – die Weg en die Waarheid en die Lewe is, óf jy verwerp Hom en ontvang nooit die verlossing waarna jy opsoek is nie. Amen.