Skrifgedeelte: Galasiërs 4: 1 – 7
Fokusvers: Galasiërs 4: 6
Heidelbergse Kategismus Sondag 13
Tema: Ons Here, Jesus Christus, maak van ons kinders van God
Inleiding
Vanoggend word ons weer deur die Here se Woord getroos met ‘n baie kosbare Boodskap. Omdat dit só ‘n spesiale Boodskap is, word dit nie nét hier, in Galasiërs 4, gevind nie. Ons kyk in vanoggend se preek na Jesus Christus as God se Eniggebore Seun. Ons kyk ook na ons eie kindskap en verhouding met die Vader. Laastens gaan ons ook kyk waarom ons vir Jesus Christus “ons Here” noem.
Die Eniggebore Seun van God
Sondag na Sondag bely ons dat ons glo dat Jesus Christus God se Eniggebore Seun is, maar wat beteken hierdie woorde régtig? Wanneer ons bely dat ons in die Eniggebore Seun van God glo, dan erken ons daarmee dat Jesus Christus uniek is. Hy is die Enigste Seun/Kind wat uit God gebore is. Jesus Christus is God se Enigste natúúrlike Seun – dit bely ons. Niemand anders is ook natuurlike kinders van God nie. Niemand vóór Hom is uit God gebore nie, en niemand ná Hom sal uit God gebore word nie. Dit is slegs Jesus Christus wat hierdie unieke voorreg het. Dit is slégs Hý wat op ‘n natuurlike manier God se Seun is.
Soos ons onlangs in ‘n preek weer gehoor het, is Jesus Christus uit die maagd, Maria gebore. In hierdie Kerstyd dink ons, meer gereeld, aan Jesus Christus se geboorte. Die Heilige Gees het oor Maria gekom en sy het swanger geword. Jesus Christus word dan as Ware Mens gebore terwyl Hy Ware God bly. Maar ons moet goed verstaan, dat Hy nie eers van hierdie oomblik af begin bestaan het nie, geliefdes. Omdat Hy so uniek is, is sy geboorte totaal en al anders as ons, mense, se geboortes. As Ware God bestaan Jesus Christus van ewigheid tot in ewigheid. Hy was reeds dáár voor die Skepping van alle dinge. God die Vader het dan, deur Hóm, alle dinge geskep. En Hy sal daar wees tot en met die voleindig van die wêreld. Net soos die Vader en die Heilige Gees, het Christus nie ‘n begin of ‘n einde nie. God-Drie-Enig bestaan van alle ewigheid af, tot in alle ewigheid (Geloofsbelydenis van Athanasius).
Met sy geboorte neem Hy dus die menslike natuur aan. Sy lewe het egter nie begin toe Maria swanger geword het nie – voor dít het Hy rééds gelewe. Maar in sy totale bereidwilligheid, neem Hy die menslike natuur aan en verneder Homself deur Mens te word. Deur, as Baba, gebore te word. Terwyl Hy sy aardse lewe hier geleef het, het Hy egter nie opgehou om God te wees nie. Hy blý volkome Mens én Volkome God. Net Hý het hierdie unieke bestaan, want nét Hy is sy Vader se natuurlike Seun. Daarom is dit ook slégs Hý wat aan God se wil gehoorsaam kan wees.
Omdat die hele mensdom in sonde geval het, ná Adam en Eva se ongehoorsaamheid, is die hele mensdom verdoem. God verwag van sy kinders om heilig te wees, maar hulle is alles behalwe dít. Daarom straf God die sonde wat hulle doen – want God is regverdig. Hy het ‘n baie hoë standaard waaraan sy navolgers moet voldoen. Die straf wat Hy vir die sonde gee, is die ewige dood. Aangesien geen mens egter vir hierdie straf kan betaal nie, stuur Hy sy Enigste Seun na hierdie wêreld om dan as Ware Mens en Ware God, te kom betaal vir die mens se sonde. Maar, geliefdes, wanneer die Volmaakte, Heilige, Christus vir die mens se sondes kom betaal, dan is sy betaling slégs vir gelowiges geldig. Sy kruisdood is geldig vir almal wat, soos die dissipels, erken: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16: 16). Wanneer die Heilige Gees ‘n mens laat besef Wie Jesus Christus is, en wat sy offer aan die kruis behels, dán ontvang ‘n mens vryspraak van al jou sondes. Hierdie liefdesdaad van Christus is uniek, geliefdes. Dit is slégs Hy wat só iets uit liefde vir sy Vader sal doen. Hy tree op in wederliefde, want, as Seun van God, verstaan dat God sy kinders só lief het, dat Hy bereid is om sy Enigste Seun vir hulle af te staan.
Deur die genade word ons kinders van God
Geliefdes, dit is juis te danke aan hierdie groot liefde van God-Drie-Enig, dat ons ook “kinders van God” genoem kan word. Ons lees in Efesiërs 1: 4 en 5 dat God al voor die grondlegging van die wêreld besluit het om ons as kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus. Ons moet goed verstaan dat ons op ‘n ánder manier kinders van God is, as wat Jesus Christus Seun van God is. Soos ons gesê het, is Jesus Christus die Enigste Gebore Seun van God – Hy is die Enigste natuurlike Seun van God. Ons, aan die ander kant, word deur God aangeneem sodat ons ook kinders van ons Vader kan wees.
In Galasiërs 4 het ons gehoor hoe die mense – in daardie tyd – kinders beskou het: ‘n Minderjarige kind het dieselfde status as ‘n slaaf gehad. Vers 1 sê: “Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ‘n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.” Ons weet dat slawe in die Nuwe-Testamentiese tyd as onbelangrik beskou is. Slawe was die heel laagste rang in die sosiale klas – hulle het byna géén regte gehad nie. Nou hoor ons dat minderjarige kinders nie van slawe verskil het nie – selfs al was hulle die eienaars van alles. Dit is eers wanneer hulle mondig geword het, of wanneer hulle pa besluit het dit is tyd, dat hulle status verhoog kon word.
Paulus sê dat daar ‘n tyd was wat gelówiges ook nog minderjarig was, maar dat dit nou verander het. Daar was ‘n tyd dat ons geestelik onvolwasse was, gebind aan wettiese godsdienstige reëls, maar deur die Here se genade het Hy ons status verander. Geen mens kan die heerlike erfenis van vryspraak ontvang wanneer jy nog ‘n slaaf van godsdienstige wette en reëls is nie. Geen mens kan uit gehoorsaamheid aan die Wet, van hulle sondes vrygespreek word nie. En daarom het die Vader die tyd laat aanbreek dat sy Eniggebore Seun dit namens gelowiges doen. Jesus Christus se volmaakte gehoorsaamheid aan God se Wet – en ons geloof daarin – is ál wat aan ons hierdie heerlike erfenis van vryspraak kan gee. In die volheid van die tyd het God sy Seun na hierdie gebroke aarde toe gestuur. Jesus Christus kom sodat Hy diegene wat onder die Wet was, los kon koop en sodat Hy hulle kon kom aanneem as kinders van God.
Te danke aan Jesus Christus se Menswording, te danke aan sy totale opoffering, word ons deur Hom aangeneem as kinders van God. Geliefdes, maak hierdie sekerheid ons nie opgewonde nie? Deur die Here se liefdevolle genade word ons tot kinders van God aangeneem! Te danke aan Christus, verander die manier waarop God na ons kyk! Die Vader sien ons nou raak as sý kinders, en nie meer as “vreemdes” en “onbekendes” nie. Deur die band van geloof, word ons, wat eensaam en verlate was, aangeneem om God se geliefde kinders te wees. Ja, geliefdes, deur die genade het die Vader ons innig lief. Hy verander ook ons status – ons word nou nie meer soos slawe van die sonde behandel nie. Deur Christus se voldoening, sien God ons raak as sy éie kinders. Te danke aan Jesus Christus, word ons identiteit verander: – “Kinders van God”, dít is wie ons is. “En omdat jy sy kind is, het God ook jou sy erfgenaam gemaak”, sê Paulus in ons laaste vers. Deur die genade ontvang ons dus die status van “kinders van God”, en daarom ook die status “erfgename van God”.
Ons vind hierdie selfde gedagte in Romeine 8, waar ons lees: “Almal wat hulle deur die Gees laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie, en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken “Vader”. Hierdie Gees getuig saam met ons Gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename sáám met Christus.”
Al is ons God se kinders, bly Christus ons Here
Te danke aan die Heilige Gees, wat – ná Christus se Hemelvaart – oor die kerk en in ons harte uitgestort is, besef ons ons dat ons ‘n nuwe identiteit het. Te danke aan Hom, besef ons wie ons is, geliefdes. Maar, al ontvang ons hierdie wonderlike nuwe status en identiteit, mag God se kinders nooit hoogmoedig word nie. Dit word van ons verwag om altyd te besef dat dit genade is, dat ons is wie ons is. Nie een van ons verdien dit om “kind van God” genoem te word nie. Dit word van ons verwag om maar altyd te besef wie ons teenoor Jesus Christus is. Hy is die Enigste ware Seun van God – ons is slegs, deur sy genade, aangenome kinders van God. Hy is die Ewige Seun van God, ons bestaan word aan tyd gekoppel. Jesus Christus is God, geliefdes, en ons is maar skepsels.
Daarom noem ons Hom “ons Here” soos ons in Sondag 13 bely. Want ons besef Wie Hy is! Ons het ‘n heilige respek vir Hom! Deur die werking van die Heilige Gees – deur ons geloof in Hom – erken ons Hom as ons Here. Die Griekse naam vir “Here” beteken “Eienaar”. Daarom bely ons dat Jesus Christus ons losgekoop het tot sy eiendom. Uit die mag van die duiwel het Hy ons, na liggaam en siel, uit die mag van die duiwel vrygekoop. Geliefdes, toe ons Eienaar ons vrygekoop het, het Hy nie met geld betaal nie. Hy koop ons nie los met wêreldse middele, soos goud of silwer nie. Hy koop God se kinders met sy kosbare bloed, wat Hy aan die kruis gestort het. Die Eniggebore Seun van God sterf, sodat baie ander die geleentheid kan kry om “kinders van God” genoem te word. En as Hy later uit die dood uit opstaan – as Hy later na die hemel toe opvaar – dan regeer Hy oor sy eiendom.
Christus is ons Eienaar, en ons is sy eiendom. Daarom het ons die hoogste agting en respek vir Hom, geliefdes. Want ons besef dat Hy ons Enigste Hére is, wat die duurste prys denkbaar vir óns betaal het.
Slot
Geliefdes in die Here, vandag word ons getroos met die kosbare Boodskap dat ons “kinders van God” genoem mag word. Deur die genade, neem God se Eniggebore Seun, Jesus Christus ons aan. Deur sy volmaakte gehoorsaamheid aan sy Vader se Wet, deur sy gehoorsaamheid aan sy Goddelike roeping, word ons status verander. Ons is nou “kinders van God”, “mede-erfgename saam met Christus”.
Mag hierdie nuwe identiteit in Christus, jou deur hierdie laaste paar weke van 2020 dra. As kinders van God, ontvang ons die heerlike genade van ‘n ryke erfenis wat aan ons behoort. Ons is ons Here, Jesus Christus, se eiendom. Te danke aan Hom, is ons kosbaar in God se oë. Mag hierdie wete, hierdie wonderlike genade, ons ook bemoedig om volgende jaar se tydelike uitdagings in die gesig te staar. Amen.