Skrifgedeelte: Handelinge 2: 14 – 36
Fokusvers(e): Handelinge 2: 24 en 32 – 33
Tema: Die dood het geen houvas op Christus en sy kerk nie. Getuig van sy oorwinning!
Inleiding
Vir baie van ons is dit belangrik om in iets vir iemand anders te beteken. Dalk is dit jou doel om hierdie jaar ‘n groter impak op iemand anders se lewe te hê. Dalk is dit jou wens om hierdie jaar, op ‘n manier, góéd te wees vir jou naaste. En hoe mooi wens is dit nie? Hierdie tipe gedrag pás by ‘n gelowige. Ons is gemaak om liefde aan ons naaste te bewys. Om iets vir iemand anders te beteken.
Die dood het geen houvas op Christus en sy kerk nie
Wanneer ons na Petrus se toespraak op Pinksterdag kyk, dan sien ons dat hy en die ander apostels juis só optree. Hy is besig om leiding te neem sodat hy en die ander elf apostels iets vir die ander mense kan beteken. Dit is egter interessant om raak te sien met watter mense die apostels praat. Hulle is nie besig om mense toe te spreek wie hulle kén nie, geliefdes. Hulle praat nie met mense vir wie hulle reeds liefhet nie. Nee, die apostels praat juis met onbekende mense. Op hierdie stadium weet die apostels nie veel van die skare af nie. Die apostels praat dus met mense wat nié noodwendig soos hulle is nie. Met mense wat ánders as hulle dink en ánders as hulle optree.
Maar dit stuit nie hierdie twaalf navolgers van Christus nie. Nee, hulle doen eenvoudig waarvoor hulle geroep is, geliefdes. Hulle verkondig, sonder om te huiwer, God se Woord – ongeag van wie luister. Al hoe hulle dit kon regkry is omdat die Heilige Gees in en deur hulle gewerk het. Ons moet onthou dat hulle sopas met die Gees vervul is. Hierdie manne is pas toegerus met God sélf. Deur Hóm word hulle bekwaam gemaak vir dit wat hulle nou moet gaan doen. Dit is dus die Heilige Gees wat deur die apostels met die groot skare mense praat.
Petrus begin sy toespraak – of eintlik sy preek – met ‘n aanhaling uit die Ou-Testament. Hy neem sy gehoor terug na ‘n gedeelte wat hulle goed ken en wys hulle daarop dat dít nou aan die gebeur is. Met die wysheid en insig wat die Heilige Gees bied, som hy die situasie op. Heel prakties sê hy dat die skare mooi moet besef wat hier besig is om te gebeur. Hierdie mense is nie dronk nie, maar met die Heilige Gees vervul. Vir ‘n gelowige is dit dúídelik om raak te sien. Want al die beloftes wat God deur sy profeet, Joël, bekendgemaak het, gaan in vervulling. Een na die ander herinner die gebeure op Pinksterdag die dissipels aan die profesie van Joël.
En dan roep Petrus die skare op om – verál – te luister na dit wat hy nou verder gaan sê. Hy gebruik die woorde: “Luister Israel” – hierdie spesifieke oproep is gebruik wanneer baie belangrike inligting deurgegee word. Ons vind dit o.a. ook in Deuteronomium 6 waar ons die bekende gedeelte lees met dieselfde oproep: “Luister, Israel, die Here ons God is die Enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en met ál jou krag.” Met dieselfde erns roep Petrus hierdie skare mense op, want hy het vir hulle ‘n boodskap van Gód. Hy stel Jesus Christus aan hulle bekend en sê vir hulle dat dit Hý is wat al daardie kragtige dade gedoen het. Petrus sê vir die skare dat dit Jesus Christus was wat die wonders en tekens onder hulle gedoen het. En dat dit óók Hy was vir wie hulle laat doodmaak het. Maar dan noem Petrus dat álles wat met Christus gebeur het, deel van God se Verlossingsplan was en is.
God die Vader het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan menslike verraaiers en regters oor te lewer sodat Hy eindelik die doodstraf ontvang het. Al is Hy totaal en al onskuldig, stry Hy nie teen sy vonnis nie, geliefdes. Soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders het ons Here nie sy mond oopgemaak nie. Want Hy vertrou sy Vader en Hy besef dat Hy aan sy wil gehoorsaam kan wees. Al staan die dood voor die deur – al wens Hy dat hierdie lydensbeker by Hom verby moet gaan – bid Hy: “Laat nogtans nie My wil nie, maar U wil geskied” (Matt. 26: 39). Jesus Christus doen waarvoor Hy Mens geword het – Hy sterf aan die kruis in die plek van alle gelowiges. Hy doen dit vrywillig, want Hy vertrou sy Vader se liefde teenoor Hom. En juis daarom – juis omdat Hy bereid was om vir sondaars te betaal – wek God Hom uit die dood uit op.
En dit is juis op hierdie feit waarop Petrus in sy preek fokus, geliefdes. Vier keer herhaal Petrus dit in sy toespraak – nl. dat Jesus Christus uit die dood uit opgestaan het. Aangesien dit duidelik die sentrale gedagte van Petrus se preek op Pinksterdag is, is dit ook die hoofgedagte in óns preek vandag. Soos ons gehoor het, was die apostels oog- en oor- getuies van Jesus Christus se lewe op aarde, sy kruisdood en sy opstanding. Dit waarvan hulle eerste getuig, is dit wat hulle Verlosser laaste gedoen het. Die apostels getuig daarom verál van Jesus Christus se oorwinning oor die dood. Hy is die Eerste wat uit die dood uit opgestaan het – en sover die Enigste – omdat Hy alleen almagtig is. Omdat Hy sélf God is, het die dood geen houvas op Hom nie, geliefdes. Dit is onmoontlik vir die dood om Hom vas te hou! Die hartseer van die dood kan nie ons Verlosser beheer nie. Die finaliteit wat die dood bring het geen greep op Jesus Christus nie. Want Hy het die laaste vyand verslaan, geliefdes! Die houvas wat die sonde en die dood op God se kinders gehad het, is deur Hom weggeneem. Want die soos die sonde – en daarom die dood – deur een mens, Adam, gekom het, kom die vryspraak en die ewige lewe ook deur Een mens – die Tweede Adam (vgl. 1 Kor. 15).
Petrus-hulle getuig van Hóm en sê dat dit Chrístus is na Wie Dawid verwys het in Psalm 16 en Psalm 110. Al ondergaan Christus die lyding van die hel ter wille van God se kinders, het sy Vader nie Christus se liggaam aan die doderyk oorgelaat nie. Soos ons in Handelinge 2: 27 en 31 hoor, het Christus se liggaam nie vergaan nie, geliefdes! Hy blý nie in die graf nie – Hy blý nie dood nie. Nee, Hy oorwin die dood en staan daaruit op! Op Hóm het die dood géén houvas nie. En daarom – omdat Hy die dood oorwin het – herstel God Hom in sy volle eer en glorie deur Hom na die hemel toe te laat opvaar. Vanuit die hemel, heers Christus oor alles en almal – in die besonder oor sy vrygekoopte kerk. Daarom haal die apostels ook Psalm 110 aan. Hierdie Psalm besing die vaste sekerheid van ‘n Ewige Koning wat op pad is om sy volk van hulle vyande te verlos. En nou wys Petrus hulle daarop dat hiérdie Koning die Opgestane Christus is. Soos ons in ons laaste fokusvers lees, heers Hy nou nog aan God se regterhand, want aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Getuig van sy oorwinning!
Met hierdie wete, nl. dat Christus ons Ewige Koning is, word ons getroos in hierdie tyd. In ‘n tyd waar ons maar baie min sekerheid het, gee die Here vanoggend vir ons die sekerheid dat Hy reeds die dood oorwin het. Omdat Hy dit in óns plek gedoen het, ontvang ons die wonderlike troos dat die dood ook geen houvas op gelowiges het nie. Geliefdes, die dood het nie ‘n greep op ons nie. Want ons ontvang die belofte dat óns ook eendag uit die dood sal opstaan. Omdat die Heilige Gees ons laat deel kry aan ál die weldade van Christus, ontvang ons ook die vreugde van die ewige lewe. Die hartseer wat die dood bring hoef ons nie te beheer nie, geliefdes, want Hy, Wie ons navolg, het dit rééds oorwin.
Hierdie belofte van God deur die Gees is vas en seker. Die feit dat ware gelowiges getroos kan wees, selfs al sterf een van hulle geliefdes, is onveranderlik. Die feit dat ware gelowiges vol hoop kan wees, selfs al staar die dood hulle in die oë, is iets wat nie sal verander nie. Dit is iets wat nie by ons weggevat kan word nie – waarom nie? Want Gód is onveranderlik. Hy en sy beloftes is áltyd geldig. Wanneer ons aan sy wonderlike liefde vir ons dink – wanneer ons dink aan al die kere wat Hy ons benoudheid en hartseer weggeneem het – dan kan ons nie anders as om verstom te staan nie. Al die kere wat Hy ons besorgdheid weggeneem het met ‘n bemoedigende woord van ‘n medegelowige… Al die kere wat ons strydvrae beantwoord is met ‘n Bybelvers, dan is dit te danke aan Hóm, geliefdes. Wanneer dit met ‘n ware kind van God gebeur, dan wil ons hierdie gevoel van dankbaarheid en verwondering met iemand deel, nie waar nie? Sodra die Heilige Gees my laat besef wat die Evangelie van Vryheid vir my, persoonlik, beteken, dan kan ek nie meer stilbly nie. Dit is dán wanneer ek begin getuig van al sy wonderdade – al sy genade wat Hy teenoor my – ‘n sondaar-mens – bewys.
Dít is die rede waarom die apostels bloot begin getuig het van hulle Verlosser. Maak nie saak wie die gehoor is nie, hulle vertel vir die mense Wie Jesus Christus werklik is. Hulle doen rééds wat Paulus, na sy bekering, vir Timoteus gesê het: “Verkondig die Woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig.” Geliefdes, is dit nie iets wat elkeen van óns ook behoort te doen nie? In plaas daarvan om mekaar te herinner oor hoe sleg dit met ons land se situasie gaan – of watter negatiewe impak die wêreldwye inperking het – word ons nie eerder geroep om ons oë op Christus se oorwinning te plaas nie? Al hierdie negatiewe dinge wat rondom ons gebeur – al die siekte en armoede en gebrokenheid en eensaamheid is tydelik, geliefdes. Dit wat éwig is, is die lewe wat nog vir ons voorlê. ‘n Lewe van konstante vreugde, dankbaarheid en lof. ‘n Lewe sonder enige teleurstellings of selfverwyt.
So kom ons getuig van Hom wat hierdie dae vir ons moontlik sal maak! Kom ons verkondig sy oorwinning! Kom ons herinner die mense wat oor ons pad kom, dat daar Iemand is Wie ons Christus noem en dat Hy sélfs die impak van die dood oorwin het.
Slot
Is dit vir jou belangrik om in iets vir iemand anders te beteken. Is dit jou doel om hierdie jaar ‘n groter impak op iemand anders se lewe te hê? Wens jy om hierdie jaar, op ‘n manier, góéd te wees vir jou naaste? Getuig dan eenvoudig van Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het. Vertel, op ‘n verstaanbare manier, Wie Jesus Christus is.
Mag die Heilige Gees jou lei dat jy só van God-Drie-Enig kán getuig. Maak nie saak wie voor jou staan nie, maak nie saak watter mense deel van die skare is nie, verkondig God se troosvolle Woord aan hulle. En mag jy sélf getroos word deur dit wat jy aan hulle bekendmaak. Mag jy regtig gló dat jy en jou geliefdes eendag uit die dood sal opstaan.
Wanneer jy werklik iets vir iemand hierdie jaar wil beteken, herinner hulle daaraan dat die dood geen houvas op Christus óf sy Kerk het nie. Amen.