Skrifgedeelte: Handelinge 15: 1 – 35
Fokusvers: Handelinge 15: 11
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 25
Tema: God red al sy kinders deur die genade van Jesus Christus. Moet nie verwarring toelaat nie.
Inleiding
Na ‘n suksesvolle eerste Sendingreis is die apostels, Paulus en Barnabas, terug in Antiogië. Hulle is weer by die gemeente wat hulle uitgestuur het om die heidene tot bekering te roep. Met hulle aankoms in Antiogië kon hulle ‘n toejuiging van hulle medegelowiges verwag. Hulle kon ‘n diep dankbaarheid verwag. Hulle kon volwassenheid in die geloof van hul medegelowiges verwag, maar wat kom kry hulle daar in Antiogië? Met hul terugkoms kry hulle die gelowiges wat, oor die tyd, verward begin word het.
Wanpersepsie oor verlossing
Ja, hierdie einste gemeente wat vir hulle tydens hulle Seningreis gebid het, is nou verward. Want daar het mense in Antiogië aangekom wat die Joodse Besnydenis oorbeklemtoon het. Waar die apostels die gelowiges in Klein Asië daarop gewys het dat Christus die besnydenis vervul het, hoor hierdie mense nou weer dat die besnydenis nódig is. Broodnodig – as jy verlos wil word. Want hierdie mense kom nou met ‘n boodskap en sê: “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kán julle nie verlos word nie.”
In ‘n sekere sin kan ons hierdie uitlating sekerlik verstaan. Die mense wat dit sê is Jode, of op hul beste Joodse-Christene, wat meen dat ál die gebruike en wette van die Ou-Testament nog van toepassing is. Hulle klou vas aan dinge soos die besnydenis, offers en allerhande reinigings-wette. Al hierdie gebruike en wette was egter deur God ingestel as ‘n heenwysing dat dit in Christus vervul sou word. Elke offer wat in die Ou-Testament gebring is, het na Christus se volmaakte offer aan die kruis heengewys. Elke keer as daar ‘n reinigings-ritueel toegepas is, was dit ‘n “vorentoe roep” na die reinheid wat Christus vir ons sal verwerf. Dit is alles heenwysings en ‘n voorafskaduwing van dit wat Jesus Christus moes kom doen.
Dieselfde geld vir die besnydenis, waarop hierdie mense in Handelinge 15 so aandring. Toe God die verbond met Abraham in Genesis 17 gesluit het, het Hy aan Abraham beloof dat Hy vir Abraham se nageslag ‘n God sal wees waarop hulle altyd kan vertrou. Die Almagtige sal hierdie mense versorg en beskerm. Hy sal nie net Abraham se God wees nie, maar ook sy héle nageslag. Hierdie beloftes van God geld vir die héle volk, Israel. God sal aan hulle die land, Kanaän, gee: ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hierdie beloftes kom nie net hulle toe sonder enige opoffering nie. Dit word van die verbondsvolk verwag om sekere dinge uit gehoorsaamheid aan die Here, en uit dankbaarheid teenoor Hom te doen. Hulle moes bv. slégs God aanbid as hulle Enigste God. Hulle moet die Here van hierdie Verbond aanhang liefhê en vertrou. En die teken van hierdie verbond is dat elke manlike lid van die volk aan die voorhuid besny moet word. Selfs die slawe en werkers wat nié deel is van die volk nie, moet besny word (vgl. Gen. 15 en 17). Want vir hierdie verbond om geseël te word, moes bloed vloei. ‘n Opoffering moes gemaak word.
Dit ís so dat God al hierdie gebruike en wette in die Ou-Testament van sy kinders geëis het. Vóór die koms van Jesus Christus moes alle gelowiges o.a. offers bring, die uitgebreide Joodse Wet nakom en hulle seuns laat besny. Maar met die koms van Jesus Christus is al hierdie seremoniële wette vervul. In sy volmaakte aardse lewe en opofferende kruisdood, vervul Hy al die seremonies en heenwysings na die Wet en die Verbond. Ons lees o.a. in Hebreërs 9 hoe Jesus Christus die Volmaakte Offer is. As Enigste Hoëpriester het Hy Homself nie herhaaldelik geoffer nie. Hy het nie, soos die Ou-Testamentiese hoëpriesters, elke keer ‘n núwe offer gebring met bloed wat nié syne is nie. Nee, Hy het maar één maal Homsélf geoffer. En deur hierdie Een Offer die sonde van álle gelowiges weggeneem. Die teken hiervan was nie maar net ‘n bietjie bloed van een wond wat gevloei het nie, maar báie bloed van verskéie wonde. Kosbare bloed wat as betaling dien vir die sonde van ál God se kinders.
En dít is waarom ons, as Nuwe Testamentiese kerk, bely dat daar – te danke aan Christus – ‘n einde gekom het aan die seremonies en rituele van die Ou-Testament. Omdat Christus die finale Offer aan die kruis betaal het, offer ons nie meer nie en is die besnydenis nie meer vir ons en ons kinders ‘n vereiste nie. Van die gemeentelede van Handelinge 15 het egter nie dít saam met ons bely nie. Hulle het gemeen dat ‘n mens stééds die Ou-Testamentiese gebruike moet onderhou, selfs al ís hulle bewus van dít wat Jesus Christus maar ónlangs daar in hulle streek deurgemaak het. Hulle meen dat Christus se kruisdood en opstanding nie genoeg is om ‘n mens te verlos nie, maar dat ‘n mens iets van jou kant af moet doen. Jy moet ook iets na die tafel toe bring, want die beloftes in Christus is nie sterk genoeg nie. Hiermee verwerp hulle eintlik die krag én geldigheid van sy kruisdood, geliefdes. Hulle meen dat geloof alléén nie genoeg is om aan jou die ewige lewe te gee nie. Hulle redeneer en sê: “Ja, jy het dalk Christus se verlossing nodig, maar óók nog iets van jou kant af.” Hierdie mense is bereid om die Evangelie van Christus aan te hoor, op die voorwaarde dat hulle iets van die Joodse geloof kan behou. Vir húlle is dit Christus – plus die besnydenis. Dít is wat jou gaan red.
Daarom verkondig hulle dan hierdie wanpersepsie oor die mens se verlossing aan die gemeente in Antiogië. Toe Paulus hulle na hul eerste sendingreis terugkom en hiervan hoor, verkondig hulle dadelik die wáre Evangelie aan hierdie mense. Want hierdie mense het ‘n verdraaide siening oor ‘n mens se verlossing, geliefdes. Anders as die apostels glo hulle ‘n mens se geloof ‘n aanvulling kort. Hulle glo jy moet steeds iets fisies van jou kant af doen om jou verlossing te verdien. En daarom sien ons in Handelinge 15: 1 hoe hulle reg in eie hande wil neem en eintlik die besnydenis op die gelowiges in Antogië wil afdwing.
Die genade van ons Here, Jesus Christus
Alléén kon Paulus en Barnabas nie hierdie mense van die waarheid oorreed nie. Hulle gesprek met hierdie voorstanders van die besnydenis het in ‘n hewige meningsverskil ontaard, en daarom is daar besluit om advies te vra. Paulus en Barnabas word saam met ander gelowiges na Jerusalem toe gestuur om daar te gaan hoor wat húlle mening oor die besnydenis en die noodsaaklikheid daarvan is. “Geld God se Verbond nét vir die Jode?” “Kan heidene ook gered word?” “Indien wel, hoe?” Dít is die tipe vrae waarop daar geantwoord moes word.
Toe die afgevaardigdes in Jerusalem aankom, het hulle nie dadelik die probleem gestel nie. Dit is opmerklik dat Paulus en Barnabas éérs verslag gedoen het van al die wonderlike dinge wat God teenoor hulle bewys het. Eers daarna het die vergadering, van afgevaardigdes van verskillende gemeentes, begin. Hierdie “groter” vergadering word juis opgeroep, want daar waar meer mense is, dáár is meer wysheid. Ook dáár was verskillende menings oor die vraagstuk (vers 5). Maar wat egter opvallend is, is dat Petrus en die ander ouderlinge presies soos Paulus en Barnabas gevoel het. Ons moet goed verstaan dat Paulus-hulle glad nie in gesprek kon tree met Petrus en die ander apostels en ouderlinge nie. Dit is alleen die Heilige Gees wat aan God se uitverkore kinders hierdie ooreenstemming kan gee.
Verder sien ons ook die Hand van die Here in hierdie gebeure raak. Want dit is uiteindelik Pétrus wat die vergadering daarop wys dat God-Drie-Enig aan die apostels die opdrag gegee het om die Evangelie ook na die heiden nasies toe te neem sodat hulle kan glo (Matt. 28: 19 en 20; Hand. 1: 8). Petrus word kragtig deur die Heilige Gees gebruik want hy het nét ‘n paar hoofstukke vroeër raakgesien dat dít wat God rein verklaar het, geen mens onrein mag beskou nie (Hand. 10). Tydens die ete by Kornelius kom Petrus tot die besef dat God geen onderskeid tussen sy uitverkore kinders maak nie. Indien God sê dat iemand rein gewas is in die bloed van sy Seun, wie is óns om Hom tee te gaan?
En daarom bevestig Petrus die siening van Paulus en Barnabas en verkondig hy eintlik die Evangelie van Christus aan die vergadering (Hand. 15: 7 -11). Hy oortuig die afgevaardigdes dat God die Heilige Gees óók aan die heidene gee wat Hy wil laat bekeer. God maak geen onderskeid tussen Jood en Nie-Jood nie (Kol. 3: 11). Petrus sê in soveel woorde dat hulle, én hulle voorvaders nie in staat was om die Joodse Wet volmaak te gehoorsaam nie. Hoe kan hulle dan van hierdie nuwe bekeerlinge verwag om dit te doen? Met die woorde van ons fokusvers wys hy die vergadering daarop dat hy en die meerderheid van die vergadering met Paulus en Barnabas saamstem:- Al hoe ‘n mens gered kan word – al hoe ‘n mens die ewige lewe kan ontvang – is deur die genade van die Here Jesus Christus.
Die enigste manier om van ‘n mens se sondes verlos te word, is om te glo dat Jesus Christus vir jou sondes gesterf het en dat sy Offer aan die Kruis genoegsaam en volledig was. Van óns kant kan ons niks doen om hierdie vryspraak op ons sondes te verkry nie. Ons het niks anders buiten geloof in God-Drie-Enig nodig om ewig te kan leef nie. Vir óns is dit nie Christus plus iets, soos die besnydenis nie, maar Christus alleen!
Waak teen verwarring
Dit is dan die gevolgtrekking waartoe die groter vergadering gekom het. Hulle stuur die afgevaardigdes terug na hulle eie gemeente toe met die vergadering se besluit. Hulle het op hierdie antwoord gekom nadat hulle vir die leiding van die Heilige Gees gebid het. En die Gees het hulle daartoe gelei dat hulle eenparig besluit het dat die Here se genade wyer strek as nét die Joodse volk. En dat ‘n mens nie op grond van Wetsonderhouding óf Joodse gebruike gered word nie, maar alleen op grond van dít wat Jesus Christus vir gelowiges gedoen het en op grond van ‘n mens se geloof daarin.
Daarom lees ons ook in Efesiërs 2: 8: “Uit genade is julle gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie, dit is ‘n gawe van God.” En in Galasiërs 2: 16: “Ons weet tog dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die Wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo.” En in Kolossense 2: 8 en 16-17: “Pas op dat niemand julle van Christus wegvoer deur teorieë argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nié op Christus nie.” “Daarom moet julle nie dat iemand julle voorskryf wat julle moet eet en drink of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfeeste of die (Joodse) Sabbat moet vier nie. Dit alles is maar net ‘n skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”
Geliefdes ons moet goed verstaan dat ons, wat na Christus se Hemelvaart leef, wél nog die Sabbat onderhou maar nou op ‘n Sondag – die dag waarop Hy uit die dood opgestaan het. Ons besef egter dat die onderhouding van die Sabbat ons nie die ewige lewe kan skenk nie, maar ons geloof in Christus. Ons luister ook stééds elke week na die Tien Gebooie – nie om daardeur verlos te word nie – maar juis om ons dankbaarheid vir ons verlossing in Christus uit te leef.
Te danke aan dit wat ons in die Here se Woord lees, verstaan ons sy Evangelie rég. Deur verskillende Skrifgedeeltes met mekaar te vergelyk, besef ons wat God se wonderlike genade vir ons beteken. Wanneer ons die Woord van die Here kén dan sal ons nie verwar word wanneer iemand ‘n ander teorie of argument na ons toe bring nie. Want al ons sienings en oortuigings is gegrond op die inhoud van die Skrif.
Handelinge 15 is juis die rede waarom ons meerdere vergaderings hou. Die besluite wat ons, as kerk, neem, is nooit maar een predikant of kerkraad se siening nie. Met ingewikkelde dogmatiese, sake vra ons altyd die advies van ons medegelowiges.
Dit is ook op hierdie manier wat al ons Belydenisskrifte opgestel is. Dit is nie maar een persoon se siening nie – die hele vergadering het eenparig hierop besluit. Daar waar meer ménse bymekaar is, dáár is meer gawes. En wanneer die teenwoordigheid van die Here afgesmeek word – wanneer ons pleit op die insig en leiding van die Heilige Gees – dan kom ons tot die régte besluite. Dit is dán wat al die afgevaardigdes van ‘n Klassis, Streek Sinode of Algemene Sinode sáám God se Woord bestudeer en met vrymoedigheid kan bely: “Deur die werking van die Heilige Gees het ons op die volgende besluit” (Hand. 15: 28).
Slot
Geliefdes, kom ons sien God se genade ook hierin raak. Die besluite wat ons, as kerk, neem, is nooit maar een persoon of kerkraad se opinie nie. As kerkverband doen ons moeite om saam te kom en biddend hierdie sake te bespreek. Ons doen dit juis sodat niemand ons met hul argumente kan probeer verwar nie. Wanneer ons alleen is, dán kan ons maklik oorreed word. Maar wanneer ons as kerk saamkom en ons sienings en opinies met medegelowiges se interpretasie van die Skrif meet, dán kry ons sekerheid.
In vandag se tyd kry ons baie mense wat meen dat ‘n mens nié alleen op grond van Christus se genade gered kan word nie. Baie mense ervaar die druk van groepe wat sê dat jy gered word op grond van “Christus plus die besnydenis”. Of Christus plus goeie werke. Christus plus nog ‘n doop. Christus plus ‘n bedrag geld aan die pastoor. Christus plus die vermoë om in tale te praat.
Geliefdes, saam met ons medegelowiges, is dit duidelik vanuit die Skrif dat ons nie iets ménslik saam met ons geloof in Christus benodig nie. Om van ons sondes vrygespreek te word – om die Ewige Lewe te ontvang – het ons slégs ‘n ware geloof in Jesus Christus nodig. Amen.