Skrifgedeelte: Handelinge 16: 16 – 35
Fokusgedeelte: Handelinge 16: 25
Tema: Selfs te midde van moeilike omstandighede blý God lofwaardig. Bring Hom dank en eer want (I)iemand luister.
Inleiding
Verlede week het ons weer God se wonderlike genade raakgesien. Ons het gehoor hoe die groter vergadering in Jerusalem tot die konklusie gekom het dat ‘n mens nie op grond van menslike gebruike en rituele gered kan word nie. Dit is nie die besnydenis óf offers óf kerkbywoning wat aan ‘n mens die ewige lewe kan gee nie. Dit is alleen deur die genade van Jesus Christus, en ‘n mens se geloof daarin, wat ons vryspraak van ons sondes ontvang.
Selfs te midde van moeilike omstandighede blý God bereikbaar en lofwaardig
Dit is met hierdie selfde Boodskap wat die apostels hul Tweede Sendingreis aangepak het. Oral waar hulle gekom het – aan alle mense wat hulle ontmoet het – het hulle maar een Boodskap gehad. En dít is dat ‘n mens in Jesus Christus en in sy verlossing moet gló. Tydens hulle Tweede Sendingreis het die apostels baie meer mense bereik, want hierdie sendingreis was meer as dubbel so lank soos die Eerste Sendingreis. Teen die tyd wat hulle in Filippi aangekom het, was hulle al oor die helfte van hierdie sendingreis. Dit is hier, in Filippi, wat die eerste aksie van die Tweede Reis gebeur het.
In die paar verse wat ons nié saamgelees het nie, hoor ons hoe die purper verkoopster, Lidia, daar in Filippi tot bekering gekom het. Direk daarna lees ons van nóg ‘n vrou van Filippi – hierdie keer nie een wat haar éie inkomste verdien het nie, maar een wat ánder mense ryk maak. Ons hoor van ‘n slavin wat deur haar eienaars besit word. Sy was ‘n waarsêer – ‘n fortuinverteller. Hierdie vrou het nie nét – op ‘n heidense manier – die toekoms voorspel nie, maar óók valse beloftes aan mense gemaak. Hierdie vrou – en haar eienaars word gedryf deur die Satan – die vader van die leuen. Saam met hom verwar hulle die mense waarmee hulle te doen het en verkondig hulle valse hoop.
Ons lees hier in Handelinge 16 hoe sy dan die Gees van die Here uitgetart het deur agter die apostels aan te loop en herhaaldelik geskreeu het wie hulle is en wat hulle doen. Sy het dit nie op ‘n eervolle manier gedoen nie, geliefdes. Haar opmerkings is snedig en sy laster eintlik die Here se Naam deur haar houding en óók die aanhoudende herhaling daarvan. Ons moet onthou dat die duiwel presies weet wie God-Drie-Enig is. Jakobus sê in sy brief: “Glo jy dat daar net Een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook – en hulle sidder van angs.” Wanneer ‘n mens God se Naam gebruik sonder om dit met respek te gebruik, dan kom dit neer op godslastering. Wanneer iemand op ‘n spottende wyse die Almagtige se Naam misbruik, dan kom dit altyd van die Bose af.
Paulus besef dit, en daarom spreek hy nie die waarsêer sélf aan nie, maar die bose gees wat in haar woon (Hand. 16: 18). Hierdie waarsêers-gees het dádelik uit die vrou uitgegaan toe Paulus dit in die Naam van Christus bestraf het. Onmiddellik het hierdie slavin haar bonatuurlike kragte verloor – sy kon niks meer geld vir haar eienaars inbring deur aan mense valse hoop te gee nie. Haar eienaars het dit gesien as ‘n geleentheid om die apostels voor die owerheid te bring. Daar op die stadsplein, waar die hele stad se mense bymekaar is, daarheen word die apostels gebring. Hulle word skuldig bevind op grond daarvan dat hulle die eiendom van ‘n Romeinse gesin beskadig.
Hierin sien ons, as Christene, die verdraaide sienings van die ongelowiges raak: Nie net beskou hulle hierdie vrou as hulle besitting nie – hulle voel óók te na gekom omdat hulle nou nie meer kan wins maak uit demoniese toorkuns nie. Verder ervaar die Romeinse owerheid ook druk deur die Evangelie wat hierdie apostels verkondig. Die Romeinse keiser wil alle eer en ontsag en selfs aanbidding van die inwoners van Filippi hê. Die feit dat Paulus en Silas nou Christus as Koning en Here oor alles en almal bekend maak, ontstel die Romeine. Die ongelowige Romeinse regering voel bedreig want húlle wil deur die mense verafgod word (vgl. o.a. Hand. 4: 19; 17: 7).
Dit is die rede waarom die apostels dan uiteindelik deur die Romeine gemartel word en in die tronk gestop word. Die apostels ervaar uiters moeilike omstandighede: hulle is in ‘n vreemde land; hulle is die enigste gelowiges tussen ongelowige mense; hulle is by verre in die minderheid; hulle word deur ‘n bose gees uitgedaag; hulle word onregverdig veroordeel; hulle word fisies met stokke geslaan (2 Kor. 11: 24, 25) én nou word hulle gevange geneem.
Geliefdes, dit klink asof Paulus en Silas alle rede gehad het om moed op te gee. Hulle gaan deur al hierdie uitdagings en moeilikhede nie vir hullesélf nie – hulle is daar in die vreemde ter wille van die Hére. Maar dít is juis wat aan hulle die moed gegee het om in hul roeping te volhard, geliefdes. Al sou hulle nooit sélf gekies het om nou in Filippi te wees nie, het die Here hulle daarheen gestuur. Al voel dit asof hulle eensaam en alleen is hier in die vreemde stad, is hulle nie alleen nie. En dit besef die apostels báíe goed.
Die Here was bý die apostels toe hulle hul eerste sendingreis aangepak het. En die Here is ook met hierdie sendingreis bý hulle. In sy genade is die Here altyd bý ‘n mens – soveel te meer vandat ‘n mens tot geloof kom. Wanneer jy, deur die genade, sy kind gemaak word, dan los die Here jou nooit alleen nie. Dán kan ons saam met die Psalmdigter bely: “Selfs al sou my vader en my moeder my verlaat, die Hére sal my onder sy sorg neem” (Ps. 27: 10).
Ja, geliefdes, die Here is daar bý die apostels as hulle bespot word. Hy is daar bý hulle as hulle gemartel word. En Hy is ook daar bý as hulle in die koue, eensame, tronksel sit. En dít is waarom hulle in ons fokusvers unieke gedrag getoon het. Menslik gesproke het die apostels alle rede gehad om moed te verloor, maar daarteenoor het hulle egter die geloof gehad om moed te hou. Dit is te danke aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees dat die apostels nie mismoedig daar in die tronksel gesit het nie. Na Jesus Christus se Hemelvaart het Hy en die Vader die Heilige Gees gestuur om ewig by gelowiges te bly (Joh. 14: 15 e.v.).
Te danke aan die besondere teenwoordigheid van die Heilige Gees voel die apostels nie alleen nie, selfs al is hulle in die vreemde. Dit is die kragtige werking van die Heilige Gees wat die apostels laat perspektief hou – selfs al word hulle verwerp, mishandel en gevange geneem. Dit is alleen God die Heilige Gees wat die apostels laat lofliedere sing in plaas van klaagliedere. Mense wat nié die Here in hulle harte het nie, sou al lankal aan God die skuld gegee het vir die situasie waarin hulle is. Maar omdat hierdie twee manne met die Heilige Gees vervul is, hou hulle áán om Hom te loof – selfs in haglike omstandighede. Want hierdie apostels van die Here besef dat hulle omstandighede nie hulle geloof in die Here bepaal nie. Hul fisiese swaarkry het niks te doen met hulle geestelike lewe nie. En dit is die rede waarom hulle dan – in die letterlike én figuurlike nág – die Here kon loof en prys vir Wie Hy is.
Ja, geliefdes, hierdie manne blý die Here loof – selfs daar in die eensame tronksel – want hulle kén die Here. Hulle wéét dat Hy alomteenwoordig is. Al voel hulle dalk eensaam, en van mense vervreem, besef hulle egter dat die Here ín hulle harte woon. Al is ménse vêr weg, is die Hére nie vêr weg nie. Al het hulle nie die ondersteuning van geliefdes nie, het hulle die sekerheid dat die Almagtige bý hulle is – selfs in hierdie moeilike tyd. Hulle hou vas aan Skrifgedeeltes soos: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses” (Ps. 34: 19). En: “Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in oprégtheid aanroep” (Ps. 145: 18). Die apostels is diep bewus van die teenwoordigheid van die Here, want hulle het gesien hoe Hy aktief aan die werk is tydens hulle hele bediening sovêr. En daarom is hulle ook verseker van sy nabyheid daar in die tronk.
Wanneer iemand naby aan ons is, dan praat ons tog met daardie persoon nie waar nie? Dit is presies wat die apostels teenoor die Here gedoen het. Ons fokusvers maak dit duidelik dat die apostels tot die Here gebid het. Al kon hulle Hom nie sien nie, het hulle geweet dat God-Drie-Enig daar is. Ons kan iets by hierdie medegelowiges van ons leer, geliefdes: toe hulle groot benoudheid ervaar het, het hulle nie sélf planne beraam oor hoe om hierdie probleem van hulle op te los nie. Nee, hulle rig hulle gedagtes en hulle harte tot God. Hulle raak vir ‘n oomblik voor die Here stil en stort hulle héle hart voor die Here uit. As gelowiges vestig hulle hul hoop op die Hére, en nie op mense nie. Hulle vertrou Hóm dat Hy ‘n uitweg vir hulle sal moontlik maak, selfs al kan hulle dit nog nie sien nie. Vir die apostels is hulle hoop en hulle sekerheid áltyd in die Here, en daarom roep hulle Hom aan – selfs in uiters moeilike omstandighede daar in die tronk.
In Jesaja 55: 6 lees ons: “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy nog náby is.” En presies dit het die apostels gedoen. Deur die werking van die Heilige Gees het hulle besef dat die Here stééds bereikbaar is – selfs in ondraaglike omstandighede. En dít is die rede waarom die apostels lofliedere tot eer van God kon sing. Want in die Here se genade is God nie net bereikbaar deur gebed nie. Hy is óók lofwaardig – selfs wanneer dit uiters swaar gaan. Die Heilige Gees sal altyd aan ons die perspektief om dit in te sien.
Bring Hom dank en eer want (I)iemand luister
Soos ons in die res van hierdie verhaal raakgesien het, het dít wat daardie nag in die tronksel gebeur het, groot opskudding gemaak. Terwyl die apostels tot die eer van God bid en sing, het die gevangenes en die gevangenis-personeel na hierdie lofliedere geluister. Daarna kom daar ‘n aardbewing wat veroorsaak het dat die fondasies van die hele tronk geskud het. Die gevangenes se boeie ruk los en die tronk se deure spring oop – ‘n wonderwerk vind in Filippi plaas wat alleen die werk van die Heilige Gees is. Daarna vind ‘n vérdere wonderwerk plaas, want die tronkbewaarder was op die punt om selfmoord te pleeg toe Paulus hom met die woorde van die Evangelie keer: “Glo in die Here, Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou hele huisgesin” (Hand. 16: 31).
Die geloof wat Paulus en Silas prakties uitgeleef het, het die gevolg dat iemand luister en daarop reageer. Eerstens luister die tronkbewaarder en ander gevangenes na die lofliedere en gebede. Hierdie eer aan God prikkel die tronkbewaarder se belangstelling in die Persoon aan Wie hulle die eer bring. Die oomblik toe hy tot geloof kom, het sy ingesteldheid verander. Van ‘n wanhopige persoon wat alle moed wou verloor, na iemand wat oplet en reageer op God se genade. Saam met sy huisgesin groei hy in geloof en veranker hy homself in die Hoop wat nét die Here kan bied. Maar daar is nóg Iemand wat na die lofliedere en gebede van die apostels luister. God-drie-Enig luister aandagtig na die gebede en lof wat sy kinders aan Hom bring. Omdat hulle met die regte ingesteldheid gebid het, bevry Hy hulle op ‘n wonderbaarlike manier sodat hulle die Goeie Nuus vérder kan versprei.
Slot
Dit wat die apostels op hierdie Tweede Sendingreis deurgemaak het, is maar ‘n druppel aand die emmer teenoor dít wat Jesus Christus moes deurmaak. Tydens sy aardse lewe word Christus nie deur ‘n waarsêers-gees gepla nie, Hy word deur die Satan versoek (Matt. 4). Ook Hy, wat sonder sonde is, word onregverdig veroordeel. Hy word nie net ‘n paar keer met stokke geslaan nie, Hy word verskriklik gegésel. Hulle druk ‘n doringkroon in sy kop, spoeg op Hom en laster sy Heilige Naam (Matt. 27: 29-39).
Uiteindelik sterf Hy tussen vreemdes – tussen ongelowiges – daar aan die kruis. En al het Jesus Christus geweet wat vir Hom wag, het Hý ook in die vorige nag gebid en God geloof. Ten spyte van sy verskriklike omstandighede – ten spyte daarvan dat Hy deur al hierdie pyn en verwerping moet gaan, al is Hy onskuldig – eer Hy se Vader daar in die Tuin van Getsemané.
Geliefdes, mag die sekerheid van ons geloof aan ons elkeen die krag gee om in hierdie lewe te volhard. Mag elkeen van ons gedryf word deur die vaste hoop van die Ewige Lewe. Al kan ons dalk nie vandag die uitkoms van ons omstandighede raaksien nie, mag ons die Here blý loof. Mag ons besef dat Hy lofwaardig is en blý, selfs al het ons omstandighede verander. En mag ons in gesprek met Hom bly. Mag ons in Hom gewortel wees – in Hom geanker – want Hy alléén is naby en bereikbaar – selfs al voel ons eensaam en van mense vervreem.
Hou aan om tot God te bid, geliefdes. Hou aan om tot eer van Hom te sing en tot eer van Hom te leef, en weet verseker dat I(i)emand na jou luister. Amen.