Skrifgedeelte: Psalm 85: 1 – 14
Fokusverse: Psalm 85: 9 – 11
Tema: God se Woord bring vrede vir diegene wat Hom getrou dien. Wees opsoek na sy geregtigheid en vrede.
Inleiding
Ons land is aan die brand. Hierdie afgelope week het dit letterlik in verskillende provinsies van ons gebrand. Duisende Suid-Afrikaners stig brande en plunder winkelsentrums omdat hulle, op ‘n manier, verontreg voel. Ek is seker ons almal het die beeldmateriaal gesien waar honderde mense met gesteelde items weghardloop en hoe geboue aan die brand gesteek word. Dit breek ‘n mens se hart, want dit is ons éie land wat so geplunder word. ‘n Mens voel magteloos en eintlik hartseer as ‘n mens sien hoe hierdie massa mense met só iets wegkom.
God se Woord bring vrede vir diegene wat Hom getrou dien
Vir ons, as gelowiges, is hierdie optrede heeltemal onaanvaarbaar. Barbaars. Nie vir énige ander rede as dat God nie sulke gedrag van sy kinders verwag nie. Ongeag ‘n mens se kultuur of agtergrond: – kinders van die Here tree nie só op nie. Hierdie tipe gedrag is egter nie iets nuuts nie, geliefdes. In Nahum lees ons hoe die inwoners van Ninevé ook soortgelyk opgetree het. Die Here se antwoord op hulle goddelose optrede was: “Ellende wag vir jou, bloedbevlekte stad; jy is vol bedrog, gevul met buit, jy hou nie op met roof nie” (Nah. 3: 1).
Psalm 85 sou ook nie geskryf geword het, as alles net goed gegaan het met die mense van daardie tyd nie. Dit is duidelik vanuit hierdie Psalm dat die gelowige skrywer(s) ook met mense te doen gehad het, wat ánders as hulle was. Maar hulle éie mense het ook afvallig geraak (vers 9). Gelowiges – wat God se genade gekén het – het soos heidene begin optree. En daarom dink die skrywer(s) in verse 1 – 8 terug aan die goedheid van die Here. Hulle herinner hulself aan die genade van God-Drie-Enig. Die Koragiete bely dat die God van die Verbond hulle, as volk, goedgesind was. Ja, geliefdes, lánk voor hierdie Psalm geskryf is, het God reeds sy liefde en Vaderlike sorg aan sy uitverkore kinders bewys. Die Verbondsgod belowe dat Hy aan Abraham en sy nageslag besóndere genade sal bewys.
Maar, soos ons weet, het die volk in ‘n sekere sin bederf geraak met God se goedheid teenoor hulle. Hulle het die Here se genade vanselfsprekend begin aanvaar en gevoel hulle is geregtig op sy liefde. Met verloop van tyd het hulle hul respek en ontsag vir die Here verloor en steur hulle nie meer aan God se wil en sy opdragte vir hulle nie. En daarom straf God hulle met die Ballingskap – Hy stuur hulle na ‘n vreemde land toe, waar die mense nie Hom aanbid nie, sodat hulle weer kan leer wat dit is om op God alléén te vertrou.
In die Here se groot liefde vir sy kinders is Hy nie altyd afsydig nie. Die Here verlos sy geliefde kinders! Die volk, Israel, kom nou terug uit die Ballingskap – hulle word bevry van hulle ondraaglike omstandighede. Dit is, in hierdie tyd, wat Psalm 85 geskryf is. Daar in die Ballingskap het die volk hulle sonde besef. Die Here se doel met die Ballingskap is bereik, geliefdes. Sy kinders verlang weer na hoe dit eens op ‘n tyd was. Hulle herinner mekaar aan God se wonderlike Verbondsbeloftes. Hulle roep weer die mooi en die positiewe in herinnering.
Want wat kom kry hulle nou daar met hulle terugkoms in Jerusalem? Hulle sien ‘n spul mense wat van die Here afgedwaal het. Mense wat veronderstel was om die Here te kén, maar nou optree so al asof hulle glad nie bewus is van sy almag nie. Mense wat optree so al asof God-Drie-Enig glád nie bestaan nie.
Dit is tyd vir Jerusalem om oor te begin – fisies maar verál geestelik. Geen mens óf regering óf aksieplan kan ‘n nuwe begin waarborg nie. Dit is alleen Gód wat dit kan doen. Dit is slégs in sý vermoë om nuwe lewe en ‘n nuwe gehoorsaamheid te bewerk. Dit is nét die Hére wat mense tot bekering en tot geloof kan bring deur sy Gees.
“Maar hoe kan ‘n mens in God glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor, sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?” (Rom. 10: 14 en 15). Geliefdes, dit is dus duidelik dat die Here van ménse gebruik maak om Homself aan ánder mense bekend te maak. Dit is die Here se wil dat Hy van nietige mense, soos u en ek, gebruik maak om sy Woord te versprei. En dit is dan juis ons opdrag, geliefdes: om God se Heilige Woord aan álle mense te bring. Dit is die Groot Opdrag aan sy kinders: Om ‘n Lig vir die Nasies te wees – om dissipels te maak van alle mense wat ons teëkom en om hulle te leer om alles te onderhou wat God in sy Woord beveel (vgl. Matt. 28: 19, 20). Om van God en sy wonderlike verlossing te getuig tot in die uithoeke van die wêreld (Hand. 1: 8).
Want dit is werklik alléén God se Woord wat vrede tussen mense bring. Ons eerste fokusvers van Psalm 85 maak dit duidelik dat dit God se Woord is wat verandering in énige mens se hart kan bring. God se Woord bring vrede tussen twee mense wat tot die dood toe baklei. God se Woord bring vrede tussen wêreldmagte wat mekaar probeer uitoorlê. God se Woord bring ook vrede in harte van goddelose opstokers van geweld. Daarvan is die Psalmdigter van Psalm 85 vásoortuig. Want hierdie kinders van Korag hunker weer na God se liefde en ontferming. Hulle smag daarna om weer geestelik nuutgemaak te word soos God hulle voorvaders nuutgemaak het. Maar al hoe dit kan gebeur, is as álle mense in land, váshou aan God se Woord.
Dit is die kern van hierdie Psalm, geliefdes. Álle mense word opgeroep om hulself tot God te bekeer: die mense wat nog nie die Here ken nie, én hulle wat van die paaie van die Here begin afgedwaal het. Die Psalmdigter wil graag weer verstom staan voor die Here se genade. In vers 9 sien ons hoe die Koragiete graag opnuut wil luister na die Here se Woord. Hulle wil weer die vrede beleef wat God se Evangelie aan hulle bring. En hulle wil hierdie Woorde van die Here met die mense van hulle land deel. Hulle wil hul medeburgers oproep om die Almagtige te respekteer en om te doen wat Hy van sy kinders verwag.
“Hulle moet net nie weer afdwaal nie”, is die gelowiges se wens in vers 9. Die oorspronklike taal sê: “Hulle moet net nie weer na hul dwaasheid toe terugkeer nie.” Om teen die Here se heilige wil in te gaan is dwaasheid, geliefdes, want dit is om aktief die ewige dood tegemoet te stap. Daarteenoor lees ons in Spreuke 9: 10 en Psalm 111: 10: “Wysheid begin met die dien van die Here. Almal wat dít doen – almal wat die Here oprég dien – het ware insig”.
Indien mense nie oor hierdie wysheid beskik nie, en keer op keer van die waarheid wil afdwaal, dan kan ‘n mens nie in ‘n mens se bediening vorder nie. En daarom is dit nodig dat ons óók bid – terwyl ons die Evangelie aan hierdie mense bring. Hierin is Psalm 85 vir ons ‘n voorbeeld, geliefdes. Want die eerste gedeelte van die Psalm is ‘n smeekgebed tot God, waar die tweede gedeelte ‘n oproep tot bekering is. Die perfekte balans tussen bid én werk.
Mense wat na God se Woord luister, is mense wat geseënd is. Mense wat deur die Heilige Gees tot ‘n nuwe optrede geroep word – mense wat nie meer liefhebbers van onrus en haat is nie, maar van orde en vrede – húlle is begenadig. Hulle dien ook die Here met getrouheid. Hulle sal nooit weer na dwase optrede terugkeer nie. Hulle sal nou gehoorsame en getroue volgelinge van God-Drie-Enig word.
Dit is presies wat ons Here, Jesus Christus, vir sy eerste volgelinge tydens sy Bergpredikasie geleer het: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” En dan leef Jesus Christus dít wat Hy preek, fisies uit. Hy vergeld nooit kwaad met kwaad nie – selfs al word Hy onregverdig veroordeel. Hy is nie daarop uit om te kyk hoeveel skade Hy aan mense kan aanrig wat Hom te nakom nie. Hy draai die ander wang (Matt. 5: 39). In sy liefde vir God se kinders is Hy bereid om deur totale opoffering en verwerping te gaan. Hy is selfs bereid om onskuldig aan die kruis te sterf, sodat óns met God versoen kan word. Deur Christus se kruisdood en opstanding bewerk Hy vrede tussen God en sondaar. Hy vervul die woorde van Psalm 85: 5: “Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser, moet tog nie langer op ons toornig wees nie.” Presies dit kom doen Jesus Christus tydens sy aardse lewe. Hy kom verduur al God se toorn – in óns plek.
In Efesiërs 2: 14 lees ons: “Christus is ons Vrede.” Paulus maak dit duidelik dat ‘n mens se geloof in Christus vrede tussen mense bewerk. Al is daar sekere verskille tussen mense, maar hulle erken dat Jesus Christus hul ware Verlosser is, dan stem hulle saam oor die heel belangrikste in die lewe. Sy kruisdood en opstanding bring nie net vrede tussen groepe ménse nie, dit bring ook vrede in ons harte. Wanneer ons weer vir ‘n oomblik stil raak voor die Here, en sy wonderlike Woord oopmaak en daaruit lees… Wanneer ons soos die digter van Psalm 85 daarna smag om te luister na die Here se Stem, dan sal ons vrede in ons gemoed ervaar. Want dit is alleen deur die inhoud van die Woord dat ons perspektief sal behou in hierdie onstuimige tyd. Dit is alleen wanneer ons onsself herinner aan God se beloftes dat ons sal raaksien dat ons veilig is in sy hand – selfs te midde van wêreldse onsekerheid.
Want Hy het ons uitverkies tot die éwige lewe. Ons hou nie op bestaan wanneer ons hier op aarde sterf nie, geliefdes. Ons wêreld val nie inmekaar wanneer winkelsentrums in mekaar val nie. As gelowiges het ons ‘n toekomsvisie wat hierdie wêreld nooit sal kan hê nie. Ons het die vaste sekerheid dat Jesus Christus wéér na ons toe sal kom. Met sy wederkoms kom Hy om alles te herskep sodat God se kinders in wáre vrede – tot in alle éwigheid – by Hom kan woon.
Wees opsoek na sy geregtigheid en vrede
En daarom het die digter van Psalm 85 die vaste sekerheid van die res van ons fokusgedeelte: “Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien. Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.” Gelowiges kyk met ander oë na die lewe. Ons het die sekerheid dat ons in die hier en die nou dalk nie góú fisies uitkoms gaan kry nie, maar baie beslis geestelike uitkoms. Indien dit God se wil is, dan sál Hy alle inwoners van ons land tot bekering bring deur sy Woord. En daarom is dit ons plig om hulle te lei na God se Woord en vir ons landsburgers te bid.
Ons foksusgedeelte uit Psalm 85 sluit af met ‘n vaste sekerheid: “Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar omhels.” Geliefdes, hier het ons wéér met die Here se vrede te doen. Wanneer ons sê dat daar vrede is, dan beteken dit dat daar perfekte harmonie bestaan. Wanneer ons vrede in ons harte ervaar, dan beteken dit dat ons met geen kommer in ons gemoed leef nie. Dit is wanneer ‘n mens totale gemoedsrus ervaar – iets wat alléén van die Here af kom.
En geregtigheid beteken om in alle billikheid en in alle regverdigheid op te tree. Dit is alleen die Here wat so kan optree, geliefdes. Hy straf die sonde in alle regverdigheid deur Jesus Christus wat die straf daarvoor dra. Deur sy gehoorsaamheid en oorwinning oor die dood, bring Christus vrede tussen ons en God (Rom. 5). Vrede en geregtigheid ontmoet mekaar in en deur ons Here, Jesus Christus.
Slot
Tans in ons land ontmoet vrede en geregtigheid nié mekaar nie. Die oomblik wat daar geregtigheid geskied is daar onvrede. Teleurstelling. Woede. Plundering.
Soos ons vanoggend uit die Here se Woord gesien het, is ons nie die eerste mense wat aan hierdie tipe gedrag blootgestel word nie. Net soos in die tyd van Psalm 85 ontmoet Vrede en Geregtigheid nóg nie mekaar nie, maar dit moet. Al hoe dit egter gaan gebeur is as ons die Evangelie aan hierdie mense verkondig. Ons is die draers van God se geregtigheid en vrede. Ons moet ons roeping nakom om sy Goeie Nuus aan álle mense bring – ook aan diegene wat so plunder en afbreek – ja juis aan hulle, geliefdes. Want God werk in mense se harte deur sy Woord en sy Gees. Hy bring nuwe lewe daar waar sý Waarheid aan mense bekendgemaak word. Ons kan nie mense se harte verander nie, maar ons kan dit aan hulle gee wat verandering bring: nl. God se Woord.
Laastens word ons in hierdie tyd ook opgeroep om vir ons land en sy mense te bid. Bid ons wérklik vir ons land? Leer ons ons kinders om te bid vir mense wat ons selfs nie ken nie? Kom ons bid gaan hierdie nuwe week op ons knieë in. Kom ons bid dat die Here spoedig weer sal kom om alles nuut te maak. Dit is met sy Wederkoms wat God se Vrede en sy Geregtigheid mekaar ten volle sal omhels.
Terwyl ons daarvoor wag, mag ons nie moed verloor nie, geliefdes. Want deur gebed en deur Woordverkondiging sál daar verandering kom. Amen.