Skrifgedeelte: Handelinge 17: 16 – 34
Fokusvers: Handelinge 17: 23(b) – 25
Tema: Die Ware God is Skepper en Onderhouer van alle dinge. Wanneer ons Hom kén sal ons Hom reg aanbid
Inleiding
Paulus is steeds besig met sy Tweede Sendingreis. Verlede keer het ons gehoor hoe die apostels daar in die tronk van Filippi die Here geloof het. Ten spyte van uiters moeilike omstandighede blý God bereikbaar en lofwaardig. Omdat Hy alomteenwoordig is, is Hy bereikbaar, sélfs daar in die vreemde land. Omdat Hy getrou aan sy beloftes is, is Hy stééds waardig om geloof en geprys te word.
Die Ware God is Skepper en Onderhouer van alle dinge
Nou is Paulus alleen in ‘n volgende stad: Atene. Silas en Timoteus het in Berea agtergebly. Maar die feit dat Paulus alleen is, maak hom nie minder gewillig om die Evangelie te verkondig nie. Hy is nog nét so gewillig soos vroeër, toe hy die ondersteuning van mense gehad het. Wat doen hy daar, in die nuwe stad? Soos dit sy gewoonte is, gaan hy eers na die Joodse sinagoge om daar die mense te bereik. Hy preek altyd éérs vir die Jode, en daarna vir die Nie-Jode. Hy het ook na die stadsplein toe gegaan en met álle mense gepraat wat hy teëgekom het. Paulus verkondig die Evangelie van Christus aan álle mense wat hy ontmoet: aan die gelowiges, maar óók aan die heidene.
En dit is daar, op die stadsplein van Atene, waar Paulus dan al hierdie afgodsbeelde gesien het waarvan ons gelees het. Terwyl hy met die mense die Goeie Nuus van Christus se verlossing deel, kan hy nie anders as om in hierdie standbeelde vas te kyk nie. Die stad, Atene, was die setel van kuns, filosofie, Griekse kultuur en drama. Dit was die tuiste van wyse mense soos Sokrates, Aristoteles en Plato. Die argitektuur van hierdie stad was ook besonders – selfs vandag nog. Maar waar ons vandag hierdie stad sal besoek om die ryke geskiedenis en pragtige geboue te bewonder, was die geboue en beelde in daardie tyd nie net goeie argitektuur nie – dit was fisiese afgode. Die mense van daardie tyd het voor hierdie beelde en tempels neergekniel en dit verafgod.
En dit is presies wat Paulus aanspreek tydens sy besoek aan Atene. Hy wys die mense daarop dat, indien hulle die Wáre God aanbid, dit nie nodig sal wees dat hulle ‘n verskeidenheid gode aanbid nie. In ‘n sekere sin is dit vir Paulus maklik om met hierdie mense te praat, want hulle is reeds godsdienstig. Daar is reeds iets in hulle wat wil aanbid, hulle aanbid net die verkeerde god. Hulle is reeds in die gewoonte om met iets te kommunikeer wat abstrak is. Iets wat nie noodwendig terug reageer nie. Godsdiens is vir hierdie Ateners belangrik, want hulle doen moeite met die beelde. Hulle gebruik ál hul talente om hierdie beelde te skep en in stand te hou. Hierdie mense is ook nuuskierig en ontvanklik vir nuwe idees en sienings. Geliefdes, alles dui daarop dat hierdie mense vir die saad van die Evangelie ontvanklik is.
Deur die werking van die Heilige Gees het die apostel dit raakgesien. Ons kan sê dat die Here hierdie openheid vir die Evangelie vir Paulus gewys. En dit is waarom Paulus dan die uitnodiging aanvaar wanneer die Stoïsyne en Epikuriërs hom na die Areopagus toe neem. Die Areopagus was ‘n openbare hof waar mense hulle filosofieë met mekaar – en verál met die kenners – kon deel.
Die Stoïsyne het gefokus op die menslike verstand en die belangrikheid van ‘n mens se rasionele vermoë. Daarmee saam het hulle geglo dat die hele skepping god is – alles wat in die skepping gebeur – al die natuurkragte – is, volgens hulle, goddelik. Die Epikuriërs het weer nie aan die ewige lewe geglo nie. Hulle het die menslike siel as iets tydelik beskou – wat ophou bestaan sodra jy fisies op aarde sterf. Daarom het die Epikuriërs gemeen ‘n mens moet voluit lewe en die fisiese geluk en genot van die lewe soek. Hulle uitgangspunt was: “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons” (1 Kor. 15: 32). Die Epikuriërs het nie die bestaan van gode ontken nie, hulle was net meer gefokus op hul eie behoeftes – op die hier en die nou.
Al het die Epikuriërs en Stoïsyne nie dieselfde wêreldbeeld gehad nie, het beide hierdie groepe gedink dat Paulus maar net ‘n “praatjiesmaker” is. N.a.v. sy “teorie” en “filosofie” wat hy verkondig, het hulle nie Paulus se Boodskap ernstig opgeneem nie. En tóg was beide hierdie groepe nuuskierig oor hierdie vreemde, nuwe leer. Hulle wou graag meer hoor van Jesus Christus wat uit die dood uit opgestaan het. Want hierdie tipe dinge was hulle emosionele en geestelike “kos”! In vers 21 lees ons dat die Ateners nie hulle tyd aan énige iets anders spandeer het as om iets nuuts te hoor en te sê nie.
Met die woorde van ons fokusverse werk die Heilige Gees krágtig deur Paulus. God-Drie-Enig maak Homself aan hierdie wyse Grieke bekend. Die “onbekende God” wat hierdie mense, onder andere aanbid, hoef nie langer aan hulle onbekend te wees nie. En juis hierin – in hierdie altaar van die “onbekende God” – is die punt van kontak met die ongelowige nasie. “Wat julle aanbid, sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek nou aan julle.” Want hoe kan ‘n mens Iets aanbid, sonder dat jy weet wat Dit is? Hoe kan jy jou hoop in Iets stel, sonder dat jy Dit in diepte ken? Dit is eers wanneer jy die Ware God kén en in Hom gló dat jy Hom kan vertrou (vgl. o.a. Ps. 119: 66). Die feit dat hierdie mense lof en eer en aanbidding aan ‘n “onbekende God” bring, toon juis hulle naïwiteit en oningeligtheid aan, en nié die wysheid waarop hulle roem nie. En daarom leer Paulus hulle presies Wie God-Drie-Enig is.
Hy maak Niemand anders as die Wáre God aan hierdie mense bekend nie. Paulus vertel, daar in die openbaar, daar voor al die wêreld-wyses, Wie God wérklik is. Hy is die Skepper van hemel en aarde. God die Vader het alle dinge in die hemel en op die aarde en in die water onder die aarde geskep. Alles wat bestaan, het deur Hóm tot stand gekom. Dit is Hý wat alles, vanuit niks gemaak het. Deur sý toedoen het alles ontstaan. God die Vader het net gepraat, en dit was daar. Hy het dus deur sy Woord, sy Seun, Jesus Christus, geskep. Aan die mens het God besónderse aandag geskenk, want toe Hy die mens geskep het, het Hy aan die mens ‘n lewende siel gegee sodat sy uitverkore kinders ewig kan leef (Gen. 2: 7). God-Drie-Enig was dus betrokke by die skepping van alle dinge (vgl. Gen. 1: 26).
Maar God het nie net alles in die skepping gemaak en toe Homself onttrek nie. Nee, Hy is élke sekonde intiem betrokke by álles wat Hy gemaak het. Hy heers – vandág nog – oor sy skepping. Hy stuur en rig alles in die heelal sodat dit in ‘n perfekte balans funksioneer. Sónder die betrokkenheid van die Here sou alles stééds woes en leeg wees, soos dit voor die skepping was. Sónder die teenwoordigheid van God, sou alles totale chaos gewees het.
Die Here onderhou en regeer álles wat ons kan sien, én nie kan sien nie (NGB Artikel 12). In sy ewige voorsienigheid sorg Hy nie nét vir alles wat ék na liggaam en siel benodig nie, Hy sorg en voorsien ook vir die héle skepping. Elke reëndruppel wat val; elke sonstraal wat skyn; elke wind wat waai, kom van Hóm af. Hy is in beheer daarvan. Omdat God in totale beheer van die skepping en die natuur is, weet ek dat niks buite sý vermoë kán wees nie (Heidelbergse Kategismus Sondag 9 en 10). As Hy die vermoë het om die ganse heelal te beheer, hoeveel te meer vir my? Niks wat gebeur is ooit vir God ‘n verassing nie, geliefdes. In sy ewige raadsplan wéét Hy daarvan. Hy is bewus dat dit sou gebeur: van iets eenvoudig en alledaags soos ‘n boom se tak wat breek, tot iets kompleks en ingrypend soos ‘n terminale siekte wat by my geliefde gediagnoseer word.
Omdat God almagtig én alwetend is, gebeur niks maar net per toeval nie. Die Here wéét nie net daarvan nie – Hy is in behéér daarvan. Paulus wys hierdie mense daarop dat God nie ‘n krag in die natuur is nie, nee Hy is bó die natuur verhewe. Hy het die natuur geskep. Hy is die Ware God – Uniek in sy soort. Hy kán nie met afgode vergelyk word nie. Hy is totaal en al anders as enige iets in die heelal. Ons mág Hom ook nie met afgode vergelyk nie – dit is teen die Eerste en die Tweede Gebod. In ‘n ware gelowige se verwysingsraamwerk sal afgode nie eens bestaan nie. Vir ons is daar maar net Een, Ware, Almagtige en Ewige God.
Deur die werking van die Heilige Gees wys Paulus die mense daarop dat die Ware God nié soos hierdie afbeeldings en afgode in Atene is nie. Net soos sy almag, kan sy teenwoordigheid nie deur ons menslike verstande begryp word nie. Die Ware God woon nie in heiligdomme of tempels soos hierdie mense dink nie. God-Drie-Enig het nie nodig dat mense vir Hom ‘n woonplek hier op aarde maak nie. Niks en niemand kan sy heilige teenwoordigheid inperk nie, geliefdes. God die Vader wíl ook nie in ‘n mensgemaakte huis of tempel woon nie – gaan lees gerus weer 2 Samuel 7. Die wyse Salomo het iets van God se alomteenwoordigheid verstaan: “Sou God wérklik op aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ék gebou het?” (1 Kon. 8: 27).
Wanneer ons Hom kén sal ons Hom op die regte manier aanbid
Geliefdes, God het niks van ons, mense, nodig nie. Dit is óns wat Hom broodnodig het. Ons laaste fokusvers maak dit duidelik: Hy het nie nodig dat mense Hom versorg, soos wat hulle vir hulle afgode sorg nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan álmal lewe en asem en alles gee. Dit is God wat die mens tot stand bring en vir hom sorg, en nie anders om nie. Sonder God-Drie-Enig sou nie een van ons hier gewees het nie. Ons het Hom nodig, geliefdes. Sonder sy onderhouding en sorg kan ons nie een oomblik bestaan nie.
As gelowiges het ons nie net sy sorg – sy algemene genade – nodig nie. Ons het óók sy besóndere genade nodig. Ons het geloof in Hom nodig wat alleen Hy aan ons skenk. Ons het nodig dat die Heilige Gees ons oortuig dat God-Drie-Enig die Enigste Ware God is, en dat daar géén verlossing buiten Hóm te soek of te vind is nie.
Dit is alleen dán wat ons God op die regte manier sal aanbid. Wanneer ons wérklik die Here ken, dan sal ons Hom ook kan aanbid soos Hy dit van sy kinders verwag. Om die Here te kén behels ook om Jesus Christus te ken. Om te sorg dat ons die Here rég aanbid, is dit nodig dat ons in Jesus Christus se vernedering en verhoging te gló. Wanneer ek besef dat Jesus Christus aarde toe moes kom en my persoonlike skuld gedra het, dan kan ek nie anders as om Hom daarvoor te prys nie. Wanneer ek besef hoe almagtig Hy is, dat die dood Hom nie eers kon bind nie, dan aanbid ek Hom met ontsag en respek. Ek aanbid Hom ook met bewondering, want ek besef dat my geloof in Hóm aan my die ewige lewe waarborg.
Dit is Hom wat Paulus aan die Grieke bekendmaak daar op die Areopagus. Die Ateners het soveel wysheid gehad, maar nie die wáre wysheid nie (vgl. 1 Kor. 1: 21). Hulle het nie God-Drie-Enig geken nie. En noudat hulle van sy bestaan gehoor het, wou die meeste van hulle Hom nie as Ware God aanvaar nie. In hulle ongeloof spot hulle Paulus se prediking wanneer hy hulle van die wederkoms van Christus vertel. Hulle verwerp God se genade en wil nie gehoor gee aan die oproep tot bekering nie. God het egter die tye van menslike onkunde oorgesien sê Paulus in vers 30. Dit is nóú tyd dat alle mense God sal erken as die Enigste Ware God. Dit is nóú tyd dat alle mense Hom alléén, op die regte manier, sal aanbid.
Slot
Geliefdes, aanbid ons God-Drie-Enig op die regte manier? Of is daar dalk ook allerhande afgodsbeelde in ons lewe waarop ons ons vertroue stel? Hou ons alleen aan God die Vader vas? Of is daar ander dinge waarna ons gryp as die lewe begin druk? Glo ons nog werklik dat Hy ons vanuit niks gemaak het en ons elke dag nog onderhou?
Niks wat met ons gebeur, is toevallig nie, geliefdes. Niks is buite God se beheer nie. Niks is vir Hom ‘n verassing nie. Hy weet wat die dag van môre vir my inhou. Hy alléén bepaal my toekoms.
Wanneer jy vanmiddag, of deur die week alleen is, dink weer hieroor na. Vra jouself af: beskik ek oor hierdie ware wysheid, wat van die Here af kom? Glo ek wérklik nog soos ‘n kind? Of is ek is ek dalk al so beïnvloed deur teorieë en filosofieë, dat wêreldse wysheid ál is wat ek het? Amen.