Skrifgedeelte: Handelinge 20: 17 – 38
Fokusvers: Handelinge 20: 24
Tema: Wanneer ons met ‘n roepingsbewustheid lewe, sal ons perspektief kan behou.
Inleiding
In verlede week se preek het ons maar net weer opnuut onder die indruk gekom dat ‘n mens nie ‘n predikant hoef te wees om die Evangelie te versprei nie. Elke gelowige ontvang die opdrag om te getuig van Jesus Christus se verlossing. Baie lidmate dink egter dat dit slegs die predikant is wat die Evangelie aan die mense moet bring. Daar is lidmate – selfs Kerkrade – wat passief sal wees t.o.v. bediening in ‘n gemeente. Dit is só dat die predikant primêr die Woord verkondig – dit is sy besondere roeping in die gemeente. Maar tóg word dit van alle gelowiges verwag om op ‘n informele manier mekaar met die Here se Woord te bemoedig – verál daar waar daar nie meer ‘n voltydse predikant is nie.
Ons roeping as gelowiges
Soos ons deur die boek, Handelinge, werk, sien ons telkens dat God dit van sy kinders verwag. Paulus het geen formele opleiding gehad nie, en tóg is hy geroep om na die ongelowiges te gaan en die Woord van die Here te verkondig. Al was Paulus ‘n gewone mens, en al was sy eintlike beroep ‘n tentmaker, ontvang hy die opdrag om te evangeliseer. Dit is egter nie net hý wat hierdie opdrag ontvang nie, geliefdes. Regdeur die Bybel maak God van gewone mense gebruik om sy Naam te eer deur van Hom te getuig.
Dink maar aan die woorde van Dawid aan die reus, Goliat: “Jy kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here, die Almagtige God, wat jy verkleineer het” (1 Sam. 17: 45). Daardie dag getuig Dawid van die Here se Almagtige teenwoordigheid. Al was Goliat ‘n sterk reus – ‘n geoefende soldaat – was hy nie opgewasse teen die grootheid van die Here nie. Nadat Dawid die Verbondsgod aan Goliat en al die toeskouers bekendgemaak het, oorwin die jong Dawid hom met die krag van die Heilige Gees.
Dink ook maar aan Josua se woorde in Josua 24: 15. Nadat hy die hele volk tot bekering en geloof in die Here oproep, bely hy: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” Josua neem aktief hierdie besluit, al is hy dalk in die minderheid. Dit sit hom nie af as mense hom dalk verwerp nie, want sy geloof in die Here is vir hom die belangrikste. Om aan die Here gehoorsaam te wees is vir Josua en sy gesin meer werd as om saam met die breë stroom te gaan.
Met die dood van haar man, het Rut die geleentheid gehad om terug te keer na haar eie land en haar eie mense toe, maar sy maak ‘n aktiewe besluit om haar skoonma te vergesel. Met verloop van tyd het sy haar Moabitiese gebruike en geloof afgesterf en ‘n ware gelowige geword. “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om te draai nie,” sê sy vir Naomi. “Want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly sal ek bly; u volk is my volk; u God is (nou) my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ‘n eed voor die Here af: net die dood sal ons skei.” Rut bely openlik haar geloof teenoor haar skoonma, en getuig van die Here se goedheid. Al het sy smart beleef van haar man wat maar onlangs oorlede is, vertrou sy steeds op God-Drie-Enig. Deur haar woorde van geloof, versterk sy Naomi. Rut se belydenis bemoedig Naomi en versterk haar weer in haar geloof.
En so kan ons aangaan om, regdeur die Bybel, te sien hoe verskeie mense getrou aan hul roeping was. Élke gelowige word opgeroep om soms hulle geloof teenoor iemand te bely. Ons álmal kry die opdrag om, op die regte tyd, ‘n woord van bemoediging te bring. Dit word van ons álmal verwag om nou en dan iets uit die Bybel vir iemand te lees. Nie almal van ons kan die Woord van die Here volmaak interpreteer nie. Die meeste van ons is nie daarvoor opgelei nie, en dit word ook nie van ons verwag nie. Maar ons kan wel ‘n Bybelgedeelte aanhaal of vir iemand aanstuur. Ons hoef nie daardie Bybelvers te verklaar voordat dit vir iemand iets kan beteken nie. Die Woord van die Here verklaar Homself. Al wat van ons verwag word is, om dít wat ons van die Here weet, aan ander mense oor te dra. Wanneer daar iets is wat vir jou iets beteken, wees bereid om dit met ander mense te deel. Wanneer ons weer opnuut die Here se genade van verlossing besef, dan kán ons nie daaroor stilbly nie. Ons dankbaarheid teenoor die Here sal ons aktiveer om gereeld van sy groot genade te getuig.
Verder kan ons óók van die Here getuig deur dit wat ons dóén. Soms het ons nie die woorde nie, soms weet ons nie wat om vir iemand te sê nie. Dán kan ons deur ons optrede van die Here getuig. Dit is dán wat ‘n mens só kan optree dat die mense rondom jou kan sien dat jy wérklik ‘n gelowige is. Soms maak ons die meeste inpak juis wanneer ons nié woorde gebruik nie. Met jou liggaam kan jy wys dat jy aan die Here gehoorsaam is, deur selfbeheersing toe te pas. Ons eer die Here juis daar waar ons sý eienskappe prakties uitleef. Daar waar ek die vermoë het om “nee” te kan sê vir versoekings. Daar waar ek op my liggaam se reaksie ingestel is, en weet waar om die lyn te trek. Daar waar ek bv. weet om nié myself aan drank te vergryp nie. Daar waar ek ‘n wag voor my mond sit, al voel ek hoé woedend. Ons eer die Here daar waar ons ons gedagtes en optrede nugter hou. “God is tog nie ‘n God van wanorde nie, maar van orde en vrede” (1 Kor. 14: 33).
Wanneer die Heilige Gees ons in besit neem, en wanneer ons konstant bewus is van wat die Here vir elkeen van ons gedoen het, dan sal ons kan optree soos die Here dit van ons verwag. Hy eis van elkeen van ons om heilig te wees, soos Hý heilig is. Om op te tree soos die Here sou optree. Wanneer ons dan tussen ons vriende of ander mense is, dan kan ons onsself afvra: gehoorsaam ek nou my roeping as Christen? Wat doen ek om vir die mense rondom my te wys dat my gedrag ánders as die wêreld se gedrag is? Waaroor praat ek met die mense rondom my? Is dit oppervlakkige – selfs vuil – gesprekke? Of is dit positief, en handel dit oor die troue sorg van die Here?
Roepingsbewustheid bring perspektief
In die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, is Paulus besig om die ouderlinge van die stad, Efese, toe te spreek. Paulus herinner hierdie ouderlinge van die goeie voorbeeld wat hy vir hulle was. Gedurende sy hele bediening in Efese, het hy nie vir een oomblik vir sy eie belange geleef nie. Paulus vertel hoe hy – in alle nederigheid – die Here gedien het. Terwyl Paulus in die ouderlinge se midde was, het hy nie moed opgegee om vir hulle ‘n voorbeeld te wees nie. Paulus het vir hierdie ouderlinge gewys hoe om hulle ampswerk prakties uit te voer. Hy het voor hulle uit geloop en hulle prakties gewys wat dit beteken om die mense met die Woord te bedien. Hy het hulle aan huis besoek, deur vir hulle te wys wat dit is om sélf huisbesoek by die gemeente te doen. In vers 35 herinner hy hulle daaraan dat hy altyd só in die gemeente gewerk het, dat dit nie vir hom nodig was om vir iemand ‘n las te wees nie. Inteendeel, hy wys die ouderlinge van Éfese daarop dat gelowiges só behoort te werk dat hulle altyd die armes en swakkes kan help versorg. Selfs al is hy deur verskeie beproewings en hartseer, het hy volhard in sy roeping. In vers 21 maak hy dit duidelik hoe hy by alle mense aangedring het om hulself tot God te bekeer en in die Here, Jesus Christus, te glo.
Paulus dring by die ouderlinge van Éfese daarop aan dat hulle met hierdie gesindheid hulle werk in die gemeente moet doen. Ook húlle word spesifiek opgeroep om toesig te hou oor die gemeente en die lidmate van gemeente te versorg. Hierdie ouderlinge moet hulle roeping teenoor die gemeente weer besef: hulle is soos wagters wat oor ‘n kudde waghou. Hierdie kudde is duur gekoop met die bloed van Jesus Christus. Hy is die Enigste Persoon wat die prys kon betaal om God se kinders vry te koop, want Hý alléén is sonder sonde. Alleen Hý is regverdig en in die Vader se oë goed genoeg om sonder vlek en rimpel voor sy aangesig te verskyn. Omdat Jesus Christus ook almagtig is, het Hy die vermoë om alle uitverkorenes se sondes ten volle op Hóm te neem. Deur die ware geloof word ons in Jesus Christus ingelyf, en laat die Heilige Gees ons deelkry aan al die weldade van ons Heiland. Omdat Hy uit die dood uit opgestaan het, en na die hemel toe opgevaar het, wag dieselfde wonderwerk vir ons. Wanneer ons wérklik in Hom glo, dan sal ons met groot verlange vir hierdie dag wag. Ons sal uitsien na sy wederkoms, waar Hy kom om alles nuut te maak. Om alle angs en gebrokenheid tot niet te maak. Dit is waarna ons, as gelowiges, smag en uitsien.
Dit is met hierdie toekomsverwagting waarmee Paulus geleef het. Omdat hy geweet het wat vir hom in die ewigheid wag, het hy sy aardse werk met ‘n lus en ‘n ywer aangepak. Paulus sê in die vers 23 dat hy nie weet wat vir hom wag as hy na Jerusalem toe terugkeer nie. Paulus is bykans klaar met sy Derde Sendingreis. Hy is nou op pad terug na die gemeente toe wat hom op hierdie sendingreise gestuur het. Sy amptelike sendingwerk is nou amper voltooi. Paulus weet nie wat volgende vir hom wag nie. Al waarvan hy seker is, is dat die Heilige Gees dit vir hom duidelik gemaak het dat daar, in elke stad, vir hom verdrukking en boeie wag.
Ons fokusvers maak dit duidelik dat Paulus perspektief behou. Alleen omdat die Heilige Gees in Paulus werk, bly hy nugter én gelowig te midde van uiters moeilike omstandighede. As dit nie vir die leiding en die krag van die Heilige Gees was nie, sou Paulus al lankal moed opgegee het met die lewe. Máár die feit dat Paulus sy roeping besef, ontvang hy die régte perspektief. Hy bekommer hom glad nie oor die onbekende toekoms nie. Hy vertrou ten volle op die Here, dat Hy wéér met Paulus sal wees. Paulus berus hom by die feit dat die Here hom weer sal uitred soos Hy keer op keer vir Paulus gered het. Paulus sê dat hy sy aardse lewe eintlik nie meer as belangrik ag nie, as hy maar net sy aardse roeping kan voltooi, dan sal hy gelukkig wees. Dit verg insig, nie waar nie? Hoe is dit moontlik vir iemand om so iets sê? Dat hulle nie hulle aardse lewe as belangrik beskou nie? Dit is alleen vir wáre gelowiges moontlik om dit te sê. Want ons besef ons lewe stop nie die oomblik as ons híér tot sterwe kom nie. Ons hou nie op bestaan wanneer ons aardse lewe klaar is nie, geliefdes. In die Here se genade ontvang ons die éwige lewe! Die oomblik as ons hier op aarde sterf, hou ons siele aan lewe. En eendag – met die wederkoms van Christus – staan ons liggame weer op, om met ons siele te verenig. Dit is dán wanneer ons – tot in alle ewigheid – met verheerlikte liggame gaan lewe. Ewig by die Here.
Slot
Net soos Paulus, weet nie één van ons wat die toekoms vir ons inhou nie. Gaan ek dalk positief vir COVID-19 toets? Gaan die inenting wérk as ek besluit om dit te kry? Gaan ek ooit van hierdie chroniese siekte genees? Gaan my finansies ooit weer beter lyk? Gaan my boerdery of besigheid dit hierdie jaar nog kan oorleef?
Wanneer ons egter met die regte gesindheid leef, dan sal ons perspektief kan behou, geliefdes. Selfs in die moeilikste van moeilike tye. Wanneer ons bewus blý ons algemene roeping, nl. om van God-Drie-Enig te getuig, dan kry ons rustigheid. Want dan bly ons gedagtes besig met Hóm en sy wonderlike beloftes. Wanneer ek die Woord met ander deel, dan blý ek bewus van God se wil – óók vir my lewe. Wanneer ek aan my roeping getrou is, dan behou ek perspektief. Dan kom ek agter dat dit nie saak maak as ek dalk, iets wat vir my belangrik is, in die proses verloor nie. Want dit gaan nie oor hierdie lewe nie. Boonop word my hele bestaan deur die Here beheer. En daarom blý ek op die Here vertrou – óók vir my onbekende toekoms. Amen.