Skriflesing: Psalm 116: 1 – 19
Fokusvers: Psalm 116: 1 – 3
Tema: Die Here luister en verhoor ons smekinge. Daarom roep ons Hom aan, het ons Hom lief en is ons nie bekommerd nie.
Inleiding
Wanneer die digter, Totius, oor Psalm 116 skryf, sê hy: “Wie na ‘n Psalm luister, luister na ‘n siel.” Hoe besonders en waar is dit nie? Want elke Psalm verwoord ‘n persoonlike gevoel van lof, skuldbelydenis, dank of eer. Elke Psalm in die Psalmbundel is baie meer as ‘n rasionele verduideliking van wie God-Drie-Enig is. Elke Psalm is ‘n hartroerende, persoonlike, belydenis – en daarom vind ons so maklik aanklank by die Psalms. Ja elke Psalm verwoord ál die verkillende gevoelens wat ons deur ons lewe ervaar.
Die Here luister na ons smekinge
In Psalm 116 verwoord die psalmdigter sy gevoelens van verwondering en dankbaarheid teenoor die Here. Soos baie van ons weet, word Psalm 116 baie keer aan die Nagmaal gekoppel. Baie gemeentes het die gebruik om Psalm 116 te laat sing soos die lidmate na die Nagmaalstafel toe beweeg. Maar al vier ons nie vandag Nagmaal nie, behandel ons steeds Psalm 116. Die feit dat ons, in hierdie tyd, nie kan Nagmaal vier nie, maak ons nie moedeloos nie, geliefdes. Ons moet altyd onthou dat die Nagmaal nie ons geloof wék nie, maar wel verstérk. Anders gesê: Ons gebruik nie die Nagmaal om te sorg dat ons gelowiges word nie, ons gebruik die Nagmaal om ons vertroue op die Here te versterk. Die feit dat ons Nagmaal gebruik, waarborg ook nie ons verlossing en ewige lewe nie. Ons gebruik nie Nagmaal om gered te word nie, geliefdes. Ons gebruik Nagmaal om herinner te word dat ons rééds verlos is. Dit is nodig dat ons die sakrament van die Heilige Nagmaal reg verstaan – veral in hierdie moeilike tyd wat ons nie so gereeld Nagmaal kan gebruik nie. Dit is nie die gebruik van die Nagmaal wat aan my gemoedsrus gee nie, maar die sekerheid dat ek die gawe van geloof het (vgl. Ef. 2: 8 en 9).
Volgens oorlewering het die gelowiges Psalm 116 tydens Pasga gesing. Soos Psalm 116 meer bekend geword het, het gelowiges hierdie Psalm met élke Paasfees gesing. En daarom sing ons dit ook vandag nog tydens élke Nagmaal. Die rede hiervoor is weens die besondere inhoud van hierdie Psalm. Die woorde van Psalm 116 praat van ‘n persoonlike verlossing. Dit sing van ‘n beker van verlossing wat gedrink word terwyl die Here aangeroep word. Dit getuig van geloftes van dank wat in die teenwoordigheid van die gemeente betaal wil word. ‘n Offer wat aan die Here gebring wil word omdat die digter dankbaar is vir die vryspraak van sondes.
Wanneer ons aan die Joodse Paasfees terugdink, dan dink ons aan al hierdie dinge. Ons dink aan gelowige gesinne wat bereid was om ‘n kosbare skaaplam te offer omdat hulle dankbaar is teenoor die Here. Hierdie mense is bereid om, dít wat vir hulle waardevol is, prys te gee omdat dít wat hulle van die Here ontvang, baie meer werd is. Hulle besef dat hulle nooit vir die Here sal kan teruggee wat Hy vir hulle gee nie. Wanneer hulle die verlossing wat hulle ontvang het, moet opweeg met iets wat hulle besit, dan weeg selfs hul beste nie daarmee op nie. Hulle kan niks bring wat naby kom aan die Here se wonderlike verlossing nie, want die Here het hulle smeekgebede gehoor! Al hulle klagtes en woorde van bekommernis, het die Here bereik! In die Here se goedheid luister Hy altyd na sy kinders se smeekgebede. Hy hoor élke opregte gebed wat ons tot Hom rig – Hy luister na elke woord wat in afhanklikheid na Hom gebring word.
Daarvan kan die digter van Psalm 116 getuig. “Ek het die Here lief want die Hy hoor my stem.” Die digter getuig van die Here wat reageer op sy stem. Wanneer die digter die Here in gebed aanroep, dan ontvang hy keer op keer reaksie. Die Here stel sy kinders nooit teleur nie, geliefdes. Hy hoor elke gebed, en verhoor die gebede wat tot ons voordeel sterk. Soms is ons selfsugtig in ons wense. Soms is ons wêrelds in ons gebede, en dan verhoor die Here nié ons hartewense nie. Wanneer ons egter op God se wil ingestel is, dan sal ons vir die régte dinge vra. Hoe meer ons op God se koninkryk ingestel is, hoe meer sal ons gebede verhoor word. Dit beteken egter nie dat ons nié vir ons eie lewe en omstandighede mag bid nie. Ook óns is deel van God se koninkryk, solank ons net ons eie begeertes onderskei van God se wil vir ons lewens.
Hoe meer ons opregte gebede verhoor word, hoe meer sal ons die Here kan liefhê, want ons sal sy liefde teenoor ons beleef. Soos die digter van Psalm 116 sal óns ook kan sê: “Ek het die Here lief.” In die oorspronklike taal staan daar letterlik net: “Ek het lief.” Dit is nie nodig vir die digter om te sê Wie hy liefhet nie, want dit is voor die hand liggend dat hy die Hére liefhet. Hy maak dit duidelik in vers 11 dat hy op geen mens kan vertrou nie. Al Een wat wederliefde van hom verdien, is die Hére wat Hom keer op keer uitred. Wat nog élke keer na sy smeekstem geluister het.
Die Here verhoor ons smekinge
Die Psalmdigter besef egter dat sy getroue God nie net na sy smekinge luister nie, maar dat Hy ook die digter se gebede verhoor. Soos die skrywer in ons fokusverse bely het God sy oor na die digter geneig. God die Vader het as’t ware na sy kind hier op aarde afgebuig, en met áándag na die inhoud van sy hart geluister. In die Vader se liefde verhoor Hy die smeek-versoek van die ellendige sondaar. Saam met die apostel, Johannes, kan hy bely: “Ons kan nou met vrymoedigheid na God toe gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons énige iets volgens sy wil vra” (1 Joh. 5: 14).
Wanneer ons in ons fokusverse lees dat God na die digter se smeekstem geluister het, dan het dit die bedoeling dat die Verbondsgod opgetree het. Die Here kyk nooit net toe as sy kinders hier op aarde in ellende verkeer nie – Hy tree op. Wanneer dit vir ons voel asof Hy lank vat om op te tree, dan is daar altyd ‘n rede. Soms word ons geloof getoets. Soms word ons geloof versterk. Soms moet ons nog leer om die Here béter te vertrou. Maar wanneer God ons gebed verhoor, dan sál Hy uitkoms gee. Élke keer.
God gee nie nét aan die digter van Psalm 116 uitkoms nie. Hy luister nie nét na hierdie één persoon se smeekstem nie. Hy verhoor álle gelowiges se smeekgebede. Soos ons weet, is hierdie Psalm ‘n heenwysing na Jesus Christus. Hierdie Psalm gaan in vervulling daardie nag in die Tuin van Getesémané. Jesus Christus vertel vir sy dissipels van die doodsangs wat Hy beleef. Hy voel bedruk en verskriklik benoud: “Bande van die dood het My omring, en die angste van die doderyk het My getref; Ek het benoudheid en kommer gevind.” Jesus Christus wéét wat vir Hom wag: die Godverlatenheid, die volle toorn van God. “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, laat U wil geskied.” Só bid ons Here, Jesus Christus.
Het God, die Vader, ook sý smeekgebed verhoor? Op die oog af lyk dit nie so nie, maar Hy hét, geliefdes. ‘n Tweede keer bid Christus: “My Vader, as hierdie lydensbeker nié by My kan verby gaan, sónder dat Ek dit drink nie, laat U wil geskied.” Hý is die Seun van die diensmaagd, in die diens gebore. Sy bande is los, want Hy is vir ‘n hoër diens uitgekies. Hy moet ‘n Offer vir sy Vader bring. ‘n Volmaakte Offer wat goed genoeg is om vir alle sonde te betaal (verse 16 en 17). Daarom offer Hy Homself daar aan die kruis. Omdat Hy ten vólle Mens en ten vólle God is, is Jesus Christus ál Een wat vir die sonde kan betaal. Dit vereis ‘n volmaakte, sondelose Mens – maak ook méér as ‘n blote mens – om vir alle gelowiges se sonde te betaal. Hy is die wáre Kneg van die Here. Jesus Christus is al Een wat hierdie lydensbeker kan én moet drink. God luister na sy Seun se smeekgebed en laat sy Vader-wil geskied. Jesus Christus se lydensbeker word ons beker van verlossing (vers 13). Omdat Hy die oordeelsbeker léég drink, loop ons beker van redding óór. Ons ontvang nie nét vryspraak vir ons sondes nie, maar die ewige lewe!
Ons het Hom lief en bekommer ons nie
Hoe kan ons die Here vir hierdie goedheid van Hom vergeld? Wat kan ons Hom bring vir sy genade? Te danke aan die ware geloof wat Hy aan ons skenk, deel ons in die weldade van Christus. Ons ontvang dus iets van sy volmaaktheid – die Here kyk nou na ons deur die geregtigheid van sy Enigste Seun. Uitverkorenes ontvang – soos Hy – die ewige lewe. Saam met die digter van Psalm 116 jubel ons in die Here. Ons is dankbaar teenoor God-Drie-Enig, want Hy het ons gebed verhoor. Hy luister – én tree op – wanneer gelowiges in vers 4 bid: “Ag, Here, red my siel.” En in vers 8 bely: “U het my siel van die dood gered.”
Al kom die dood oor ons elkeen se pad, is die dood vir óns nie finaal nie, geliefdes. Die oomblik wanneer ons liggame sterf, is dit nie verby nie. Daardie dag wat jou geliefde sterf, voel dit asof jou hele wêreld inmekaar val. Niks maak sin nie. Niks voel regverdig nie. Maar wanneer ons ‘n tree teruggee en vir ‘n oomblik stil staan by die Here se óóp Woord, dán ontvang ons insig. Wanneer ek in die ewige lewe glo, dan is ek séker dat my lewe nooit sal eindig nie. Selfs al sterf my gebroke liggaam af, het ek die sekerheid dat ek eendag met ‘n verheerlikte liggaam sal opstaan. My geliefde se swak, gebroke, verweerde liggaam sal nie só lyk wanneer hy/sy uit die dood uit opstaan nie. Ek kan seker wees dat my geliefde met ‘n gesonde – volmaakte – liggaam gaan opstaan. Sy/haar siel weer verenig met hierdie volmaakte liggaam. Alles te danke aan Jesus Christus se oorwinning oor die dood.
Indien hierdie gedagte nie ons tot wederliefde wek nie, dan behoort ons introspeksie te doen. Ons word vanoggend weer van ons vryspraak gewaarborg. God hoor ons smeekgebede. Hy verhoor ons volgens sý wil. Hy gee vir ons soveel meer as wat selfs die béste persoon aan ons kan gee. En daarom bring ons aan Gód alle lof en eer en aanbidding – en nie aan mense nie. Daarom sê die digter terég in vers 11: “Ek het besef, ek kan op geen mens staatmaak nie.” Ook hierdie vers word deur die gebeure in Getsémané vervul, waar Jesus se dissipels heeltyd aan die slaap geraak het in sy uur van doodsbenoudheid en angs.
Geliefdes, dit is alleen die Hére wat dit werd is om al ons liefde en aanbidding te ontvang. Omdat Hy ons eerste liefgehad het, het ons Hom lief met ‘n onuitblusbare liefde. Omdat Hy ons in ons angs en in ons nood hoor – en sélfs verhoor – rig ons ons gedagtes op Hóm. Ons gryp aan Hóm vas wanneer ons benoud voel, want ons besef dat ons tye in sy hand is (Ps. 31: 16). Hy sal ons nooit uit sy genade-greep laat gaan nie. Deur die werking van die Heilige Gees herinner ons onsself aan Psalm 116: 7: “Ek moet nou tot rus kom, want die Here het góéd aan my gedoen. U het my siel van die (ewige) dood gered.”
Slot
Hoe kan ons die Here vir sy goedheid vergeld? Wat kan ons Hom bring vir sy wonderlike genade? Niks wat ons vir die Here doen, of sê, of gee, sal ooit genoeg wees om ons dank aan Hom ten volle te omvat nie. Wanneer ons egter met ‘n dankbare hart voor die Here lewe, dan is dit goed. Wanneer ons so dankbaar vir ons verlossing is, dat ons met die sonde in ons lewe wil breek, dan verstaan ons iets van dit wat Hy van ons verwag. Wanneer ons die Here met oorgawe aanbid en Hom wérklik liefhet, dan tree ons volgens sy wil op.
Die vraag is: erken ons dat ons die Here werklik liefhet? Of voel ons skaam om dit te sê? Getuig ons optrede – ons dade – daarvan dat ons dankbaar is? Glo ons régtig dat die Here ons gebede sal verhoor? Of sluit ons ons gebede met ‘n twyfelagtige “amen” af?
“Wie na ‘n Psalm luister, luister na ‘n siel.” Psalm 116 is wérklik ‘n Psalm waarby elkeen van ons aanklank kan vind. Hierdie Psalm is egter nie maar net een persoon se algemene belydenis van lof en eer en dank nie. Dit is ‘n persoonlike belydenis van ons Here, Jesus Christus. Wat ‘n wonderlike voorreg om vanoggend na ons Verlosser se diepste Wese te kon luister. Amen.