Skrifgedeelte: Handelinge 27: 1 – 44
Fokusverse: Handelinge 27: 22 – 25
Tema: God is in beheer van ons lewe en bepaal ons toekoms. Daarom hou ons moed en vrees nie.
Inleiding
Hoe maak jy as die storms van die lewe, dit wat vir jou belangrik is, stukkend slaan? ‘n Groot gedeelte van jou lammers word deur hael getref. Vloedwater spoel jou oeste weg. Jy toets positief in een van die COVID-19-golwe. Jou huwelik is op die rotse.
Of dit nou letterlik of figuurlik gebeur: soms voel dit vir jou asof die water tot by jou neus gekom het, en jy geen vastrapplek vir jou voete het nie. Jy word net verder en verder deur die magtige water meegesleur. Totaal magteloos. Dit is dán wanneer ‘n mens méér as ‘n reddingsboei nodig het.
God is in beheer van ons lewe
In Handelinge 27 is Paulus nou op pad na Italië en later na Rome toe, waar hy daar as gevange sou leef. Hy word op ‘n skip gelaai, nadat hy homself, voor al wat ‘n gesagvoerder is, verdedig het (Hand. 21 – 26). Maak nie saak hoeveel keer Paulus die Evangelie verkondig nie, die Jode en die Romeine blý hardkoppig en besluit om hom buitendien gevange te neem. Nou is Paulus, as gevangene, op ‘n skip op die oop see. Hy is totaal en al oorgelewer aan sy omstandighede. Hy het geen beheer oor wat met hom gebeur nie. Sy lewe – én sy toekoms – is in ander mense se hande.
Lukas vertel in detail van hierdie skeepvaart waarop hulle was. Hierdie hoofstuk kink amper onnodig langdradig. Baie fyn besonderhede word gegee, maar is hier ‘n Boodskap in hierdie Bybel-gedeelte? In hierdie hoofstuk is daar nie net een Boodskap nie, maar verskeie Boodskappe, geliefdes. Wanneer ons verby die uitgebreide omskrywings van die seevaart kyk, dan sien ons dit raak. Ter agtergrond is dit belangrik om te weet dat dit in die Antieke tyd die gebruik was om op hierdie manier te skryf. Daar is baie soortgelyke verhale van – veral skeepvaarte – waar die skrywer in detail die verhaal vertel. Verder was hierdie skeepvaart, waarop Paulus-hulle is, eintlik ‘n gewone vragskip wat van Egipte na Italië op pad is. Dit was die algemene handelsroete vir die invoer van landbou-goedere soos koring en ander gewasse.
Na ‘n lang gesukkel het die vragskip uiteindelik by Mooi Hawens aangekom. En dit is híér waar ons die eerste “boodskap” van die hoofstuk kan raaksien. Want dit is híér waar Paulus sy insiggewende opinie gee: “Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag van die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.” Omdat hulle stadiger beweeg het as wat hulle beplan het, het hulle kosbare tyd verloor. Die seisoene het begin draai – dit het Winter begin word – ‘n tyd van ysige rukwinde, baie reën en meer storms oor die see.
Maar dan lees ons dat die Romeinse offisier egter meer waarde aan die kaptein van die skip se opinie geheg het, as aan Paulus se opinie. En dit maak net logies sin, nie waar nie? Want wat weet Paulus nou van ‘n skip se vermoë teen ‘n “ligte” bui reën? Die meeste van óns sou ook eerder die eienaar van die skip geluister het, want hy is tog die kenner op die gebied. Maar iets wat ons egter goed moet verstaan, is dat daar soms goeie raad kom van iemand waarvan ons dit die minste verwag. En dan moet ons daarop ag gee. Al is Paulus nie ‘n kaptein van ‘n skip nie, word hy vaardig gemaak deur die Heilige Gees. Al is hy net maar nóg ‘n gevangene – en eintlik nie veel werd nie – is dit hý wat aan die bemanning wys dat die Hére in beheer van hulle omstandighede is. Ons sal later in die preek meer hiervan hoor. Dit is egter nou reeds belangrik om raak te sien dat iemand – waarvan jy dit die minste verwag – wél insig in ‘n situasie kan hê.
Die skip se bemanning het die ankers gelig en met die ligte bries het hulle begin beweeg. Maar, soos ons in verse 14 – 20 lees, het ‘n hewige storm begin woed. Dit wat veronderstel was om net ‘n dagreis te wees, verander in dae en selfs weke. Die spanning bou op. Lukas vertel hoe die bemanning se planne die een na die ander faal. Om wind-op te seil werk nie meer nie. Die volgende dag word die skip se vrag oorboord gegooi. Die kosbare Egiptiese gewasse word doelbewus in die see gegooi. Die volgende dag word die bemanning genoodsaak om die skip se eie toerusting oorboord te gooi. Al hulle planne skiet te kort. Niks wil werk nie. En die storm woed voort. Vir dae lank was die son en die maan nie te sien nie. Die bemanning het dus nie ‘n idee gehad in watter rigting hulle moet probeer vaar nie. Hulle is letterlik besig om op die see rondgeslinger te word. Die vaardige kaptein en vaardige matrose het alle beheer oor die beskadigde skip verloop.
God bepaal ons toekoms
Voordat ons by ons fokusverse en die tweede Boodskap van hierdie gedeelte kom, gaan ons eers na soortgelyke gedeeltes in die Bybel kyk om God se Hand in hierdie gebeure raak te sien. Dit was nie net Paulus-hulle wat uitdagings op die see ervaar het nie. Die profeet, Jona, het ‘n baie soortgelyke ervaring gehad. Nadat hy ‘n opdrag van die Here ontvang het om ‘n Boodskap van bekering in die stad, Ninevé te bring, vlug Jona weg van hierdie verantwoordelikheid af. Hy klim in ‘n skip wat na Tarsus toe vaar, wég van die Here af. Die Here stuur egter ‘n groot storm oor die see. ‘n Kwaai wind wat só sterk was dat dit die skip uitmekaar wou laat breek. Net soos in die verhaal van Paulus-hulle, gooi daardie matrose ook die vrag van die skip af, in ‘n poging om die skip ligter te maak. Elkeen het tot hulle eie god gebid, maar die storm op die see het al meer onstuimig geraak. Nadat Jona hulle vertel het van die Ware God, wat hy aanbid, besef die mense die Hand van die Here in hierdie storm. Al was hulle ongelowig, bid hulle óók tot God, en vra vir Hom dat Hy hulle almal sal bewaar, ter wille van Jona. Eers nadat hulle vir Jona, sélf, oorboord gegooi het, bedaar die storm op die see. En dadelik sien al die bemanning dat Jona se God, die Ware God is.
Die storm het bedaar, maar Jona ervaar egter steeds groot benoudheid in die diep see. Hy bid later en sê: “U het my in die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai, maar U, Here, het my van die dood gered” (Jona 2: 3-6). Ons dink ook aan die benoudheid en angs wat die dissipels beleef het toe hulle op ‘n keer saam met Jesus in ‘n skuit was. Ewe skielik het daar ‘n hewige storm op die see losgebars, sodat die golwe oor die skuit geslaan het. Maar Jesus het geslaap. In hulle angs en benoudheid maak hulle Hom wakker en sê: “Here, red ons! Ons vergaan!” En dan lees ons hoe Jesus opgestaan het, en die wind en see hard aangespreek, sodat dit weer kalm geword het (Matt. 8: 23 – 27).
Met hierdie twee gedeeltes sien ons God se betrokkenheid in die lewe van hulpelose mense góéd raak. Die oomblik wanneer dit vir ‘n mens voel asof jy nét nie meer kan uithou nie, dan kom God se Hand en red Hy jou uit álle angs wat ‘n mens beleef. Die oomblik wat dit vir jou voel asof die storm té erg geword het, spreek Hy dit aan en bring Hy dinge tot bedaring rondom jou. God is egter nie net in beheer van ons huidige omstandighede nie. Hy bepaal ook ons toekoms. Want dit is God wat die storms in ons lewens toelaat of selfs stuur. Nooit om ons te straf vir verkeerde keuses wat ons gemaak het nie. Maar wél om sy almag te toon – ook vir die ander mense aan boord. Hy stuur die verwoestende water en winde om, alles waarop ons staatmaak, weg te neem. Hy doen dit om te kyk hoe ons in die toekoms gaan reageer. Noudat al die fisies kos, die fisiese toerusting en selfs die skip waarin ons is, nie meer daar is nie, hoe gaan ons nou optree? Wat gaan die gelowiges nóú doen, noudat ons van alle sekuriteit gestroop is? Gaan ons nogstééds op God vertrou? Of gaan ons die Here verwerp, noudat ons teleurgesteld voel?
Daarom hou ons moed en vrees ons nie
Wanneer ons nou na ons hoofstuk uit Handelinge terugkeer, dan vind ons juis hierdie gedagte in ons fokusverse. Ons tweede Boodskap van hierdie gedeelte. Paulus roep die skip se bemanning op om moed te hou – selfs in die uiters moeilike omstandighede waarin hulle is. Twee keer vra hy vir die bemanning om moed te hou, en om nie bang te wees nie. Ons kan ons net voorstel hoe die skip se bemanning moes voel: wie is Paulus om so iets vir hulle te sê? Hy is maar net nóg ‘n gevangene op die skip. Sy woorde en opinie het eintlik geen waarde nie. Boonop is hy nie ‘n kenner op die gebied nie. Wie dink Paulus is hy dat hý, van alle mense, hierdie manne wil bemoedig? En hoe kan hulle moed hou? Hulle het letterlik niks oor nie, én die skip is besig om te sink. Tekens van land is nog nêrens te sien nie.
Geliefdes, ál waarom Paulus hierdie mense kon bemoedig, is omdat hy sélf deur die Here bemoedig is. ‘n Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê dat niemand hulle lewe tydens die storm op die see sal verloor nie. Die Heilige Gees waarborg Paulus dat hy en die bemanning nie vir die onbekende toekoms bang hoef te wees nie, want Paulus moet nog voor die keiser verskyn. “Ter wille van jóú spaar God in sy goedheid die lewe van álmal wat hier saam met jou op die skip is” (Vers 24). Dit is weens hierdie Boodskap van God dat Paulus die res van die mense vra om moed te hou. Selfs al kan hulle nie nóú uitkoms sien nie, kan hulle seker wees dat God getrou sal wees aan dít wat Hy beloof het. As Hy sê dat Hy hulle deur hierdie storm op die see sal bewaar, dan kán hulle Hom gló. Hulle kan op God vertróú dat Hy dit so sal laat gebeur, soos Hy sê.
Paulus bemoedig die moedelose matrose beter as die beste kaptein. Hy ontvang die insig van ‘n ervare seeman, omdat die Heilige Gees deur om aan die woord kom. Soms moet ons luister wanneer iemand “onbelangrik” in ons oë vir ons iets wil sê, want wie weet: dalk is dit die Heilige Gees wat aan hulle hierdie insig gee. Wanneer iemand die Goeie Nuus bring, dan spreek daardie persoon met besóndere gesag, geliefdes. Selfs al is dit ‘n kind, of ‘n ongeleerde persoon, of iemand “onbelangrik” volgens ons.
En presies dít was Paulus. Al was hy onbelangrik in die wêreld se oë, word hy deur God gebruik om die Evangelie te verkondig. Sy lewe word gespaar, want hy moet ook aan die Romeinse keiser vertel van Jesus Christus wat aan ‘n kruishout gesterf het en later ook die dood oorwin het. Te danke aan Paulus is die res van die skip se bemanning van die storm gered – ‘n handjie vol mense. Maar te danke aan Jesus Christus is duisende gelowiges van die éwige dood gered.
Slot
Wanneer dit vir jou voel asof die lewe soos ‘n massa water oor jou spoel, hou vas aan jou Enigste Anker: Jesus Christus. Wat Hy beloof het, sál gebeur. God plaas ons baie keer in die diepste nood voordat Hy optree. Maar Hy sal optree, geliefdes. Elke keer.
Hoe maak jy as die storms van die lewe jou wil stukkend slaan? Al jou planne skiet te kort. Niks wil werk nie. Hoe maak jy wanneer dit vir jou asof die water tot by jou neus gekom het, en jy geen vastrapplek vir jou voete het nie? Waaraan hou ons vas? Waarop stel ons dán ons hoop?
Gelowiges, wat hulleself aan die Here se Woord herinner, sal sélfs dán kan moed hou. Wanneer ons ons Hoop in ons Enigste Verlosser stel, dan sal ons ook agterkom hoe Hy die storms in ons lewens laat bedaar. Wanneer ons aktief afskeid neem van alles waarop ons staatmaak, en nét die Here bly oor, dan sal die droë vasteland vir ons al meer sigbaar word: Die váste wete dat die ewige lewe – sonder winde en storms en bruisende water – ook vir my, persoonlik, wag. Amen.