Skrifgedeelte: Genesis 3: 8 – 24
Fokusverse: Genesis 3: 12 – 15
Tema: Die gevolge van die sonde bring hartseer en troos
Inleiding
Het jy al gehoor hoe iemand sê: “Indien God ‘goed’ is, hoekom laat Hy dit of dat toe?” “Indien God goed is, hoekom laat Hy toe dat my ouma aan kanker ly?”. “Indien God goed is, hoe kan Hy soveel plaasaanvalle toelaat?” “Hoe kan die Here toelaat dat daar soveel mense is wat op verskillende maniere ly?” “‘n God van liefde tree tog nie só op nie.” Dalk het jý ook al so gevoel. Indien dit die geval is, kom ons kyk na Genesis 3 om moontlike antwoorde op hierdie belangrike vrae te kry.
Die gevolge van die sonde bring hartseer
Dit is maar onlangs nadat God alle dinge geskep het. Alles staan in ‘n perfekte harmonie. En dinge is redelik eenvoudig. Adam en Eva is geskep om God te verteenwoordig en om die skepping te bewerk en daaroor te heers. Die enigste ding wat Adam en Eva nié mag doen het nie, is om van die één boom, in die middel van die Tuin van Eden, se vrugte te eet. Hulle moes hierdie boom ten álle tye vermy. God se opdrag hieroor is baie duidelik: “Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
In die paar verse wat ons gedeelte vooraf gaan, lees ons van die listigheid van die slang. Hy verdraai God se woorde en vertel iets hééltemal anders vir Eva. Die slang lieg vir Eva deur vir haar te sê dat sy en Adam verseker nié sal sterf as hulle van die boom se vrug eet nie, maar dat hulle juis soos God sal word deur goed en kwaad te ken. Nie net verlei hy vir Eva om sonde te doen nie, maar Hy maak ook God tot leuenaar. En die versoeking is groot, geliefdes, want watter mens wil níé alle kennis hê nie? Veral noudat ‘n mens hoor dat jou dade geen gevolge sal hê nie. Maar dit is juis so tipies van ‘n leuenaar, nie waar nie? Hy/sy sê vir jou iets – hulle verdraai iets – tot só ‘n mate dat jy nie meer énige gevare raaksien nie.
Na wie verwys “die slang” in hierdie gedeelte? Dit verwys na die satan, wat eienskappe van ‘n slang bevat. Net soos ‘n slang, is die satan listig, hy werk op ‘n agteraf manier en kyk hoe hy die mens omkant kan vang. Sy optrede is ook onverwags – alles was rustig in die Tuin. Alles was in ‘n perfekte harmonie – en dan kom die satan en veroorsaak chaos. Net soos ‘n slang, is die satan se woorde en invloed giftig. Dit wat hy sê veroorsaak dat Adam en Eva se verhouding met hulself, met mekaar, met die natuur én met God skade lei.
Baie keer word daar na die satan verwys as die “vader van die leuen”. Dit beteken dat hy die oorsprong van alle leuens is. Hy is die bron van alle boosheid, teenkanting en vals beskuldiging. Hy is die groot misleier. Die groot aanklaer. En dit is waarom hy so gevaarlik is, geliefdes. Ons lees in 1 Petrus 5: 8 hoe die duiwel soos ‘n brullende leeu rondloop, opsoek na iemand om te verslind. En in Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 12 bely ons dat die bose geeste soos moordenaars op die kerk loer, opsoek na ‘n lidmaat of ‘n gemeente om te vernietig.
En dit is presies wat die slang in die Tuin van Eden gedoen het. Nadat hy vir Eva gelieg het, misbruik hy haar oomblik van swakheid, en oorreed haar om van die verbode vrug te eet. Adam volg Eva se voorbeeld, en net só word God se gebod oortree. Die mens val in sonde, en saam met hom, die héle mensdom. Die woord “sondeval” het eintlik ‘n baie letterlike betekenis. Die sondeval verwys na die oomblik toe die mens begin sonde doen het. Dit is asof Adam en Eva in ‘n strik getrap het – of in ‘n diep gat geval het. En die gevolge van die sondeval word deur álle mense gevoel.
In verse 14 – 19 lees ons dan wat die gevolge van Adam en Eva se sonde is. En dit is juis by hierdie punt – die gevolge van die sonde – waarby ons vir ‘n oomblik gaan stilstaan, geliefdes. Die eerste gevolg van die sonde is te sien in die manier waarop die mens na homself/haarself kyk. Hulle was al van die begin af kaal, maar noudat hulle sonde gedoen het, kyk hulle ánders na hulself. Vir die eerste keer besef hulle dat hulle naak is, en hulle kry skaam daaroor. Al is hulle man en vrou, is hulle nou ewe skielik skaam voor mekaar, én skaam voor die Here. Dit is alleen die sonde wat aan hulle hierdie negatiewe selfbeeld gegee het. Dit is ook die daad van sonde wat hulle laat besef het dat hulle sekerlik skándelik in God se oë moet wees. Tog weet ons dat God alwetend is – ons kan niks, maar niks, vir God wegsteek nie. Nie ons uiterlike nie, en ook nie ons innerlike nie. Hy ken ons deur en deur. Maar, geliefdes, wat is opmerklik in God se woorde aan die mens: “Waar is jy?” Dit is opmerklik dat God steeds die mens opsoek, al weet Hy waar Adam en Eva is, én wat hulle gedoen het. In sy liefde soek God altyd die sondaar op, en verwerp hom/haar nie sonder ‘n verduideliking van wat sy wil is nie.
As ons eers hier stop, en ons dink terug aan die vrae wat ons in die inleiding gevra het – hoe ons God se goedheid en liefde bevraagteken het – dan kry ons nóú reeds ‘n antwoord, nie waar nie? Selfs die oomblik nadat Adam en Eva hierdie verskriklike sonde gedoen het, tree God steeds in alle goedheid en liefde teenoor hulle op. God weet goed wat die antwoord is, waarom Adam en Eva nou skielik tot die besef gekom het dat hulle kaal is. Sy vraag is dus nie omdat Hý nié weet nie, maar sodat die mens sy eie sonde kan besef. En steeds wil Adam nie erken dat hy skuldig is nie: “die vrou wat Ú my gegee het – sý het my verlei om van die boom se vrugte te eet en daarom het ek geëet.” Met hierdie woorde beskuldig Adam eintlik God, en laat dit klink asof die sonde nooit sou gebeur het as God nie Eva vir hom gegee het nie. Verder beskuldig Adam ook vir Eva – “sý het vir my die vrug gegee, en ek het geëet.” Adam het reeds iets van die satan se leun in hom en skets homself as die slagoffer in die verhaal. Eva doen dieselfde: sy beskuldig die slang –“hý het my mislei en ek het geëet.” Dis altyd die ánder een se skuld – óns is nooit skuldig nie, nie waar nie?
Wanneer iemand sonde doen, dan gaan só ‘n persoon teen God se heilige wil in. Wanneer ek sonde doen, dan mis ek God se doel vir my lewe. Sonde breek die volmaakte verhouding wat daar tussen God en sy kind bestaan. En sonde is nie iets wat in ‘n vakuum plaasvind nie, geliefdes. Sonde het áltyd gevolge. Noudat Adam en Eva sonde gedoen het, het hulle dade sekere gevolge. En soos ons gesien het, sluit hierdie gevolge swaarkry, moeite, verskeie verdraaide sienings én vervloeking in.
Dink jy hierdie uitsprake is onregverdig van God? Wanneer ons o.a. na Genesis 2: 16, 17 en Levitikus. 20: 7 en 8 kyk dan kry ons ‘n antwoord, hierop: Ons het reeds gehoor dat God vir die mens gesê het dat hy nié van die boom se vrug mag eet nie, anders sterf hy. En in Levitikus 20 lees ons dat God sy kinders aan Hom wy – Hy wil hê dat ons Hom alleen moet aanhang, liefhê en vertrou – en daarom eis Hy van ons om heilig te wees soos Hy heilig is. Wanneer Hy dan ‘n gehoorsame en heilige optrede van sy kinders verwag, dan is Hy nie onredelik nie, geliefdes. En wanneer daar konsekwensies is as ons nié heilig en gehoorsaam is nie, dan is Hy nie onregverdig nie. Want aan God behoort alle mag en gesag. Hy hoef sy wil en sy optrede aan niemand te verduidelik nie.
Dinge soos swaarkry, lyding en moeite is dus gevolge van die sondeval. Omdat die oorspronklike sonde so ‘n groot effek op die hele mensdom het, gaan ons – nou nog – deur moeilike tye. Ons ervaar stééds hartseer en teleurstellings omdat ons almal nog deel het aan die oorspronklike sonde. Is lyding en swaarkry God se straf op ons sonde? Nee, glad nie, geliefdes. Wanneer God die sonde straf, dan straf Hy dit met die ewige dóód (vgl. Rom. 5: 12 en Gen. 2: 16 en 17 asook Jakobus 1: 13-15).
Die gevolge van die sonde bring troos
Tot op hede het ons gehoor dat die probleem van die sonde en ellende deur Adam en Eva in die wêreld ingebring is, maar wat is die oplossing? Daarvoor kyk ons na ‘n paar verse uit Romeine 5: Deur die oortreding van een mens het baie gesterf. Die dood begin heerskappy voer, deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel méér bereik: dié wat die oorvloed van genade en vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, só ook sal baie deur die gehoorsaamheid van Een Mens vrygespreek word (Rom. 5: 14 – 22).
Hoe ‘n groot troos is dit nie, geliefdes? Dat ons Here, Jesus Christus, alles kom voltooi het waarin Adam misluk het. Deur sy volmaakte heilige lewe slaag Hy in God se doel vir sy lewe. Hy is die Tweede Adam, wat ook namens óns sonde die volle toorn van God verduur. Hy betaal die prys vir die sonde van álle gelowiges deur aan die kruis te sterf. Sodoende herstel Hy álle gelowiges se verhouding met God. Hy oorwin die bose en die dood en maak dit moontlik dat gelowiges in al sy weldade deel. Hy vernietig die satan en die dood deur daardie Sondag-oggend weer lewendig uit die graf te kom. Deur die gawe van geloof geld hierdie vryspraak en oorwinning vir álle gelowiges. Te danke aan die Tweede Adam is ons verhouding met God weer herstel.
Maar waarom laat God dan toe dat ons steeds moeilike dae beleef? Indien Hy ‘n God van liefde is, waarom maak Hy nie net ‘n einde aan al die swaar en die lyding in die lewe nie? Want Hy het ‘n doel met al die swaarkry en lyding waardeur gelowiges moet gaan. Deur hierdie dinge toe te laat, trek Hy gelowiges nader aan Hom, geliefdes. Jakobus 1: 2-4 leer vir ons dat die Here ons geloof toets wanneer ons deur beproewings gaan. Jakobus sê dat ons die verskil tussen ‘n “versoeking” en ‘n “beproewing” góéd moet verstaan: die Here sal ‘n mens nooit versoek nie (Jak. 1: 13) dit is wat die duiwel doen. Maar die Here plaas ons soms in beproewings om ons geloof te toets. Hy kyk hoe ons gaan reageer wanneer ons deur ‘n moeilike tyd gaan. In hierdie beproewings – in hierdie moeilike tye van kankerbehandeling, of droogte, of dood in die gesin – versterk die Here my geloof. Hy plaas my in hierdie uiters moeilike omstandighede om my nader aan Hom te trek. Al voel dit nie dán vir my so nie, doen Hy dit áltyd omdat Hy só innig liefhet.
En daarom bring die gevolge van die sonde vir die gelowige óók ‘n diepe troos. In tye van beproewings kan gelowiges dankbaar wees, want dit is daardie tye wat die Here ons naby aan Hom wil hê. En mag ons daarom in die dae van lyding en swaarkry in ons geloof volhard, geliefdes. Mag ons – veral in daardie tye – vashou aan God se Woord en aan ons Belydenis.
Al het Christus die duiwel reeds verslaan, is hy nog nie totaal en al vernietig nie. Wanneer God ons vryspreek, dan kla die duiwel ons aan. Hy beskuldig ons dat ons nie goed genoeg is nie. Hy lieg vir ons en laat ons verstaan dat ons nié die Here se genade verdien nie. En daarom behoort ons waaksaam teenoor hom te wees, geliefdes. Hy het selfs die vermetelheid gehad om ons Here, Jesus Christus, te probeer verlei. In die woestyn het hy die Tweede Adam versoek, maar hierdie keer was hy nie suksesvol nie. Hoeveel te meer moet ons dan nie wakker wees en op die uitkyk vir hom nie? Ons hoef egter nooit vir die satan bang te wees nie – hy is soos ‘n hond wat aan ‘n ketting vasgebind is – sy mag is beperk.
Slot
Vanuit Genesis 3 is dit duidelik dat, elkeen van ons, nog soms deur moeilike dae gaan omdat dit deel van die gevolge van die sondeval is. Ons beleef nou nog pyn en swaarkry en lyding omdat ons in ‘n gebroke wêreld leef. Daarom sien ons net soveel te meer uit na Christus se wederkoms, waar Hy sal kom om álles te herstel. Dan sal alles weer wees soos dit vóór die Sondeval in die Tuin van Eden was.
Maar selfs al ervaar ons nou moeilike dae, mag ons nooit God se betrokkenheid óf sy goedheid bevraagteken nie. Kom ons sien eerder sy betrokkenheid en liefde in ons lewens raak. Kom ons wees dankbaar vir elke beproewing. Want elke keer wat ons daardeur gaan, toets die Here die suiwerheid van ons geloof. Deur elke beproewing wat ons gaan, trek die Here ons nader aan Hom. Amen.