Genesis 37: 12 – 36; 42: 1 – 10; 45: 1 – 13

Skrifgedeelte: Genesis 37: 12 – 36; 42: 1 – 10; 45: 1 – 13

Fokusverse: Genesis 45: 8

Tema: Wie bepaal jou lewenspad?

Inleiding

Het jy al ooit gehoor hoe iemand sy/haar lewensverhaal vir jou vertel, en nie vir een oomblik erkenning aan God gee nie? “Te danke aan my éie harde werk, het ek agt onderskeidings in matriek behaal.” “Ek het hierdie stoetery met my twee eie hande opgebou.” “My besigheid of my boerdery sou nie so suksesvol gewees het, as ék nie al daardie ure ingesit het nie.” “Dis deur my toedoen dat ek is wie ek is.” “Mý kennis, mý harde werk, mý geld, mý vaardighede, mý persoonlikheid – dít is wat my gebring het waar ek vandag is.”

Klink hierdie stellings dalk bekend? Dalk hoor jy iets iemand anders in hierdie stellings. Of dalk hoor jy iets van jouself daarin. Vandag vestig die Here ons aandag juis hierop, omdat dit iets is waarmee ons elkeen kan vereenselwig.

Die lewensverhaal van Josef

In Genesis 37 tot 50 leer ons vir Josef ken. Dertien hoofstukke van die boek, Genesis, word afgestaan om sy lewensverhaal te beskryf. Soos ons gehoor het, was Josef een van twaalf broers. Hy word deur sy pa, Jakob, voorgetrek want hy is een van Ragel se seuns. Ons onthou hoe Jakob vir sewe jaar moes werk voordat hy met Ragel kon trou – en toe die sewe jaar verby is, toe gee Laban eers Ragel se suster, Lea, vir Jakob. Hy moes tog ‘n vérdere sewe jaar vir Laban werk voordat hy eindelik met Ragel – sy eerste liefde – kon trou (Gen. 29). Dit is dan die rede waarom Josef se pa hom voorgetrek het. Natuurlik was Josef se half-broers jaloers op hom – en die feit dat Josef stories oor hulle by Jakob aangedra het, het hom glad nie gehelp nie. Verder was Josef uniek – hy was die enigste in sy familie wat die gawe gehad het om drome te kon uitlê. Hy was die enigste seun aan wie sy pa ‘n spesiale kleed met lang moue gegee het. Innerlik én uiterlik was Josef dus uniek.

Toe Josef op ‘n dag sy broers gaan soek het waar hulle hul pa se vee opgepas het, kon hulle hom van vêr af met sy lang klere uitken. “Dáár kom die ou dromer aan.” Josef se broers spreek af om hom dood te maak. Julle jaloesie teenoor hom dryf hulle tot hierdie radikale begeerte. Maar Ruben, die oudste, oorreed hulle om Josef se lewe te spaar en om hom op ‘n manier gevange te neem en in ‘n droë put te gooi. Toe daar ‘n klomp Ismaeliete verby kom, besluit die broers egter om vir Josef aan húlle te verkoop. Nou is dit die broers wat die mag besit, nie waar nie. Vir jare het hierdie broers van Josef verontreg en afgeskeep gevoel, maar nóú is dit hulle kans om hom terug te kry. Noudat Josef geen beskerming van hulle pa het nie, kan hulle met hom maak wat hulle wil. En daarom verkoop hulle hul éie broer vir minder as wat ‘n mens in daardie tyd vir ‘n slaaf betaal het.

Hulle besluit verder om die een sonde met ‘n ander toe te smeer – hulle sal vir hulle pa lieg en sê dat ‘n wilde dier hom verskeur het. Hulle troos hulself daarin dat hulle minstens nie Josef doodgemaak het nie. En só veroorsaak hierdie broers se slinkse planne dat Josef dan nou op pad Egipte toe is. Eindelik is hy uit hulle pad – die kans dat hulle hom weer gaan sien is bitter skraal. Daarna verkoop die Ismaeliete weer vir Josef aan Potifar – ‘n belangrike dienaar van die Egiptiese Farao. Die gawe van droom-uitleg het egter in Josef se guns getel. Deur die hulp van die Heilige Gees kon Josef selfs die Farao se drome verklaar. Die Farao was so in sy skik met Josef se buitengewone vermoë, dat hy vir Josef oor die héle Egipte aangestel het. Almal moes respek aan Josef bewys het – hý was nou in beheer van alles wat in Egipte gebeur het.

En in die tweede gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, het ons wéér van Josef se pa en broers gelees. Nadat daar hongersnood in hulle land was, stuur Jakob sy seuns Egipte toe om dáár te gaan kos koop. Die hongersnood was só erg dat mense van regoor die héle wêreld Egipte toe gegaan het om koring en graan te koop. Al het daar het al baie jare verbygegaan vandat Jakob sy seun, Josef, verloor het, dink hy steeds in sy liefde aan Josef. En dit is die rede waarom hy dan nie ook vir Benjamin – ‘n ander seun van hom en Ragel – na Egipte toe stuur nie – want netnou verloor hy ook híérdie seun (Gen. 45: 4).

So moes dit dan uitwerk dat die broers van Josef dan hom juis daar in Egipte ontmoet. Hierdie manne het egter nie Josef herken nie, maar hy het dádelik sy broers herken (Gen. 45: 6). Hulle het al vergeet van Josef en hoe jaloers hulle op hom was. In húlle verwysingsraamwerk is Josef nou deel van die karavaan-gemeenskap of selfs dood. Josef is uit hulle gedagtes – hulle het mos kláár met hom afgereken. Hulle het hom reeds uitoorlê.

Maar die wiel draai, geliefdes. Veral dáár waar Gód aan die werk is. Hoe ironies is dit dan nie dat Josef en sy broers weer ontmoet? Al besef hulle dit nie, bring God hierdie manne direk na hom toe wat hulle so wreed behandel het. Die Heilige Gees veroorsaak dat hierdie twaalf broers se paaie weer kruis – op ‘n manier wat nie een van hulle verwag het nie. Dieselfde broers wat vir Josef geminag het – wat hom verkoop het vir minder as ‘n slaaf – buig nou voor hierdie “koning van Egipte”. Húlle is nou aan die ander kant. Húlle is nou in die verleë posisie. Húlle is nou nederig voor hierdie jong man – al besef hulle stééds nie wie hy is nie. Hulle wat eens op ‘n tyd gemeen het dat hulle so sterk en braaf is om selfs hulle bloed-broer te verkoop en daaroor vir hulle eie pa te lieg, is nou swak en onseker oor hulself. Hulle wat vir hulself alle mag en gesag toegeëien het, word nou bedelaars voor hom in wie se hande hulle toekoms is. In vers 10 erken hulle nederig teenoor Josef: “Meneer, ons is u onderdane. Ons het gekom om graan te koop.” 

Die mens wik, maar God beskik

In die laaste gedeelte wat ons gelees het, kom die verhaal van Josef tot ‘n dramatiese hoogtepunt. In privaatheid vertel Josef vir sy broers wie hy is. Hy is nie maar ‘n onbekende onderkoning van Egipte nie – hy is hulle bloedfamilie. Josef lieg nie soos sy broers nie – hulle kan dit aan sy opregte emosie sien. Nadat Josef homself aan sy broers bekend gemaak het, vra hy dadelik hoe dit met hulle pa gaan. Josef se broers was só verstom en verskrik dat hulle nie hom kon antwoord nie. Al waaraan hulle kan dink, is hoe sleg hulle hom jare terug behandel het. Hulle het dan gedog hulle is vir ewig ontslae van hom? Te danke aan hulle slim planne en eie vermoë, gaan hulle nooit weer vir Josef sien nie –  en nou staan hy hier voor hulle! Nie maar net as ‘n lewende mens nie, maar as een van die belangrikste persone in Egipte. Hierdie broers besef: indien Josef wil wraak neem, dan is dit klaar met húlle. Nie nét is daar op geen ander plek kos te kry nie – hulle is nou in Josef se magsgebied. Enige iets wat hy beveel, sál met hulle gebeur.

Maar dan kom die verstommende én pragtige belydenis van ons fokusgedeelte: Josef stel sy benoude broers gerus en sê dat hy nie gaan wraak neem nie. Iemand wat nié die Here in hulle hart het nie, sou verseker hierdie manne wou terugkry. Maar Josef kyk anders na sy lewens-verloop. Hy kyk met geloofsoë na dít wat met hom gebeur het, en sien die Hand van die Here in ál hierdie gebeure raak. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, besef Josef dat dit nie sy broers is wat hom na Egipte toe gestuur het nie, maar die Hére! Hy is vir ‘n réde daar – hy kan nou, op ‘n volhoubare manier, kos aan sy broers en pa voorsien. Want daar lê nóg vyf jaar van hongersnood voor. Aangesien hy in hierdie hoë aansien in Egipte is, kan hy reël dat sy familie ook hierheen trek, sodat hulle saam met hom die oorvloed van Egipte kan geniet.

Josef besef dat daar ‘n rede was vir al die swaarkry en die moeilike dae wat hy moes beleef het. In die Here se goedheid het Hy juis alles in plek gekry sodat ‘n oorblyfsel van sy verbondsvolk fisies én geestelik gered kan word (vers 7). Josef bely teenoor sy broers: “Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.” Op hierdie manier verkondig Josef God se Woord aan sy sondaar-broers. Die Here is al die tyd in beheer van Josef én sy gesin se lewens. Hy het alles perfek laat uitwerk sodat Josef en sy gesin kon bly leef, want uit húlle word daar baie gelowiges gebore. Jakob se seuns is die twaalf stamme van Israel – sy geliefde verbondsvolk.

Wanneer Jakob later sy seuns seën dan sê hy vir Josef: “Josef is ‘n boom wat vrugte dra, ‘n vrugteboom by die fontein. Sy takke groei óór die omheining. Dié wat met pyl en boog skiet, val hom aan, hulle is baie en hulle is sy vyande. Maar hulle boog misluk elke keer, hulle sterk arms bewe, want die magtige God van Jakob gryp in, die Rots van Israel beskerm hom. Die God van jou vader sal jou help, Josef, die Almagtige sal jou seën. Hy seën jou met reën uit die hemel, met water diep onder die grond uit, met moeders wat hulle kinders voed, met baie kinders. Die seëninge wat jou vader gegee het, is sterk, sterker as dié van die ou-ou berge, as kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is. Daardie seëninge kom op Josef, op hom wat die leier van sy broers sal wees” (Gen. 49: 22-26).

In die Nuwe-Testament lees ons van Hom wat nog meer uitnemend as Josef was. Van Hom wat deur groter en meer onverstaanbare lyding moes gaan as wat Josef moes deurgaan. Ons lees van ons Here, Jesus Christus, wat aktief die gestalte van ‘n slaaf aangeneem het deur aan mense gelyk te word. Josef het nooit die eer vir sy talent van droom-uitleg óf die beskerming van sy broers gevat nie. En soveel te meer Christus. Hy wys altyd heen na sy Vader wat Hom bekwaam maak vir sy dienswerk op aarde. Hy wys altyd na sy Vader wat in totale beheer van sy lewe is. Selfs al moet Hy deur die swaarste eensaamheid, en verwerping en verloëning gaan, doen Hy dit met die sekerheid dat sy Vader ‘n doel daarmee het. Jesus Christus verduur die lyding en die dood, om alle uitverkore kinders van hul sonde te verlos. Hy sterf op Golgota vir die sonde van Josef en sy broers – maar ook vir jóú sonde. Vir elke keer as ons op ‘n sondige manier dink dat dít wat ons bereik het, ons eie prestasie is. Hy oorwin die dood, en vaar op na die hemel sodat ons ook daarheen kan gaan. Hy alleen maak dit moontlik dat ons die ewige lewe erf, geliefdes, en nie ons eie vermoëns of ons eie slim planne of ons eie harde werk nie.        

Slot

‘n Mens mag dalk dink dat dit wat jy bereik het, jou eie handewerk is, maar hoe verkeerd is ons dán nie, geliefdes? Josef se lewensverhaal leer vir ons dat niks per toeval met ons gebeur nie. Deur elke beproewing waardeur ons gaan, bou God ons karakter. In die Here se liefde vir ons, is daar ‘n doel waarom ons nou deur hierdie of daardie spesifieke uitdaging moet kom. Die Here het ‘n plan daarmee. Selfs al voel dit nie altyd so nie, is die Here in totale beheer van ons verlede, hede en toekoms.

Dalk voel dit vandag asof iemand anders of jysélf in beheer van jou lewe is, maar iewers draai die wiel. Iewers kom dit wat ons opgebou het, tot ‘n val. Iewers breek die realiteit aan. Iewers besef ons dat dit die Hére is wat ons gebring het waar ons vandag is, en niémand anders nie. Amen.