Skrifgedeelte: Johannes 14: 1 – 20
Fokusverse: Johannes 14: 1 – 3
Heidelbergse Kategismus Sondag 18
Tema: Christus se Hemelvaart is nie iets om oor te treur nie, maar ‘n betroubare waarborg.
Inleiding
Hoe reageer jy wanneer jy iemand vir oulaas moet groet? Ewe skielik sê iemand vir jou dat dit sopas julle laaste gesprek was. En dan verdwyn die persoon dádelik. Voordat jy kan reageer of antwoord, is hy/sy net wég.
‘n Mens kan maklik met die dissipels van Johannes 14 vereenselwig. Dink jouself net die skok van hierdie mense in. Voordat hulle mooi besef wat Jesus woorde beteken, gebeur daar verskeie dinge wat hulle verhoed om met Hom te praat. En daarna word Hy gevange geneem. Skielik is die belangrikste Persoon in hulle lewe net nie meer dáár nie. Skielik het Hy waarvoor hulle só lief was, en waarop hulle staatgemaak het, verdwyn.
Christus se Hemelvaart is nie iets om oor te treur nie
Ons kan onsself maklik met die dissipels vereenselwig. Ons kan verstaan waarom hulle voel soos hulle voel. Ons verstaan hulle emosie van teleurstelling en skok. Verál wanneer jy al in jou lewe deur iemand teleurgestel is. Die meeste van ons weet hoe seer dit is wanneer iemand jou teleurstel. Op daardie oomblik voel dit vir jou asof dit die ergste ding is wat met jou kan gebeur. Om ‘n ánder reaksie van ‘n geliefde te kry as waarvoor jy gehoop het, kan hartverskeurend wees. Die rede daarvoor is omdat ons op daardie persoon staatgemaak het. Ons het ‘n baie hoë agting van daardie persoon gehad, en nou stem sy/haar dade nie ooreen met dit wat ons van hom/haar gedink het nie. In ons denke sou ons nooit hierdie tipe gedrag van daardie persoon verwag het nie. En dit is waarom die teleurstelling so groot is, geliefdes. Want in ons sondigheid het ons daardie persoon al eintlik begin verafgod.
Omdat álle mense gebroke is, sal hulle ons áltyd teleurstel. En dit is waarom ons nooit té veel van ander mense behoort te dink nie – want selfs die béste persoon maak soms foute. Maar daar is Iemand waarop ons kan vertrou, sonder om teleurgestel te word. Verál wanneer ons denke oor Hom ooreenstem met die manier hoe Hy Homself aan ons bekendmaak. Dit is alleen ons Here, Jesus Christus, wie se optrede ons nooit sal teleurstel nie, geliefdes, want Hy is volmaak. Selfs al voel dit vir ons asof die Here soms iets toelaat wat ons seermaak, dan verstaan ons Hom verkeerd. In sy wese is Hy goed en liefdevol en volkome wys en heeltemal opreg. Niks wat Hy doen sal ooit tot gelowiges se nadeel wees nie. Wanneer ons Hom werklik kén soos Hy Homself in die Woord aan ons bekendmaak, dan word dit vir ons duidelik. In sy liefde tree Hy altyd tot ons beste belange op – selfs al voel dit nie vir ons so nie. Wanneer ons dan moeite maak om Jesus Christus in sy Woord te leer ken, dan sal ons sien dat dit wat Hy in ons lewe toegelaat het, al die tyd só nodig was.
Op die stadium dat die Evangelie volgens Johannes opgeteken is, het die dissipels nog nie Jesus Christus wérklik geken nie. Al was hulle vir jare reeds sy navolgers, skok sy woorde van weggaan hulle stééds. Hulle kan nie gló dat Hy hulle binnekort gaan verlaat nie – wat gaan van hulle word? Hy is dan daar as hulle geselskap? Hy is dan daar om hulle fisies te beskerm? En dan kom Jesus in ons fokusgedeelte en sê dat hierdie dissipels van Hom nie ontsteld moet wees nie. Hy beveel hulle om eerder in God te glo dat dit wat Hy sê, die waarheid is. Jesus Christus gee vir sy dissipels die opdrag om beheer oor hulle emosies te neem as Hy sê: “Moet nie toelaat dat julle harte ontsteld raak nie.” Hy kán vir hulle hierdie opdrag gee, want hulle moet Hom reg verstaan. Hy gaan nie nou hulle vir ewig verlaat nie, maar net tydelik. Hy gaan net vir ‘n ruk nie by hulle wees nie, want Hy gaan om op ‘n ánder plek, vir hulle plek gereed te maak.
Sy weggaan hou dus ‘n belofte in, geliefdes. Eintlik verskeie beloftes: Eerstens belowe Jesus Christus aan sy dissipels dat die feit dat Hy hulle verlaat, hulle nie behoort te ontstel nie, want Hy gaan net tydelik van hulle af weg. Verder belowe Hy dat Hy met ‘n doel van hulle af weggaan: Hy gaan om vir hulle ‘n beter plek voor te berei. Daarna belowe Hy dat daar baie wonings of baie woonplek is by die plek waarheen Hy op pad is – hulle kan dus verseker wees dat hulle definitief ‘n beter woonplek gaan ontvang. Maar dit is nie al nie, geliefdes. In ons fokusgedeelte belowe Jesus Christus selfs nóg iets vir hierdie ontstelde en verwarde dissipels: “Nadat Ek gaan plek voorberei het, kom Ek weer na julle toe. Ek sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is” (vers 3). Slegs in ons fokusgedeelte kry ons dus vier beloftes van Christus. En soos ons hierdie gedeelte verder lees, kry ons nóg beloftes. Ons sal later in die preek in na hierdie ánder beloftes kyk.
Vir nou vestig ons ons aandag op Jesus Christus se woorde in ons fokusgedeelte: Die dissipels het nie geweet waarna Jesus verwys toe Hy sê dat Hy moet weggaan om vir hulle plek voor te berei nie. Hulle het nie presies geweet waar is die “huis van sy Vader” waarvan die Messias praat nie. Hulle het ook definitief nie die pad na hierdie huis geken nie. Die dissipels het afgelei dat Christus waarskynlik na die hemel verwys, maar tóg was hulle nie heeltemal séker nie. Ons wat vandag leef, is seker dat Jesus Christus na die hemel verwys wanneer Hy sê dat Hy na sy Vader se Huis gaan om dáár plek gereed te maak.
Vir Jesus om plek in die hemel gereed te maak, impliseer tóg dat Hy na die hemel toe moes opvaar. Jesus berei dus nou reeds sy dissipels voor dat Hy binnekort hulle gaan verlaat. In sy liefde doen Hy dit, sodat hulle nie verder ontstel word nie. Want dit wat hulle almal binnekort gaan ervaar is verskriklik traumaties: Christus gaan binne ‘n paar ure gevange geneem word. Sonder dat die dissipels énige iets daaraan kan doen, gaan Hy binnekort oorgelewer word om gekruisig te word. Asof dood nie reeds traumaties genoeg is nie, gaan die dissipels na drie dae Hom weer lewendig sien! Kort dáárna is die dissipels getuies dat Jesus Christus se beloftes die waarheid is. Met hulle eie oë sien hulle hoe Hy na die hemel toe opvaar – dit wat Hy hier in Johannes 14 vir hulle gesê het, was nie leë beloftes nie, geliefdes. Wanneer Hy dan na die hemel toe opvaar om nuwe verblyf vir gelowiges te gaan gereed maak, is dit nie tydelike verblyf nie, geliefdes, maar éwige verblyf. Daarom sê Paulus later: “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning, wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is nie ‘n woning wat deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly éwig staan” (2 Kor. 5: 1 en 2). En ook die woorde: “Ons is burgers van die hemel, van waar af ons die Here, Jesus Christus, as Verlosser verwag” (Fil. 3: 20).
Christus se Hemelvaart is ‘n betroubare waarborg
Hierdie dissipels hoef vir verskeie redes nie ontsteld te wees nie: die eerste rede het ons reeds behandel: Christus gaan om vir hulle ‘n ewige plek gereed te maak. Verder hoef hulle nie ontstel te wees nie, want julle kén hulle die weg waarop Jesus moet gaan. Iets wat die dissipels egter nog moes leer, is dat die pad na sy Vader se huis is nie ‘n fisiese pad nie, maar ‘n geestelike pad. “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe” belowe Jesus aan sy dissipels. Hierdie belofte geld ook vir élkeen van óns vandag. Hy sê in vers 6 dat niemand na die Vader toe kan gaan behalwe deur Hóm nie. Jesus Christus is Sélf die Weg na ons ewige woonplek, geliefdes. Dit is alleen moontlik om – deur Hom – in ons ewige tuiste in die hemel te kom. Geen verlossing is buite Jesus Christus moontlik nie. Dit is slegs in die Naam van Christus waarin daar verlossing te soek én te vind is. Geen mens kan op ‘n ander manier die ewige lewe bereik nie – alléén deur ‘n vaste geloof in Jesus Christus.
Nóg rede waarom die dissipels nie ontsteld hoef te wees nie, is weens Christus se belofte van sy wederkoms. Hierdie woorde geld óók nie nét vir die dissipels nie, maar vir alle gelowiges van alle tye. Christus se weggaan – sy Hemelvaart – hoef ons nie te ontstel nie, geliefdes, want Hy belowe dat Hy wéér na ons toe sal kom om ons na Hom toe te neem. Hy verseker gelowiges dat Hy ons nie as weeskinders agterlaat nie. Hy kom verseker wéér na ons toe. Al is Hy nie fisies meer by gelowiges nie, beteken dit nie dat Hy van ons vergeet het nie. In die Kategismus het ons bely dat Christus twee nature het – sy Godheid en sy Mensheid. Al vaar Hy na sy Mensheid na die hemel toe op, het ons die troos dat sy Godheid ons nooit sal verlaat nie. Dit is omdat God-Drie-Enig alomteenwoordig is.
Om hierdie belofte aan ons te bevestig gee Hy ‘n ander Trooster in sy plek. Hy stort sy Heilige Gees oor die kerk uit sodat Hý ewig by ons kan bly. Al is Christus nie nou meer op aarde nie, is God steeds by ons – nóú deur die Derde Persoon in die Drie-Eenheid. Vir ons om die Heilige Gees by ons te hê is nie tweede prys nie, geliefdes. Die Heilige Gees is nie minderwaardig teenoor die Vader of die Seun nie. Hy is deel van die Wese van God. Hy het gelyke gesag, mag en heerlikheid. Wanneer ons dan in die Kategismus bely dat die Heilige Gees as betroubare waarborg na ons toe gestuur is, dan bring dit vir gelowiges ‘n diepe troos.
‘n Waarborg is tog sterker as ‘n blote belofte, geliefdes. Wanneer die Heilige Gees as Waarborg vir ons gestuur word ná Christus se Hemelvaart, dan kan ons dit probeer verduidelik deur die beeld van ‘n deposito wat reeds betaal is. Net soos ek gewaarborg is dat ek die eienaar van iets sal wees nadat ek die deposito daarvoor betaal het, nét so seker kan ek wees dat ek die ewige lewe gaan besit. Die ewige lewe saam met Christus word aan my, as gelowige gewaarborg. Die Here is só ernstig oor hierdie belofte aan sy kinders dat Hy bereid is om die Heilige Gees as Waarborg vir hierdie belofte te gee. Terwyl ek geduldig wag om die ewige lewe ten volle te besit, troos die Heilige Gees my elke dag. Wanneer dit voel asof hierdie aardse lewe vir my te erg raak, herinner Hy my aan God se beloftes. Hy lei my, en rig my gedagtes op die dinge daar Bo, waar Christus aan die regterhand van God sit. Die Heilige Gees verander my visie – Hy gee aan my ‘n hemelse perspektief sodat ek regdeur my lewe kan moed hou. Hy oortuig my dat ek ‘n vaste toekoms in die hemel het. Maak nie saak watter swaarkry en moeite ek hier op aarde beleef nie – daar wag ‘n volmaakte lewe in die hemel vir my. ‘n Waarborg wat God-Drie-Enig sélf aan ons gee.
Christus se Hemelvaart waarborg selfs nóg iets aan ons, geliefdes. Wanneer Hy na die hemel toe opvaar dan gaan Hy daarheen om by die Vader in te tree. Omdat Hy die dood oorwin het, vaar Hy na die hemel toe op as ons Voorspraak by die Vader. Hy verdig gelowiges en bewys dat gelowiges se sondes nie gestraf behoort te word nie, want die prys daarvoor is rééds betaal. Die bewyse wat Hy gee is die sterkste bewyse denkbaar: sy éie bloed wat Hy aan die kruis gestort het. Dít is die rede waarom die uitverkorenes nie gestraf moet word nie, maar vrygespreek moet word. Deur sy teenwoordigheid in die hemel, is Hyself die waarborg dat gelowiges verséker daarheen sal kom.
Slot
Wanneer Jesus Christus dan vir sy dissipels – sy kerk – sê dat Hy binnekort van hulle moet weggaan, dan is sy weggaan nie ‘n negatiewe weggaan nie. Wanneer ons aards en menslik na Johannes 14 kyk, dan ís dit traumaties en dalk ‘n skok. Maar die oomblik as ons met geloof hierna kyk, dan sien ons duidelik: Sy weggaan is tot ons voordeel. Sy Hemelvaart is nie iets om oor te treur nie. Hy is daar ten goede.
Ons Skrifgedeelte en Belydenis belowe – néé wáárborg – sewe dinge aan ons:
- Ons Here, Jesus Christus, gaan net tydelik van sy kerk af weg – Hy kom binnekort terug om ons te kom haal.
- Daar is baie woonplek in sy Vader se huis – ons kan verseker wees van ‘n ewige verblyf by God.
- Gelowiges kén die pad na hierdie ewige woonplek – dit is alleen deur ‘n vaste geloof in Jesus Christus wat ons dit kan verkry.
- Christus berei ons altyd voor vir dit wat ons binnekort gaan ervaar – hou daarom sy Woord naby sodat jy kan weet hoe om die beproewings in die lewe te hanteer.
- Nie net het Christus vir ons gaan plek gereed maak in die hemel nie – Hy is ook ons Voorspraak by die Vader. Hy tree vir ons in en verdedig ons vir elke sonde wat ons doen.
- Sy Hemelvaart waarborg ons Hemelvaart. Die feit dat Hy nou in die hemel is, gee aan ons die versekering dat ons ook daarheen op pad is.
- En laastens stuur Hy ook die Heilige Gees om nou by ons te bly en in ons te werk.
Geliefdes, al het Jesus Christus na die hemel toe opgevaar, het Hy ons nie verlaat nie. Ons is nie weeskinders wat geen heenkome het nie. Ons het ‘n vaste woonplek in die hemel. Ons is séker oor ons éwige verblyfreg by God.
En selfs al is dit in die toekoms, is ons nóú ook nie alleen nie. Die Heilige Gees woon in ons. Hy troos ons en Hy lei ons. Hy werk in ons en Hy stuur ons. Hy bemoedig ons en Hy herinner ons. En Hy is géén Tweede Prys nie. Amen.