Skrifgedeelte: Genesis 22: 1 – 19
Fokusvers: Genesis 22: 8(a)
Tema: Die Here sal voorsien. Leef met geloof in 2022.
Inleiding
‘n Nuwe jaar het vir elkeen van ons aangebreek. ‘n Nuwe jaar met nuwe geleenthede. Baie van ons is opgewonde omdat hierdie jaar soos ‘n skoon bladsy voor ons uitgestrek lê. Meeste van ons kan nie wag om al ons persoonlike doelwitte en mikpunte te bereik nie. Maar elke nuwe jaar bring óók nuwe uitdagings na vore. Elkeen van ons is in ‘n mate huiwering oor die nuwe jaar omdat hierdie jaar ook baie onsekerheid inhou.
Omdat ons gelowiges is, wil ons egter hierdie jaar rég begin. En daarom luister ons vanoggend na ‘n verklaring van hoe die Here in ons lewens blý voorsien – selfs al is die toekoms onseker.
Die Here sal voorsien
Elke ding wat in die toekoms gebeur, is vir ons onbekend. Nie één van ons kan in die toekoms in kyk nie. Nie een van ons weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. Niemand van ons weet wat ons môre sal moet hanteer of sélfs wat later vandág gaan plaasvind nie. Dieselfde het vir Abraham en Isak gegeld. Van die skepping af is die toekoms onbekend, en dit sal so wees tot en met Christus se wederkoms. Net soos ons, het mense soos Abraham nie geweet wat die dag van môre sal inhou nie.
Abraham is een van die mees prominente figure van die Ou-Testament. Vanuit ons Bybelkennis sal ons onthou dat dit met Abraham is, wat God sy verbond opgerig het. God het aan hom beloof dat Hy Abraham se Vader sal wees en hom opgeroep dat Abraham sy seun moet wees (Gen. 15, 17). Verder het God aan Abraham beloof dat hy ‘n groot nageslag sal hê en daarom is dit ook nie vreemd dat Abraham se naam “die vader van alle nasies” beteken nie. Natuurlik weet ons dat hierdie betekenis van sy naam óók figuurlik was, want daar is baie gelowiges by die verbond gevoeg. Nie alle gelowiges is direkte biologiese afstammelinge van Abraham nie. Tog is die betekenis van hierdie naam ietwat ironies omdat Abraham en sy vrou, Sara, aanvanklik nie kinders kon kry nie. Dit was eers toe Abraham 100 jaar oud was, dat Isak gebore is.
In Genesis 15 lees ons hoe Abraham ongeduldig teenoor die Here se belofte geraak het. In verse 2 tot 4 van Genesis 15 hoor ons die gesprek wat tussen die Here en Abraham plaasgevind het: “Here, my God, wat kan U vir my gee? U het nié vir my ‘n nageslag gegee nie. ‘n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.” “Maar die Woord van die Here het tot Abram gekom: ‘Daardie een sal nié jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hý sal jou erfgenaam wees.’” Net sewe hoofstukke vérder gaan hierdie belofte in vervulling:- wonder bo wonder word Isak vir Abraham, as erfgenaam, gebore.
Die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het, begin met God se opdrag aan Abraham om sy seun, Isak, te gaan offer. Dieselfde God wat aan hom beloof het dat hy op ‘n baie hoë ouderdom ‘n seun sal kry, verwag nou van Abraham om hierdie einste seun van hom te gaan offer. Ons lees dat God ‘n brandoffer van Abraham verwag het. Abraham moes dus bereid wees om hierdie geliefde seun van hom met ‘n mes dood te maak en daarna heeltemal te verbrand. Dit is egter die manier waarop offers in die Ou-Testament gebring is. God vra dat sy kinders bereid sal wees om dít wat vir hulle belángrik is, vir die Here terug te gee in die vorm van ‘n offer. Die Here vra dit van sy kinders om hulle geloof te toets – om te bepaal of hulle bereid is om, dít wat vir hulle kosbaar is, aan Hóm af te staan, of het hulle dalk té verknog daaraan geraak?
Maar dit is een ding om ‘n aardse besitting, soos ‘n volmaakte skaaplam vir die Here te offer, maar iets heeltemal anders om jou eie kind te bring om geoffer te word, nie waar nie? Hoe kan die Here dit van Abraham verwag? Geliefdes, al klink dit ook hóé vreemd en selfs onbillik bly dit God se reg om dit van Abraham te vereis. Soos met alle ander gelowiges wil God bepaal of Abraham geloof eg en suiwer is. God die Vader wil bepaal of hierdie aartsvader se ingesteldheid en hart op die regte plek is. Daarom die aangryplike woorde van vers 2: “Neem jou seun Isak, jou énigste, wat jy liefhet en offer hom as brandoffer op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” Waarom sê God dat Isak Abraham se énigste seun is? Het Abraham dan nog ‘n kind by die slavin, Hagar, gehad nie? Ja, geliefdes, Abraham was óók die vader van Ismael, maar in Genesis 21 lees ons hoe Abraham, op versoek van Sara én van die Here sélf, vir Hagar en Ismael uit die gebied weggestuur – eintlik weggejaag – het (Gen. 22: 14).
Isak was dus nou Abraham se énigste oorblywende seun. En soos ons gehoor het, was Abraham baie lief vir Isak. Wat ook heeltemal te verstane is, want hy moes 100 jaar lank vir die geboorte van hierdie seun van hom en Sara wag. Hy moes op die Here blý vertrou het dat hierdie belofte van God vervul sou word. Hy moes op die Here blý wag het vir die geboorte van hierdie seun. Isak was dus besónder kosbaar vir Abraham. Hy het hom besónder liefgehad.
En tog lees ons dat Abraham gedoen het soos die Here van hom gevra het. Nadat die Here vir Abraham die opdrag gegee het om vir Isak te gaan offer, het hy die volgende oggend gewoon opgestaan en homself en Isak gereed gekry vir die lang pad na die berge van Moria toe. Op die oog af lyk dit vir ons asof Abraham nie enige twyfel in sy hart gehad het nie. Asof hy – amper soos ‘n robot – net gedoen het wat ook al die Here van hom verwag, sonder om vrae te vra. Tog kan ons aanneem dat Abraham daardie nag baie hieroor geworstel het, geliefdes. Geen mens kan koud en klinies teenoor só ‘n ingrypende opdrag wees nie.
Ons kan egter duidelik raaksien hoe Abraham se geloof die afgelope sewe hoofstukke gegroei het, geliefdes. Waar hy eers ongeduldig teenoor die Here was, en getwyfel het of die Here ooit aan sy verbondsbeloftes getrou sal wees, is Abraham nou stil voor die Here. Abraham het nou nie meer rede tot kommer en twyfel in die Here se almag nie, want Hy het dit eerstehands beleef. Die Here hét voorsien en Hy sal wéér voorsien – Abraham is oortuig daarvan. Isak ís vir hom en Sara gebore – God was getrou aan dit wat Hy beloof het. God hét aan Abraham bewys dat Hy op wél op sý tyd uitkoms gee, al vat dit baie keer langer as wat óns, mense, graag sou wou hê.
Dit was egter iets wat Isak nog moes leer, geliefdes. As seun gehoorsaam hy sy pa en vertrek hy saam met Abraham na die berge. Abraham het waarskynlik nie vir Isak gesê waarheen hulle op pad is en wat hulle gaan doen nie, maar Isak kon maklik aflei dat hulle op pad is om te gaan offer. Hy moes self die offer-hout op sy rug dra terwyl sy pa die vuur en die mes gedra het. In alle onskuld wil Isak by sy pa weet: “Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam om te offer? ”En dadelik gebruik Abraham hierdie geleentheid om een van God se eienskappe aan sy seun bekend te maak: “Die Hére sal sy eie offerlam voorsien.” Dit is die getroue Verbondsgod waarvan Abraham hier praat. As Vader van sy kinders voorsien Hy altyd, in elke situasie – daarvan kan Abraham nou in sy lewe getuig. Die God wat Abraham aan sy seun, Isak, bekendmaak, stel nooit teleur nie. “Die Hére sal voorsien” en “die Here sál voorsien” – Dít is Abraham se boodskap aan Isak.
Die vrymoedigheid wat Isak teenoor sy pa, Abraham, gehad het, is opvallend, nie waar nie? Isak kon enige iets vir sy pa vra, want hy is sy geliefde seun. Sy énigste seun. En tog is Isak doodstil wanneer sy pa hom op die offer-altaar neersit. Isak is doodstil as sy pa hom vasbind en die hout by sy voete en teenaan sy bene pak. Selfs toe Abraham die mes oplig om vir Isak te slag, is hy doodstil voor sy aardse pa. Genadiglik voorsien die Here daardie dag dat daar ‘n skaapram aan ‘n bos vasgemaak is. Die Here het voorsien dat daar ‘n ánder offer in die plek van Isak beskikbaar gestel is, want Abraham het sy grootste “geloofs-toets” geslaag. Hy was tot só ‘n mate aan die Here gehoorsaam dat hy bereid was om sy enigste seun op te offer. Tog was dit nie nodig dat Isak moes sterf nie, want die Hére het voorsien. Nie net vir Abraham en Isak nie, maar vir alle “kinders van Abraham” (Gal. 3: 7; 9, 14, 16 en 29).
Vir élke kind van God is daar ‘n Offer gebring in sy/haar plek. Jare later is die Volmaakte Lam van God in ons plek aan die kruis geoffer. Hy moes sélf sy eie vloekhout op sy rug dra (Joh. 19: 17). Jesaja profeteer oor Christus en sê dat Hy mishandel is maar dat Hy geduldig gebly het. Hy het nie een oomblik gekla nie. Soos ‘n lam na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap stil is voor sy skeerders, het Hy nie gekla nie (Jes. 53: 7).Ja, geliefdes, “oor óns oortredings is Hý verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom. Deur sý wonde het daar vir óns genesing gekom.” (Jes. 53: 5).
Daardie Vrydag op die berg Golgota offer God die Vader sy Eniggebore Seun. Al het God Hom só innig lief, is Hy bereid om dit wat vir Hom die Belangrikste is, oor te gee ter wille van sy uitverkore kinders. En Jesus Christus is bereid om te doen, wat sy Vader ook al van Hom verwag, al weet Hy nie presies wat sy kruisdood ten volle gaan behels nie. Selfs vir Hóm was die toekoms onseker – Hy het nie geweet hoe dit sal voel om deur God vervloek te word en om in Godverlatenheid te sterf nie. Hy het óók nie geweet dat sy Vader Hom weer lewend sou maak deur die krag van die Heilige Gees nie. Die dood kon Hom nie terughou nie, want sy Vader wek Hom op tot aan sy regterhand waar Hy moet heers as Ewige Koning. Waar Hy, saam met die Vader en die Gees, in beheer bly van alles en almal se lewens en omstandighede – ook van dít wat in hierdie nuwe jaar vir my wag.
Leef met geloof in 2022
Geliefdes, soos die Here vir Abraham en Isak voorsien het, net só het Hy vir elkeen van ons, wie in Hom glo, voorsien. Jesus Christus is die Ware Offerlam wat vir ons sondes en in ons plek geoffer is. Maar die Here sal ook in die toekoms voorsien. Dit is een van sy karaktereienskappe – dit is déél van Wie Hy is. Van ewigheid tot in alle ewigheid voorsien Hy vir sy kinders én vir sy kerk.
Wanneer jy opsien na 2022 en wanneer hierdie jaar soos ‘n berg voor jou lê, herinner jouself aan God se voorsiening. Abraham en Isak het nie presies geweet wat op die berg, Moria, gaan gebeur nie. Jesus Christus het ook nie presies geweet wat na sy kruisdood op die berg, Golgota, gaan gebeur nie. Maar die Here het aan hulle uitkoms gegee en Hy sál wéér uitkoms gee.
Selfs al weet ek nie wat die dag van môre inhou nie, kan ek verseker weet dat die Here wél sal voorsien. Selfs al voel ek benoud oor die onbekende toekoms, kan ek seker wees dat ek nie al een is wat so voel nie. Vóór my was daar baie gelowiges wat ook nie geweet het presies wat die toekoms inhou nie. Wanneer ek wonder of ek ooit van my chroniese siekte genees sal word, kan ek getroos wees dat die Here sál voorsien – op sý manier. Wanneer ek twyfel of my boerdery dit deur nog ‘n seisoen sal maak, kan ek onthou dat die Here elke dag vir my in die noodsaaklike sal voorsien. Wanneer ek wonder of my kinders of ouers veilig is, kan ek seker wees dat die Here vir hulle sal voorsien – selfs al is ek nie daar bý hulle nie.
Geliefdes, mag elkeen van ons hierdie jaar die vrymoedigheid ontvang om opreg en in alle onskuld met ons Vader te praat. Omdat ons onseker oor die toekoms is, kan ons in gebed na ons hemelse Vader gaan en al ons vrae en kommer met Hom deel. En mag ons, soos Abraham, mekaar herinner dat die Here wél in ons lewens sal voorsien. Is dit ons voorneme om hierdie jaar meer van die Here se voorsiening in ons lewens te getuig? Gaan ons geleenthede soek om vir ons kinders te leer dat die Hére in absolute beheer van ons lewe en ons toekoms is? Om dit te kan doen, moet ons eers sélf oortuig wees van God-Drie-Enig se voorsiening in ons lewe. In Hebreërs 11: 17 en 18 lees ons: “Omdat Abraham in God geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: ‘uit Isak sal jou nageslag gebore word’ het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek…”
Geliefdes, leef ons met hierdie geloof? Besef ons dat alles waaroor ons aangestel is aan die Here behoort? En is ons bereid om soms onsself los te maak van dit waarmee Hý ons toevertrou het?
Slot
Mag ons in 2022 met absolute vertroue op die Here staatmaak. Al is die jaar een groot onsekerheid, kan ons oor een ding seker wees en dit is dat Gód hierdie jaar sál voorsien.
Mag ons stil op sy uitkoms wag. Mag ons met geloof op die Here se uitkoms wag, geliefdes. Mag ons met volharding daarop wag, totdat Hy in ons lewens voorsien. Amen.