2 Johannes 1: 1 – 13

Skrifgedeelte: 2 Johannes 1: 1 – 13

Fokusverse: 2 Johannes 1: 4 en 5

Tema: God bou sy kerk op Waarheid en Liefde. Is jy deel daarvan?

Inleiding

Binne 100 jaar ná die geboorte van Jesus Christus skryf die apostel, Johannes, hierdie tweede brief van hom. Hy rig hierdie brief aan “die uitverkore vrou en haar kinders”, maar hierdie is nie ‘n man wat vir sy vrou en kinders skryf nie, maar eerder ‘n predikant wat vir ‘n gemeente skryf.

In die Bybel word daar dikwels na die kerk as die “Bruid van Christus” verwys en na lidmate as “kinders van God”. Die apostel, Johannes, maak gebruik van hierdie benaming wanneer hy die gemeente as “uitverkore vrou” aanspreek, en na die lidmate as “haar kinders” verwys.

God bou sy kerk op Waarheid en Liefde

Wat verder uniek van die benaming in hierdie brief is, is dat Johannes na homself as “die oudste” verwys. Dit is waarskynlik die naam wat die gelowiges in daardie tyd vir Johannes gegee het. Hy was fisies al gevorderd in sy jare, maar hy het ook oor baie wysheid beskik. Die benaming “die oudste” kan gesien word as ‘n eretitel wat die gelowiges vir die apostel, Johannes, gegee het. As hy dan homself só aan die gemeente bekendmaak, sou hulle geen twyfel gehad het oor wie die skrywer van die brief was nie.

Geliefdes, Johannes gebruik nie hierdie unieke benamings omdat hy “anders” of “hoogmoedig” wil oorkom nie. Die apostel word genoodsaak om van hierdie skryfstyl gebruik te maak, want die vroeë Christelike kerk is in daardie tyd wreed vervolg. Keiser Domitianus was in daardie jare aan bewind in Klein-Asië: – ‘n wrede man wat alle Christene wou doodmaak indien hulle nie hom wou aanbid nie. Hy het homself as “Here en God” verklaar, en indien iemand hom nie só wou aanspreek nie, het hy hulle vervolg. Hy was só fanaties dat hy selfs alle dokumentasie deurgegaan het om te bepaal wie sy gesag verwerp. Daarom skryf Johannes in geheime taal. Indien hierdie brief in die verkeerde sou hande beland, sou Johannes én die gemeente vernietig word.

Maar wat skryf Johannes in sy brief? Wat wil hierdie bejaarde apostel vir sy geliefde gemeente sê? Regdeur hierdie brief fokus Johannes op die begrippe “waarheid” en “liefde”. Hy begin sy brief deur die gemeente te verseker dat hy haar innig liefhet. Hy het ook die gemeente se kinders (lidmate) innig lief. Wat meer is, Johannes verklaar nie net sý liefde aan die gemeente nie, hy beklemtoon ook die waarheid. Hy sê dat hy álmal in die gemeente wat die waarheid leer ken het, opreg liefhet.

Waarheid én liefde. Maar wát is waarheid? En wat is liefde se wáre betekenis? Deesdae ontken baie mense dat daar iets soos “waarheid” is. Die moderne mens sê die waarheid is relatief. Wat vir jóú ‘n waarheid is, is nie noodwendig vir die volgende persoon waarheid nie. Elkeen kan die waarheid ánders interpreteer en ‘n mens moet iemand anders se beskouing van die waarheid respekteer. Dit maak dan nie saak wanneer iemand meen dat iets, wat algemeen as ‘n waarheid aanvaar word, dit as ‘n leuen afmaak nie. Wanneer iemand bv. meen dat verlede week se brand by die Parlement nie opsetlik gestig is nie, maar eerder deur ‘n kortsluiting veroorsaak is, is dit vir hom/haar die waarheid. En ons moet dit respekteer, of dit wérklik só is of nie. Wanneer ons só redeneer kan ons regstelsel nie effektief funksioneer nie.

En wanneer ons dit op ons geloof van toepassing maak, dan kry ons dieselfde resultate. Ek kan nou sélf bepaal wat in die Bybel vir my die waarheid is. As ek bv. nie wil glo dat Christus uit ‘n maagd gebore is nie, dan moet ander my siening respekteer. As ek meen dat die iets, wat ‘n hele paar plekke deur die Here verbied word, nié sonde is nie, dan is dit mý waarheid. Ander mense en selfs God se Woord moet by mý interpretasie van die waarheid aanpas.

vandag se tyd is daar baie kerke wat die begrip “waarheid” oorbeklemtoon. Om enige iets in die kerk te oorbeklemtoon, kan gevaarlik wees – verál dan mens se éie opinie oor iets. Wanneer hierdie kerke hul interpretasie van die waarheid oorbeklemtoon, dan kom dit baie keer liefdeloos vir buitestaanders oor. Dis gevaarlik om te preek dat iets die waarheid is, sonder dat ‘n mens jou redenasie op die inhoud van die Skrif kan staaf. Om net te sê dat iets die waarheid is, sonder om moeite te doen om jouself te verduidelik, is liefdelose optrede.

Maar net soos mens die waarheid kan oorbeklemtoon, kan ‘n mens ook die liefde oorbeklemtoon. Wanneer ‘n mens op ‘n ongesonde manier oor die liefde dink, dan sal ons hoor hoe mense redeneer: “maak nie saak of hy/sy nié die Here ken nie, solank ons mekaar liefhet, is alles reg.” “Maak nie saak as hy/sy glo dat ‘n mens iets/iemand anders as Jesus Christus nodig het om verlos te word nie, solank ons mekaar liefhet.” “Die liefde oorwin alles, dit sal ook hierdie verdraaide siening – daardie voorspoedsteologie – of hierdie dwaalleer oorwin.”

Geliefdes, Johannes maak dit duidelik dat daar ‘n fyn balans tussen “liefde en waarheid” moet wees. En dan baie beslis nie óns siening van liefde en waarheid nie, maar dit wat die Hére daarmee bedoel. In ons fokusvers hoor ons nie net van gelowiges wat in ooreenstemming met die waarheid lewe nie, ons hoor ook van hulle liefde. Hierdie apostel roep die gemeente op om nie net die waarheid te wandel nie, maar ook in die liefde te lewe. In vers 3 verklaar hy aan hierdie gemeente dat die Here hulle almal sal seën wat in die waarheid én in die liefde is. Die twee is dus onlosmaaklik aan mekaar verbind, geliefdes.

Dit is egter nie nét Johannes wat dit aan ons leer nie, maar óók ons Here, Jesus Christus sélf. In Johannes 14 sê maak Hy homself as die Weg en die Waarheid en die Lewe bekend. En in Johannes 15 word die Heilige Gees die Gees van die Waarheid genoem. In Johannes 17 leer ons dat God se Woord die Waarheid is. Soos ons netnou gesing het, is dit Psalm 43 wens is dat God sy lig en sy Waarheid sal stuur dat dit die gelowige lei tot in God se teenwoordigheid. En in Psalm 86 hoor ons die bede: “Leer my U pad, Here, ek wil wandel in U waarheid. Dit is dus duidelik dat Gód die waarheid bepaal, en nie óns, mense, nie. Elkeen kan nié sy eie interpretasie van waarheid hê nie, want God-Drie-Enig oor die Waarheid sê, staan vas. En hierdie Waarheid geld vir álle mense – óók vir die ongelowiges. Maar van die begin van die Bybel af leer die Here óók sy kinders wat liefde is. Liefde is gehoorsaamheid teenoor Hom. Liefde is dankbaarheid vir dit wat God namens ons doen. Liefde is om te doen wat die Here van ons verwag, sonder dat dit vir ons moeite is of ons daarna opsien.

Dit is waarom Johannes ons weer aan die liefdesgebod herinner. Ware liefde is om die Here terug lief te hê wanneer ons besef hoe lief God-Drie-Enig ons wérklik het. Ja, God bewys sy groot liefde vir ons juis hierin dat Jesus Christus vir ons gesterf het toe ons sondaars was (Rom. 5: 8). “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sou gaan nie, maar wel die ewige lewe sal hê” (Joh. 3: 16).  Geliefdes, sien u die fyn balans tussen waarheid en liefde by ons Here, Jesus Christus se verlossing raak? God het nie die hele wêreld lief nie, maar slégs hulle wat in Jesus Christus glo. Dit is nie die hele wêreld wat die ewige lewe ontvang nie, maar slegs húlle wat vir Jesus Christus lief het, en wat alleen aan Hóm vashou. Waarheid én liefde.

Is jy deel daarvan?

“Waarheid” en “Liefde” is die twee pilare waarop Christus sy kerk bou, geliefdes. Altwee is nodig vir die kerk om gesond te funksioneer. Indien die kerk nét op waarheid of nét op liefde gebou word, dan sal die gebou nie regop bly nie. En indien daar minder waarheid as liefde in ‘n gemeente is, of minder liefde as waarheid, dan staan die gebou skeef op hierdie twee pilare.

In die Here se alwysheid maak Hy gebruik van ménse om toe te sien dat sy gemeente stéwig op hierdie pilare staan. Die Here roep vandág nog ouderlinge en diakens op om afsonderlik op sy “Waarheid” en “Liefde” te fokus. Dit word van ouderlinge verwag om toesig te hou – oor die erediens, maar óók oor die gemeente. ‘n Ouderling moet homself inspan om te bepaal of die Waarheid gepreek word en of sy wykslede in die waarheid lewe. Om dit reg te kan doen, moet alle ouderlinge van die gemeente wéét wat die waarheid is. Julle moet die Here se Woord bestudeer en elke dag groei in jul verhouding met God. Nie net die ouderlinge nie, maar álle gelowiges moet elke preek – elke geloofsgesprek – elke Bybelstudie toets aan die Here se Woord om te bepaal of die Waarheid verkondig word. En dit word van diakens verwag om toe te sien dat die gemeente in wérklike onderlinge liefde met mekaar saam leef. Ons kan so maklik sê alles gaan goed by die huis, en dan steeds die predikant of kerkraad daarvan beskuldig dat hulle ons nie werklik ondersteun nie. Tree ons nie dán liefdeloos op teenoor hulle wat ons in alle liefde wil bedien nie? Geliefdes, mag ons die vrymoedigheid ontvang om vir ons diaken of predikant te vertél as ons deur ‘n moeilike tyd gaan. Diakens word spesifiek geroep om die liefde tussen lidmate in die gemeente aan te blaas. Om lidmate aan te moedig om deel te neem aan die gemeente se aktiwiteite. Diakens word opgeroep om toe te sien dat die gemeente ‘n eenheid vorm en dat niemand uitgesluit voel nie. Diakens word ook geroep om soms tydens huisbesoek uit die Bybel te kan lees en die lidmate in sy/haar wyk te troos met die Evangelie.

Maar wat bedoel die apostel Johannes wanneer hy sê dat daar mense is wat ons niks mee te doen moet hê nie? Wanneer hy gelowiges beveel om sekere mense nie eers te groet nie? Is dit nie liefdelose optrede nie? Nee, glad nie, geliefdes, want hy praat hier van mense wat aktief die Here se Woord verdraai. Hy praat hier van mense wat die Here se kinders probeer mislei met hul éie interpretasie van wat waarheid en liefde is. Van mense wat op só ‘n manier praat – en selfs préék – dat hulle persoonlik voordeel trek uit dit wat hulle sê. Dit is tog nie ware liefde vir jou medegelowige nie, maar ‘n leuen. Hulle valsheid en self-beheptheid getuig nie nét daarvan dat hulle teen hul medemens is nie, maar óók teen Jesus Christus (vers 9). Wanneer ons dan opgeroep word om nie onsself met hierdie mense te vereenselwig nie, dan getuig dit juis daarvan dat ons die Here se waarheid én liefde in ons het.

Slot

Geliefdes, moet dus nou onsself afvra of ons gemeente stabiel op die hierdie twee pilare staan? Is daar by ons ‘n fyn balans tussen Waarheid en Liefde? Of óórbeklemtoon of ónderbeklemtoon ons dalk een van die twee? Glo ons dat álles wat God in sy Woord vir ons sê die Waarheid is, en verdedig ons die Waarheid? Kén ons die Waarheid so goed dat dit vir ons maklik is om ‘n verdraaide siening of ‘n leuen te identifiseer? En is die liefde in ons gemeente dié soort liefde wat na ander mense oorspoel? Besef ek, as individu, dat alles nié om my draai nie, en dat ek ‘n doel in die gemeente het? Dat ek hier is om ánder met my gawes te kom dien?

Mag elkeen van ons ywerig meewerk om toe te sien dat daar ‘n harmonie tussen waarheid en liefde in hierdie gemeente van ons is. Wanneer dit nie vir jou maklik kom nie, wanneer jy dink dat jy nie die gawes hiervoor het nie, mag jy bereid wees om dit aan te leer.

Mag ons, as kerkraad, maar die héle gemeente, saamwerk om die régte siening van liefde en waarheid in ons gemeente te kweek. Nie nét van liefde nie, nie nét van waarheid nie. Maar van liefde én waarheid. Amen.