Skrifgedeelte: Psalm 104: 1 – 18
Fokusvers: Psalm 104: 1
Tema: Wanneer die Skepping God se grootheid en heerlikheid aantoon, wil ons Hom loof!
Inleiding
Dié van ons wat gister se praatjie oor die God en die Wetenskap bygewoon het, het maar net weer onder die indruk van God se grootheid gekom. Wanneer ons na sessies soos dié van gister luister, dan kan ons nie anders as om die bestaan van God te erken nie. Omdat ons gelowiges is, laat die wetenskap nie ons in God twyfel nie, maar dit bevestig juis dat Hy wél daar is en oor alles beheer het.
Die skepping toon God se grootheid en heerlikheid aan
En dit is presies waarop die skrywer van Psalm 104 óók fokus. Ons weet nie wie die skrywer of skrywers van hierdie Psalm was nie, maar dit is definitief deur ‘n gelowige geskryf. Dit is deur iemand geskryf wat Gód erken en alle mag en gesag en heerlikheid teenoor die Skepping aan Hóm toeskryf. Ons noem dit, want daar was in daardie selfde tyd ook ánder, soortgelyke, “Skeppings-liedere” was wat nié deur gelowiges geskryf is nie. Hierdie liedere raak ook van dieselfde temas as Psalm 104 aan. Hulle sing bv. ook van iemand wat vir die skepsels sorg en hoe die skepping van iemand afhanklik is (vers 10; 27-30); hierdie liedere maak ook onderskeid tussen die diere van die dag en dié van die nag (verse 20-30). Maar wat hierdie “ander skeppings-liedere” anders maak, is dat hulle nie alle gesag en sorg aan die Verbondsgod (JHWH) toeskryf nie, maar aan die Son-god. En dit is waarom ons dan meer verskille as ooreenkomste tussen hierdie liedere en Psalm 104 sal kry. Die skrywers van die ander liedere fokus op die skepsel en die skepping waar die skrywer van Psalm 104 eerder op die Skepper fokus. Vir die digter van Psalm 104 is daar geen twyfel aan waar lewe en oorvloed vandaan kom nie, waar die ander skeppings-liedere die geboorte van mens en dier, en alle lewe op aarde, as ‘n misterie beskou.
Die digter van Psalm 104 besef dat dit God-Drie-Enig is wat lewe op aarde geskep het. Niemand anders behalwe die Ware God kon só iets regkry nie. Hy is die Enigste Skepper en Hy het alles wat bestaan, laat bestaan. Uit Hom kom álle lewe omdat Hy van ewigheid af daar is. En nie net dit wat lewe nie, maar álles wat ons kan sien en hoor en ruik. Dit is Hý wat die lig van die duisternis geskei het – die water van die droë grond geskei het. Hy is die Enigste Ware God – dit wat die mens rondom hom/haar sien is sý Handewerk. En dit is presies wat die skrywer van Psalm 104 wil uitwys, geliefdes. Hierdie Psalm neem die struktuur van Genesis 1 aan. Hierdie Skeppingspsalm is in die volgorde van die ses skeppingsdae neergepen.
In vers 1 en 2 lees ons dat die Skepper met glans en lig omhul/beklee is wat op die Eerste Skeppingsdag dui. In vers 2 tot 4 lees ons hoe die Here die hemel soos ‘n tent oopgespan het en hoe Hy die wolke hoog bo in die hemel geplaas het – die Tweede Skeppingsdag. In Psalm 104: 5 – 9 lees ons hoe die water oor die aarde vir die Almagtige se Stem gevlug het en hoe water en droë land van mekaar geskei is – die Derde Skeppingsdag. In verse 19 tot 23 lees ons hoe die Here die son en die maan en die sterre gemaak het om in die dag en nag vir sy skepping lig te gee – die Vierde Skeppingsdag. In Psalm 104: 25 en 26 lees ons hoe die see lewe en krioel van ontelbare diere – die Vyfde Skeppingsdag. En laastens lees ons in verse 21 tot aan die einde van die Psalm van die skepping van die diere op aarde – en verál die mens – die Sesde Skeppingsdag.
In die gedeelte wat ons vanoggend saamgelees het, fokus die digter op dít wat die Here tydens die eerste drie skeppingsdae gemaak het. Die lig en die hemel en die water. Die digter van Psalm 104 kan nie sy verwondering teenoor die Here terughou nie! Hy begin – tereg – by die Sképper en nie by die skepping nie. Reeds aan die begin van hierdie Loflied oor die Skepping maak die digter God as die Koning van die skepping bekend: “Here, my God, U is baie groot. U is beklee met koninklike luister.” Of, soos ons in ‘n ander vertaling lees: “Met majesteit en heerlikheid is U beklee” (’53 Vertaling) “U is met luister en glans beklee” (2020 Vertaling).
Nou wat beteken dit om met “luister en glans” beklee te wees? Kinders, dit beteken dat die Here so groot is dat álmal oor die héle aarde Hom duidelik kan raaksien. Hy is helderder as die son. Helderder as die helderste ster wat in die aand skitter. Ons kan nie anders as om die Here raak te sien nie. Heerlikheid en glorie is rondom Hom – dit straal uit Hom uit. In ons Taal het ons twee betekenisse vir die woord, “luister”. Die een is om na jou ouers te luister as hulle met jou praat, en die ander een gebruik ons wanneer iets blink of skitter.
“Here, my God, U is baie groot. U is met luister en glans beklee.” Ons hoor so baie keer in die Bybel dat die skrywers die Here se eienskappe aan Hom noem wanneer hulle aan Hom eer betoon – ons hoor dit verál in die Psalms. Wanneer die Here geloof en geprys word, klink dit baie keer asof die skrywers die Here herinner aan Wie Hy is. Waarom doen hulle dit? Die Here weet mos Wie Hy is en oor watter mag en liefde en goedheid Hy beskik? Die skrywers doen dit nie om die Hére te herinner aan wie Hy is nie, maar om hulself en die mense rondom hulle te herinner wie die Here is. Wanneer ons God eer en loof in ons gebede of met liedere dan doen ons dit om weer van sy almag bewus te word. Ons doen dit om weer te besef hoe lief Hy ons het. Of – soos hier in Psalm 104 – om weer die Here se grootheid en betrokkenheid in die skepping te besef.
Die skrywer van Psalm 104 beskryf die Here op só ‘n manier dat hy homself herinner dat almal veronderstel is om van God-Drie-Enig te weet. Wanneer ‘n mens na die skepping kyk – wanneer mens in die natuur is – dan sal álle mense besef dat hulle die Hére moet respekteer en dat hulle Hóm moet eer. Die Skepping wys vir ons dat dit alleen uit Hóm is wat die heerlikheid uitstraal. Dit is alleen Hý wat groot is – groter as sy Skepping. Wanneer ‘n mens rustig iewers in die natuur sit en fyn oplet, dan sal ‘n mens die grootheid van God besef. Wanneer ‘n mens op die skepping ingestel is, dan sal ‘n mens nie anders kán as om die almag van God te erken nie. Niemand ánders kan só ‘n perfekte harmonie daarstel nie. Niemand ánders kan sorg dat elke seisoen op sy tyd kom en gaan nie. Niemand ánders kan die wolke en die reën stuur nie – áltyd op die régte tyd. Dit is alleen die Hére wat alle dinge laat kon bestaan het, en dit is alleen die Hére wat alles nog élke dag onderhou.
Geliefdes, ons God is die Enigste Here, daar bestaan nie énige ander gode buiten Hom nie (vgl. o.a. Deut. 32: 12, 39; Jes. 45: 5, 6 en 22; Hand. 4: 14). Niemand ánders, behalwe die Vader en die Seun en die Heilige Gees, was by die Skepping van die wêreld teenwoordig nie. Niemand ánders kan die heelal se kragte bestuur nie – alléén die Here doen dit. Hy is stééds élke sekonde by sy skepping betrokke. Hy weet van alles. Hy bepaal alles. Hy stuur alles. Hy regeer oor alles. Wanneer ons erken dat God oor alles regeer, dan doen Hy dit spesifiek deur sy Seun, Jesus Christus. God het ook deur sy Seun alles geskep. Kolossense 1: 15 – 17 maak dit só duidelik: “Want deur Hom (Jesus Christus) het God álles geskep: alles in die hemel en p aarde, die sigbare én die onsigbare dinge – of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. Voor álles was Hý al daar, en deur Hóm bly alles in stand.” Die apostel, Johannes, sê dat Jesus Christus ook God se Woord genoem word. “In die begin was die Woord en die Woord was by God en die Woord was sélf God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sónder Hom het selfs nie één ding wat bestaan, ontstaan nie” (Joh. 1: 1 – 5). Dit is waarom God in die begin net ‘n Woord kon sê het, en dit was daar. Hy skep deur sy Seun en Hy gee ook alle gesag oor die skepping aan Hom.
Dit was egter later nodig vir Jesus Christus om Mens te word, want die mens het nie nét die skepping verniel nie, maar ook God en sy naaste gehaat. Alle mense het in sonde geval, maar daar is sékere mense wat die Vader wil red. Daar is ‘n volk waarmee Hy ‘n verbond sluit – daar is ‘n handjie vol mense wie Hy uitverkies het en wie Hy opreg liefhet. En dit is ter wille van hierdie mense dat Jesus Christus Mens word en selfs later sterf. Met sy bloed aan die kruis betaal Hy vir die sondes wat God se uitverkore kinders gedoen het. Deur die gawe van geloof bind Hy gelowiges aan Hom vas. Kinders van God deel nou in alles waarin Jesus Christus deel. In sy swaarkry en lyding, maar óók in sy oorwinning.
Wanneer Christus uit die aarde (uit dood) opstaan en na die wolke (na die hemel) opvaar, dan geld sy opstanding en ewige lewe ook vir óns wie in Hom glo. Ons hou nie op bestaan wanneer ons lewe op aarde klaar is nie. Ons dooie liggame verander ook nie in ‘n dier of ‘n plant soos baie natuur-aanbidders glo nie. Wanneer ‘n gelowige se liggaam hier op aarde sterf, dan leef sy/haar siel stééds in die hemel. En daar is ‘n belofte wat die Here vir ons gee: Wanneer Christus alles kom herskep, dan sal ons siele en ons liggame weer met mekaar verenig word.
Ons wil die Here loof
Wanneer ons wérklik die implikasie van hierdie grootheid van God besef, sal ons nie anders kán as om God te loof en te prys nie. Besef en erken ons nog die Here se almag in ons lewens, of het ons dalk te gewoond aan Hom geraak? Is ons verwonderd as ons so in die natuur tyd spandeer, of sien ons nie meer die Here se Hand so duidelik raak nie? Geliefdes, dit is tyd dat ons weer die eer aan God gee wat Hom toekom.
Toe God die waters tydens die skepping, aangespreek het, het hulle voor sy stem gevlug (vers 7). Die Almagtige het vir hulle ‘n grens gestel waaroor die water nie weer mag spoel nie (vers 9 en Gen. 9: 14 -17). Dit is die Hére wat fonteine laat ontspring en strome in vloed laat gaan (vers 10 en 11). Hy noem net ‘n Woord, dit is net in sy Gedagte, en dan stroom daar skielik duisende liters lewende water – ons het dit maar onlangs hier in ons omgewing beleef. En die Hére, alleen, het mag oor hierdie water wat geen mens of masjien kan keer nie. Dit is alleen die Skepper wat reën gee – wat die wolke saamroep sodat dit lewe vir al wat dors is kan gee (vers 12 en 13). Dit is die Hére wat sorg vir al die voëls in die mooi bome, wat gras laat uitspruit sodat mens en dier versadig kan word (vers 14 en 15). Dit is alleen die Hére wat vir die kroon van sy skepping sorg en selfs vir die mens méér gee as wat hy/sy nodig het: wyn om jou hart bly te maak, olie om jou gesig te versorg, goeie kos om vir die mens weer nuwe krag te gee.
Slot
Geliefdes, mag ons die Here se grootheid en sy heerlikheid élke dag erken. Mag ons sy Skepping opnuut waardeer en dit geniet.
Kom ons soek aktief na dinge in die natuur waaroor ons verstom staan. Kom ons sien die Hand van die Here in elke klein en groot verskynsel raak. Want dit waaroor ons in die skepping verwonder staan, kom alles van die Hére af. Hy het alles deur sy Seun geskep. Dit is ‘n seën as ‘n mens die natuur waardeer en dit is belangrik dat ons die skepping geniet. Maar dis baie belángriker dat ons ons in die Skepper verheug.
Kom ons gee daarom alle erkenning aan Hóm wat met luister en glans beklee is. Kom ons loof Gód met ons hele menswees – met alles wat ons het – oor sy wonderlike skepping én óók oor sy beloofde herskepping. Amen.