Jesaja 30: 8 – 18

Skrifgedeelte: Jesaja 30: 8 – 18

Fokusvers: Jesaja 30: 15

Tema: God red dié wat van hulle sondes bekeer. Wees stil en vertrou op Hom.

Inleiding

Jesaja 30 val onder die eerste gedeelte van die boek, Jesaja. Ons hoor minder preke oor hierdie eerste gedeelte, en daarom dink baie gelowiges dat die héle boek in die tyd van die Babiloniese Ballingskap óf daarná geskryf is. Maar dit wat ons vandag gelees het, speel vóór die Babiloniese Ballingskap af. Voordat die tempel verwoes is – voor Kores koning geword het.

God red dié wat van hulle sondes bekeer

Die profeet, Jesaja, woon nog in Jerusalem. Die volk, Israel, word steeds deur ‘n afstammeling van Dawid regeer (Jes. 11). Alles is nog redelik in plek, maar tóg begin die krake te wys. Dít wat al jare lank deur die Here geprofeteer word, is nou besig om plaas te vind. Die Here se geliefde volk is, wat getalle aanbetref, by vérre in die minderheid. Ons moet onthou dat die Twaalf Stamme Ryk in twee geskeur het. Israel is nou deel van die Tien Stamme Ryk en Juda deel van die Twee Stamme Ryk.

Die meeste van die oorspronklike volk se lede is rééds in Ballingskap – die Assiriese Ballingskap. En nou staar die volk, Juda, dieselfde gevaar in die gesig. Want ook húlle het afgedwaal. Ook húlle het buite God se wil begin optree. Die Here verwag van sy kinders om alléén op Hóm te vertrou – om alléén op Hóm staat te maak – maar nou doen hulle net mooi die teenoorgestelde. Net soos die gelowiges van Abraham se tyd, kom húlle nie hulle deel van God se verbond na nie. Hulle stel nie ál hulle vertroue in die Almagtige nie. Hulle is nie totaal en al van Hóm afhanklik nie.

Want in die eerste paar verse van Jesaja 30 is dit duidelik dat die volk, Juda, hulle hulp by ander ménse soek en nié by God nie. Juis omdat hulle so min mense was, het hulle besef dat hulle hulp nodig het. Hierdie paar gelowiges het besef dat hulle nie ‘n kans teen die wrede Assiriërs staan nie, en daarom soek hulle dan hulp by die inwoners van Egipte. Die Assiriërs was uiters militaristies en ook trots daarop. Soos die Babiloniërs, het die Assiriërs ‘n verskeidenheid afgode aanbid wat in ‘n hiërargie geplaas is. Daar was ook baie toorkuns en heksery onder die Assiriërs teenwoordig. 

En dít is die rede waarom die volk, Juda, hulp by ‘n groter volk soek, geliefdes. Hulle hoor nou dat die Ballingskap ook vir húlle wag, en daarom besef hulle dat hulle dringend hulp nodig het. In daardie dae was dit algemeen dat die kleiner, swakker, volk hulp en bystand van ‘n groter, sterker, volk verlang. Hierdie koalisies was vir beide die volke voordelig, want nie nét is hulle getalle nou meer nie, maar hulle invloed is ook sterker. Al was van hierdie volke min in getal het hulle weer konneksies en invloed by ánder volke gehad. Maar dit is juis híér waar die God se kinders die fout maak. Want al doen die res van die samelewing dit só beteken dit nie dat dit rég is nie, geliefdes. Net omdat die meerderheid mense met iets besig is, maak dit nie hul optrede aanvaarbaar nie. Kinders van God behoort eerder te doen wat Gód van hulle verwag en nie dít wat die breë stroom van die samelewing verwag nie. Gelowiges word altyd geroep om ánders as die wêreld te wees. Om altyd meer gehoorsaam aan Gód te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en 20).

In Jesaja 30: 1 lees ons die Here se woorde waar Hy sê: “Ellende wag vir die rebelse mense wat planne uitvoer wat nie van My af kom nie, sê die Here. Dié wat verdrae sluit met mense wat nie volgens My wil is nie en só sonde op sonde opstapel.” En dit is juis hiér waar God se weerlose volk ‘n reuse fout maak, geliefdes. Sonder om die Here in ag te neem, gaan soek hierdie mense hulp by Egipte (vers 2). Hulle gaan soek steun by die mag van die Farao, maar hulle sal teleurgestel word, sê die Here (vers 3). Want hierdie beskerming sal sy kinders niks baat nie, sê Hy in vers 4.

Hierdie volk van die Here ag dit só belangrik om met ander mense ‘n ooreenkoms aan te gaan, en dít is waarteen die Here dit het. Hulle verkies die geselskap en bystand van ongelowige mense bó die geselskap van hulle éie liefdevolle Vader. Die volk, Juda, het van hulle verbond met die Here vergeet. Hierdie klein groepie mense het vergeet dat hulle rééds in ‘n ooreenkoms staan. Hulle staan in ‘n ooreenkoms met die Almagtige. In sy liefde het die Vader ‘n verbond met húlle gesluit. Hý het die inisiatief geneem, want Hy het gesien hoe nodig sy kinders Hom het. Maar nou verwerp hierdie mense die Here se genade en draai hulle na Egipte toe vir hulp, al was dit die Hére wat aan hulle beloof het dat Hy hul liefdevolle Vader sal wees én sal bly.

Regdeur die boek verwys Jesaja na God die Vader as “die Heilige van Israel”. Hy word die “Heilige van Israel” genoem sodat die gelowiges kan besef dat God totaal en al anders as die mens is. Hy is letterlik en figuurlik bó die mens verhef – totaal heilig, onbegryplik en almagtig. Hy eis alle getrouheid en aanbidding van sy volk, en indien hulle aan Hom ontrou is, sal daar geweldige konsekwensies wees. Maar Hy is ook die Heilige van Israel. Hiermee herinner Jesaja die volk dat God hulle persóónlike God is. Hulle staan in ‘n verhouding met Hom en Hy sal hulle nooit teleurstel nie. Hy sal nooit verander nie. Hy blý hulle liefdevolle Vader. Hy blý besorgd oor hierdie volk, selfs al stel hulle Hom teleur, maar dan moet hulle oor hulle sonde berou hê

Jesaja word as profeet geroep om juis dít vir die volk te gaan sê, geliefdes. En daarom gaan hy en herinner die volk aan Wie God is en wat Hy van sy kinders verwag. Die volk, Juda, was so vreesbevange vir die Assiriese Ballingskap dat hulle alle perspektief verloor het. Waarskynlik het hulle ook die Here kwalik geneem, soos wat baie mense doen wat in skok is. Vir die profete van die Here sê hulle: “Gee pad voor ons, moenie voor ons kom staan nie; laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn.” Hoe skokkend is hierdie woorde nie? Hierdie mense gaan soek raad en advies van wêreldse “sieners” wat maar net hulle eie woorde en insig kan gebruik omdat hulle nie die gawe van die Gees ontvang het nie.

En dan wil die volk, Juda, nog vir hierdie heidense sieners voorskryf wat hulle moet sien: “Hulle sê vir die sieners: ‘moenie gesigte sien nie! Moenie gesigte sien oor wat ons moet doen nie, vlei ons liewer, sien liewer dinge wat ons mislei.’” Ongelukkig kry ons vandag nog hierdie selfde neiging van mense wat net gevlei wil word, geliefdes. Vandag is daar so baie mense wat hulle hulp en hulle toevlug neem na predikante en pastore wat net voorspoed en rykdom en sukses preek. En hulle vermy vir God wat gehoorsaamheid en bekering van hulle verwag. Mense wat só redeneer ken nie die Ware God nie, en hulle verstaan ook nie sy genade nie. Want wat belowe die Here daar in ons fokusvers vir sy geliefde volk? Vir u en ek wat sy kinders is? “As julle julle bekeer en tot rus kom, dan sál julle gered word.” Geliefdes, die Here se oordeel oor ónbekeerde mense is groot en skrikwekkend, maar net só groot is sy genade en ontferming oor dié wat hulle wél bekeer. En dit is juis hierin wat ons die Here se groot liefde vir sy kinders raaksien. Die oomblik as ‘n mens wérklik spyt kry oor jou sonde, dan wil die Here jou in sy genade aanneem – ons sal dit netnou ook in die Nagmaalsformulier hoor. ‘n Ander vertaling van vers 18 druk dit baie sterk uit en sê: “En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees.” Wanneer die Heilige Gees sondebesef en bekering in ‘n mens bewerk, dan ontferm die Here Hom oor ‘n mens – élke keer (Jes. 54: 8; Rom. 2: 4).

En die enigste rede waarom God teenoor sy kinders hierdie genade wil bewys, is te danke aan Iemand waarop die volk Juda nog gewag het – Iemand wat rééds hier was vóór ons geboorte. Jesus Christus kom dra die straf op die sonde van ál God se kinders. Hy word Mens en betaal vir Juda se kleingeloof, wantrou en ontkenning teenoor God. Jesus Christus betaal ook vir al die kere wat óns verkies om eerder deur mense gevlei te word as om na die Waarheid van die Evangelie te luister. Maar dan moet ons, van óns kant af, moeite doen om met ons sondes te bréék, geliefdes. Ons kan nie áánhou sonde doen en verwag dat die Here ons sal seën nie. God eis bekering en ware berou van élkeen van sy kinders.

Wanneer ons die opofferende liefde van ons Here, Jesus Christus, verstaan, dan sal Jesaja 30 vir ons van waarde wees. Jesus Christus het in ons plek die vólle oordeel van God deurgemaak. Die Heilige van Israel trek nie sy straf terug nie, geliefdes. Omdat Hy regverdig is, wórd die sonde gestraf. Ons sonde word nie onder die mat in gevee of iewers weggesteek sodat God daarvan vergeet nie. Élke sonde wat ons doen word gestraf, maar Jesus Christus word vir daardie sonde gestraf – dít is die Goeie Nuus – dít is die genade!

Wanneer jy netnou aan die Nagmaalstafel kom aansit, dink aan jou Verlosser, Jesus Christus en aan elke sonde van jou waarvoor Hý moes betaal. Sy bloed moes vloei, Hy moes sterf, ter wille van óns ontrouheid. Maar dink óók aan sy oorwinning oor die dood. Omdat Hy totaal ánders as ons is – omdat Hy Almagtig is – kon Hy, alléén, die dood oorwin. Die Nagmaal is dus ‘n geleentheid om ons nietigheid voor ons Verlosser te besef, maar die Nagmaal is óók ‘n oorwinningsfees vir diegene wat wérklik berou het oor hulle sonde.

Wees stil en vertrou op die Here

Verder gee elke Nagmaalviering betekenis aan ons geloofslewe. Die Nagmaal aktiveer ons om opnuut ‘n verándering in ons lewe te maak. Mag vandag se Nagmaal ons herinner aan ons Verbondsgod se opdrag in Jesaja 30: 15: “As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en in vertroue hê.” 

Geliefdes, ons krag lê nie in ander mense nie, maar in die Enigste Ware God. Ons krag lê nie in ooreenkomste met dié wat béter en gróter en stérker as ons is nie, want ons staan reeds in ‘n verhouding met die Beste, die Grootste, die Sterkste. Ons krag lê in stil voor God te wees, en in Hom te vertrou. Ons Here, Jesus Christus, het reeds die dood oorwin. Hy het reeds die mag van die sonde gesmoor. Te danke aan Hom spreek God ons van ál ons sondes vry. Te danke aan Hom kan ons met volkome vrymoedigheid voor God lewe.  

Slot

So kom ons bekeer van die sondes waarin ons nog vasgevang is, en kom ons kom tot inkeer. Kom ons breek met dit waarvoor ons só lief is, maar wat buite God se wil is. En kom ons vertrou die Here wanneer Hy sê dat al ons oordeel reeds deur sy Seun, Jesus Christus, gedra is.

Die Here plaas ons soms in afsondering en geestelike beproewing – nie om ons vir ons sonde te straf nie – maar om ons geloof te toets en om ons geloof te suiwer. Wag in stilte voor die Here, selfs al is die wêreld rumoerig voor God. Hy sál uitkoms bring, want Hy het rééds verlossing gebring. Vertrou, met ‘n vaste geloof, op Hóm. Amen.