Skrifgedeelte: Efesiërs 1: 3 – 14
Fokusgedeelte: Efesiërs 1: 11
Heidelbergse Kategismus Sondag 21 (V&A 54 en 56)
Tema: Dit is in God se raadsplan dat ek deel van híérdie gemeente is. Hoe lyk my betrokkenheid?
Inleiding
In vandag se tyd is daar baie mense wat vrae het oor die plek van die kerk in die samelewing. Is die kerk wérklik nog belangrik? Het die gemeente nog ‘n doel in die gemeenskap? Is dit ooit nog die moeitewerd om fisies kerk toe te gaan op ‘n Sondag?
Mense vra hierdie tipe vrae weens die omstandighede wat so geweldig verander het. Met die COVID-19 pandemie het die meeste gemeentes hul preke elektronies begin uitsaai en sodoende is meer mense bereik, maar ánder het bloot gemaklik begin raak. Dit is tog baie geriefliker om in jou eie huis te sit en kyk na die predikant of selfs die beeld af te skakel as jy nie van sy gesig hou nie. Hierdie is dus geldige vrae wat gelowiges vra: het dit nog sin om fisies kerk toe te gaan op ‘n Sondag?
Dit is in God se raadsplan dat ek deel van híérdie gemeente is.
Die gemeente, in Efese, is tydens Paulus se Tweede Sendingreis gestig. In daardie jare is die stad, Efese, as die tweede grootste stad ter wêreld beskou. En in vandag se tyd is hierdie antieke stad as ‘n wêrelderfenis-gebied verklaar (UNESCO). Soos ons weet, kon Paulus nie vóltyds in hierdie gemeente werk nie (Hand. 19: 1-10). Hy moes vérder reis en ander gemeentes gaan stig en ander mense gaan bemoedig. In Handelinge 20 lees ons hoe Paulus die ouderlinge van die jong gemeente in Efese toerus, want in hierdie stad was daar geweldig baie afgode. Die mense van Efese het hierdie dooie afgodsbeelde aanbid en begin respekteer, so al asof hulle lewe en gesag gehad het. En daarom praat Paulus nou met die ouderlinge van die gemeente in Efese en herinner hulle dat daar net Een Ware God is wat leef en regeer. Buiten Hóm bestaan daar nie enige gode nie, en wanneer mense dan afgode maak en aanbid, dan is dit nie nét dwase optrede nie, maar ook sónde. Paulus fokus op die ouderlinge omdat God aan ouderlinge van ‘n gemeente die opdrag gee om oor die gemeente te regeer. As die ouderlinge iets nie verstaan nie, dan sal die res van die gemeente óók verward wees. Die ouderlinge word opgeroep om ‘n voorbeeld vir die ander lidmate te wees. Om voorlopers te wees in woord en daad. Soos ons in Efesiërs 4 lees, is dit die kerkraad wat die opdrag van die Here ontvang om die gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk én ook sodat hulle die liggaam van Christus kan opbou. Ons sal later in die preek in meer detail hoor dat die “liggaam van Christus” die gemeente is.
Soos met meeste ánder briewe van Paulus, begin die apostel om God-Drie-Enig te loof en te prys vir sy wonderlike verlossingswerk. Geliefdes, kyk mooi – slégs in hierdie één vers (vers 3) leer ons opnuut ál Drie Persone in die Drie-Eenheid ken. Soos ‘n goeie (leer)ouderling wys Paulus sy lesers daarop dat dit God, die Vader, is wat ons uitverkies het om sy kinders te wees (óók vers 5). Paulus wys ons verder dat ons in Jesus Christus geseën is. Met watter seëninge word ons geseën? Met al die seëninge van die Heilige Gees wat daar in die hemel is. Dadelik word ons gedagtes dan na die hemel gerig sodat ons die grootheid en heiligheid van God kan besef. Ons mag nooit aards van God-Drie-Enig dink nie, maar hemels. Wanneer ons Bybel lees of tot God bid, dan moet ons verstaan dat ons met dié Lewende, Almagtige God van hemel en aarde besig is. Ons behoort alle respek en ontsag vir Hom te hê as ons met Hom praat of oor Hom praat.
Presies dít doen Paulus wanneer hy met die gemeente van Efese oor God-Drie-Enig praat. Hy begin sy brief deur teenoor die gemeente te bely dat alle lof en eer en aanbidding aan God toekom, maar met hierdie woorde herinner hy ook die lidmate van Efese om op hierdie manier oor God-Drie-Enig te dink. En in die volgende sewe verse herhaal hy élke keer hierdie selfde gedagte. Paulus wil nie hê dat die gelowiges van Efese in énige verwarring moet wees oor hóé hulle verlos is nie. Iets wat hy by hierdie gemeente wil vaslê, is wat van hulle verwag word, noudat hulle verlos is. Hoe behoort ‘n gelowige op te tree noudat hy/sy deur die Here vrygespreek is? – dít is wat Paulus vir hierdie stads-gemeente wil leer.
In die Vader se groot liefde vir ons het Hy dit só beskik dat ons deur Jesus Christus van al ons sonde en sondige neigings verlos word (vers 5). Kinders, dit beteken dat God ons só liefgehad het dat Hy dit só laat uitwerk het dat Iemand anders in óns plek gestraf word. Vir elke fout wat ek maak, vir elke keer dat ek sonde doen, kom Jesus Christus en sterf Hy in my plek. In vers 7 hoor ons die Evangelie in ‘n neutedop: “Deur die bloed van God se Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God.”
Dit is waarom ons in Heidelbergse Kategismus Sondag 21 kan bely dat God nooit weer aan my sondes wil dink nie, want dit is reeds deur sy Seun, Jesus Christus, ten volle betaal (V&A 56). Dit beteken egter nié dat ons nou neutraal teenoor die sonde kan wees nie. Ons kan nooit Christus se verlossing as verskoning gebruik om áán te hou sonde doen nie. Ons moet altyd met ons sonde breek, daarvan wegvlug en dit haat. Jesus Christus het die dood oorwin en uit die dood opgestaan en daarmee die mag van die sonde gesmoor. Tog beteken dit nié dat die duiwel en die sonde verdwyn het nie – ons moet elke dag nog daarteen stry tótdat Christus weer kom om alles te kom herskep.
Iets wat ons help om dit reg te kry, is die fisiese samekoms van gelowiges – die kerk – ons gemeente. Ja, geliefdes, die kerk is vir élkeen van ons uiters belangrik, want wanneer ons by die kerk is, dan word ons sáám herinner aan wat God se wil vir ons lewens is en hoe ons Hom kan eer. Ons kan nie op ons éie – daar alleen by die huis – kérk wees nie. Ons kan nie sélf besluit wat reg en verkeerd is nie – dit is nodig dat ons ‘n verklaring van die Here se Woord hoor. Ons kan nie ons eie gewete wees nie – dit is nodig dat ons deur God en ons medemens met die Waarheid gekonfronteer word. Verder kom ons kerk toe om God te dien en te eer – dit is waarom ons die saam wees op ‘n Sondag in die kerk die “erediens” noem. Ons kom saam om God te dien en God te eer met ons woorde en ons dade.
Maar hoekom moet ons sáám kom om dit te doen? Kan ek nie die Here eer en dien in die gerief van my eie huis nie? Ek is dalk ‘n introvert of dalk skaam oor my sonde, hoekom kan ek nie eerder op my éie die Here dien en eer nie? Efesiërs 1 én ons Kategismus gee vir ons die antwoord hierop. In ons fokusvers hoor ons helder en duidelik dat ons deur Christus deel geword het van die volk van God soos God dit vooruit bestem het. Geliefdes, dit is nie moeilik om hierdie vers te interpreteer nie. Paulus is nie dubbelsinnig hier nie, en die apostel maak ook nie gebruik van digkuns wat ‘n mens eers moet probeer ontleed nie. Dit is vir álle gelowiges duidelik wat die bedoeling van die Heilige Gees hiér is.
As die apostel hier sê dat ons deel geword het van die volk van God, dan beteken dit tog dat ons eens op ‘n tyd buite die volk was, en dat ons nou deel van ‘n groep mense is wat vir God kosbaar is. Deur die Here se genade het ons nou ‘n plek waar ons behoort – waarby ons kan aansluit en aanklank vind. Dit is enige mens se natuurlike behoefte om iewers in te pas – iewers te behoort. En deur die Here se groot liefde en ontferming teenoor sy kinders maak Hy ons deel van sy uitverkore volk en die wyse waarop Hy dit doen gaan ons verstand te bowe. Hy stuur sy Enigste, Geliefde, Seun aarde toe sodat Hy met sy kosbare bloed betaal om van ons kinders van God te maak (Joh. 3: 16). Wanneer het God, die Vader, besluit om hierdie groot liefdesdaad te doen? Paulus sê dat dit God hierdie besluit lank terug geneem het. In ons fokusvers lees ons dat die Vader dit vooruit bestem om ons op hierdie wyse sy kinders te maak (vers 11).
Trouens, hierdie selfde gedagte word drie keer herhaal net ingeval een van Paulus se lesers dalk nié die boodskap gekry het nie. Voor die grondlegging van die wêreld het God ons reeds in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te lewe. Ek kan getroos wees met die wete dat ek voor die skepping van alle dinge al reeds bestem is om God se kind te wees. Tóé al het God my as sy kind verklaar, sy kind wat in hierdie tyd op aarde sou lewe en in hierdie tyd deel van sy volk sou wees. Met Christus se groot liefdesdaad aan die kruis maak God van sondaars soos u en ek deel van die liggaam van Christus. Soos ons netnou gehoor het, het God ons uit die sondige wêreld geroep om deel van sy uitverkore volk word.
En wie is God se volk? Hoe lyk hulle en waar leef hulle? Geliefdes, God se uitverkore volk is nie mense wat ‘n mens fisies van ander kan onderskei nie. Hulle lyk nie fisies anders as ander mense nie, en hulle woon ook nie net in een spesifieke gebied nie. God se volk is ál sy uitverkore kinders, en hulle woon régoor die wêreld. Hoor net die troos wat ons in Jesaja 59: 21 kry: “Wat My betref, sê die Here, dit is My verbond met My volk: My Gees, wat op jou is en My woorde wat Ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die monde van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie.”
God, die Vader, vergader dus vir Hom ‘n volk oor alle eeue en van alle tye van mense uit alle nasies (2 Kor. 12: 19; Op. 21). En Hy doen dit deur sy Woord en Gees. Al drie Persone van die Drie-Eenheid is dus betrokke wanneer God vir Hom ‘n volk vergader. Wat is God se volk en hoe kom hulle prakties bymekaar? God gee vir sy volk ‘n kerk waar hulle prakties kan saamkom. Die gemeente is die manier waarop God se kinders behoort saam te kom om God te eer en te dank. En die feit dat ons in hierdie spesifieke gemeente is, is deel van God se raadsplan. In sy groot genade het Hy dit só beskik dat ek in hierdie tyd juis híér ‘n lidmaat is.
Hoe lyk my betrokkenheid?
Wanneer ek die genade ontvang om deel van God se volk te wees, word daar van my verwag dat my optrede sal verander. Ek behoort nou nie meer dinge van die wêreld te doen nie, maar dinge wat by ‘n gelowige pas. Ek moet myself herinner dat ek deel van God se volk is – dat ek duur gekoop is om aan hierdie gemeente te behoort en dat my gedrag nou by my nuwe identiteit behoort te pas. Ek behoort nou ánders te lewe, want ek is nou deel van die liggaam van Christus – sy gemeente.
In die eerste plek is ek in hierdie gemeente om God te eer en dien. Ek is deel van hierdie einste gemeente om die eredienste by te woon, want dit is dán wanneer ek God op ‘n baie spesiale manier ontmoet. Verder is ek deel van hierdie gemeente om ander lidmate met my gawes te bedien. Om deel van ‘n gemeente te wees beteken om al my selfgesentreerdheid eenkant toe te skuif en op God en my medemens te fokus.
Hoe lyk my optrede onder God se volk? Hoe lyk my betrokkenheid in die gemeente waartoe God my geroep het? Sien ek myself nog as deel van hierdie gemeente of het die omstandighede my ‘n vreemdeling vir die res van die gemeente gemaak? Besef ek die genade wat God aan my, persoonlik, gee? Dat Hy in sy liefde aan my ‘n groep mense gee waarby ek tuis kan voel? Besef ek dat ek dalk nie met almal in die gemeente saamstem nie, maar dat dit ons ‘n gemeenskaplike band van geloof het wat ons aan mekaar verbind? Geloof in die gekruisigde en opgestane Christus, wat die Heilige Gees aan ons skenk.
Slot
Is die kerk in vandag se tyd wérklik nog belangrik? Het die gemeente nog ‘n doel in die gemeenskap? Is dit ooit nog die moeitewerd om fisies kerk toe te gaan op ‘n Sondag?
Verséker, geliefdes!
Want dit is die plek waar ons, saam met ons medegelowiges, God se teenwoordigheid kan beleef. Die kerk is die plek waar ons, week na week, God kom ontmoet. Ons kan nie op ons eie kerk wees nie. Ons kan nie deel van God se volk wees as ons onsself eenkant in ons huise hou nie. Die Here gee in sy groot genade vir ons ‘n gemeente waar ons kan behoort, waarom wil party van ons ons van hierdie genade onttrek?
Kom ons wees gehoorsaam aan God wanneer Hy van ons verwag om fisies Hom te kom dien en eer in die eredienste. Kom ons kom met ons medegelowiges saam – al is hulle én ons gebroke. Dit is die Vader wat sy kerk vergader, beskerm en onderhou en Hy doen dit deur sy Woord en Gees. Mag elkeen van ons Hom áánhou loof en prys en eer vir sy wonderlike genade. Ook fisies bý die kerk en ín die erediens. Amen.