1 Korintiërs 12: 12 – 27

Skrifgedeelte: 1 Korintiërs 12: 12 – 27 (1983 Vertaling)

Fokusverse: 1 Korintiërs 12: 27 (2020 Vertaling)

Heidelbergse Kategismus Sondag 21 (V&A 55)

Tema: Die Kerk is die liggaam van Christus. Waar pas ek in? Wat is my nut?

Inleiding

Sondag 21 van die Heildelbergse Kategismus fokus op die ontstaan en die noodsaaklikheid van die Kerk op aarde. Verlede week het ons vir mekaar gevra of die fisiese kerk nog enige doel in die samelewing het? Is dit nog ooit die moeite werd om fisies kerk toe te gaan op ‘n Sondag?

Ons het ons antwoord vanuit die Skrif en Belydenis gekry ,en raakgesien dat fisiese eredienste wél nog vir ons belangrik moet wees. Om, fisies, met ons medegelowiges saam te kom op ‘n Sondag, is kosbaar geliefdes. Want dit is dán wat ons God kan kom ontmoet in die erediens. Dit is dán wat ons sy teenwoordigheid op ‘n besóndere manier ervaar. En dit is ook dán wat ek die ánder lidmate in die gemeente met my gawes kan kom bedien.

Die Kerk is die liggaam van Christus

Ons het dit verlede week net vinnig genoem, en daarom gaan ons dit vandag in detail bespreek. Waar verléde week se preek oor die belangrikheid van die kérk gehandel het, handel vanóggend se preek oor die belangrikheid van die lídmaat se betrókkenheid in die kerk. As ons teenoor mekaar erken dat die kerk en ons gemeente vir ons belangrik is, dan moet die lidmate van die gemeente óók tog belangrik wees. As die kerk ‘n doel hier op aarde het, dan moet ons, as lidmate, ook ‘n doel in die gemeente hê – dis tog logies.

Verlede week het ons diep onder die indruk gekom van die Here se liefde vir ons. Omdat Hy ons innig liefhet, maak Hy ons deel van sy kerk. Voordat Hy die aarde geskep het, het Hy besluit om ons deel te maak van sy kerk hier op aarde. Ja, geliefdes, in die Vader se onbeskryflike deernis met ons, gee Hy vir ons ‘n kerk waarby ons kan aansluit. ‘n Liggaam waarby ons kan inskakel – ‘n plek waarby ons kan behoort.

Nou dalk dink jy: “Waarom moet ek aan die kerk behoort? Ek behoort mos reeds aan die Boerevereniging? Ek dien reeds op die skool se beheerliggaam? Ek behoort reeds aan die skietklub of een of ander organisasie wat vir my belangrik is.” Geliefdes, die kerk is nie maar net nóg ‘n organisasie wat van my tyd verg nie. Die kerk is nie maar nét ‘n vereniging of ‘n sosiale klub nie. Die kerk is ‘n geloofsgemeenskap waar die lidmate in God-Drie-Enig gló. Die kerk is die plek waar ek op Gód se nabyheid staatmaak en nie op my mede klublede nie. Die kerk is die plek waar ek God elke week kan kom ontmoet in die erediens, en waar dit nie om die organisasie of vereniging gaan nie, maar om die Koninkryk van God. In die kerk verwag ek ook nie dat ander mense of wêreldse dinge my uit my ellende sal verlos nie. Die kerk stel ál haar vertroue alléén in Jesus Christus se verlossing en in die hoop op die ewige lewe. En dít is wat ons, as gelowiges, saambind, geliefdes. Nie maar net gemeenskaplike vriende of belangstellings waarin ons deel nie. Ons geloof in die gekruisigde Christus verbind ons, geliefdes. Ons geloof in sy opstanding en oorwinning oor die dood. Ons geloof in ons éie opstanding en oorwinning oor hiérdie lewe se dood is dít wat ons saambind.

Soos ons in Sondag 21 bely, is ons deel van God se uitverkore volk – ons kom fisies op ‘n Sondag saam om die Here te kom aanbid. Deur die gawe van geloof, maak die Heilige Gees van ons lede van die liggaam van Christus. En soos dit in ons Skrifgedeelte duidelik geword het, verwys “die liggaam van Christus” na die kérk of die geméénte. Waarom word die kerk met ‘n liggaam vergelyk? En waarom dan spesifiek met die liggaam van Christus? Paulus gebruik hierdie analogie om aan te toon dat die kerk ‘n léwende instansie is wat éwe afhanklike lede/ledemate het.

Paulus lê veral klem op die feit dat niemand in die gemeente belangriker as ‘n ander is nie. Hy doen dit weens die mate van hooghartigheid wat daar in die gemeente van Korinte geheers het. Tog is dit ‘n sondige tendens van baie mense, want ook in Romeine 12: 3 – 5 lees ons die volgende: “Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Ons het baie lede in een liggaam, en hierdie lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus één liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.” Die belangrikheid van die liggaam van Christus lê dus nie in die lede nie, maar in die liggaam.

En die liggaam van Christus word nie deur die lede opgebou nie, maar deur die Heilige Gees. Dit wys ons net weer dat die gemeente soveel méér as net ‘n sosiale klub is. Soos ons duidelik in 1 Korintiërs 12 agterkom, is dit die Heilige Gees wat van ons lede van hierdie liggaam maak. Maar die Vader maak ons nie net deel van sy Seun se liggaam deur die Gees nie, Hy doen méér as dit. Die Heilige Gees skenk ook aan ons verskeie gawes wat ons in die liggaam van Christus kan aanwend. Ons is dus nie passiewe lidmate van die gemeente nie, geliefdes. Nie één van ons nie. Ons mag nie net doelloos in die gemeente wees, óf so voel nie, want aan élkeen van ons is daar gawes gegee (1 Kor. 12: 4 – 9). Aan elke liewe een van ons.

Voordat ons by die gawes van die lidmate gaan uitkom, moet ons eers na die lidmate sélf kyk. Paulus verwys nie na “lidmate van ‘n gemeente” nie, maar eerder na “lede van die liggaam van Christus”. Soos ons reeds gehoor het, doen Paulus dit om ons eenheid met Christus te beklemtoon. Deur die gawe van geloof is ons so één met Christus dat ons geestelik deel word van sy liggaam – die kerk. Soos ‘n fisiese liggaam verskeie ledemate bevat, net só bevat die liggaam van Christus verskeie ledemate (of dan lidmate). Vir ons, wat fisiese liggame het, is dit tog logies dat ons ledemate nie sonder die liggaam kan funksioneer nie. ‘n Arm – op sy eie – kan niks doen nie. Sonder die liggaam beteken ‘n mens se hande ook niks. ‘n Mens se ledemate het net ‘n doel en ‘n funksie as hulle deel van die léwende liggaam is. Met spiere en bloed en senuwees is die ledemate deel van ‘n mens se liggaam. Sonder daardie verbindings beteken ‘n mens se ledemate niks en kan die liggaam ook nie effektief funksioneer nie.

Dit is presies hoe dit in ‘n gemeente werk, geliefdes. As ons onsself met die ledemate van ‘n liggaam vergelyk, en die gemeente met die liggaam, dan kom ons gou agter dat ons niks kan beteken as ons sonder die liggaam is nie. Paulus maak dit egter in vers 14 duidelik dat die liggaam se ledemate nie net die liggaam nodig het nie, maar ook die ander liggaam se ánder ledemate. Elke ledemaat aan die liggaam is nodig, want elkeen dien ‘n ander doel. Deur die inspirasie van die Heilige Gees wys die apostel ons daarop dat lidmate in ‘n gemeente nie selfbejammerend mag wees nie. Net omdat ‘n voet nie ‘n hand of ‘n oor is nie, beteken dit tog nie dat dit oorbodig is nie. Ons mag nooit bv. dink en sê: “Omdat ek nie in die Bybel opgelei is nie, gaan ek nie Bybelstudie toe nie.” Of: “Omdat ek nie mooi kan sing nie, bly ek eerder stil” Of selfs: “Omdat my belangstellings dalk anders as die meerderheid is, of omdat my salaris kleiner as die meerderheid van die gemeente is, vermy ek eerder die kerk.

Geliefdes, ons mag nooit so voel nie. Nie één van ons is oorbodig nie, want ons élkeen het ‘n baie spesifieke doel in die gemeente. Net soos ‘n mens se liggaam al die ledemate nodig het om optimaal te lewe, net só het ‘n gemeente ‘n verskeidenheid lidmate nodig om gesond te wees. Ons moet dus dankbaar wees vir élke lid van hierdie gemeente, want élkeen van ons het ‘n funksie in die gemeente. Die hele gemeente kan tog nie nét uit predikante bestaan nie. Daar kan nie nét beraders of nét susters wees nie. Ons gemeente het ook bv. mense nodig wat goed is met finansies, of met projekte of met kinders.

As lede van die liggaam van Christus het ons almal mekaar nodig, geliefdes. Ons mag nooit dink dat ons belangriker as ons medegelowige is nie. Selfs die mense wat skynbaar as swak en minderwaardig voorkom, word deur die Here besonder mooi gemaak (verse 23 en 24). Dit is buitendien die Heilige Gees wat ons toerus met die nodige gawes om in die gemeente aan te wend. Dit is Hý wat ons ‘n eenheid laat vorm wat van mekaar én van ons Verlosser, Jesus Christus, afhanklik is (vers 25). Al verskil ons gawes van mekaar vorm ons ‘n eenheid in Christus. In die gemeente is ons tot só ‘n mate ‘n eenheid dat, indien een lid ly, dan ly al die ander lede saam, en as een lid vereer word, dan is al die ander lede saam met daardie persoon bly (vers 26).

Waar pas ek in? Wat is my nut?

Indien ons oortuig is dat ons wérklik só ‘n gemeente is, wat saam met mekaar bly is wanneer iets moois gebeur of saam hartseer voel wanneer iemand fisies ly, dan wil ons onsself tog afvra: “Maar waar, presies, pas ek in die gemeente in?” Dalk voel jy ook die dringende behoefte om jou gawes in die gemeente aan te wend, maar weet dalk nie regtig waar om te begin nie?

‘n Goeie begin is om ons te kyk of ons gesindhede teenoor mekaar reg is. Vra jouself af: “Sien ek wérklik hierdie mense rondom my soos lede van dieselfde liggaam?” “Stem ons saam oor die belangrike sake in die Here se Woord en deel ons in dieselfde Belydenis?” Natuurlik is dit die geval, geliefdes, want ons is almal in een gemeente. Al verskil ons dalk van mekaar, beteken dit nie dat ons mekaar soos vreemdelinge kan hanteer nie. In die Here se genade gee Hy juis vir ons ‘n eenheid in ons verskeidenheid.

Dit is nodig dat ons die fokus op die “Eie Ek” moet verskuif na God en ons medemens. In die Here se genade maak Hy ons deel van hierdie gemeente sodat ons ‘n liefde vir God en vir ons naaste sal aanleer én uitvoer. As ons dan wonder of ons ooit iets in die gemeente beteken en of dit ooit die moeitewerd is om kerk toe te kom, dan moet ons hierdie twee preke uit Sondag 21 onthou, geliefdes. Die Here, self, roep ons na sy gemeente toe sodat ons Hom en ons naaste kan kom dien.

Mag ons besef dat ons ‘n doel in hierdie gemeente het, geliefdes – elkeen van ons. Ons is soos ledemate van dieselfde liggaam. Ons kan, in die eerste plek, nie sonder die liggaam lewe nie, want dit is Christus se liggaam. Maar tweedens het ons ook mekaar nodig, want ‘n liggaam kan nét funksioneer met ‘n verskeidenheid ledemate. Ledemate wat hárd daaraan werk om in liefde vir mekaar te lewe. Ek, as lidmaat van hierdie gemeente, moet dus sorg dat hier liefde is onder my medegelowiges. Ware omgee-liefde, sodat ons mekaar kan ondersteun as iemand trauma ervaar maar ook saam met mekaar bly kan wees wanneer iemand vreugde ervaar. Laastens moet ons, met ons gawes, toesien dat hierdie liefde nie net na binne gekeer word nie, maar dat dit óók na buite toe uitstraal. Mag ons ‘n gemeente wees wat gevul blý met Christus se liefde – vir mekáár maar ook vir ánder.    

Slot

Die afgelope twee Sondae het ons die voorreg gehad om na die belangrikheid van die gemeente én die lidmate te kyk. Heidelbergse Kategismus Sondag 21 maak dit vir ons duidelik dat beide die kérk en die ménse in die kerk, noodsaaklik is. En dat hierdie groep mense én hul samekomste uniek is.

Die kerk is nie maar net nóg ‘n sosiale klub of vereniging waarby ons kan aansluit as ons wil nie. Die Here sélf vergader sy kerk, deur sy Woord en sy Gees. Voor die grondlegging van die wêreld het Hy ons reeds geroep om deel van hierdie einste gemeente te wees. Ons is hier om ons gawes teenoor Hom en ons naaste aan te wend. Vir baie van ons is dit dalk moeilik of ‘n groot opoffering. Ander van ons is dalk huiwerig om dit te doen omdat iets in ons dink dat ons béter as ander is. Maar, geliefdes, die oomblik wanneer ons besef dat ons álmal lede van diesélfde liggaam is, dan kom dit makliker.

Wanneer ek nederig erken dat ons almal mekaar nodig het, dan kom ek fisies kerk toe omdat die Váder dit van my verwag. Hy verwag van my om ander te kom bedien met die gawes wat Hý aan my gee. Ons weet tog, selfs wanneer ons ander mense bedien, dien ons in werklikheid eintlik vir Christus (Matt. 25: 31 – 46). Dit is dán wat die Heilige Gees ons tot die besef bring dat ons nie nét hier is om ander te dien nie, maar óók om, soms, deur ons medegelowiges bedien te word. Amen.