Deuteronomium 9: 1 – 6

Skrifgedeelte: Deuteronomium 9: 1 – 6

Fokusvers: Deuteronomium 9: 6

Heidelbergse Kategismus Sondag 23 (V&A 59 en 60)

Tema: Jesus Christus se volmaaktheid dring en dryf my om my optrede te verander

Inleiding

Heidelbergse Kategismus Sondag 8 tot Sondag 23 handel oor die  Twaalf Artikels of die Apostoliese Geloofsbelydenis. Regdeur hierdie 15 Sondags-afdelings word daar dan in detail bespreek wat ons in die Twaalf Artikels bely. Die kerk wil haarself daaraan herinner dat ons met ‘n réde glo soos ons glo. En daarom is hierdie Belydenis selfs vandág nog vir ons belangrik, geliefdes, want dit vorm die fondasie van ons verstaan van die Skrif.

Sondag na Sondag staan ons fisies uit die kerkbanke óp om ons geloof in God-Drie-Enig te bely. Ons doen dit om met ons héle menswees te wýs dat hierdie Twaalf Artikels ons geloofsuitgangspunte in hierdie kerk is. Met trots en met die nodige agting en respek staan ons op tydens die Geloofsbelydenis om met ons liggame te wys dat ons ‘n eenheid in hierdie gemeente vorm en dat ons oor hierdie Belydenis saamstem.

Sondag 23 van die Kategismus vra egter: maar wat baat dit jou dat jy hierdie Twaalf Artikels glo? Dis alles goed en wel om jou geloof openlik te bely, maar watter nut het dit? Die opstellers van die Kategismus wil weet of daar enige voordele vir ‘n mens is om jou geloof te bely?

Die mens se onvolmaaktheid

Die antwoord op hierdie vraag klink kort en onvolledig, maar hierdie antwoord bevat geweldige diepte, geliefdes. Die antwoord op die vraag “of dit ‘n mens enige iets baat om vas te glo in al hierdie dinge” is: “ja, verséker beteken dit vir ons iets”. Wanneer ek werklik vashou aan dít wat ek – saam met my medegelowiges – op ‘n Sondag bely, dan beteken dat ek in Christus voor God geregverdig is, en dat ek ‘n erfgenaam van die ewige lewe is. Wanneer ek dus bely en sê dat dit wél so is dat die Vader my en alle ander dinge gemaak het, en dat Christus uit ‘n maagd gebore is om hier, op aarde, al my skuld te dra – dat Hy moes sterf om daarvoor te betaal – maar dat Hy ook uit die dood opgestaan het, dan het dit vir my nut. Dit het vir my nut dat ek ook glo dat die Heilige Gees sélf God is en dat my sondes vergewe word én dat ek verseker kan wees van die ewige lewe. Want wanneer ek hiervan vas oortuig is, dan besef ek weer hoe groot die Here se genade teenoor my is: Te danke aan die Vader se liefde vir my het Jesus Christus my saak voor God reggemaak. Wanneer ek dus my geloof bely, dan besef ek weer opnuut wie ek voor die Here is. Ek is iemand wat glad nie dit werd is om van my sondes vrygespreek te word nie, maar ter selfde tyd is ek óók iemand aan wie selfs die éwige léwe gegee word.

Net soos die gelowiges van Deuteronomium, moet ons ons kleinheid voor die Here besef en erken. In die boek, Deuteronomium, ontvang die gelowiges opnuut verskeie voorskrifte van die Here. Die Here se volk, Israel, is op die punt om die beloofde land binne te gaan. Hulle gaan binnekort die ryke land, Kanaän, ontvang wat die Here aan hulle voorouers beloof het, maar hierdie mense leef so al asof God nie werklik bestaan nie. Vir geslágte lank het hulle voorouers egter die Here met eerbied en respek gedien, maar dit wil vir ‘n mens voorkom asof hierdie geslag gelowiges nie werklik erns maak met hulle geloof nie. Die gelowiges van Deuteronomium het waarskynlik die Here se genade as vanselfsprekend begin aanvaar. En dalk is dít juis die rede vir hulle hoogmoedigheid?

Van die begin af was die Here góéd vir die mens. In die Here se groot genade sluit Hy ‘n verbond met Abraham en beloof sy bystand, hulp en beskerming teenoor sy kinders. Hierdie verbond geld nie net vir Abraham nie, maar ook vir die hele nageslag ná Abraham. Ook vir die volk, Israel, is hierdie beloftes van God geldig en selfs vir óns, vandag. Almal wat kinders van die Here is, ontvang die troos dat God hulle liefhet, hulle sal beskerm en hulle sal verlos. Die gelowiges van Deuteronomium het hierdie troos eerstehands ervaar. Hulle kom uit ‘n gelowige familie waar dit gereeld deur hul voorgeslagte oorvertel is hoe die Here nog áltyd met hulle was. ‘n Hele paar keer in hul lewe is hulle sélf van die Here se nabyheid verseker, en nou hoor hulle dit herhááldelik weer in die woestyn.

In Deuteronomium 9 ontvang die verbondsvolk van die Here die versekering dat hulle nou ‘n groot en ‘n sterk nasie kan gaan verdryf en hierdie nasie se land kan gaan oorneem. Selfs al is die inwoners van daardie land die reuse, die Enakiete, en selfs al is hulle groter en sterker as alle ander mense, is dit moontlik vir Israel om hulle te oorwin omdat die Hére vir hulle die vermoë gee om dit te doen (vers 2). In elke vers van Deuteronomium 9: 1 – 6 hoor ons dat dit in werklikheid die Hére is wat die oorwinning bring en nié die ménse nie. Die volk, Israel, moes herhaaldelik hoor dat dit te danke aan Gód se almag is dat hulle die Beloofde Land kon binne gaan en nié as gevolg van hulle éie vermoëns nie.

In vers 4 hoor ons die hoofgedagte van hierdie gedeelte: “Wanneer die Here jou God hulle verdryf het, moet jy nie sê: ‘die Here het my hierdie land in besit laat neem omdat ek volmaak is’ nie, want die Hére het hierdie nasie verdryf omdat hulle so goddeloos is.” Weer hoor ons in vers 5: “Dit is nie omdat jy volmaak en opreg is dat jy sal ingaan om hulle land in besit te neem nie...” Hierdie woord “volmaak” kan ook met “regverdig” vertaal word. En om regverdig of volmaak te wees, beteken om totaal en al in die regte verhouding met God te wees. Om regverdig te wees beteken om sonder sonde te wees. Dit beteken om sonder enige skuld voor God te verskyn – dít is wat dit beteken om volmaak te wees.  

Soos ons weet is nie een van ons, uit ons eie, regverdig nie. Nie een van ons is volmaak nie. Net soos die gelowiges van Deuteronomium kan ons dit nie uit ons eie regkry nie. Hoe waar is die woorde van Romeine 3: 10 – 20 nie? Daar lees ons dat alle mense wat lewe in die mag van die sonde is. “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het (in sondaars) ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” Die mens, uit homself/haarself is dus vêr van volmaak af, geliefdes. Selfs die béste persoon aan wie jy kan dink, het sonde. Selfs die mooiste gebaar van liefde of omgee wat iemand aan jou bewys is met sonde belaai en besmet. Dit is omdat élkeen van ons in sonde ontvang en gebore is. Die aanvanklike sonde wat Adam en Eva gedoen het, is so déél van ons dat ons hele ménswees daardeur beïnvloed is. Dit het die gevolg dat selfs ons béste woorde of pogings onvolmaak is. Ons moet altyd onthou dat ons nog in hierdie kant van die ewige lewe is, en dat ons nooit hier, op aarde, volmaak sal wees nie. Dit is iets wat ons eers in die hemel sal kan bereik. Dalk is dit tyd dat ons moet ophou voorgee en erkén dat dit soms nié so goed met ons gaan nie. Ons moet verder ook besef dat ons sonde doen die oomblik wanneer ons vir ander wil wys hoe volmaak ons lewe of huishouding is, want dit is net onmoontlik om tydens ons aardse lewe volmaak te wees. Wanneer ons ons eie beperkinge besef en erken, dan sal ons nooit skuldig wees aan die sonde van hoogmoedigheid nie, maar sal ons alle eer aan God en sy genade bring. Want elkeen van ons moet, soos die Ou-Testamentiese gelowiges, goed onthou dat nie één van ons volmaak is nie. Sónder die Here se genade is ons ónregverdig en ook maar deel van ‘n hardkoppige volk wat baie keer op ons eie vermoëns staatmaak. Hoe hartseer is dit nie as dit die geval is nie, geliefdes, want niemand van ons is volmaak nie – selfs nie een nie.

Christus se volmaaktheid dryf my om my optrede te verander

Maar as nie een van ons volmaak is nie, hoe kan ons dan in die Here se teenwoordigheid verskyn. Geliefdes, ons kan alleen voor die Here verskyn te danke aan dít wat Jesus Christus namens ons gedoen het. Ons kan dit met die beeld van ‘n hofsaak probeer verduidelik: tydens elke hofsaak is daar ‘n regter, ‘n aanklaer, ‘n klagstaat, die beskuldigde en dan uiteindelik die vonnis. Wanneer ons nou ons regverdigheid voor God met die beeld van ‘n hofsitting probeer verduidelik, kan ons soos volg daaroor dink:

Die Regter is God, die Vader. Hy besluit wat met ons gebeur en Hy, alleen, het die finale sê oor ons lewens (Rom. 8: 33; Hebr. 4: 13). Die aanklaer is ons gewete – so sê ons Kategismus. “Al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en dat ek tot alle kwaad geneig is…” En hoe waar is dit nie, geliefdes. Die duiwel misbruik baie keer ons eie gedagtes om by ons ‘n twyfel aan te kweek. “Ek is nie goed genoeg om ‘n kind van die Here te wees nie. Ek verdien nie die Here se liefde nie.Ons is die beskuldigdes en die klagstaat is dat ons teen al God se gebooie swaar gesondig het en steeds tot alle kwaad geneig is. Volgens dit wat regverdig is, is die vonnis duidelik: ons elkeen verdien die straf van die ewige dood (Gen. 2: 17).

Maar dan gebeur daar iets wat ons verstande te bowe gaan, geliefdes. Dit is dat God die Vader – die Regter – nie aan my die vonnis van die ewige dood gee nie, maar die vonnis van die ewige lewe. Dit is omdat hierdie Regter sy Enigste Seun as Borg vir ons oorgee. Ja, wanneer ons skuldig staan aan al die aanklagte, dan kom Jesus Christus en Hy tree op as Borg vir ons. Hy kom staan namens ons in die beskuldigings bank en neem al ons oortredings op Hom. En Hy kan dit doen, geliefdes, want Hy is volkome volmaak. Hy is totaal en al rein en sonder sonde voor sy Vader, en daarom kan Hy as Borg vir ons intree. Aan die kruis roep Hy uit: “dit is volbring!” om so aan te toon dat ons gebreekte verhouding met God volkome herstel is.

Dit is dan alleen in Hóm wat ons volmaaktheid verwerf, en nooit uit ons eie nie. Verder bring Hy nie net óns in die regte verhouding met God nie, maar al God se uitverkore kinders, regoor die eeue (Rom. 5). Ja, ook die Ou-Testamentiese gelowiges word in Hom volmaak geag, selfs al het Hy ná hulle op aarde geleef. Ons geloof in Jesus Christus is dit wat ons voor God regverdig maak. Ons geloof in Jesus Christus se offer en opstanding is dit wat ons voor God volmaak maak.

En soos die Kategismus – en daarom ook die res van die Skrif – dit vir ons báie duidelik maak, word ons volmaaktheid alléén uit suiwer genade vir ons geskenk en toegereken (vgl. o.a. Ef. 2). Hoe laat hierdie onverdiende genade ons voel? Baie mense tree op soos die gelowiges van Deuteronomium en dink dat hulle uit hulsélf so volmaak is. Baie mense roem op hulle voorgeslagte wat gelowig was en meen dat hulle dáárom dit verdien om deur die Here geseën te word. Ander maak op hulle eie vermoëns en eie goeie dade staat, maar geliefdes, nie een van ons verdien dit om volmaak voor die Here te wees nie. Dit is alleen Christus wat volkome regverdig en volmaak voor die Here is. In sy genade skenk Hy hierdie volkomenheid aan ons, en dit is wat ons so innig dankbaar maak, nie waar nie? Christus se volmaakte liefdesdaad is dus vir ons ‘n motivering om ook na volmaaktheid te streef. Christus se volmaaktheid is dit wat my dring en my dryf om met my sonde te breek en meer te lewe soos God wil. Ja, ook met my sonde van hoogmoedigheid en wanneer ek dink dat ek geregtig is om sekere dinge van God te ontvang. 

Slot

Geliefdes, kom ons erken dat nie een van ons, uit ons eie, volmaak is nie en kom ons aanvaar dat dinge nie altyd perfek kan wees nie. Om in hierdie lewe volmaaktheid te bereik is onmoontlik. Alles in ons lewens kan nie net altyd perfek wees nie – kom ons erken dit.

Maar kom ons aanvaar ook wel die genade nl. dat God ons in Christus as volmaak en volkome beskou. Wanneer jou gewete jou wil aankla en wanneer jy voel jy is nie dit werd nie, onthou wie jy in Christus is. “Ja, uit my eie is ek ‘n swak sondaar, maar in Christus is ek meer as ‘n oorwinnaar.” “Uit my eie sal ek nooit volmaaktheid kan bereik nie, maar te danke aan Christus kyk my Vader na my so al asof ek nog nooit sonde gehad of gedoen het nie.”

Mag elkeen van ons, daarom, ons optrede verander om meer in lyn met God se wil te lewe. En mag ons daarmee saam die waarde van God se genade én ons kosbare geloof(belydenis) besef. Amen.