Efesiërs 2: 1 – 10

Skrifgedeelte: Efesiërs 2: 1 – 10

Fokusvers: Efesiërs 2: 8

Heidelbergse Kategismus Sondag 23 (V&A 61)

Tema: Die waarde van ‘n ware geloof.

Inleiding

In aansluiting by verlede week se preek, kyk ons vanoggend weer na Heidelbergse Kategismus Sondag 23. Laas week het ons gesien dat dit vir elkeen van ons waardevol is om ons geloof in God-Drie-Enig te kan bely. Ons geloof in God – en dan verál in ons verlossing – het vir élkeen van ons nut. Want wanneer ek in Christus en sy verlossing gló – wanneer ek sonder twyfel daaraan váshou – dan kan ek verseker weet dat ek rein voor God is.

Dit is alleen te danke aan Christus se genoegdoening dat ons voor God vrygespreek word. Wanneer ons gewete ons aankla en wanneer die vonnis van die ewige dood vir ons duidelik is, dan kom Christus en dan tree Hy as Borg vir ons op. Dit is alleen in Hom wat ons voor God regverdig is. Dit is alleen te danke aan sý volmaaktheid dat ons voor God volmaak is.

Hoe moet ek die waarde van my geloof verstaan?

Verlede week het elkeen van ons diep onder die indruk daarvan gekom dat ons nie uit ons eie volmaak kan wees nie. Vir ons om volmaak voor die Here te wees het ons geloof nodig. Daarom bely ons dat ons nie uit ons self voor God regverdig is nie – dit is alleen deur ‘n ware geloof in Christus dat ons regverdig voor die Here is.

Ons het dus geloof nodig om regverdig voor die Here te wees – die Bybel is duidelik hieroor. Elkeen van ons is opsoek daarna, nie waar nie? Ons elkeen wil tog die ewigheid saam met God in sy genade spandeer. So hoe kry ek hierdie geloof wat ek benodig en hoe moet ek die waarde van hierdie geloof verstaan? Voordat ons hierdie vrae gaan beantwoord, moet ons eers bepaal wat geloof is. Omdat ons Chistene is, gaan ons na die Bybel toe vir ‘n antwoord. En dan gee Hebreërs 11: 1 vir ons die beste definisie van wat geloof is: “Om te glo is om séker te wees van die dinge waarop ons hoop. Om te glo is om oortuig te wees van die dinge wat ons nié sien nie.” Geloof is dus om die vermoë te hê om om van iets seker te wees, selfs al kan ‘n mens dit nie sien nie. Dit is om vas oortuig te wees dat dié dinge waarop ons hoop, die waarheid is. Geloof is nie om maar net te hoop dinge werk vir my uit nie – dit is om 100% sekerheid daaroor te hê.

Alle mense op aarde het geloof. Almal glo in iets – selfs die ateïste gló – hulle is vas oortuig dat daar nié ‘n God is nie. Om te glo is dus iets waaraan elke mens ‘n behoefte het. In die Here se genade het Hy aan elke persoon die vermoë gegee om te glo. Ongelukkig vervul baie mense daardie behoefte met die verkeerde verstaan van Wie God is of dan bloot met afgode. Maar vir ons, wat kinders van God is, is ons geloof in God kosbaar. Geloof is vir ons meer as om net om bv. vir jou kind te sê: “Ek glo in jou en in jou vermoëns.” Geloof is vir ons meer as om bv. te sê dat ons glo dat hierdie medisyne of behandeling ons sal genees. Vir ons is geloof die mees kosbare vertroue wat ons teenoor God het. Ons geloof in God is altyd met liefde vir God en sy Woord gekoppel. As gelowiges, wil ons altyd ons geloof in God onderskei van ons vertroue in mense of in dinge, want ons is versigtig vir die risiko van afgodery. Deur die Here se genade besef ons dat ons maklik iets anders kan begin verafgod as ons sê dat ons daarin glo, en daarom is ons attent op hoe ons oor dinge voel. As kinders van God wil ons altyd slégs in die Ware God glo en alleen in Hóm geloof hê.

So hoe kan ek seker wees dat ek in die Wáre God glo? Hoe kan ek seker wees dat my geloof waar is en dat my geloof ook waardevol is? In Efesiërs 2: 1 – 10 lees ons van die ryke genade van God. Soos ons gehoor het, leef alle mense – van nature – nét soos hulle wil. Mense wat nie die Here ken nie, doen nét wat hulle wil en waartoe hulle luste hulle lei. Voordat ‘n mens weergebore is en voordat ‘n mens tot bekering kom, dan leef ‘n mens só: mens reageer op die sondige gevoel wat jy in jou binneste voel. Mense wat nié kinders van die Here is nie, leef hulle sondige gedagtes uit en tree op wanneer hulle ‘n slegte begeerte kry. Maar ons is nie so nie – die meeste van ons probeer teen ons sondige begeertes veg. As gelowiges beoefen selfbeheersing uit wanneer ons ‘n sondige gedagte kry en keer onsself voordat ons oorgaan in die sondige daad self.

Waarom is dit so? Waarom leef sommige mense in reaksie tot hul drange en ánder mense leef met selfbeheersing? Waarom leef sommige mense letterlik soos diere en ander het die vermoë om hulleself in toom te hou – selfs al is die versoeking groot. Dit is omdat God ryk in barmhartigheid is en omdat Hy ons innig liefhet dat ons optrede anders lyk, geliefdes. Wanneer ons sê dat God barmhartig is, dan beteken dit dat God, die Vader, sy kinders met ‘n onbeskryflike liefde liefhet. Dit beteken dat die Vader medelye met sy kinders het en dat Hy met simpatie teenoor ons optree. Dit doen Hy in en deur sy Seun, Jesus Christus (Hebr. 4: 15). Dit is alleen in Christus dat ons God se genade en barmhartigheid en medelye en liefde teenoor ons raaksien. Want met die inspirasie van die Heilige Gees wys Paulus ons daarop dat álle mense aanvanklik die verkeerde leefwyse gehad het. In vers 3 praat hy met die gelowiges van Efese, maar dan sê hy: “Ons álmal het voorheen soos hulle – die goddelose mense van die wêreld – opgetree.. Ook óns, soos al die ander, was van nature kinders bestem vir die oordeel.” Geliefdes, Paulus praat nie net oor ander mense nie – hy sluit homself hierby in! Hy besef dat hy ook onder dié mense is wat geestelik dood was weens die sonde, maar wat te danke aan Christus, lewend gemaak is (verse 1 en 6).

En dit is presies dít wat die gelowiges van ongelowiges onderskei. Sónder die Here se genade sou ons almal dieselfde gewees het – maar aan sommige mense het God, die Vader, die geloof gegee om in Hom te glo. En hierdie geloof in God-Drie-Enig is die wáre geloof, geliefdes. Dit is dus vir ons duidelik dat dit nie álle mense op aarde is wat hierdie geloof ontvang nie. God skenk hierdie geloof net aan dié mense wie Hy uitverkies het om sy kinders te wees. Ons fokusvers is duidelik hieroor: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.” Ons het dus twee dinge nodig om gered te word, nl. genade én geloof. Ons kan niks doen om die Here se genade te ontvang nie – dit is waarom ons dit juis genade noem – dit word in die Here se goedheid aan ons gegee. Die Here het nie nodig om dit vir ons te gee nie – ons verdien nie die Here se genade nie – Hý besluit aan wie Hy sy genade wil gee.

En die geloof? Ons moet sekerlik ook iets van óns kan af doen? Ons is sekerlik sélf verantwoordelik vir ‘n sterk geloof in die Here? Nee, geliefdes. Glad nie. Net soos die Here se genade, word geloof aan ons geskenk. Trouens, geloof is déél van die Here se genade teenoor ons. Ons fokusvers maak dit baie duidelik dat geloof nie aan ons gegee word op grond van vermoë of meriete of finansies nie: “Geloof is ‘n gawe van God.”

Baie kerkgroepe verskil egter hiervan en oorbeklemtoon die mate van ‘n mens se geloof. Dit wil voorkom asof lidmate dan moet streef na ‘n sterker geloof in die Here, anders… Sommige lidmate glo verdraaide sienings oor geloof en dink dat hulle omstandighede ‘n gevolg van hulle geloof is: “Die Here straf my seker nou met armoede of siekte omdat my geloof swak is.” “As ek maar net ‘n sterker geloof in die Here gehad het, sou ek ook dalk in tale kon praat.” Gemeentes wie hierdie uitgangspunte uitleef, plaas geweldig baie druk op die lidmate en stel bomenslike eise aan mense. Baie ander – veral die pastore van daardie gemeentes – roem weer op hulle mate van geloof. Hulle laat die lidmate verstaan dat hulle oor geloof beskik wat waardig is om na te streef.

Maar, geliefdes, dit is tog nie hoe ons Here werk nie. Dit gaan nie oor die mate van my geloof nie, maar oor dit wat Jesus Christus námens my gedoen het. Ons bely dan in die Kategismus dat ons nie op grond van die waarde van ons geloof verlos word nie, maar slegs op grond van Christus se volmaaktheid en gehoorsaamheid. Omdat Hy aan die kruis vir my sondes gesterf het, daarom is ek nou voor my Vader volmaak. Omdat God vir Christus uit die dood opgewek het, daarom kan ék ook verseker wees van die ewige lewe. Dit is alleen op grond van dit wat Christus gedoen het, en nie omdat my geloof in God sterk is nie. Tog is my geloof nie waardeloos nie, want my geloof is dit wat my aan Christus verbind. Al rede waarom Christus se offer vir my geld is weens die feit dat die Heilige Gees my, deur die geloof, aan Hom vasbind.

Ons bely dit op grond van dít wat ons o.a. in 1 Korintiërs 1: 26 – 31 lees: Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”

Die waarde van ‘n ware geloof

Laat ons dan nie in die mate van ons geloof roem nie, geliefdes, want geloof is ‘n gawe van God. Net soos ons vryspraak, word dit alleen uit die Here se genade word dit aan ons geskenk. Net soos die Vader alles laat ontstaan het deur net ‘n woord te spreek, net so wek Hy geloof in ons harte deur sy Woord. Ons kan op geen ander manier geloof ontvang nie – dit is iets wat die Here aan ons gee nadat ons Hom in sy Woord leer ken het. Ons word nie vrygespreek op grond van ons geloof nie, maar ons geloof is ook nie waardeloos nie. Ons geloof is dus ‘n middel om ons lewensdoel te bereik. Uit genade is ons van al ons sondes gered – dit is die doel waartoe God ons roep – om as verlostes ewig te lewe. En die middel waardeur ons hierdie doel bereik is deur die onwankelbare geloof in Jesus Christus.

Mag ons daarom die waarde van ons geloof beséf, geliefdes. Sónder ware geloof sou ons nooit Christus werklik geken het nie. Sonder ware geloof sou ons op die verkeerde dinge gefokus het en die verdraaide sienings oor geloof maklik geglo het. Dit gaan nie oor onsself nie – dit gaan selfs nie oor die mate van ons geloof nie – dit gaan alleen om Jesus Christus en dit wat Hy namens ons gedoen het. 

Slot

So kom ons roem daarom in Christus en nooit in onsself óf selfs in ons geloof nie. Ons verdien hoegenaamd, op geen manier, vryspraak van die Here af nie – selfs al het ons ook hóé ‘n stérk geloof.

Tog besef ons die waarde van ons geloof en is dit vir ons duidelik dat ons God se Woord moet glo wanneer Hy sekere dinge aan ons beloof. Kom ons glo daarom dat Christus rééds genoeg gedoen het om my saak voor God reg te maak, want Hy alleen is volkome heilig en volmaak. Want wanneer ek, sonder twyfel, in Hóm glo, dan weet ek verseker wat die toekoms vir my inhou. Wanneer ek wérklik in God-Drie-Enig glo, dan is ek verseker wie ek in Christus is én waarheen ek op pad is. Te danke aan die gawe van geloof besef ek dat ek op pad na Hom toe is om my lewensdoel in die hemel te gaan voltooi. Amen.