Psalm 112: 1 – 10

Skrifgedeelte: Psalm 112: 1 – 10

Fokusvers: Psalm 112: 6

Tema: Die lewe van die regverdige is vas en onvergeetlik.

Inleiding

Kan ‘n mens ‘n kind van die Here tussen ander mense uitken? Kan ‘n mens sê dat een persoon eienskappe van ‘n gelowige het, en ‘n ander nié? Mág ons dit doen of klink dit dalk onregverdig? 

Die afgelope twee weke het ons na ons regverdigheid voor God gekyk. Ons het stilgestaan by die feit dat ons alleen deur ‘n ware geloof voor God regverdig is. Hierdie ware geloof beteken dat ons in Jesus Christus se verlossing en oorwinning behoort te gló. Sonder geloof in God-Drie-Enig is elkeen van ons verlore. En al hoe ons hierdie ware geloof in Christus ontvang, is deur die werking van die Heilige Gees. Alleen uit genade red God sy uitverkore kinders en uit dieselfde genade skenk geloof aan ons.

Die lewe van die regverdige

Met hierdie geloof hoop ek nie maar net ek is ‘n kind van God nie – ek is oortuig daarvan. My ware geloof in Christus is ál wat vir my die versekering gee dat ek voor God regverdig is. Te danke aan Christus se volmaaktheid in my plek, ontvang ek – uit genade – volmaaktheid voor my Vader.

Sommige gelowiges sal dan – tereg – vra: “Maar as ek dan rééds regverdig voor die Here is, waarom moet ek nog goeie werke doen?” “As my geloof in Christus se kruisdood reeds my volmaak voor die Here maak, is my optrede dan ooit belangrik?” “Noudat ek weet dat ek niks van my kant af kan doen om die Here se guns te wen nie, is dit ooit sinvol om op die regte manier te probeer lewe?” Ons moet erken dat baie van ons soms hieroor wonder. Ons is tog van dié gelowiges wat glo dat ‘n mens nie op grond van jou dade geseën word nie. Dat alles net genade is. Dat alles van die Here se kant af in genade vir ons geskenk word, en dat dit nie gaan oor dit wat óns doen nie, maar alleen oor dit wat die Hére vir ons doen.

Maar dan lees ons ‘n gedeelte soos Psalm 112 en dan het ons weer vrae in ons gemoed. As ons hierdie Psalm bolangs lees, dan wil dit vir ons voorkom asof die skrywer se idees anders as ons uitgangspunte oor die Here se genade is. Wanneer ons – verál die eerste gedeelte – van hierdie Psalm net so vinnig deurlees dan klink dit amper asof die skrywer ‘n mens se goeie werke oorbeklemtoon. In vers 1 tot vers 6 verduidelik die skrywer wat die gevolg van iemand is wat naby aan die Here lewe. Hy verduidelik hoe ‘n mens se lewe lyk wanneer jy die Here dien en ‘n vreugde in die Here se Wet het (vers 1): sy nageslag is sterk en dit is invloedryk in die land; daardie persoon se nageslag word geseën (vers 2); daar is oorvloed en rykdom in sy/haar huis (vers 3); wat só ‘n persoon doen is reg (vers 3) en dan sê ons fokusvers boonop dat daardie persoon nooit sal wankel nie, en dat hy/sy altyd onthou sal word. 

Geliefdes, sien u raak hoe maklik hierdie Psalm buite konteks gelees kan word? Voorstanders van die Voorspoedsteologie-beweging sal hierdie Psalm – soos baie ander Skrifgedeeltes – maklik verdraai sodat dit húlle pas. Wanneer ons egter hierdie Psalm binne konteks lees, dan is dit vir ons duidelik dat die Here ons nie seën op grond van dit wat ons doen nie, maar op grond van sy genade. Wanneer ons die rés van die Skrif in ag neem, dan is ons daarvan oortuig dat materiële dinge nie vir ons gegee word as beloning nie, maar as deel van die Here se genade. Die groot nageslag, geldelike rykdom en oorvloed word nie aan die gelowige beloof omdat hy/sy goeie dade doen nie – dit is alles deel van hoe die Here mens, uit sy algemene genade, seën. Ons weet tog dat wáre seën van die Here nie aardse rykdom en sukses is nie, maar die sekerheid van die ewige lewe.

En ál wie hierdie sekerheid ontvang, is God se uitverkore kinders. Ál wie die sekerheid van die ewige lewe ontvang, is húlle wat in Christus geregverdig is. Vanuit die vorige twee preke weet ons hoe ons voor die Here regverdig is, maar hoe tree iemand op wat in Christus geregverdig is? Deur die Here se genade besef ons ons kan nie koud staan teenoor dít wat Christus vir ons doen nie. Ons kan nie deur die Here regverdig gemaak word en dan net aangaan met ons lewe so al asof niks gebeur het nie. Die oomblik wat ek wérklik besef wat aan die kruis en daarna gebeur het en wat dit vir my, persoonlik, beteken, dan sal ek my optrede wil verander. Dan sal ek binne die perke wil lewe wat die Here vir my daargestel het.

Psalm 112 handel van begin tot einde oor die Here se genade en nie oor die mens se voorspoed en suksesse nie. Want alles waarvan ons in hierdie Psalm lees, is te danke aan die Here se wonderlike genade. As ons in vers 1 lees dat dit goed gaan met élkeen wat die Here dien en met húlle wat ‘n vreugde in die Here se Gebooie vind, dan dui dit nie op die méns se vermoë nie, maar op die Hére se genade. Uit ons eie sou ons altyd God en sy Woord verwerp het, maar uit genade vind ons ‘n vreugde in die Here se Woord (Tit. 3: 3-6). In die Here se liefde maak Hy ook ons nageslag sterk, soos vers 2 sê, nie omdat ons goeie dade hier op aarde doen nie, maar omdat Hý wil sorg dat daar ‘n volgende geslag mense is wat Hom ken. God hou sy Verbond in stand en sorg dat daar weer kinders gebore word wat Hom liefhet en Hom respekteer. Verder seën die Here só ‘n persoon met oorvloedige seëninge – nie om Hom of haar te beloon vir ‘n goeie lewe nie – Hy doen dit omdat Hy ons liefhet. En hierdie oorvloed dui nie altyd op geld en besittings nie – soms is dit intelligensie of geleenthede of vrede of veiligheid.

Die lewe van ‘n regverdige – die lewe van ‘n verloste kind van God – is dus ‘n uiters geseënde lewe. Soos dit vir ons duidelik is, is ons lewe nie geseënd omdat ons goeie werke doen of selfs as ‘n beloning omdat ons náby aan die Here lewe nie. Dit is ‘n geseënde lewe omdat die Here ons wíl seën in sy liefde en in sy genade. Deur die werking van die Heilige Gees aktiveer die Vader ons om eienskappe van Homself uit te leef (vgl. Ps. 111). En dit doen ons met die grootste dankbaarheid en gewilligheid, geliefdes. Die regverdiges se optrede is in lyn met God se wil, want ons besef wat ons was toe ons nog ónregverdig voor die Here gestaan het (Ef. 2). Vóórdat ons geestelik nuutgemaak is, is ons vir die oordeel bestem, maar noudat ons die ware geloof in Christus het, word ons van ons sondeskuld vrygespreek. Hierdie besef – hierdie verbinding met Christus deur die Heilige Gees – veroorsaak dat ons optrede by ons identiteit pas. Ons ís nie nou maar net regverdig voor die Here nie, ons tree ook so op.

Al rede waarom ons in regverdigheid kan optree, is omdat ons die genade ontvang om dit te doen. Uit onsself is ons té swak en té sondig (Ef. 2). En daarom het ons Here, Jesus Christus, met sy aardse lewe vir ons gewys hoe wáre genade, barmhartigheid en regverdigheid teenoor ander mense lyk (vers 4). Met sy geboorte het Hy, alleen, die Lig in die duisternis geword wat vir God se kinders opgaan (vers 4). Hy leer ons wat dit prakties beteken om jouself tweede te plaas en op die belange van jou naaste te fokus (o.a. Fil. 2). Dit is te danke aan Hóm dat óns ook dan soms genade en barmhartigheid aan ons medemense kan bewys. Dit is alleen aan Hóm te danke dat ons in alle regverdigheid en billikheid teenoor ander mense kan optree soos ons in vers 4 lees.

Dit is omdat ons in die Here regverdig is dat ons dat ons ons oor ander kan ontferm en sonder rente uitleen aan hulle wat minder as ons het (vers 5; Eks. 22: 25; Lev. 25: 36). Die Psalm gaan verder en sê dat die regverdige nie vir slegte tyding vrees nie (verse 7 en 8). Hy/sy is nie angstig nie, maar voel gerus omdat hy/sy op die Hère vertrou. En hoe waar is hierdie woorde nie, geliefdes. Omdat ons kinders van God is, is ons nie angstig oor dít wat die onbekende vir ons inhou nie, want ons wéét dat ons veilig in die Here se Hand is. Selfs al dreig die dood is ons, as gelowiges, nie benoud nie, want ons wéét dat niks ons van God se liefde kan skei nie (Rom. 8).

Die digter sê verder in vers 9 dat ‘n kind van die Here bereid is om aan behoeftiges uit te deel omdat hy/sy oorvloedig deur die Here geseën word. Vir ‘n wáre kind van God is dit nie moeilik om uit te deel nie, geliefdes, want ons besef tog dat álles wat ons het, net genade is, en dat álles in werklikheid aan die Here behoort. Met geloofsoë kyk ons na hierdie lewe en al ons besittings en dan besef ons dat ons niks kan saamneem hemel toe nie. Dit wat ons hier op aarde bymekaar maak gaan hier agterbly, so waarom klou ons so daaraan vas?

Die regverdige se lewe is vas en hy/sy sal altyd onthou word

Die lewe van ‘n regverdige verskil dus drasties van die lewe van ‘n ongelowige – of dit is minstens veronderstel om daarvan te verskil. Want – anders as die wêreld – leef ons uit genade deur die geloof. Ons lewe nie vir hierdie tydelike lewe nie – ons lewe met ‘n ander visie – ons lewe met geloof. Ons lewe vir die ewige lewe en ons dade behoort ‘n bewýs daarvan te wees. Dít is wat Psalm 112 ons leer.

Maar dan lees ons iets in ons fokusvers wat vir ons vreemd op die oor klink: “Die regverdige bly altyd in herinnering.” Of, soos ons gelees het: “Die regverdige… sal altyd onthou word.” Dit klink vir ons vreemd dat ons hierdie woorde in die Bybel lees, want ons weet hoe gou ‘n mens iemand anders vergeet. Selfs die béste mens – selfs die mees invloedrykste persoon op aarde – word mettertyd vergeet. Mense hou naderhand op om van só iemand te praat. Na ‘n mens se dood dan noem iemand hier en daar jou naam, of mense praat nog vir so ‘n rukkie oor jou nalatenskap, en dan is dit stil. So waarom lees ons in die Bybel dat die regverdige altyd onthou sal word? Dit is tog nie waaroor dit gaan nie? Psalm 112 wil dan juis vir ons wys hoe tydelik hierdie lewe is?

Geliefdes, dit ís so dat ‘n mens góú deur ander mense vergeet word. Wanneer jy sterf, dan hou die mense óp om oor jou te praat – selfs al was jy hóé ‘n goeie mens en selfs al was jy ‘n stérk gelowige. Dit is so dat ménse van jou sal vergeet, maar daar ís Iemand wat jou áltyd sal onthou. Daar is Iemand vir Wie jy altyd in herinnering sal bly, en dít is God-Drie-Enig.

Ons fokusvers se troos is dat ons altyd deur dié Belangrikste onthou sal word en dít is die Here. God se Verbond is éwig en Hy vergeet nooit van één van sy kinders nie. Selfs al het ons hier op aarde gesterf – selfs al het ander mense al lankal van ons vergeet, dan onthou die Hére van ons. Dan bly ons by Hóm in herinnering, want ons lewe dan in sy heerlike teenwoordigheid. Hy kan nie van ons vergeet nie, geliefdes, want ons léwe konstánt voor Hom in die hemel. God vergeet nooit een van sy uitverkore kinders nie, geliefdes. Die Here het té duur vir ons betaal. En dit is waarom ons in ons fokusvers kan bely dat die regverdige vir áltyd onthou sal word.

Slot

Psalm 112 besing die lewe en optrede van iemand wat regvérdig voor die Here lewe. Regdeur hierdie Psalm hoor ons van eienskappe wat kinders van die Here behoort te hé. Noudat ons die Psalm klaar behandel het, gaan ons terug na die twee vrae wat ons aan die begin van die preek gevra het: “Kan ‘n mens ‘n kind van die Here tussen ander mense uitken?” “Kan ‘n mens sê dat een persoon eienskappe van ‘n gelowige het, en ‘n ander nié?”

Verseker kan ons, geliefdes, en ons moet! Solank ons net onthou dat dit nie vir óns is om te oordeel oor wie uitverkies is en wie nie, maar ons kan verseker eienskappe van ‘n regverdige by seker mense identifiseer. En selfs al weet ons dat ons deur die Here verlos is, het ons dade én ons optrede waarde. Daardeur herinner ons onsself én ander mense hoe kinders van die Here behoort te lyk en te leef.

‘n Ware kind van die Here sal met die Heilige Gees vervul wees en kenmerke van Psalm 112 uitleef. Nooit om daardeur ons verlossing te probeer verdien nie, maar áltyd omdat ons dankbaar teenoor die Here vir sy uitverkiesende genade is. Amen.