Markus 10: 33 en 34

Skrifgedeelte: Markus 8: 31 – 33; Markus 9: 30 – 32; Markus 10: 32 – 34

Fokusvers: Markus 10: 33 en 34

Tema: Christus berei sy kerk voor op die toekoms. Hoe reageer ons daarop?

Inleiding

In hierdie afgelope tyd het baie van ons onsself, op ‘n manier, vir die Paastyd voorberei. Baie van ons moes dalk hierdie afgelope tyd stilsit en mooi dink waaroor Paasfees régtig gaan. Paasfees is die tyd van die jaar wat ons, as Christene, Jesus Christus se kruisdood en opstanding vier. Die afgelope tyd het ons ons Here, Jesus Christus, se laaste week op aarde herdenk. Ons moet onsself konstánt hieraan herinner, want ons word deur ‘n wêreld beïnvloed wat nié Paasfees op dieselfde manier as ons vier nie.

Christus berei sy kerk voor op dit wat vir hulle wag

In die Here se groot liefde vir ons, wek Hy egter by ons die behoefte om weer terug te gaan na sy Woord om te gaan kyk waaroor Paasfees wérklik gaan. Wanneer ons na die inhoud van die Bybel kyk, dan kom ons agter dat die Heilige Nagmaal nou in die plek van die Joodse Paasfees gekom het. Wanneer ons oor iets wonder dan sal ons gewoonlik die antwoord daarop in die Here se Woord kan kry. Op hierdie manier berei die Here ons áltyd voor op dít wat ons tans beleef. En Hy doen dit áltyd deur die kragtige werking van die Heilige Gees. En iets wat wonderlik is, is dat God-Drie-Enig dit al van die vroegste tye af doen, geliefdes.

Regdeur die Bybel lees ons hoe God altyd vir sy kinders vertél wat hulle binnekort gaan beleef. Nadat Adam en Eva in sonde geval het, sê God bv. dat hulle (en alle mense ná hulle) met moeite sal voortlewe, en dan gebeur dit só. God belowe bv. dat Hy vir die volk, Israel, ‘n God sal wees, en dan bly Hy getrou aan sy Woord. Hy sê dat hulle in ‘n land kan gaan woon wat Hy aan hulle belowe, en kort daarna ontváng hulle die land, Kanaän, om in te gaan woon. Regdeur die Ou-Testament beloof die Vader dat daar ‘n Messias gebore sal word, en dan gebeur die Wonder van die geboorte van die Baba uit die maagd, Maria. In die tyd van Adam tot Moses het die Here, sélf, met individue gepraat. In die Ou-Testament praat Hy met sy kinders deur gesigte, of drome, of visioene of deur sy Almagtige stem. Later praat Hy direk met sy profete sodat hulle God se Boodskap aan die volk kan gaan oordra. En dan, met die koms van sy Seun, praat God met sy uitverkore kinders deur Jesus Christus.

Mense soos die dissipels en ander gelowiges van daardie tyd, het dus die voorreg gehad om fisies vir Jesus Christus bý hulle te hê en te luister na sy stem. Soos ons weet het Christus aarde toe gekom om God se Woord en sy Wil aan mense vérder bekend te maak. Die Ou-Testament, alleen, is dus nie voldoende om hulle verlossing te verstaan nie. Christus kom wys juis vir die gelowiges van daardie tyd hoe die beloftes en profesieë van die Ou-Testament in Hóm vervul word. Hy gee dus troos aan húlle wat op Hom gewag het – maar Hy troos ook óns wat vandag lewe. Want anders as die dissipels, verstaan ons sy laaste woorde beter omdat ons ook kan sien wat daarná gebeur het. In die Vader se genade gee Hy vir ons die rés van die Nuwe Testament sodat ons vérder kan sien hoe Christus se Woorde in vervulling gaan.

Markus vertel in hoofstukke 8, 9 en 10 van sy Evangelie hoe Jesus Christus sy dissipels op die toekoms voorberei. In al drie gedeeltes, wat ons vanoggend saam gelees het, vertel ons Here, Jesus, hoe Hy binnekort sal moet sterf. Jesus Christus wéét wat vir Hom wag: Omdat Hy sélf God is, weet Hy álles. Hy weet hoe sy vyande vir Hom ‘n verskríklike lyding en selfs sy dóód beplan, maar Hy laat Hom nie deur hulle goddelose planne afskrik nie, geliefdes. Iets wat ons moet verstaan, is dat Hy nie Homself doelbewus wil laat doodmaak soos sommige mense beweer nie. Hy is bloot getrou aan die opdrag waarmee sy Vader Hom roep. As Almagtige sien Hy káns om sy aardse roeping te voltooi. Vérder sien Hy kans vir dit wat op Hom wag, want Hy vertróú sy Vader. Hy gló wérklik dat sy Vader Hom nie vir áltyd sal verlaat en alleen laat nie. Jesus Christus is daarvan oortuig dat Hy weer God, die Vader, se liefde en nabyheid sal ervaar wanneer Hy volkome gehoorsaam was.

Geliefdes, hoe merkwaardig is ons Verlosser nie? Selfs in sy laaste dae, bemoedig Hy sy dissipels. Selfs al loer die dood vir Hom, troos Hy sy navolgers met sy Vader se beloftes. Jesus se Woorde, wat in Markus 8 tot 10 opgeteken is, is die Woorde wat Hy nét voor sy laaste week op aarde gesê het. Christus se Boodskap is dieselfde in al drie hierdie gedeeltes, en tog verskil elkeen van hierdie gedeeltes van mekaar. In elke gedeelte sê die Messias vir sy dissipels dat Hy binnekort baie sal moet ly. Hy noem in elk van hierdie gedeeltes dat Hy deur die familiehoofde, priesterhoofde en skrifgeleerdes verwerp en doodgemaak sal word. En Hy sê ook, in al drie hierdie hoofstukke, dat Hy ook drie dae later uit die dood sal opstaan.

Eintlik “” Hy nie maar net hierdie dinge vir sy dissipels nie, die oorspronklike taal sê dat Hy hierdie dinge vir die dissipels “leer”. Wanneer Christus dus vir sy dissipels sê dat Hy binnekort gevange geneem sal word, verhoor sal word en aan die kruis moet ly, dan onderrig Hy hulle met die doel dat hulle sal weet wat die toekoms inhou. Drie keer leer Hy hulle dat hulle binnekort geweldige trauma gaan beleef tydens die gebeure rondom die kruis. Ons kan nie anders as om Christus se omgee-liefde raak te sien nie, geliefdes. Hy wil nie hê dat sy dissipels té verward en té ontsteld moet wees wanneer Hy skielik van hulle weggeruk gaan word nie, en daarom berei Hy hulle voor op dit wat vir hulle álmal wag.

Dit is egter nie net hier, in die laaste week voor sy kruisdood, wat Hy vir sy navolgers sê dat Hy sal moet sterf nie. Soms maak Hy ook van beelde gebruik om sy lyding en dood aan te kondig. Subtiel noem Hy bv. dat daar ‘n tyd kom dat die Bruidegom van sy bruid weggeneem gaan word (Mark. 2: 20), of dat daar ‘n beker is wat Hy moet drink – ‘n doop waarmee Hy gedoop moet word (Mark. 10: 38). Maar hierdie keer praat Jesus nie deur beelde nie,  geliefdes. Hierdie keer praat Hy reguit (Mark. 8: 32). Hy sê reguit vir hulle dat Hy binnekort deur die Joodse priester- en familie-hoofde verwerp sal word – dat Hy doodgemaak moet word en dat Hy drie dae later uit die dood sal opstaan. Drie keer praat die Verlosser reguit met sy navolgers sodat hierdie voorbereidende woorde by hulle ingeskerp en vasgelê word. Dríé keer, geliefdes – die volheidsgetal. So kondig Hy, vollédig, sy lyding, dood en opstanding aan. En élke keer reageer die dissipels ánders daarop.

In Markus 8 neem die apostel, Petrus, vir Jesus eenkant toe en dan berispe hy vir Christus. Kinders, wanneer ‘n mens iemand berispe dan spreek ons so ‘n mens streng aan oor dit wat hy/sy gedoen het. Nou hoor ons dat Petrus vir Jesus Christus, die Seun van God, berispe oor dit wat Hy sy dissipels leer! Kan ‘n mens so arrogant wees? Laat ons eerder vra: kan ‘n mens so naïef wees? In Petrus se onkunde berispe Hy die Ware Messias – in sy opregte liefde gaan Hy die Lam van God tee, want na sy mensheid wil Petrus nie glo en aanvaar dat Christus binnekort moet sterf nie. In Petrus se verwysingsraamwerk was Jesus Christus waarskynlik Iemand wat onsterflik is – Wie Hy is, geliefdes – maar soos ons weet moes Hy liggaamlik sterf om so vir die straf op ons sondes te betaal. Christus het ‘n roeping om te vervul en nou wil Petrus Hom keer om dit te doen. Daarom herstel Hy die verhouding tussen Leermeester en leerling en is dit Hý wat vir Pétrus bestraf met die woorde: “Gaan weg agter my, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense” (Mark. 8: 33).

In Markus 9 kondig Jesus Christus vir ‘n twééde keer sy lyding, sterfte en opstanding aan. In sy liefde berei die Messias sy dissipels wéér voor vir dit wat op hulle wag – en dan is dit opmerklik dat sy dissipels hierdie keer huiwerig is. In vers 32 lees ons: “Hulle het hierdie uitspraak (van Jesus) nie verstaan nie en was bang om Hom daaroor uit te vra.” Heelwaarskynlik onthou die dissipels nog al te goed wat maar onlangs met Petrus gebeur het. Die Here het na hom as die satan verwys en dít wil hulle verseker nie genoem word nie. Die dissipels het egter steeds nie Jesus se woorde verstaan nie, geliefdes.  Al was hulle nou al so lank saam met Hom en al het Hy nou al ‘n paar keer self vir hulle genoem dat Hy binnekort gaan sterf en dat Hy ook uit die dood gaan opstaan, verstaan hulle stééds nie presies wat dit behels nie (vgl. ook Mark. 9: 2 – 10).

Die derde – en laaste – keer wat Christus sy dissipels op sy dood en opstanding voorberei, is etlike dae voor sy kruisdood. Net voordat hulle die stad, Jerusalem, binnegaan neem Jesus sy dissipels eenkant toe en dan verduidelik Hy hulle – amper soos wat ‘n mens ‘n klein kindjie iets sal verduidelik. “Kyk, ons gaan nou op na Jerusalem, en die Seun van die Mens sal aan leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy (uit die dood) opstaan.”

Tot in die fynste besonderheid berei Jesus Christus sy kerk voor, sodat die trauma – die skok – nie te groot is nie, geliefdes. En hierdie keer reageer die dissipels glad nie op sy woorde nie. Het hulle nou al vrede gemaak met sy lot of is hulle dalk te gewoond aan sy Woorde? Voel hulle dalk soos ‘n geïrriteerde kind teenoor sy/haar besorgde ouer?: “Ja, ja ons wéét wat U vir ons gaan sê.”

In die Evangelie volgens Johannes berei Jesus hulle selfs vérder voor as Hy hulle leer dat hulle nie ontsteld moet wees nie, want Hy laat gelowiges nie as weeskinders agter nie maar Hy kom weer na ons toe. Om alles te kroon gee Hy nog ‘n ander Voorspraak in sy plek sodat Hý (die Heilige Gees) nou ewig by ons kan wees om ons te troos en in die geloof te versterk (Joh. 14). So berei Jesus Christus sy dissipels nie net voor op sy kruisdood nie, maar óók op sy opstanding uit die dood én sy Hemelvaart.

Hoe reageer ons daarop?

Geliefdes, iets wat ons moet verstaan, is dat die Paaslam nie maar pateties toelaat dat die heidene Hom gevange neem en Hom doodmaak nie. Nee, Hy gee Homself oor. Sy lewe word nie van Hom afgeneem nie, maar Hy lê dit vrywilliglik af. In sy liefde doen Hy dit want Hy besef dat Hy ‘n roeping het – ‘n opdrag om te voltooi. En dit is juis hierdie bereidwilligheid in liefde wat ons met vandag se Nagmaal vier. Deur die werking van die Heilige Gees het die Here elkeen van ons voorberei vir dít wat ons vandag aan sy Tafel gaan beleef.

Die Here berei nie net die Ou-Testamentiese kerk voor op dinge soos die Uittog, die Paasfees en die Ballingskap nie. Hy berei elke kind van Hom vandag nog voor – vir vandag se Nagmaal, maar ook vir ánder dinge in ons geloofslewe. Ons word voorberei vir élke ding wat ons in die lewe beleef. Die vraag is net, sien ons dit raak? Besef ons dat die Here ons in alle liefde wil voorberei vir die uitdagings van die lewe? Of kyk ons dit mis? Is ons dalk soos die dissipels wat al so gewoond aan die Here se liefde geraak het, dat ons dit begin miskyk?

Geliefdes, mag ons vanoggend getroos wees in die wete dat die Here ons nooit deur iets sal laat gaan, sónder om ons vollédig daarvoor voor te berei nie. Wanneer jy dalk nie weet wat om ná my skoolloopbaan te doen nie, vertrou dat die Here jou daarvoor sal voorberei. Wanneer jy dalk binnekort met ‘n nuwe mediese behandeling moet begin, dan sal die Here jou daarvoor voorberei. Sien raak hoe Hy in liefde na jou toe uitreik en jou sekere dinge wys sodat die trauma vir jou hanteerbaar sal wees. Wanneer jou lewe ‘n nuwe wending ingeneem het, en jy rééds dinge ervaar wat jou soms wil oorweldig, besef dat die Here jou reeds daarvoor voorberei het. Dink aktief terug aan al die kere wat die Here in sy liefde vir jou die pad gewys het waarop jy nou reeds loop.

Slot

Geliefdes, kom ons hou vas aan God en aan sy Woord. Van die vroegste tye af praat God met sy kinders en berei Hy hulle voor vir dit wat hulle binnekort gaan beleef. Maar noudat Jesus Christus na die hemel toe opgevaar het, hoe praat God nóú met ons? Stééds deur sy Seun, geliefdes. God praat stééds met ons deur die Bybel en Hy berei sy kerk stééds voor op dit wat vir haar wag. God berei ons voor op die swaar tye wat sy kerk nou reeds beleef – op die vervolging en die onderdrukking – maar God berei ons óók voor op die heerlike beloftes wat ons, as kerk, sal beleef. God berei ons voor op Christus se heerlike wederkoms waar Hy ons na Hom toe sal neem sodat ons éwig daar by Hom kan wees.

Mag ons in hierdie hoop volhard, geliefdes. Mag ons styf daaraan vashou en weet dat die Here ons nie net vir sekere dinge voorberei sodat die skok minder is nie, maar dat Hy élke dag saam met ons gaan – deur álle denkbare omstandighede. Amen.