Skrifgedeelte: Psalm 78: 1 – 8; 40 – 58; 70 – 72
Fokusgedeelte: Psalm 78: 3 – 7
Tema: God maak sy mag en wonderdade bekend sodat die volgende geslag daarvan sal weet.
Inleiding
Elke ouer-paar het ‘n natuurlike behoefte dat hulle kinders béter as hulle sal wees. Indien akademie vir ‘n mens belangrik is, dan sal ‘n mens wil toesien dat jou kinders verder geleerd is as jyself. Indien besigheid vir jou belangrik is, dan sal jy – as ouer – graag wil sien dat jou kinders meer suksesvol as jy is. Indien boerdery vir jou belangrik is, dan sal dit jou trots maak as een of meer van jou kinders ‘n groter sukses van die boerdery sal maak.
Daar is niks daarmee fout om na vooruitgang te streef nie, geliefdes. Solank ons net op ‘n gesonde manier hierna streef. Dit is ‘n kuns om ‘n mens se kinders aan te moedig om te presteer, sonder om hulle ambisie te versmoor met ongesonde druk. Wanneer ‘n mens ‘n vuur al sterker wil laat brand, dan moet daar beheer wees oor die tempo van die wind. Daar moet ‘n fyn balans wees om toe te sien dat ‘n mens nie die vlam blus nie, maar dat die vuur juis groter word en helderder brand.
God maak sy mag en wonderdade bekend
Niks gee vir ‘n ouer groter vreugde as om te sien hoe jou kind iets geniet nie. As ouer sal jy alles in jou vermoë doen om by te dra dat jou kind uitstyg bo die ander – selfs uitstyg bo jóú en dit wat jý al in die lewe bereik het. Voel ons ook só wanneer dit by ons geloofslewe kom? Is geloofsvooruitgang vir ook vir ons belangrik of fokus ons maar net op persoonlike- en materiële vooruitgang?
Vir iemand soos Asaf, is geloofsvooruitgang uiters belangrik. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, ontvang Asaf die insig om raak te sien dat die vólgende geslag beter as die vórige geslag moet wees – en dan nie fisies sterker of meer suksesvol nie – maar nader aan God. In ons laaste fokusvers lees ons: “So sal hulle dan op God vertrou en nie vergeet wat Hy gedoen het nie, maar gehoorsaam wees aan wat Hy beveel het, en nie wees soos hulle voorvaders nie. Húlle was ‘n opstandige en ongehoorsame volk… wat nie aan God getrou was nie” (verse 7 en 8).
Die digter, Asaf, het in dieselfde tyd as koning Dawid geleef. Vanuit die Bybel leer ons hom ken as ‘n Levitiese amptenaar wat graag musiek gemaak het tot eer van die Here (1 Kron. 15: 11 -14). Verder het hy bekend gestaan as ‘n man wat graag sy seuns onderrig het – ons sien hierdie eienskap van hom in Psalm 78 duidelik raak. Asaf het ook verskeie Psalms gedig (ps. 50; 73 – 83) en in al hierdie Psalms kan ons sy profetiese visie raaksien asook sy liefde vir God se Verbond en sy gehoorsaamheid aan die Here.
In Psalm 78 word ‘n groot gedeelte van die volk, Israel, se geskiedenis saamgevat. Asaf dig oor God se genade en óók oor die mens se onverskilligheid. Regdeur hierdie Psalm herinner Asaf sy lesers aan die siklus van die mens se sonde en God se genade. Die gelowiges in Asaf en Dawid se tyd kyk terug op hul geskiedenis en sien raak hoe gereeld hul voorouers die Here se geduld met hulle verontagsaam het: Al het die Here vir die Israeliete gewýs hoe Hy hulle kragtig verlos van die wrede Egiptenaars, en hoe Hy vir hulle in die woestyn gesorg het, was dit nie genoeg vir hulle nie (verse 9 – 17). Hierdie gelowiges het die Here getart en gevra vir kos wat béter smaak en vir sóéter water (verse 18 – 21). Omdat die Here lank vat om kwaad te word, bewys Hy wéér sy genade vir hierdie sondige kinders van Hom en gee Hy vir hulle wat hulle vra. Hierdie wonderwerk van God het egter nie dankbaarheid by Israel gewek nie, maar eerder ‘n traak-my-nie-agtige houding (verse 22 – 39).
Wéér bewys die Here sy genade teenoor hulle en vergewe Hy hulle sonde. In die gedeelte wat ons saamgelees het, het ons verder gehoor hoe die volk opstandig teenoor die Here was en hoe hulle God oor en oor getárt het. Hierdie sondige optrede van sy volk het die Here gegrief, lees ons in vers 41, want selfs al stuur Hy die Tien Plae beséf hierdie mense nie die Almag van God en sy Liefde vir hulle nie. Hierdie mense het hulle ook nie aan die Here se Tien Gebooie gesteur nie – hulle het nie moeite gedoen om, uit dankbaarheid, rég te lewe nie (vers 56). Net soos hulle voorouers was hulle afvallig en ontrou – ons lees dat hulle so vals soos ‘n onbetroubare wapen was. Op die oog af lyk hulle bruikbaar en nuttig, maar sodra ‘n mens iets van hulle verwag, dan beteken hulle net mooi níks. Hulle was soos die wit gepleisterde grafte waarna Jesus in die Nuwe Testament verwys (Matt. 23: 27). Daarom tref God sy volk op ‘n meer radikale manier met die Ballingskap. Dit is dáár – in die vreemde – wat die volk van die Here tot inkeer moes kom – dáár waar hulle totaal en al alleen is en slégs van Gód afhanklik is. Dit is egter net ‘n handjie vol wat met ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees uit Ballingskap terugkeer. Die meerderheid het opstandig gebly en hulle teen die Here verset. Die meerderheid kyk God se almagswerke mis en sien nie sy ewige getrouheid raak nie.
Asaf sluit sy Psalm op ‘n positiewe noot af deur te vertel hoe die Here se genade seëvier: Dáwid word as koning oor Israel geroep om die Here se kinders te versorg soos Hy sy pa se skape in die veld versorg het. Waarom sluit Asaf Psalm 78 met Dawid se koningskap af, geliefdes? Waarom stop sy opsomming van Israel se geskiedenis by koning Dáwid? Juis sodat die gelowiges se geskiedenis nie eindig nie, ‘n toekoms kan hê, geliefdes. Is dit nie vanuit Dawid se nageslag wat Jesus Christus gebore word nie? Omdat God sy kinders innig liefhet, tree Hy wéér op – wys Hy wéér oor watter mag Hy beskik en hoe groot sy genade is. God oortuig sy kinders wéér dat Hy getrou blý aan sy Woord.
Reeds van die vroegste tye in die gelowiges se geskiedenis, het God die Ware Messias belóóf en nou stúúr Hy Hom om vir hulle verlossing te bring. Jesus Christus betaal die volle prys daardie Vrydag-middag aan die kruis. Hý ondergaan die verwerping en godverlatenheid wat God se kinders verdien. Hý word gestraf vir elke keer wat ons voorgeslagte – en óns – God se magtige reddingsdade miskyk. Hý word deur God vervloek vir al die kere wat gelowiges nie erken wat God in hulle lewens doen nie, en nie die eer daarvoor vir die Here gee nie. Vir al die kere wat ons op ons eie vermoë staatmaak en stééds onvergenoegd voel – selfs al síén ons die Here se genade raak.
Vertel vir die volgende geslag wie God is
Geliefdes, wat is die rede dat die Here ons stééds deur sy Seun vergewe – ook van dít waarvan ons in Psalm 78 gelees het? Die Here vergéwe ons omdat Hy telkens terugdink aan die Verbond wat Hy met sy uitverkore kinders gesluit het. God herinner Homself gedurig aan dít wat Hy aan Abraham beloof het: ‘Ek bring ‘n Verbond tot stand tussen My en jou, én jou nageslag én ál hulle geslagte. Dit is ‘n blywende Verbond. Ek sál jou God wees en óók die God van jou nageslag.’ Verder het God gesê: ‘Jy moet My verbond nakom , jy én jou nageslag en ál hulle geslagte’” (Gen. 12 en 17).
Anders as ons, kom God sý deel van hierdie Verbond ná – van nog áltyd af. Wanneer ons wérklik gelowig is, staan ons en ons kinders in hierdie sélfde Verbond, want dit is ‘n Ewige Verbond. Dit is dieselfde Verbond wat God met Abraham gesluit het – dieselfde Verbond wat Asaf in Psalm 78 besing – dieselfde Verbond wat in Christus nuutgemaak is (Hebr. 8 en 9) – wat met óns en ons kínders gesluit word. En vanoggend het ons die voorreg om die tékens van hierdie Verbond te sien en te ontvang.
Aan die kruis het Jesus Christus se bloed rééds gevloei – in en deur Jesus Christus is die volle Offer reeds gebring om ons en ons kinders deel te maak van God se Genadeverbond. En daarom bring ons nie vanoggend ‘n offer nie, maar daarom kom doop julle vanoggend julle kinders. Wanneer die water netnou oor hul voorkoppe gaan vloei, dan gee die Here in sy liefde vir ons ‘n teken: die Here verseker ons dat ál hulle sonde rééds deur Jesus Christus vergewe is. Soos ‘n mens met water skoongewas word, net só het Christus se kosbare bloed hulle rééds gereinig. Omdat ons swak in die geloof is, gee die Here vir ons ‘n sigbare teken sodat ons en ons kinders kan wéét dat hulle deel van God se Verbond is.
Geliefdes, ons moet goed verstaan dat ons kinders nie outomaties deel van God se Verbond is, nét omdat hulle uit ‘n gelowige familie kom nie. Die doop wat hulle vanoggend gaan ontvang, maak óók nie dat hulle nou die ewige lewe het nie. As ouers moet ons stééds hulle van die Here leer. Ons moet moeite doen om hulle te leer dat hulle in God kan glo – dat hulle op Hom, alleen, kan vertrou. Dit is nie my herkoms wat van my ‘n verloste mens maak nie – dit is ook nie die feit dat ek gedoop is wat aan my die ewige lewe gee nie. Dit is alléén my geloof in die Ware Verbondsgod wat aan my die versekering van die Ewige Lewe gee.
Daarom het ons, as ouers, die besóndere roeping om ons kinders van die Here se genade te leer, geliefdes. Ons moet érnstig fokus op Skrifgedeeltes soos ons fokusvers en ons kinders aan die Here se almag herinner. Julle wat vanoggend julle kinders bring om gedoop te word, ontvang verál hierdie opdrag.
Praat elke dag met hulle oor Wie die Here is en tot wat Hy in staat is. Gaan gedurig terúg na die Bybel toe en léér hulle al die eienskappe van God. Kom die opdragte van Psalm 78 na en vertel vir hulle van die roemryke dade van God. Hoe Hy van ons verwag om aan Hom gehoorsaam te wees, maar ook hoe groot sy genade is. Selfs al kom ons almal uit sondige families, maak God elke keer ‘n nuwe begin met sy kinders. Omdat ook hulle deel van die Verbond is, blý God getrou – selfs al is ons ontrou. Vertel vir hulle dat hulle gedoop is toe hulle klein was, en dat hulle ‘n teken ontvang het dat hulle van hulle sondes gereinig is. Leer hulle dat hulle, daarom, met hulle sondes moet breek en al meer in lyn met God se wil behoort te lewe. Herinner hulle dat hulle ‘n nuwe identiteit in Christus ontvang het en dat sy Offer aan die kruis ook vir húlle geld. Lei hulle dan daartoe dat hulle ook in die troos van sy Opstanding uit die dood sal vashou. Vertel vir hulle hoe hulle elke dag uit die sonde moet opstaan en wees sélf vir hulle ‘n voorbeeld van iemand wat die Oorwinning van Christus uitleef.
Slot
Dan sal jy kan raaksien wat wáre vooruitgang behels. Nie ekonomiese- of akademiese vooruitgang nie, maar geloofsvooruitgang. Mag ons altyd daarna streef dat ons kinders ook die Here sal leer ken soos ons Hom ken. Mag ons altyd toesien dat ons kinders die Here leer ken soos Hy Hom in sy Woord aan ons bekendmaak, en mag ons graag hulle oor die Here leer. Want as óns dit nie doen nie dan sal iemand ánders hulle moontlik van iets of iemand ánders leer.
Geliefdes in ons Here, kom ons maak die Here, in al sy glorie, aan ons kinders bekend sodat die volgende geslag die Waarheid mag ken. Kom ons vertel dit álles vir hulle sodat hulle weer vir húlle kinders kan leer en sodat hulle ook ál hulle vertroue in God kan stel en nooit sy wonderdade en sy volmaakte wil sal vergeet nie. Want dít is die manier waarop God sy Ewige Verbond met sondaar-mense in stand hou. Amen.