Skrifgedeelte: Romeine 10: 9 – 15
Fokusverse: Romeine 10: 9 en 10
Heidelbergse Kategismus Sondag 25
Tema: Sakramente wék nie geloof nie, maar verstérk geloof
Inleiding
Twee weke terug het ons die voorreg gehad om, as gemeente, saam Nagmaal te gebruik. En verlede week was baie van ons getuies van ‘n besonderse Doop-geleentheid. Binne slegs twee weke is beide Sakramente van die Nuwe Testament in ons gemeente bedien. Wat is ‘n sakrament of sakramente? Ons kry nie die term “sakrament” in die Bybel nie – dit is ‘n woord wat uit die Latyn afgelei is – baie jare nadat die Bybel voltooi is. Tog kry ons telkens die gebruik van sakramente in die Bybel – in die Ou- én Nuwe Testament. Die enigste twee sakramente waarvan ons in die Bybel lees, is die Doop en die Nagmaal.
Wie of wat wek geloof?
Soos ons Belydenis dit definieer, is sakramente heilige, sigbare tekens en seëls wat deur God ingestel is. M.a.w. sakramente is eerstens heilig omdat dit van God af kom. Wanneer iets heilig is, dan is dit vir God afgesonder. Sakramente is dus nie in die eerste plek daar vir die méns nie, maar vir Gód. In beide die Ou- én die Nuwe Testament is dit deur God ingestel. In die Ou Testament het God die Besnydenis en die Pasga ingestel (Gen. 17 en Eks. 12) en in die Nuwe Testament het Christus die Doop en die Nagmaal ingestel (o.a. Matt. 28: 19 en Matt. 26: 26-30).
Verder bely ons dat die sakramente ook sigbare tekens en seëls is. Die Doop en die Nagmaal is dus sigbare tekens van God se Verbond. Want dit is slegs God se Verbondsvolk wat die voorreg het om deel te hê aan die Here se Tafel en die beloftes van die Doop te ontvang. Sakramente is dus sigbare tekens – ons kan dit ook met beelde of prente vergelyk. Enige onderwyser sal erken dat leerders sekere begrippe met die hulp van prente of sketse béter verstaan. Soms is woorde te abstrak om iets te verduidelik – om bv. vir iemand te probeer vertel hoe geweldig die water van die see is, is net nie dieselfde as om fisies by die see te wees nie. Om ‘n foto of ‘n video van ‘n ander land te sien, is soveel béter as om net daarvan te hoor of daaroor te lees. Want in hierdie prent sien jy dinge soos die mense se emosie, die kultuur en landskap raak.
In die Here se genade gee Hy vir ons sigbare tekens van sy onsigbare genade. Daarom bely ons dat ons “die beloftes van die Evangelie deur die sakramente beter verstaan”. Want nou hóór ons nie net hoe Christus se bloed aan die kruis moes vloei nie, ons het die téken van die wyn. Soos ons daardie beker oplig om ‘n slukkie te vat, dan kan ons wérklik indink aan hoe sy bloed uit sy wonde gedrup het. Wanneer ons die brood tussen ons vingers vat en die tekstuur en die smaak in ons monde voel en proe – dan raak Christus se kruisdood vir ons ‘n gróter werklikheid. Wanneer ons sien hoe die Heilige Doop aan ons kinders bedien word, dan word die genade van Christus se volkome verlossing vir ons ‘n gróter realiteit. Omdat ons nietige mense met beperkte begrip is, gee die Here vir ons sigbare en tasbare tekens om ons verlossing én sy Genadeverbond beter te verstaan.
Maar ons Belydenis sê dat die sakramente ook seëls is “wat die beloftes van die Evangelie aan ons beseël”. Wanneer ons dan die voorreg het om ‘n sakrament te ontvang, dan verseël die Heilige Gees God se beloftes aan ons. Die sakrament van die Heilige Doop word net één maal in ons lewe aan ons bedien (Ef. 4: 5), maar die sakrament van die Heilige Nagmaal is iets wat ons “díkwels” ontvang. As gehoorsame kerk van die Here gebruik ons dikwels Nagmaal omdat ons Jesus se opdrag by die instelling van die Nagmaal wil nakom (Luk. 22: 19). By beide die Doop én die Nagmaal praat God met my, persoonlik, en verseël Hy sy beloftes opnuut aan my. Tydens die Nagmaal kan ek verséker wees dat, net so seker soos wat ek die tekens van die brood en die wyn ontvang, net so seker versterk die Heilige Gees my met Christus se liggaam en bloed. En tydens die Doop kan ek verséker wees dat ek nou deel van God se Verbond is, dat Christus my van al my sondes reinig deur sy bloed en dat ek deur die Heilige Gees geheilig is.
Dit is dus duidelik dat beide hierdie sakramente ons op ons totale verlorenheid, maar óók op ons verlossing deur Christus wys. Dit is juis wat die sakramente doen, geliefdes, dit is tekens – wat nie na onsself wys nie – maar na Christus. Die sakramente help ons om te besef dat ons nie ons verlossing in onsself of ander mense moet soek nie, maar alleen in Christus. ‘n Skip se anker word tog nie op die skip se vloer uitgegooi wanneer dit vastigheid soek nie, maar dit word juis wég van die skip af gegooi – in die dieptes van die see.
Wanneer ons hierdie dinge hoor en dan terugdink aan die onlangse Nagmaal en verlede week se spesiale Doop, dan besef ons dat die Here se sakramente baie waardevol en noodsaaklik is. Ons besef dat ons, as kerk, die sakramente nódig het. Maar tog is dit uiters belangrik dat ons altyd sal onthou dat sakramente nooit geloof by ons wék nie, maar wél ons geloof verstérk.
Waarom sê ons dat die sakramente nie ons geloof wek nie? Is dit nie my getroue gebruik van sakramente wat aan my ‘n sterk geloof waarborg nie? Die feit dat ek regdeur my lewe moeite gedoen het om elke Nagmaal by te woon en al my kinders te doop moet tog tot my voordeel sterk? Waarborg my gehoorsame kerkbywoning nie die Ewige Lewe aan my nie? Nee, geliefdes, want dit is alleen die Here wat geloof in my wek. Dit is alleen die Heilige Gees wat van my ‘n kind van God maak, en nie énige iets wat ek van my kant af doen nie – selfs nie die frekwensie waarop ek die Sakramente gebruik nie.
Kom ons kyk weer na dit wat ons in Romeine 10 gelees het: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, (dan) sal jy gered word.” Vandag se fokusvers maak dit maar net wéér vir ons duidelik dat ons niks van ons kant af kan doen om gered te word nie, geliefdes. Niks wat ek uiterlik doen, sal ooit genoeg wees om verlossing te verdien nie. Volgens Romeine 10: 9 en 10 het ons twee dinge nodig om gered te word nl. ons geloof en ons belydenis. “Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” En wie – of wat – werk hierdie geloof in ons harte? Die sakramente? My kerkbywoning? Nee, geliefdes, dit is alleen die Here wat geloof in my sondaar-hart kan werk, en Hy doen dit deur die Heilige Gees.
Op grond van dít wat ons o.a. in Efesiërs 2: 8 lees, kan ons verseker wees dat ons slégs deur geloof gered is. Uit God se wonderlike genade skenk Hy hierdie gawe van geloof aan ons (vgl. ook Joh. 3:5 en Fil. 1: 29). Dit is op grond van hierdie Skrifwaarheid wat ons in die Kategismus kan bely dat hierdie geloof nie vanuit onsself kom nie, maar dat dit die Heilige Gees is wat hierdie geloof aan my skenk én in my werk. En hoe bewerk die Heilige Gees in ons harte? Hy doen dit alléén deur suiwer Woordverkondiging, geliefdes. Ons bely in Sondag 25 dat die Heilige Gees geloof in ons harte bewérk deur Evangelie-verkondiging en dat Hy ons geloof verstérk deur Sakrament-bediening.
Daarom het die rés van Romeine 10 óók vir ons waarde, geliefdes, want hoe kan ‘n mens in God-drie-Enig glo, as jy nog nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? Sien u die waarde van die gepredikte Woord raak? Daar waar God se Woord suiwer verklaar, verkondig en toegepas word, dáár kom God sélf aan die Woord. En dit is alleen dáár waar God se almagtige Stem spreek, waar mense tot geloof en verantwoording geroep word. Met elke opregte en getroue preek is dit nie ‘n mens wat iets aan ons voordra nie, maar God sélf wat met sy kinders praat. En daar waar Hy aan die Woord is, daar word nuwe léwe gewek! Met dieselfde krag waarmee Hy alles geskep het, herskep Hy ook sy uitverkore kinders en verwyder Hy my hart van klip om aan my ‘n hart van vlees te gee.
Het sakramente dan enigsins ‘n nut?
Maar as ons alleen deur die geloof aan Christus en al sy weldade deelkry, het die Doop en die Nagmaal dan enigsins vir my ‘n nut? Definitief, geliefdes! Want al veroorsaak en waarborg die sakramente nie geloof aan my nie, verstérk dit baie beslis my geloof. Die Doop en die Nagmaal is spesifiek vir die kerk gegee sodat ons die geheimenisse van die Here se Woord beter verstaan. Wanneer ek, as lidmaat, die tekens van die Doop en die Nagmaal met al my sintuie inneem en beleef, dan voel ek op ‘n manier náder aan die Here. Ek het nou iets sigbaar en tasbaar wat my aan Christus se volkome verlossing aan die kruis herinner. Wanneer ek die water en die wyn en die brood sien, dan besef ek opnuut die Here se genade. Christus se volkome offer aan die kruis – sy bereidwilligheid om tot die dood toe verneder te word – ter wille van mý – word vir my al duideliker.
Die sigbare sakramente versterk ook my geloof wanneer ek, soms, in my geloof twyfel. Wanneer die Wetenskap of my ongelowige vriende of die goddelose wêreld my laat twyfel of ek wérklik ‘n kind van die Here is, dan is dit baie keer die Sakramente wat weer aan my die versekering gee. Dink daarom aan die Here se beloftes by die Doop en die Nagmaal wanneer jy in die toekoms versoek word: Herinner jouself daaraan dat jy deel van God se Verbondsvolk is en dat jy die teken van die Doop ontvang het as bewys daarvan. Herinner jouself dat Jesus Christus se liggaam vir jou gebreek het en dat sy bloed vir jou gevloei het en dat Hy rééds die volle prys vir ál jou sondes betaal het.
Slot
Geliefdes, kom ons gryp vás aan die genade wat ons bely: Alléén deur die werking van die Heilige Gees wek God geloof in ons harte wanneer ons die Evangelie lees en aanhoor. Ons kan niks uit onsself doen om geloof te verdien nie. Die Here gee dit vir wie Hy wil en Hy doen dit deur suiwer Woordverkondiging. Die Here verander ons harte en Hy open die verstand van mense wie Hy uitverkies het. Maar om dit vir ons sélfs makliker te maak, gee Hy vir ons sigbare tekens om sy genade aan ons te verseël.
Dit is die Gees wat geloof in ons harte werk, maar dieselfde Gees is ook by die bediening sakramente teenwoordig. Daarom is hierdie sakramente ook heilig en daarom vind dit, in die teenwoordigheid van God, in die erediens plaas. So kom ons kom luister getrou na dit wat die Here vir ons wil sê, en kom ons woon graag die eredienste by. Nie nét tydens ‘n Doop of wanneer dit Nagmaal is nie, maar élke liewe geleentheid wat ons kry. Want dit is nie die Heilige Sakramente wat geloof in ons harte wek nie, maar die Heilige Gees. En Hy doen dit slégs dáár waar God se Woord suiwer gepreek en verklaar word. Amen.