Mattheus 26: 36 – 46

Skrifgedeelte: Mattheus 26: 36 – 46 asook Jakobus 4: 13 – 16

Fokusvers: Mattheus 26: 39(b)

Heidelbergse Kategismus Sondag 49

Tema: God se wil sál plaasvind. Gelowiges sal hul eie wil daarvoor verruil én daarby berus.

Inleiding

‘n Veldbrand vernietig duisende vee. ‘n Jong tiener pleeg selfmoord. My lewensmaat word met terminale kanker gediagnoseer. Hoekom vind hierdie tipe dinge plaas? Is sulke dinge God se wil? As dit is, hoe kan die Here sulke dinge toelaat?

In vandag se preek gaan ons na ‘n mens se wil teenoor God se wil kyk. Ons gaan raaksien hoe onkeerbaar God se wil is en hoe dit van gelowiges verwag word om by God se wil te berus. Verder gaan ons ook die onderskeid tussen God se wil en God se Raadsplan bespreek.

God se wil sál plaasvind

Geliefdes, in hierdie gedeelte van die Onse Vader-gebed wil die gelowige op God se wil fokus. Net in die vorige bede het die gelowige erken dat God Kóning oor sy/haar lewe is, en dat die mens ondergeskik aan God is. As ons, daarom, erken dat ons aan Hóm en sý regering onderdanig moet wees, dan sluit dit ook tog sy wil vir ons lewens in. As onderdanige en gehoorsame burgers van sý Koninkryk, buig ons nie net onder sy Koningskap nie, maar ook onder sy wil. Want dit word van ons verwag, geliefdes, die Bybel is baie duidelik hieroor.

In Amos 5: 4 lees ons bv. “So sê die Here vir Israel: ‘Vra na My wil, dan sal julle lewe!’” Die Here verwag van sy volk om nie hulp en raad by afgode te gaan soek nie, want dit is alléén Hý wat ‘n mens kan help. Dit is alléén Hy wat aan sy kinders uitkoms gee. Want lewe en dood is in die Here se mag, geliefdes. Dit is alléén Hy wat bepaal wat van ‘n mens word. Hoe lank ‘n mens vir jou geliefdes gespaar bly – hoe lank jou lewe op aarde sal duur. Want Hy is Enigste Wese wat Almagtig is – niks en niemand anders sal teen Hóm staande kan bly nie. As Hy iets besluit het, geliefdes, dan is dit finaal. Dit wat die Here in sy Woord sê, sál gebeur. Alles wat Hy doen staan vás (Ps. 33: 5). Psalm 33 is duidelik daaroor dat die planne van die Here vir altyd vasstaan – sy besluite is van geslag tot geslag géldig (vers 11).  Niemand het die vermoë om Hom te beïnvloed op sy besluit nie. Hy is die Skepper van alle dinge – ook van ons lewe (Job 1. 21). En daarom is sý wil belangriker as óns wil.

Verskeie Psalms is voorbeelde daarvan dat ‘n wáre gelowige altyd daarna sal streef om God se wil te doen. Psalm 18: 22 sê: “want ek wil die wil van die Here gehoorsaam en my nie teenoor God skuldig maak nie.” En in Psalm 53: 3 lees ons dat God vanuit die hemel afkyk om te sien of daar één verstandige is, één mens is wat na die wil van God vra. En gerééld sal ons hoor hoe die Ou-Testamentiese profete die volk oproep om na die Here se wil te vra – om dit te soek sodat die gelowige se optrede God kan behaag (Saf. 2: 3; Sag. 8: 21; Jes. 9: 12; Jer. 10: 21). Om dit eenvoudig te stel: die wil van die Here is dat ‘n mens doen wat Hy van ‘n mens vra in sy Woord. Die wil van die Here is om heilig te wees soos Hy heilig is en om sy Wet en Woorde te gehoorsaam. Omdat Hy oor alle gesag beskik, mag Hý dan ook bepaal wat gebeur met iemand wat buite sy wil optree. Die mense wat nie sy wil doen nie, sal Hy vernietig (vgl. Gen. 2: 16 en 17 en Spr. 11: 14). Spreuke 10: 2 sê: “Om te lewe volgens die wil van God, red ‘n mens van die (ewige) dood.

Maar natuurlik is God se wil veel meer omvattend as dit, geliefdes. God se wil is ook sy raadsbesluite. Want iemand sou kon vra: “Maar hoe maak dit sin?” “My geliefde was getrou aan die Here en stééds het hy/sy siek geraak en gesterf?” “Selfs Jesus Christus het die Here se wil gedoen en stééds moes Hy sterf?” “Hoe werk dit?” Geliefdes, soos ons weet, moes Christus aan die kruishout sterf – dit was deel van God se raadsbesluit. Iemand wat die Evangelie van genade wérklik verstaan, sal nie van mening wees dat God onredelik is met Christus se sterfte nie. ‘n Ware kind van God sal die gawe van geloof ontvang en raaksien dat God juis in beheer is – selfs al moes ons Verlosser godverlatenheid ervaar. Dit was deel van God se verlossingsplan vir sy uitverkore volk. Al die gebeure rondom die kruis móés plaasvind – nie omdat God onbetrokke of onsensitief is nie – maar juis omdat Hy vol liefde is. Omdat die sonde alle mense van God vervreem, stuur Hy juis sy Almagtige Seun, as Offer, om sy uitverkore kinders weer náby aan Hom te bring. Ja, dit is alléén Christus wat versoening tussen sondaar en hemelse Vader kan bewerk.

Gelowiges sal hulle eie wil vir God se wil verruil

Die Evangelie volgens Mattheus maak dit vir ons duidelik dat hierdie verlossing wat Christus bewerk het, geen maklike taak vir Hom was nie, geliefdes. Selfs al is Hy die Almagtige, vra Christus twéé keer vir sy Vader dat hierdie lydensbeker by Hom moet verby moet gaan. Na sy Mensheid was Hy vol angs en benoudheid vir dít wat op Hom wag. Jesus sê vir sy binnekring dat iets veroorsaak dat Hy doodsbenoud voel en dan vra Hy dat hulle saam met Hom sal bid. Jesus Christus beséf dat die bande en strikke van die dood Hom omring – dat die hoogtepunt van sy roeping etlike ure weg is. En daarom doen Hy die beste ding wat ‘n M(m)ens kán doen wanneer jy benoud en beangs is: Hy bid tot sy Vader. Christus sonder Homself van sy dissipels af en verwoord sy gevoelens teenoor sy Vader. Hy bid opreg en met vrymoedigheid en tóg toon Hy respek en ontsag teenoor Hom Wie die hoogste gesag geniet.

Selfs Jesus Christus, Wie sélf God ís en blý, vra dat sy Vader se wil geskied. Wat Hóm aanbetref, wil Hy die kruisdood – en verál die Godverlatenheid – met alles in Hom vermy. Na sy Mensheid vrees Hy die gebeure rondom die kruis, maar na sy Godheid sien Hy tog kans vir sy Vader se wil – sien Hy selfs kans vir hierdie geweldige opoffering wat nét Hy kan maak.  En daarom vra Hy met ‘n gelowige hart dat hierdie lydensbeker by Hom verby moet gaan, maar in die selfde asem voeg Hy by: “moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.

Wat presies beteken hierdie woorde van Jesus in ons fokusvers? Wanneer die Seun van God vir sy Vader vra dat hierdie lydensbeker by Hom moet verby gaan, dan maak Hy van ‘n Ou Testamentiese idioom gebruik waar mense vir mekaar sou sê dat hulle “‘n beker se inhoud moet leegdrink”. Dit beteken dat ‘n mens iets ten volle moet ervaar. Dat ‘n mens iets volledig moet ondergaan – en hierdie ervaring kan positief (Ps. 16:5; 23:5; 116:13) of negatief (Ps. 11:6; 75:8; Jes. 51: 17; Jer. 25:15) wees. In die geval van die lydensbeker wat Jesus binnekort gaan moet leegdrink, is dit na sy Mensheid negatief en swaar, maar na sy Godheid positief – want sodoende voltooi Hy sy roeping as Verlosser en ontvang Hy weer sy ereplek in die Hemel nadat Hy uit die dood opgestaan het.

Soos ons weet, was dit die Vader se wil dat Christus daardie Vrydag-middag aan die kruis moes sterf. Nié omdat God ‘n wrede God is wat sy eie Seun laat sterf nie. Ook nie omdat Hy onbetrokke of afwesig was toe die Jode Hom aan die Romeine oorgegee het nie, maar juis omdat dit deel van sy Verlossingsplan was – omdat dit deel van sy Raadsplan was. Sónder Jesus se volmaakte Offer sou nie één van ons die hoop van die Ewige Lewe gehad het nie. Weens ons erfsonde sou elke gelowige verlore gaan, want die sonde skei ons éwig van God. Maar juis daarom het God vir Christus as sondaar behandel – al was Hy sonder sonde – sodat ons, deur ons eenheid met Christus, vrygespreek kan wees (2 Kor. 5: 21). Mag ons gereeld híéraan dink wanneer ons onsself hierdie week vir volgende Sondag se Nagmaal voorberei.

Gelowiges sal by God se wil berus

Geliefdes, God se wil is onkeerbaar – dit sal verséker plaasvind en geen mens of ding in die skepping kan sy wil verander nie. Verder word dit van ons, as gelowiges, verwag om ons eie wil te buig na God se wil. Dit beteken bloot om, dit wat óns wil hê of dit wat óns in die lewe wil bereik, sal prysgee as dit buite God se wil is. Selfs Jesus Christus was bereid om dit te doen – om te buig onder sy Vader se gesag en om sy eie wil opsy te skuif en te doen wat God van Hom verwag. Wie is óns om dan nie ook só op te tree nie, geliefdes? Wie is óns om soms die Here se wil vir ons lewens teë te gaan en Hom te probeer oortuig dat óns wil béter as sý wil is? Ons bely dan op grond van die inhoud van die Skrif dat sy wil vir ons góéd is!

Maar hoe is dit enigsins vir my goed as ‘n veldbrand byna al my vee dóódbrand? Hoe is dit vir my goed as my lewensmaat – of ekself – met ‘n terminale siekte gediagnoseer word? Geliefdes, dit is dán wat ons kan onderskei tussen God se wil en God se Raadsplan. Ons kan dit met ‘n gebroke beeld van twee sirkels probeer verduidelik: God se wil is ‘n kleiner sirkel binne-in ‘n groot sirkel. Ter illustrasie bevat die kleiner sirkel God se wil waar die groter sirkel God se raadsplan verteenwoordig. Soms gebeur daar sekere dinge buite God se wil, maar dit is stééds in sy Raadsplan. Al wil Hy nie hê dat hierdie dinge moet plaasvind nie, laat Hy dit steeds toe. Wanneer iets traumaties soos ‘n gruwelike sonde of selfs die dood, ons lewe op aarde kom ruk, dan is dit nie noodwendig God se wil nie, geliefdes. Maar hierdie gebeure is egter ook nie buite God se beheer nie – Hy laat dit toe. Waarom Hy dit toelaat het ons nie altyd – in hierdie lewe antwoorde – op nie. Soms versterk Hy ons geloof daarmee, soms trek Hy ons nader aan Hom met hierdie gebeure, maar soms het ons nie ‘n verklaring daarvoor nie. 

Dit is in hierdie tye wat ons onsself by God se wil moet berus. Wanneer iets gebeur wat buite ons beheer is, moet ons sonder enige teëpratery, aan sy wil gehoorsaam wees. Ons bely dit op grond van dít wat ons o.a. in Jakobus 4: 13 – 16 lees. Wanneer iemand lewe sonder om homself/haarself aan te pas by God se wil, dan doen só ‘n persoon sonde, geliefdes (vers 17). Wanneer ons só gefokus is op ons éie wil en op ons éie mikpunte en op ons éie vermoëns, dan praat die Here, in die besónder, met óns vanoggend. Dié van ons wat ‘n stérk eie wil het, moet op hierdie woorde van die Here let!

Selfs al het ons die vermoëns om sélf baie dinge te bereik, kan nie één van ons sonder die Here léwe nie, geliefdes. Daarom mag ons nooit planne beraam en ernstige besluite in ons lewens neem, sónder om die Here se wil te vra nie. Mag ons almal aanleer om te sê: “As dit die Here se wil is, sal ons dit of dat doen.” “As dit binne die Here se wil is, sal ek nog ‘n stuk grond wil aankoop.” “As dit binne die Here se wil is, sal ons graag ons gesin wil uitbrei.” “Ek sal graag ná skool wil gaan studeer of ek sal graag binnekort wil verhuis, maar mag dit slégs gebeur as dit binne die Here se wil is.”

Slot

Geliefdes, God is dus nie vir een oomblik onbetrokke in ons lewens nie. Selfs al gebeur daar traumatiese dinge in ons lewens, blý God in beheer daarvan. God was nie onsensitief of onbetrokke by Christus se kruisdood nie. Dit alles moes plaasvind omdat slegs Hý versoening tussen God en sondaar kon bewerk. By nábaat kan ons sien waarom dit moes gebeur het. Ons Here, Jesus Christus, is nie daardie dag finaal dood nie, geliefdes. Hy het nie nét die dood oorwin nie, Hy word deur God verhoog en daar word aan Hóm die hoogste eer gegee.

Ons sien dalk nóú nog nie raak wat God se bedoeling is met die dinge wat in ons lewens gebeur nie, maar mag ons geduldig ons onder sy gesag buig. Mag ons ons aan sý wil onderwerp en áltyd ons éie wil prysgee. “Want nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld raak, maar eendag sal ons alles sien soos dit wérklik is. Nou ken ons net gedeeltelik, maar eendag sal ons ten volle ken soos wat God ons ten volle ken” (1 Kor. 13: 12). Amen.