Skriflesing: Deuteronomium 8: 1 – 11
Fokusvers: Deuteronomium 8: 3
Heidelbergse Kategismus Sondag 50
Tema: God versorg ons met álles wat ons na liggaam en siel nodig het
Inleiding
Hoe meer gevorderd tegnologie en wetenskap raak, hoe vérder verwyder raak die algemene mens van God. Met elke volgende geslag kan mense méér regkry – beter planne beraam – meer ingewikkelde beroepe beoefen – en raak hierdie mense minder afhanklik van God. Ons kan dit in ons eie tyd en omstandighede ervaar, geliefdes – tydens die COVID-19-tydperk het mense al meer op hulself en hul eie vermoëns gefokus, en agtergekom dat hulle sélf baie goed regkom. Noudat ons deur hierdie onbekende tydperk is, en die virus oorleef het, voel baie mense dat hulle nie regtig ander mense – of selfs die Kerk – nodig het nie. Ons kan maar net na die afname in kerkbywoning kyk, om raak te sien dat dit wérklik die realiteit is, geliefdes. Baie mense voel en sê ,direk of indirek, dat hulle sélf kan regkom in die lewe en dat sommige dinge – soos die gemeente – “oorbodig” is.
God versorg ons met alles wat ons na liggaam nodig het
Sodra dit weer goed gaan in ‘n mens se lewe is baie mense geneig om van God te vergeet. As dit bv. genoeg reën, as ‘n mens veilig en gesond is, dan is ‘n mens geneig om met jou lewe aan te gaan – sonder om regtig aan die Here te dink. Dit is gewoonlik in hierdie tye van voorspoed wat ‘n mens vergeet dat ‘n mens van God afhanklik is.
Om te dink dat ‘n mens sonder die Here kan klaarkom, is egter nie ‘n nuwe sondige neiging nie, geliefdes. Reeds in die Ou-Testament wou die volk, Israel, onafhanklik van die Here wees. Gou vergeet hulle waaruit die Here hulle verlos het. Gou raak hulle gewoond aan hulle nuwe omstandighede en gou maak hulle op hul eie vermoëns staat. In Deuteronomium 8 is Moses besig om die Here se kinders te herinner aan God se Hand in hul lewens. Die volk, Israel, is nou amper in die Beloofde Land, maar eers moet hulle weer aan ‘n paar laaste dinge herinner word. Vir veertig jaar swerf hulle al in die woestyn rond omdat hulle nie die Here se Hand in hulle lewens wou erken nie. Hulle sou baie vinniger by die Land Kanaän aangekom het, as hulle maar net náby aan die Here wou bly (vers 2 en 3). As hulle Hom maar konstant wou erken het as hulle énigste Versorger en God. Maar hierdie mense het van hulle geskiedenis vergeet. Hulle het ook van die Here se almag vergeet. Omdat hulle nou al so lank reeds in die barre woestyn rondswerf, is dit ál waaraan hulle kan dink. Hulle sien net die hier en die nou raak. Die sand en die hitte en die wind en die droogte. Dit voel vir hulle asof God van hulle vergéét het daar in die groot woestyn. Asof hulle nou maar alleen moet aan sukkel. Maar ter selfde tyd asof alles tog op ‘n gemaklike manier vir hulle uitwerk. Net wanneer hulle dit nie meer kan vat nie, dan kom daar uitkoms. Net sodra hulle dink dit is klaar met hulle dan ontdek hulle een of ander oase in die woestyn. Maar waar hierdie uitkoms vandaan kom, is nie vir die Israeliete belangrik nie. Die belangrike is dat dit nou weer beter gaan – en baie keer is hulle van mening dat hulle dit sélf vermag het. Tog lees ons dat dit alleen die Hére is wat aan hulle uitkoms in die woestyn gebring het, geliefdes. Trouens – dit is Hý wat al vroeër in hulle lewens hulle omstandighede bepaal het.
Die volk, Israel, was vir jare lank as slawe onderdruk deur die Farao – maar God het hulle op ‘n bomenslike manier uit hierdie slawerny verlos, geliefdes. Hy red hulle nie net en los hulle dan alleen nie – Hy gee vérdere uitkoms in die vorm van land van vrede wat Hy aan hulle sal gee. Hy gee vir hulle die belofte dat hulle in ‘n Land sal kan gaan woon wat oorloop van melk en heuning (Eks. 5 en 6). En op reis na hierdie land is die Here élke dag by sy volk. Met ‘n wonderwerk open Hy die Rooisee sodat sy eie mense op droë grond deur die see kan trek. Toe die wrede Egiptenare die see binnekom, nadat hulle die Israeliete vervolg het, maak die Here weer die see toe sodat die Farao en al sy manne verdrink het. Noudat die volk fisies veilig is, sou ‘n mens kon dink dat God hulle kon verlaat – hulle is mos nou gered – hulle kan nou rustig op hul eie voortleef. Maar die Here los nie sy kinders nie, geliefdes. Nóóit nie. Hy blý intiem betrokke by hul lewens want sonder Hóm kan hulle nie voortleef nie – dit weet God maar nie sy volk nie.
En daarom herinner die Here hulle hier in Deuteronomium 8 aan presies Wie Hy is. Twee keer roep Hy die volk op om Hom te onthou en nie van Hom te vergeet nie. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees herinner God sy volk aan hoe Hy regdeur die volk se geskiedenis bý hulle was en hoe Hy hulle elke dag gelei het. Die God van die Verbond herinner ook sy kinders aan sy Wet en sy Bepalings: as uitverkore kinders van Hom behoort hierdie groep mense elke dag moeite doen om die Here se wil te doen. Dit is hulle kant van die Verbond wat hulle moet nakom en hierdie Verbondsbepalings is vandag nog geldig vir ons, geliefdes. Omdat alle mense onvolmaak is, moet ons gerééld aan die Here se wil en sy Woorde herinner word.
Verder herinner God ook die volk, Israel, daaraan dat dit ook Hý was wat aan hulle daardie fisiese kos en water in die woestyn voorsien het. Dat Hy letterlik ‘n wonderwerk laat plaasvind het daar in die woestyn. Soms tree die Here radikaal op, geliefdes, net sodat ons weer tot realiteit geruk word en sy Hand in ons lewens raaksien en erken. In hierdie gedeelte wys die Here sy kinders daarop dat Hy, alleen, die menslik onmoontlike moontlik kan maak. In die veertig jaar wat hulle in die woestyn rondgeswerf het, het hulle klere nie verweer nie en het hulle voete selfs nie geswel nie (vers 4). Elke oggend as hulle wakker geword het, was hulle kamp oortrek met fyn vlokkies brood (manna) sodat elke gesin genoeg kon optel om te eet (Eks. 16). Vir veertig jaar lank het die Here – élke dag – sy volk só versorg (Eks. 16: 35), geliefdes.
Regdeur die Bybel sien ons dat dit die Here is wat vir sy kinders sorg. In Hosea 4: 16 lees ons dat die Here sy volk versorg soos wat ‘n herder sy skape in die veld versorg. Selfs al is die volk, Israel, so hardkoppig soos ‘n moedswillige koei, sorg Hy elke dag vir sy kinders. En in Deuteronomium 32: 10 lees ons hoe die Here sy volk in die woestyn gevind het en hulle omhels het en soos die appel van sy oog versorg het. En in Handelinge 17: 25 hoor ons: “God het nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee.”
Ons mag dalk dink dat dit deur ons éie harde werk is dat ons hierdie maand kos op die tafel kan sit, maar in werklikheid kom daardie kos van die Here af. Ons mag dalk voel dat vanoggend se ontbyt deur ons eie hande voorberei is – of dat ons kos dalk van ons éie plase af – maar mag ons altyd onthou dat dit die Here is wat vir ons die vermoë gee om vir ons gesinne te sorg, geliefdes. In werklikheid kom álles wat ons het – selfs die mees basiese dinge – van God af. Hy is die Bron daarvan. Ons bely dat ons Hemelse Vader die Enigste Bron is van alles wat goed is (Hand. 14: 17). Reën en kos en ons klere en gesonde verstande kom van Hóm af. Hy is die Oorsprong van alles wat ons mag geniet, geliefdes. Selfs ons lus en ywer om te werk vir ons kos, kom van die Here af. Ja, “élke goeie gawe en volmaakte geskenk kom van Bo!” (Jak. 1: 17).
God versorg ons met alles wat ons na siel nodig het
En dit is waarom Jesus Christus sy dissipels leer om tot hulle (én óns) Vader te bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Want wanneer ons só bid, dan erkén ons daarmee dat die Here ons met alles versorg wat ons vir ons liggame nodig het. Wanneer ons bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, dan erkén ons verder daarmee dat al ons harde werk en al ons bekommernisse oor ons lewe ons niks baat as die Here se seën nie oor ons lewens is nie. Selfs al werk ek hóé hard en selfs al spandeer ek al my geld op ‘n projek dan het dit geen nut as die Here dit nie seën nie. As ons dan – soos die Israeliete – dink dat ons dinge sélf kan bereik dan maak ons ‘n reuse fout, geliefdes. Alles wat ons in die lewe besit en bereik is nie aan ons eie toedoen te danke nie – dit is alléén aan die Hére te danke. Dit is Hý wat daarvoor vir ons sorg.
Maar die Here sorg nie nét vir ons liggaamlike behoeftes nie, geliefdes. Hy sorg ook vir die geestelike. Dit is iets wat God vir die swerwende Israeliete in die woestyn wou aanleer en dit is iets wat Hy ook vandag vir ons wil leer. Daarom sê Hy in ons fokusvers sê dat Hy sy volk laat swaarkry en laat honger ly het en dat Hy hulle daarna met manna gevoed het. “Dit het Hy gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie nét van brood alleen kan leef nie, maar dat hy/sy leef van elke Woord wat uit die mond van God kom.”
Wat beteken hierdie vers, geliefdes? Wat wil die Here vir ons hierin sê? Toe die volk, Israel, benoud in die woestyn geraak het, was die éérste ding waaraan hulle gedink het: “Waar gaan ons kos kry om te oorleef?” Die énigste ding wat hulle bekommer het, was hulle fisiese nood. En toe hulle daarna élke dag manna van die Here af gekry het, het hulle naderhand van hierdie fyn stukkies brood afhanklik begin raak. Hulle het hulle vertroue in die bróód begin stel in plaas daarvan om hulle vertroue in Gód te stel.
Daarom wil die Here dit by hulle tuisbring dat ‘n mens nie eerstens oor jou fisiese versorging besorg moet wees nie, maar oor jou geestelike versorging. “Is die lewe nie belangriker as kos en is die liggaam nie belangriker as klere nie?” (Matt. 6: 25). Geliefdes, dit is oor ons gééstelike lewe wat ons bekommerd moet wees. Dit is ons verhouding met die Here wat vir ons dié meeste moet saak maak – verál as ons in ‘n krisis kom.
Dit het ons Here, Jesus Christus, goed verstaan. Toe die Satan Hom eeue later in die woestyn versoek en sê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brode word”, dan antwoord Jesus hom deur Deuteronomium 8: 3 aan te haal: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke Woord wat uit die mond van God kom” (Matt. 4). Dit is deur sý genade dat ons vandag mag besef dat ons nie van kos alleen lewe nie, maar dat ons die Here se Woord bróódnodig in ons lewens het.
Deur sy verdere genade het Jesus Christus – die Lewende Woord van God – vir ons die Brood van die Lewe geword, geliefdes. Hy sterf as Volmaakte Offer aan die kruis. Sy liggaam word gebreek – sy bloed word vergiet – sodat ons van al ons sondes vrygespreek kan word. Wanneer Jesus Christus aan die vloekhout sterf, dan is sy betaling geldig vir álle gelowiges se sondes – ook vir die uitverkore Israeliete van ons Skrifgedeelte – maar ook vir God se kinders wat nog in die toekoms gebore sal word.
Ons wat vandag leef, het egter die geleentheid om Jesus Christus op ‘n besondere manier hier aan die Nagmaalstafel te ervaar, geliefdes. Vandag besef ons dat die Here ons met méér as net brood voed – Hy voed ons siele met die geestelike Brood – met Jesus Christus – die Brood van die Lewe wat aan ons die éwige lewe gee. Te danke aan sy oorwinning oor die dood, word die Here se beloftes in Deuteronomium 8 vir ons beloftes wat ons béter verstaan en wat éwig duur. Ons het die heerlike belofte van die Ewige Kanaän wat ons eendag sal binnegaan – die Here is nóú reeds besig om ons daarheen te lei.
Slot
Mag ons daarom Hom nie vergeet nie, geliefdes. Mag ons aan die Here blý vashou te midde van vooruitgang in tegnologie en wetenskap. Mag elkeen van ons ons kleinheid en nietigheid voor die Here erken en mag ons beséf dat dit alléén Hy is wat ons na liggaam – en veral na siel – versorg. Selfs al kán ons self baie dinge bereik, mag dit ons nooit van God vervreem nie, geliefdes. Mag dit ons juis motiveer om die Here se almag in ons menswees raak te sien. Dit is alleen Hý wat aan my die vermoë gee om aanpasbaar te wees – om deur onbekende tye, soos die afgelope twee jaar, te gaan. Mag hierdie genade van die Here ons verál motiveer weer getrou die eredienste by te woon.
Geliefdes, kom ons elkeen erken Hóm as die Enigste Bron in ons lewens terwyl ons Hom smeek dat Hy ons met die daaglikse sal versorg. Want alles wat ons het, kom van Hom af – van ons daaglikse brood tot ons geloof wat aan ons die ewige lewe verseker. Amen.