Skrifgedeelte: Romeine 7: 14 – 25
Fokusverse: Romeine 7: 24 en 25(a)
Heidelbergse Kategismus Sondag 52 (Vraag en Antwoord 127)
Tema: God lei ons uit versoekings en, deur Christus, verlos Hy ons van die Bose.
Inleiding
In die sesde – en lááste bede – van die Onse Vader-gebed leer Jesus sy navolgers bid: “Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.” Wanneer ‘n gelowige rustig gaan sit en dink oor híérdie bede, dan begin dit vir ‘n mens vreemd klink. Wanneer ons God in sy Woord leer ken, dan raak ‘n mens al meer oortuig daarvan dat God mens tog nie kan versoek nie. Hoe is dit dan dat Jesus ons leer dat ons vir die Vader moet vra dat Hy ons nie in die versoeking sal lei nie? Dit is tog nie God wat ‘n mens in die versoeking laat kom nie, of hoe?
God lei ons uit versoekings
Weens die rykheid van die Griekse Taal, het die woord wat Jesus in die laaste bede van die Onse Vader-gebed gebruik, meer as één betekenis. Dit dui nie nét op “’n versoeking” nie, maar óók op “’n toetstydperk van iets of iemand”. Hierdie Griekse woord kan egter ook met “beproewings” vertaal word. Dus is dit belangrik om raak te sien dat dit met “versoeking”, ”’n tydperk van toets” óf “beproewing” vertaal kan word.
Iets wat ons – sommer hier vroeg in die preek – moet verstaan is dat dit nié God is wat ‘n mens in die versoeking lei nie. Ons weet dit op grond van dit wat ons in Jakobus 1: 13 en 14 lees: “Iemand wat in die versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en sélf verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.”
Wanneer ons van “versoekings” in die Bybel lees, dan is dit altyd negatief. Wanneer iemand in die versoeking gelei word, dan word daardie persoon deur iets/iemand verlei om sonde te doen. Wanneer iemand in die versoeking kom, dan word hy/sy as’t ware deur ‘n sterk krag náder getrek om iets te doen wat verkeerd is. Soos ons weet kry ‘n mens verskillende versoekings en vir mense is sommige versoekings groter as ander. Sommige versoekings het erger nagevolge as ander. Om bv. beskikbare geld te wanbestuur, kan ‘n versoeking wees. Of om vinnig met jou voertuig te wil jaag, kan vir ander mense ‘n versoeking wees. Ander mense word versoek deur ‘n aantreklike persoon met wie hulle in kontak is – maar wat nie deel van die huweliksverhouding is nie. Ongesonde kos of drank is vir ander mense versoekings – veral as hulle enige tyd toegang daartoe het. Ons kan daarom sê dat ‘n versoeking iets is, wat beskikbaar is, maar wat ‘n mens nie mag vat of mag gebruik nie.
Ons kan dus nie sê dat God ons in die versoeking lei nie, want Hy sal ons nooit doelbewus uitlok om sonde te doen nie. Dit is die duiwel wat ‘n mens in die versoeking lei, geliefdes – dit is duidelik vanuit die Bybel. Reeds van die vroegste tye af wil die Satan God se kinders versoek en mislei. Hy wys vir ‘n mens iets aanlokliks wat jou aandag van God af trek en oorreed ‘n mens om eerder dít te kies – selfs al ís dit téén God se wil. So het die Satan dit reggekry om vir Adam en Eva in die versoeking te lei deur vir hulle te lieg deur te sê dat hulle soos God sal wees as hulle van die vrug eet (Gen. 3). Al het Adam en Eva goed geweet dat God hulle verbied het om van die vrug te eet, neem hulle dit steeds. Hierin sien ons dat dit nie God is wat ‘n mens versoek nie, maar dat Hy tog versoekings in ‘n mens se lewe toelaat (vgl. 2 Sam. 24: 1).
Wanneer God toelaat dat een van sy kinders versoek word, dan is dit nie negatief nie, maar positief. Ons, as gelowiges, noem dit dán nie ‘n “versoeking” nie maar eerder ‘n “beproewing”. Daarom lees ons bv. in Jakobus 1: 2 dat ons, as gelowiges, baie blý kan wees wanneer allerlei beproewings oor ons kom. Hoekom? Want dit is die manier waarop God ons geloof versterk, geliefdes. Jakobus sê dat ons in ons geloof moet volhard tydens hierdie beproewings.
En daarom kry ons ook die gedagte van ‘n toets-tydperk van ons geloof. God plaas soms beproewings oor ons pad sodat die egtheid van ons geloof getoets kan word. Wanneer ons dan, deur sy genade, moed hou regdéúr hierdie beproewing, dan raak ons geloof al stérker in Hom. Die Here toets nie ons geloof omdat Hy nie weet hoe ons gaan reageer nie – Hy ken ons deur en deur en Hy weet rééds wat die mate van ons geloof is. Wanneer ons deur ‘n beproewing gaan, dan is dit baie keer sodat óns self kan sien hoe sterk ons geloof in Hom is. Die apostel, Petrus, sê ook in sy eerste brief dat ons dankbaar kan wees as ons deur beproewings moet gaan, want teenoor die ewige lewe is hierdie beproewings van korte duur (1 Pet. 1: 1 – 9). Hy sê ook vérder dat die ons geloof soms getoets moet word, en dan vergelyk hy dit met goud wat in ‘n vuuroond gelouter word. Kinders, om iets te louter, is wanneer ‘n mens iets suiwer sodat dit totaal en al skoon of eg is. Soms ag die Here dit nodig om ons geloof in Hom, soos goud, te louter sodat ons geloof sonder énige onsuiwerhede is. Mag ons, as gelowiges, só daarna kyk wanneer ons volgende keer deur ‘n beproewing gaan. Wanneer ons dan ‘n groot finansiële verlies ly of wanneer ons huis dalk afbrand of wanneer ek dalk aanhoudend súkkel om van iets ‘n sukses te maak, dan is dit heelwaarskynlik ‘n manier waarop die Here toesien dat ek al my vertroue in Hóm sal stel en, deur dit alles, my geloof in Hóm sal behou.
Gelowiges se geloof word dus beproef met die doel om ‘n mens in die geloof op te bou. Ander kere is dit om ‘n mens nader aan die Here te bring. Ander kere is die Here se doel met beproewings om ons geloof van onsuiwerhede te reinig en ander kere doen Hy dit bloot om ons geloof te versterk.
Ongelowiges word nie deur die Here beproef nie, want daar is by hulle geen geloof om te toets nie. Ongelowiges het geen “goed” in hulle wat verder gesuiwer en uitgebou moet word nie. Ongelowiges word slégs deur die duiwel in die versoeking en in die verderf ingelei. Die “vader van die leuen” is in totale beheer van hierdie mense en hy lei hulle áltyd om Christus en sy Kerk te haat en om die gelowige te vernietig. Maar te danke aan God se groot liefde vir sy kinders gee Hy aan ons sy Seun, Christus, om ons van die Satan te bewaar en om ons juis uit versoekings uit te lei.
Deur Christus verlos God ons van die Bose
Hiervoor het God, die Vader, sy Enigste Seun aarde toe gestuur sodat Hy die Wet namens alle gelowiges kon gehoorsaam. Ja, “die Woord het Mens geword en onder ons kom woon” sodat ons sy heerlikheid kan sien soos Hy is – vol genade en waarheid (Joh. 1: 14). Weens die feit dat Hy sy Godheid nié verloor het toe Hy Mens geword het nie, is Hy ál Een Wie vir die straf op die sonde kan betaal. As Tweede Adam staan Hy die Satan se versoeking tee en val Christus nié vir sy leuens nie. Hy bly eerder getrou aan sy Vader se wil en leef dit tot die einde toe uit. Hy volhard in sy roeping en sterf die vloek-dood aan die kruis. En juis weens sy gehoorsaamheid en sy bereidwilligheid en sy volmaaktheid, wek God Hom weer uit die dood uit op. Daarmee oorwin Christus die finaliteit van die dood – óók vir God se uitverkore kinders.
Aangesien Hy dít in sy almag kon doen, het Hy ook die Satan verslaan. Openbaring 20 maak dit vir ons duidelik dat die Satan vasgebind is. Met Christus se opstanding uit die dood Het Hy die duiwel verslaan maar hy is nog nie ten volle vernietig nie. Soos ‘n brullende leeu loop hy nog rond – opsoek na iemand om te verslind (1 Pet. 5: 8). Soos ‘n hond aan ‘n ketting het hy egter nét beperkte mag, geliefdes. Maar hy hét mag, en daarom ervaar ons steeds soms versoekings in hierdie lewe. Ons lewe nog op aarde – ons is stééds deel van hierdie gebroke wêreld. En daarom ervaar baie van ons ‘n innerlike stryd soos Paulus daar in Romeine 7.
In die paar verse wat ons saamgelees het, is dit duidelik dat Paulus van homself en alle ánder gelowiges praat. Hy maak ‘n onderskeid tussen ‘n gelowige se “geestelike lewe” en jou “vleeslike lewe”. Wat die mens se aardse neigings betref, is dit vol sonde – selfs vir die gelowige. Ons word stééds in die versoeking gelei en val soms stééds. Uit onsself is ons te swak om teen ons vyand, die duiwel, en stry – en dan bely ons dat ons nog twee ánder vyande het nl. die wêreld en ons eie sondige natuur. Terwyl ons nog in hierdie lewe is, hou hierdie drie doodsvyande nie óp om ons aan te val nie. As dit nie die duiwel is wat my wil versoek nie, dan wys die goddelose wêreld vir my alles wat ek níé het nie. En as gelowige maak ek myself dan wys dat goed genoeg is nie, of dat ek nie genoeg besittings het nie, of dat ek selfs nie die Here se genade werd is nie.
En tog, aan die ander kant, wéét ek wat die Here se wil vir my lewe is. Ek kén sy Woorde en ek wéét dat ek ook ‘n geestelike lewe het wat vir God dié belangrikste is. En daarom erken ons, soos Paulus: “…wat ek wil doen, dit doen ek nié, maar wat ek haat, juis dit doen ek” (Rom. 7: 15). “Die goeie wat ek wíl doen, dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nié wil doen nie, dít doen ek” (Rom. 7: 19). Elke gelowige moet daarom rekening hou met die sonde in sy/haar lewe. Want die oomblik as ons die goeie wil doen, dan is die sonde dadelik daar náby om in te meng. Vers 21 maak dit duidelik dat ons diep binne-in ons ‘n vreugde en selfs ‘n liefde vir God se Woord en sy wil het, maar op die oppervlakte is die sonde teenwoordig wat vinnig sy verskyning maak – en soms gebeur dit in die vorm van ‘n versoeking.
Sélf kan ons nie hierteen veg nie, geliefdes. En daarom voel ons soms soos die woorde van ons fokusgedeelte: “Ek, ellendige mens! Wie sal my ooit van hierdie tweestryd – hierdie doodsbestaan – kan verlos?” “Ek is totaal en al uitgeput – ek is moedeloos geveg teen die sonde!” “Ek wéét wat ek moet doen, maar ek sukkel daarmee!” “Wie sal my kan help? Want ek besef ek kort dringend hulp!” Aan Gód die dank! Hý red ons uit ons moedeloosheid en nood deur sy Seun, Jesus Christus! Hý verlos ons van die Bose!
En dit is presies waarvoor ons bid in die sesde bede van die Onse Vader: “Here, red my van al U en my vyande!” “Kom tog te voorskyn in my lewe en bewaar my van versoekings!” “Hou my staande deur U Heilige Gees, sodat ek kan aanhou stry teen die mag van die sonde, want dit omring my élke liewe dag.” “Laat my in my geloof volhard, Here, totdat ek die oorwinning eendag uiteindelik behaal.”
Slot
Die laaste bede van die Onse Vader-gebed leer ons dat ons ál ons vertroue op God-Drie-Enig kan stel en séker kan wéét dat Hy ons van die Bose sal bewaar. Dit is nie God wat ons in versoekings inlei nie – dit is die duiwel se werk. Maar soms laat God moeilike tye in my lewe toe om my geloof in Hom sterker te maak.
Hy laat dit toe tot my eie beswil, want in daardie tye bid ek ook meer tot Hom. In daardie tye besef ek my totale afhanklikheid van Hom en stel ek my vertroue in Hom. In daardie tye hunker ek daarna dat ek bevry sal wees van die sonde en dat ek alleen nét die goeie sal doen soos wat ek nóú al reeds graag wil. Amen.