2 Korintiërs 1: 12 – 22

Skrifgedeelte: 2 Korintiërs 1: 12 – 22

Fokusgedeelte: 2 Korintiërs 1: 18 – 20

Heidelbergse Kategismus Sondag 52 (Vraag en antwoord 128 en 129)

Tema: Deur Christus is ál God se beloftes waar en seker. Verkondig dit tot lof en eer van God!

Inleiding

Ons het die afgelope paar weke die voorreg gehad om, as gemeente, die Onse Vader-gebed in detail te behandel. Verlede week het ons die laaste van die ses bedes behandel, en vandag sluit ons die reeks preke af. Ons behandel vandag die samevatting van hierdie “model-gebed”. Vandag behandel ons die rede waarom ons hierdie gebed kán – en móét – bid. Verder gaan ons kyk na wat die woord, “amen” beteken en hoe ons ons geloofsekerheid prakties kan uitleef. 

Deur Christus is ál God se beloftes waar en seker

In 2 Korintiërs 1 praat Paulus met die Korintiërs oor die sekerheid wat die Christelike geloof aan ‘n mens gee. Hy begin deur met hulle te praat oor die réde waarom ‘n mens soms deur beproewings moet gaan. In aansluiting by verlede week se preek vind ons hier, in 2 Korintiërs 1, nóg ‘n rede waarom God soms mens deur beproewings sit. In 2 Korintiërs 1: 5 en 6 sê Paulus dat gelowiges só nou aan Christus verbind is dat hul selfs aan sy lyding deel het. En aangesien ons aan sy lyding deel het, het ons verséker óók aan sy bemoediging deel. Wanneer ‘n mens dus deur ‘n tydperk van beproewing gaan, dan is dit sodat ons sélf weer deur Christus se Woord bemoedig kan word. Of om soms ánder mense met die inhoud van die Bybel te bemoedig. En, as Evangelis, het Paulus verál die roeping gehad om ander mense met God se Woord te bemoedig.

En presies dít doen Paulus in al sy briewe – maar veral nou in hier in 2 Korintiërs. Die apostel het van begeerte gebrand om weer hierdie gemeente te besoek, maar dit was nie moontlik nie (vgl. ook 1 Kor. 16: 5-8). Paulus het die Korintiër-gemeente op sy Tweede Sendingreis gestig (Hand. 18). Toe Paulus egter die gemeente verlaat het, het die gemeente begin skade lei. In 2 Korintiërs 2 lees ons bv. van iemand wat groot droefheid in hierdie gemeente veroorsaak het – en daarom Paulus se dringende behoefte om weer hierdie gemeente fisies te besoek. Maar ons Skrifgedeelte maak dit egter duidelik dat Paulus tog besluit het om sy besoek aan hierdie gemeente uit te stel. En nou neem die lidmate van hierdie gemeente vir Paulus kwalik omdat hy hulle nog nie kom besoek het nie. Hy het dan gesê dat hy weer by hulle besoek sal aflê – waar is hy dan nou. Soos baie ander kere is die gesag van Paulus se apostelskap in gedrang. Maar hierdie keer is dit nie óngelowiges wat in sy apostelskap twyfel nie – dit is sy médegelowiges! Trouens – die Korintiërs bevraagteken nie nét Paulus se veranderde reisplanne nie – hulle beweer óók dat hy slegs op sy eie wil en begeertes gefokus is – of “na die vlees wandel” soos wat ander Vertalings dit vertaal (vers 17). Dat hy sommer sy eie woorde gebruik as hy vir hulle skryf of preek (vers 12). Hierdie gemeente beskuldig Paulus daarvan dat hy ligsinnig in sy doen en late is – verál omdat hy nie sy oorspronklike reisplanne deurgevoer het nie.

Teen al hierdie aantygings verdedig Paulus homself ten volle. Hy sê in vers 12 dat hy altyd in eenvoud en in eerlikheid teenoor hierdie gemeente opgetree het. Saam met sy mede-apostels roem hy daarop dat hulle nooit met menslike wysheid gepraat het nie, maar met die genade van God. Hy het in alle eenvoud met hierdie mense gepraat en sonder enige bybedoelings aan hulle geskryf. Hy het altyd bloot gesê: “So sê die Here, Here!…” En Paulus se wens is dat hierdie gemeente dit eendag sal insien (vers 14). In verse 23 en 24 maak hy dit duidelik dat hy hierdie gemeente vernedering wou spaar en dit is ‘n verdere rede waarom hy nie na hulle gekom het nie. Saam met sy mede-apostels wil Paulus nie soos ‘n wêreldse heerser die Christelike geloof op hulle afdwing nie. Al wat hy wil doen, is om, met die gesag van Christus, die Evangelie aan hulle te bring.

Verder sê hy in ons fokusverse dat sy woorde aan hierdie gemeente nie tegelykertyd “ja” én “nee” was nie. Paulus maak dit duidelik dat ‘n gestuurde van God se aksies en kragte nié deur sy/haar gebroke menswees gedryf word nie, maar deur Gód. Op ‘n manier maak God se gestuurde sy/haar menswees los van sy/haar roeping. Die Boodskap wat die apostel aan hierdie gemeente bring is dus nie sy eie nie, maar ‘n Boodskap van God-Drie-Enig. En dieselfde geld vir sy aksies n.a.v. hierdie roeping. Die Heilige Gees neem só ‘n persoon totaal in besit en stuur jou om te gaan of om te bly – om te praat of om stil te bly. Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat hy nie tegelykertyd “ja” en “nee” vir hierdie Korintiërs gesê het nie. Op die oppervlak kan sy veranderde reisplanne soos sondige mensewerk lyk, maar diep binne-in lê God se wil – ‘n réde vir sy optrede.

Want al wat Paulus ooit aan die gemeente – en ál die ander gemeentes – verkondig het, was Jesus Christus. Hy het nooit sy eie woorde en sy eie wil aan hierdie gemeentes gebring nie. En in ons Here, Jesus Christus, is daar tog nie “ja” en “nee” op dieselfde tyd nie. Dit wat Jesus Christus doen en sê en preek en uitleef, getuig tog van sekerheid en standvastigheid en van eerbaarheid en van Goddelikheid. En met dieselfde betroubaarheid preek die apostel, Paulus, want ál wat hy verkondig is die gekruisigde en opgestane Christus. En dan doen Paulus nóg iets om sy teenargument te versterk – hy noem die name van twee van sy medewerkers. Dit is nie net hý wat Christus aan hierdie gelowiges verkondig het nie – Silvanus en Timoteus het óók hierdie gemeente met die Evangelie van Christus bedien. Geliefdes, Paulus doen dít om aan te toon dat sy woorde aan hierdie gemeente die waarheid is, want “in die mond van twee of drie getuies staan die waarheid vas” (Deut. 19: 15 en 2 Korintiërs 13: 1).

Paulus roep dus die gemeente op om die Boodskap van die Evangelie te aanvaar. Selfs al lyk dit vir hulle asof Paulus op ‘n vreemde manier optree, moet hulle die inhoud van sy Boodskap aanvaar. Dit is immers nie sý of die ánder apostels se Boodskap nie – dit is die Boodskap van Christus se verlossing aan die kruis en sy opstanding uit die dood. Jesus Christus is die “ja” van God en die “ja” op al die beloftes van God (vers 19 en 20). Hoe waar is hierdie woorde van ons fokusgedeelte nie, geliefdes? Dit is waarlik alléén in Christus wat al die beloftes van God in vervulling gaan. Die hele Ou-Testament wys op sy koms. Elke Messiaanse profesie dui op die Gesalfde wat in die toekoms gebore sou word. Deur die werking van die Heilige Gees wys Paulus die gelowiges in Korinte daarop dat ál die beloftes van God in Christus “ja” en “amen” is. Geliefdes, dít wat God in sy Woord aan ons, as sy kinders, belowe is ontelbaar. En, te danke aan Christus se almag, is al hierdie beloftes van God wáár en séker.

Verkondig sy Evangelie tot lof en eer van God

Mag ons, as gelowiges, net soos Paulus hierdie beloftes van God aan ánder bekendmaak. En mag ons, as gemeente, aktief op die uitkyk wees hoe al God se beloftes in vervulling gaan. Mag ons onsself konstant in die Here se Woord verdiep en raaksien hoe betroubaar sy Woord is. En mag ons, as sy gestuurdes, alléén hierdie Woorde aan ander gaan verkondig, geliefdes. Want Jesus Christus sê self in die Bergrede dat ons nie iets moet belowe wat ons dalk nie kan bybring nie. Hy sê: “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees, en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose” (Matt. 5: 37). Dieselfde gedagte kry ons ook in Jakobus 5: 12 waar ons lees: “As julle ‘ja’ sê, moet dit ‘ja’ wees; as julle ‘nee’ sê moet dit ‘nee’ wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie.” 

Geliefdes, kom ons elkeen werk daaraan dat ons by ons woord sal hou. Mag ons altyd dít doen wat ons gesê het ons sal doen, want daarmee eer ons God-drie-Enig. Juis omdat God aan sy Woord en aan sy Beloftes getrou bly, wil ons ook só leef. Uit dankbaarheid teenoor Hom is ons getrou aan dít wat ons aan ander mense belowe, want die Here se genade rig en bepaal ons héle lewe. Dáár waar ons God se getrouheid raaksien, dáár loof en prys ons Hom vir sy wonderlike Woord. En dit is presies wat ons doen nadat ons al ses die bedes van die Onse Vader-gebed gebid het. Omdat ons die Here toelaat dat ons sy Naam kan heilig en omdat Hy sy koninkryk laat kom en omdat sy wil in ons lewens geskied, gee ons aan Hóm alleen die lof en eer. Omdat Hy ons na liggaam en siel versorg en ons al ons sondes vergewe deur Christus en omdat Hy ons daagliks van die Bose verlos, besef ons dat Hy almagtig is. En dat die koninkryk en die krag en die heerlikheid alleen aan Hom behoort – tot in alle ewigheid.

Weens die inhoud van God se Woord en op grond van die heerlike beloftes van die Evangelie besef ons dat ons maar Een Koning het wat mag en gesag oor alles en almal het. As ons liefdevolle Vader wíl Hy alle goeie gawes vir ons gee en as Almagtige God kán Hy dit doen. En sy getrouheid en betroubaarheid is só waar en seker dat ons altyd “amen” op God se Woorde kan sê. Want dit is presies wat die woord, “amen”, beteken geliefdes. Wanneer ons ons gebed afsluit, dan vertrou ons met volle geloofsekerheid dat God ons gebed sal verhoor. Ons is vás oortuig daarvan dat God se beloftes vas en seker is, want ons bid in die Naam van Jesus Christus. En Jesus Christus is die “ja” van God en deur Hom, alleen, kan ons in vertroue “amen” sê. Te danke aan Christus sál God op sý tyd my gebed verhoor, want God is getrou – tot in alle ewigheid.

Maar hoe is hierdie gedeelte op ons, as gelowiges, maar veral op die kerkraad van toepassing? Wat moet julle, wat vandag bevestig word, hieruit leer? Ons mag nooit beloftes aan lidmate maak wat ons nie kan nakom nie. Ons “ja” moet altyd ons “ja” wees en ons “nee” ons “nee”. Ons moet by ons woord hou, geliefdes, want ons bedien die Woord van God. En God se Woord is betroubaar. Dit staan vas. As ons dan die Evangelie aan ons wykslidmate verkondig, mag ons altyd die waarheid praat. En wanneer ons soms genoodsaak word om van plan te verander, mag ons dit altyd doen omdat ons by Gód sekerheid gekry het deur die kragtige werking van die Heilige Gees.

As nuwe ouderling en diaken gaan dit van julle verwag word om met baie wysheid in julle wyke op te tree. Daarom bid ons, as gemeente, julle die wysheid van God toe sodat julle kan weet wanneer om te praat en wanneer om eerder stil te bly. Wanneer om iemand te gaan besoek en wanneer om eerder ‘n huisbesoek uit te stel. En mag julle altyd besef dat julle nie alleen is nie. In die Here se genade is Hy elke oomblik bý julle om julle deur sy Gees te lei, en gee Hy boonop nog medewerkers sodat ons almal saam die Here se gemeente rég kan regeer. Mag ons, as Kerkraad, op mekaar steun en mag ons slegs sê: “So sê die Here – die Een aan Wie die koninkryk en die krag en die heerlikheid behoort.

Slot

Geliefdes, soms lyk ons optrede vir ander mense vreemd en onverstaanbaar. Soms gaan mense ons oordeel en sê dat ons te veel op onsself gefokus is of dat ons ons eie eer soek.

Maar mag ons altyd eerder na Gód se wil luister as na dít wat mense wil hê. Want wanneer ons Christus se genade aan mense verkondig, dan sal ons woorde en ons optrede altyd ooreenstem. Dan sal ons “ja” werklik ons “ja” beteken en ons “nee”, “nee”. Amen.