Skrifgedeelte: Mattheus 13: 24 – 30 en 36 – 43
Fokusvers: Mattheus 13: 37 – 39
Tema: Christus laat die koring groei met ‘n doel. Hy laat ook die onkruid groei met ‘n vérdere doel.
Inleiding
In verlede week se preek het ons by die gelykenis van die Saaier stilgestaan. Dit is ‘n totaal ánder gelykenis as die een waarna ons vandag kyk. Al handel beide hierdie gelykenisse oor saad wat geplant word, en al gebruik Christus wéér die voorbeeld van ‘n graangewas, is die verklaring totaal ánders as verlede week se verklaring.
Christus laat die koring groei met ‘n doel
Een van die voorbeelde wat Christus in die vorige gelykenis gebruik het, was saad wat saam met onkruid gegroei het – en dit is die dan die aanknopingspunt by verlede week se preek. Ons Here, Jesus Christus, brei die gedagte van die saad, wat tussen onkruid geplant word, in hierdie gelykenis vérder uit. In die vorige gelykenis in Mattheus 13 het die saad wat tussen die onkruid geval het, daarop gedui dat mense nie nét die Saad van die Evangelie in hulle harte het nie, maar óók die saad van wêreldse dinge. In die vorige gelykenis het die onkruid op invloede van die Bose gedui. Soos ons weet, is hierdie invloede en versoekings uiters kragtig en effektief, geliefdes. En dit is die rede waarom die saad, wat tussen die onkruid beland het, nie ‘n kans gestaan het teen die oorweldigende onkruid wat saam met hulle gegroei het nie.
Die grond waarin hierdie saad geplant is, dui op dié mense wie se harte ontvanklik vir die Evangelie is, maar wat óók ‘n groot liefde vir wêreldse dinge, soos verleidelikheid en rykdom, het. Soos onkruid versmoor bekommernisse, versoekings en verslawings dan hierdie mense. Ons het gehoor dat ons, soos enige goeie tuinier, die onkruid – die Bose invloede in ons lewens – moet uitroei. Want stadig maar seker versmóór daardie onkruid die plante. Want daar kom ‘n dag wat die dorings só dig rondom die plante groei, dat ‘n mens nie die plant kan red wat jy geplant het nie. Wanneer ons toelaat dat die sonde saam met ons groei, sal ons, as gelowiges, later heeltemal versmoor word.
Maar die onkruid in vandág se gelykenis dui nie maar nét op die invloed of die mag van sonde nie. Jesus Christus sê in ons fokusgedeelte dat die onkruid in híérdie gelykenis, op die aanhangers van die Bose dui. Dit dui dus op fisiese goddelose mense of op die bose geeste in die lug. Ons gaan later in die preek sien presies wat word met die onkruid bedoel en waarom die Saaier toelaat dat dit saam met die koring groei. As die onkruid in hierdie gelykenis op die kinders van die Bose dui, waar kom hierdie onkruid vandaan? En op wie dui die koring-saad? Wie is die Saaier en wat word met die uiteindelike oes bedoel?
Geliefdes, ons fokusgedeelte gee vir ons ál die antwoorde hierop. Omdat Jesus Christus ook híérdie gelykenis Sélf verklaar, is daar geen verwarring oor presies wat hierdie woorde beteken nie. Wéér verstaan die gelowige dissipels nie mooi wat hierdie gelykenis beteken nie, en daarom gee Hy sélf die antwoorde op al ons vrae, juis sodat gelowiges nie hul éie sondige afleidings gaan maak nie. Jesus verklaar dan, eerstens, wat met die man bedoel word wat goeie saad in sy land saai. Waarom plant hierdie boer goeie saad in goeie grond? Want hy wil ‘n goeie oes insamel, nie waar nie? Enige boer wat gewasse plant doen dit tog met die doel om láter die gewasse te oes en teen ‘n wins te verkoop of om dit te stoor vir eie gebruik. Die boer van ons tweede gelykenis in Mattheus 13 was geen uitsondering nie, geliefdes. Hy plant goeie saad in die saailand met ‘n doel. Hy wil toesien dat die saad ontkiem, groei en later vrug dra. Hierdie man het dus ‘n réde waarom hy die koring-plant laat groei. Hy koester hierdie saailinge en gaan kyk elke dag of die hulle nog goed groei en of hulle gesond is. Hierdie boer sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat hierdie saailinge in volwasse plante verander.
Natuurlik dui hierdie boer op Iemand baie meer en nie maar bloot op ‘n mens nie. Die man wat die koringsaad saai, is maar ‘n alledaagse vergelyking wat op Iemand baie belangriker dui. Jesus Christus sê in die verklaring van hierdie gelykenis dat Hý wat die goeie saad saai, die Seun van die mens is – hierdie persoon dui dus op ons Here, Jesus sélf! Hy sê verder in ons fokusgedeelte dat die saailand van die gelykenis op die wêreld dui en dat die goeie saad op die kinders van God dui. Die term “Seun van die Mens” gryp terug na die visioen wat die profeet, Daniël, gekry het oor Jesus Christus. In Daniël 7: 13 en 14 lees ons: “Daar het in die wolk Iemand aangekom – Iemand soos ‘n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. Aan dié menslike Wese is heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe Hom sou dien. Sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy , dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.” Die Seun van die Mens is dus ons éwige Koning, Jesus Christus. En daarom kan hierdie gelykenis van die onkruid tussen die koring met die koninkryk van Christus vergelyk word (Matt. 13: 24).
Al heers ons Here, Jesus Christus, oor álles in die heelal, kies Hy die wêreld as sy saailand. Dit is op hierdie gebroke aarde waarop die Saaier, Jesus Christus, kies om te kom saai. Hy kon enige ánder planeet in die hemelruim gekies het, maar Hy kies híérdie aarde om op te saai met ‘n baie spesifieke rede, geliefdes. In sy alwetendheid het Hy hierdie aarde as sy saailand gekies, want dit is hierdie aarde wat Hy weer gaan herskep sodat ons in volmaaktheid en tot in ewigheid híér kan woon (2 Pet. 3: 7 – 13 asook Op. 21 en 22).
Die Koning saai dus die Woord van sy Koninkryk óral op híérdie aarde – daar is nie ‘n gedeelte van die aarde wat nie met goeie saad geplant is nie. Regoor die wêreld behoort die Woorde van die Koning gehoor te word. Soos ons in die profesie volgens Daniël gehoor het, maak Christus nie onderskeid tussen die mense van sy Koninkryk nie. Ongeag van uitverkorenes se kultuur, taal of oorsprong – al sy kinders moet regoor sy saailand – regoor die wêreld – bereik word. En wanneer ons égte kinders van God is, sal ons bereid wees om toe te sien dat die saad van die Evangelie álle mense bereik.
Hy laat ook die onkruid groei met ‘n vérdere doel
Iets wat baie interessant van hierdie gelykenis is, is die gedrag (of reaksie) van die Boer. Hy wat saai laat nie net toe dat die goeie saad op die saailande groei nie – Hy laat ook toe dat die onkruid groei. Een nag toe almal slaap, het die boer se vyand gekom en onkruid-saad tussen die koring-saad geplant en daarom kom die onkruid-plantjies saam met die koring-plantjies op. Bekommerd en verslae kom die boer se slawe by hom met die boodskap: “Meneer, het u nie goeie saad op die lande gesaai nie? Waar kom die onkruid dan vandaan!?” En dan antwoord hy dat dit sy vyand se werk is. Hy wil ook nie hê dat sy werkers die onkruid moet gaan uittrek nie – selfs al bied hulle aan. Geliefdes, wat veroorsaak hierdie tipe gedrag by die boer van ons gelykenis? Waarom lyk dit asof hy alles net toelaat? Asof hy nie vinnig genoeg teenoor die onkruid optree nie?
Hierdie boer laat die onkruid toe om tussen sy koring te groei want Hy gaan láter – met die oes – wél optree. Hy gaan vir dié wat oes sê dat hulle die koring van die onkruid moet skei en dan sal hy hierdie onkruid verbránd. Geliefdes, die onkruid in hierdie gelykenis dui op die aanhangers van die Bose. Die vyand, wat die onkruid saai, is die duiwel. Die oes dui op die voleinding van die wêreld en dié wat oes is die engele. Dit alles sê Jesus Christus sélf vir ons in ons fokusgedeelte.
Soms lyk dit vir ons asof God nie in beheer van hierdie lewe is nie. Soms voel dit vir ons asof Hy toelaat dat die duiwel maak en breek nét soos hy wil. Maar mag hierdie gelykenis insig gee oor God-Drie-Enig se almag geliefdes. Nog voordat die werkers hom kom sê het dat daar onkruid tussen die koring opkom, het die boer rééds geweet wié dit daar geplant het. Geliefdes, niks is vir God onbekend nie. Niemand kan Hom verras nie. Niemand kan Hom uitoorlê nie. Selfs al is die duiwel hóé slinks en skelm wéét die Here van al sy bose planne en dade.
In die Here se alwysheid laat Hy toe dat die kinders van die Bose tussen sy kinders leef met ‘n doel. Hy verwag nie van ons om in ‘n klooster – totaal en al afgesonder van die wêreld – te leef nie. Dit sou net té maklik gewees het en té onnatuurlik gewees het. Nee, Hy plaas ons in die sondige wêreld maar eis van ons om ánders as die wêreld te wees. Daardeur word ons geloof in Christus verstérk en daardeur besef ons hoe nódig ons die Here het. Dit word van élkeen van ons verwag om élke dag teen die Bose rondom ons te stry en die geloofswedloop te voltooi – al is dit soms moeilik. Al was die koring-plante deur die onkruid omring het hulle stééds ‘n oes gelewer. Soos ons gehoor het, dui die oes op die voleinding van die wêreld. Die finale oordeel sal eers met die wederkoms van Christus plaasvind. Nét voor ons Koning weer op die wolke kom, sal Hy opdrag gee dat die finale oes ingesamel word. Christus sê in Mattheus 13: 39 dat dié wat die oes insamel, die engele is. Ons hoor dit ook in Mattheus 24: 31 waar ons lees: “Die trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde.” In Openbaring 14: 17 tot 20 lees ons óók van die engele wat oes: Ons lees dat hierdie engele elkeen ‘n skerp sekel gehad het wat hulle in die oes ingesteek het omdat die aarde ryp is vir die oes.
Ons lees hier van ‘n Dag wat sal aanbreek waarop die gelowiges én die ongelowiges van die aarde afgeoes sal word. En op daardie Dag sal die koring-oes van die onkruid-oes geskei word omdat die Boer verskillende doele met hierdie bondels het. In aansluiting by Openbaring 14 hoor ons in ons Skrifgedeelte wat van hierdie oes sal word. Ons hoor wat die Here, Jesus, met beide die koring én die onkruid sal doen. Húlle wat gelowiges verlei het om in sonde te val en wat God se kinders oorreed het om teen God te rebelleer, sal soos die onkruid verbrand word. Die kinders van die Bose sal in ‘n oond gegooi word wat vir éwig aanhou brand. “Dáár sal hulle huil en op hulle tande kners”, lees ons in vers 42.
Die koring sal egter ánders as die onkruid hanteer word. In die Here se genade sal God se uitverkore kinders vir éwig déél wees van God se koninkryk en hulle sal aanhou skitter soos die son (vers 43).
Slot
Geliefdes, mag hierdie gelykenis ons kennis oor God se koninkryk verbreed. Mag die gelykenis van die onkruid ons op die toekoms voorberei en mag dit ons vertroue in God versterk.
Soms tree God-Drie-Enig ánders op as wat ons sou verwag. Soms laat Hy dinge rondom ons gebeur wat nie vir ons sin maak nie. Soms voel dit asof Hy niks aan die sonde en die vyandskap en die haatdraendheid teenoor ons doen nie. Maar mag ons geduldig op sy optrede wag, geliefdes, want Hy gáán optree.
Al voel ons soms om sélf die onkruid te gaan uittrek, mag ons ons plek in sý koninkryk ken. Dit is Hý wat besluit wánneer om te oes en wát om met die oes te maak. Mag ons net in die geloof volhard en mag ons aanhou groei in ons geloof totdat Jesus Christus wéér na sy saailand toe kom. Amen.