Skrifgedeelte: Hebreërs 10: 11 – 25
Fokusvers: Hebreërs 10: 23
Tema: Omdat God getrou is, kan ons styf aan ons belydenis vashou.
Inleiding
Vanoggend het een van ons lidmate die voorreg om sy geloof in die Here te bely. En die res van ons het die voorreg om getuies van hierdie Geloofsbelydenis te wees. Maar wat presies beteken dit om ‘n mens se geloof te bely? Waarom doen ons dit en waarom is dit noodsaaklik? Mag ons vanoggend saam die antwoorde hierop in die Here se Woord gaan soek en ook dit vind.
God is getrou
Vir baie gelowiges voel dit soos ‘n reuse las wat van hulle skouers af is, wanneer hulle uiteindelik hulle geloof kan bely. Baie jong gelowiges is van mening dat dit maar net nóg iets wat hulle van die lysie moet afmerk. Dit is in hierdie tyd van ‘n mens se lewe wat jy baie dinge wil afhandel: Jy het bv. moontlik reeds jou leerlinglisensie en kan nie wag om jou motorlisensie te kry en met Matriek klaar te maak nie. Baie jong Christene dink op dieselfde manier oor die dag waarop hulle belydenis aflê:- dat dit maar net nóg iets is om af te handel voor ‘n mens in die sg. “grootmens-wêreld” ingaan. Dit is vir hulle amper soos ‘n mens se toegang om ‘n volwasse gelowige te wees. “Sodra ‘n mens jou geloof bely het, hoef ‘n mens nooit weer bekommerd te wees om die inhoud van die Bybel te leer nie” – só redeneer baie mense.
Wanneer ons aan ons Belydenisaflegging dink, dan behoort ons dádelik aan God se Verbond te dink. Die dag waarop ons of ons kinders hulle geloof bely, kan as die hoogtepunt van God se Verbond gesien word. Die beloftes wat ons tydens ons doop gehoor het, word vandag vervul! Vandag besef ons weer opnuut dat die Here ‘n Verbond met ons opgesluit het waarin Hy sekere dinge beloof maar ook sekere dinge van ons eis. Hy belowe vir ons dat Hy ons – deur die genade – van ons sondes reinig. Jy wat vandag jou geloof gaan bely, het reeds die teken van die doop gekry toe jy ‘n baba was. Regdeur jou lewe wýs die Here jou daarop dat Jesus Christus se bloed jou van jou sondes gereinig het. Die Heilige Gees herinner jou dat jy ook ‘n (doop)lidmaat van hierdie gemeente is en dat Hy jou daagliks wil nuutmaak. Van vandag af neem jy die verantwoordelikheid, wat jou ouers by jou doop gemaak het, op jouself.
Maar wanneer ons egter aan die Ou-Testamentiese Verbond dink – waarvandaan die Nuwe-Testamentiese Verbond kom – dan dink ons nie aan die teken van water wat ons skoonwas nie, maar aan bloed. Elke keer wanneer die Ou-Testamentiese priester ‘n offer gebring het, moes daar bloed gevloei het. Die priester het as middelaar tussen God en die sondaar opgetree en namens die gelowige ‘n rein dier geoffer. Hierdie offerdier is dan in die plek van die sondaar geoffer en sy bloed het namens die sondaar gevloei. Die mense het gemeen dat God eers die sonde van hulle sal vergewe indien daar ‘n offer gebring is, en daarom moes die priester gerééld opgestaan het om te gaan offer. Hy moes gedurig – alleen – agter die tempelgordyn ingaan om die offer te bring.
Maar dan gee die skrywer van Hebreërs vir ons insig oor die effektiwiteit van hierdie Ou-Testamentiese offers. Aangesien die hele Hebreër-boek as ‘n “kommentaar” op die Ou-Testament gesien kan word, gee die skrywer vir ons perspektief op sekere dinge. Geïnspireer deur die Heilige Gees wys die skrywer ons daarop dat die priesters se offers nooit gelowiges se sondes kon wegneem nie, want dit moes herhaaldelik gebring word (vers 11). En daarom blý hierdie Ou-Testamentiese priesters staan, geliefdes, want hulle is nooit heeltemal kláár met hulle werk nie. Dit wys ons daarop dat hierdie tipe offers oneffektief was en dat die bring van offers nooit eers ‘n vereiste van God was nie (vgl. Ps. 40: 7; 1 Sam. 15: 22). Net vroeër in Hebreërs 10 lees ons: “Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: ‘Dit is nie diereoffers en graanoffers wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U vir My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie.’”
En juis te danke aan Christus kan ons sien hoe God getrou bly aan sy beloftes. Want dit is alleen Jesus Christus wat God se Verbondseise kon vervul. Dit is alleen Hý wat aan ál die vereistes van ons Vader kon voldoen omdat Hy Priester is volgens die priesterorde van Melgisedek. Maar Hy is nie nét Priester nie, maar óók Koning – Hy is totaal en al almagtig! En daarom kon Hy die enigste Offer bring wat ooit deur God aangeneem word, want Hy offer Homsélf, geliefdes. Dit is nie vir Hom nodig om gedurig op te staan en te gaan offer nie, want die offer wat Hý bring is volmaak en heeltemal voldoende. Anders as die Ou-Testamentiese priesters, hoef Christus nie gedurig en aanhoudend ‘n offer te bring nie, maar ‘n eenmalige Offer. Hy bring ook nie ‘n dier na die offer-altaar nie, maar Hy bring Homself. Hy gee sy eie liggaam as offer vir alle uitverkore kinders van God.
Sy offer is dus nie oneffektief soos sy voorgangers se offers nie, maar uiters geldig en effektief omdat dit gelowiges uiterlik maar ook innerlik reinig. Te danke aan die historiese feit dat Hy Homself aan die kruis laat offer het, word alle gelowiges se sondes deur God vergewe. En daarom skeur die tempelgordyn soos ons daar in Markus 15: 38 lees. Die oomblik toe ons Verlosser aan die kruis sterf, ontvang gelowiges vrye toegang tot hul Vader. Deur sy verlossende genade is daar niks wat ons belemmer om sélf tot God te bid nie. Ons hoef nie meer deur ‘n menslike middelaar God te aanbid nie, want ons Volmaakte Middelaar, Jesus Christus, open vir ons die Weg na ons Vader. Hy vaar na die hemel toe op om dáár aan God se regterhand te gaan sit. Nadat Hy sy Priesterwerk hier, op aarde, voltooi het – toe Hy Homself as Offer gegee het – vaar Hy na die hemel toe op. Dáár heers Hy alléén oor sy vólle koninkryk terwyl Hy aan sy Vader se regterhand sit. En dít is ‘n vérdere onderskeid tussen Hom en aardse priesters: Hy bly nie staan omdat Hy gedurig en aanhoudend verskillende offers moet bring nie. Hy gaan sit as Koning op die troon want sy Priester-werk is voltooi – dit is volbring!
En juis daarin sien ons hoe getrou God-Drie-Enig is, geliefdes. Dit wat Hy gesê het, dit doen Hy! Omdat Hy ons wil deelmaak van sy Verbond, moet daar aan sekere vereistes voldoen word. En boonop is die Here se genade so groot dat Hy vir ons Iemand in ons plek stuur om te kom doen wat nie één van ons óóit sou kon regkry nie. Dit is alleen deur Hóm wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is, wat ons na ons getroue Vader toe kan gaan. En word van ons verwag om steeds – uit dankbaarheid – ons pligte van die Verbond na te kom. Veral wanneer ons op ‘n dag soos hierdie fisies kan sien hoe God in beheer van ons hele lewe is, kan ons Hom alleen daarvoor dank. Ons wil aan God alle eer en lof en aanbidding bring – want Hy blý getrou aan sy Woord. Hy dra ons en ons kinders deur die lewe en sorg élke dag vir ons gesinne. Te danke aan sy Genadeverbond bring Hy ons en ons kinders op ‘n punt waar ons openlik ons geloof in Hom kan bely – sonder om te huiwer en sonder om onsself ooit te skaam.
Hou daarom styf vas aan die belydenis en leef dit uit!
Hebreërs 10: 22 gee vir ons die versekering dat ons vandag God mag nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons mag dus met alle vrymoedigheid God-Drie-Enig nader en Hom loof omdat ons vandag sy getrouheid raaksien. Ons mag Hom prys omdat ons sy liefde teenoor ons en ons kinders op ‘n dag soos hierdie intiem mag ervaar. Van geslag tot geslag toon Hy sy onbeskryflike genade aan ons en daarom wil ons Hom verál loof! Ons dankbaarheid teenoor Hom dryf ons om presies vir ons Vader te vertel hoe ons teenoor Hom voel.
Die Heilige Gees gee aan ons ‘n dringende behoefte om ons geloof in God-Drie-Enig te bely. En niks keer ons nie, geliefdes! Want vers 22 sê immers dat ons harte van ‘n skuldige gewete gereinig is, en dat ons liggame met skoon water gewas is. Jesus Christus het dus ons hele menswees kom verander. Hy alléén bewerk versoening tussen ons en God. En met sy Hemelvaart beloof Hy dat Hy wéér sal kom om ons te kom haal. Hy gee vir ons die belofte dat ons en ons kinders in alle ewigheid nooit verlore sal gaan nie. Indien ons ‘n uitverkore kind van God is, sal niemand ons uit die Here se greep van genade kan ruk nie. Jesus sê in Johannes 10: 28: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie.”
En daarom fokus ons vanoggend verál op die woorde van Hebreërs 10: 23 wat sê: “Laat ons styf vashou aan die Hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” Ons het nou al reeds gesien dat God aan sy wonderlike beloftes getrou is, en omdat dit die Waarheid is, hou ons styf vas aan die Hoop wat ons bely. Maar wat presies is hierdie “Hoop” waarvan die skrywer van Hebreërs praat? Dit is om ‘n váste sekerheid vir die toekoms te hê, geliefdes. Hierdie Hoop is meer as om net te glo dat my toekoms veilig in God se Hand is – dit is om totaal en al oortuig daarvan te wees. Dit is ‘n váste Hoop – ‘n váste versekering – dat God se beloftes ook in die toekoms vir my, persoonlik, geld. Dit is om totaal en al seker te wees dat Christus ten volle vir my sondes betaal het en dat ek baie beslis die ewige lewe sal ontvang. Soos ons vroeër in die preek gehoor het, kan ons met alle vrymoedigheid aan hierdie Hoop in Christus vashou, want Hy het rééds alles weggeneem wat skeiding tussen ons en God bring. Ja, as gelowiges, behoort ons stýf hieraan vas te hou soos ons in ons fokusvers lees, en behoort ons onsself in te span om nooit van hierdie vaste sekerheid in ons harte te vergeet nie.
Iets ánders waarop die Heilige Gees ons gedagtes wil rig is op dít wat ons verder in ons fokusvers lees: Ons moet nie net styf aan ons Hoop op die Ewige lewe vashou nie – ons behoort óók hierdie Hoop te bely! Die oorspronklike betekenis van hierdie woord, “bely”, het ‘n baie spesifieke betekenis in die konteks van Hebreërs 10. Dit beteken hier “om saam met jou medegelowiges te praat” of, meer letterlik, “om dieselfde as die mense rondom jou te sê”. Wanneer ons dus ons Hoop in die Here bely dan beteken dit dat ons, saam met ons medegelowiges, openlik verklaar dat ons in God-Drie-Enig glo en alleen aan sy beloftes vashou. As liggaam van Christus neem ons standpunt in en verwoord ons die manier hoe ons in God glo. Dit is waarom ons tydens die erediens opstaan wanneer ons ons geloof bely – ons wil met ons hele menswees wýs dat ons God-Drie-Enig respekteer en ook vir die wêreld wýs dat ons, as gemeente, hieroor saamstem. En wanneer ons ons geloof bely, dan moet ons nie dink dat dit ‘n mensgemaakte Belydenis is nie, geliefdes. Alles wat ons in ons belydenis sê, is eintlik God se Woord. Want dit is die manier waarop God-Drie-Enig Homself in die Bybel aan ons bekendmaak.
Laastens word daar van ons verwag om nie nét hierdie kosbare belydenis in ons harte te hou nie, geliefdes. Ons word ook opgeroep om na mekaar om te sien en mekaar aan te spoor tot onderlinge liefde en goeie dade. Omdat ons lede van dieselfde liggaam is, behoort ons ook ons medegelowiges aan te moedig om die eredienste by te woon, want dit is hier waar ons op ‘n besonderse manier God se teenwoordigheid ervaar. Dit is hier waar God ons uit sy Woord onderrig, en waar ons ook mekaar met ons gawes kom bedien. En hierdie opdragte is vir elke belydende lidmaat geldig – ook vir jóú wat vandag jou geloof voor God en hierdie gemeente gaan bely.
Slot
Mag jy vandag die vrymoedigheid ontvang om jouself voor God-Drie-Enig te plaas. Mag jy Hom nader met volle geloofsekerheid en jou geloof openlik in Hom bely. Want saam met jou medegelowiges besef ons vanoggend opnuut dat Jesus Christus vir ons die Weg oopgemaak het na ons Vader. Ja, vandag is nie die eindpunt van jou geloofsonderrig nie, maar ‘n voortsetting daarvan.
Mag jy die beloftes wat jou ouers tydens jou doop gemaak het, sélf voortsit. Mag jy, van vandag af, sélf die verantwoordelikheid vat om naby aan jou Skepper te blý lewe en mag jy – regdeur jou lewe – Hom, alleen, áánhou vertrou. Amen.