Johannes 2: 13 – 22

Skrifgedeelte: Johannes 2: 13 – 22

Fokusvers: Johannes 2: 19

Tema: Jesus Christus herbou die tempel in drie dae. Vorm ons deel van sy bouwerk?

Inleiding

Ons lees twee keer in die Evangelies dat Jesus Christus die tempel gereinig het. Jesus reinig die Joodse tempel aan die begin van sy dienswerk en ook aan die einde van sy aardse lewe. Dit was dus nodig dat ons Verlosser twee keer die tempel moes reinig. Maar soveel klem word op die tweede tempelreiniging geplaas dat baie gelowiges dink dat Jesus dit net één keer gedoen het. En daarom kyk ons vanoggend na die meer onbekende:- die eerste tempelreiniging.

Jesus Christus herbou die tempel in drie dae

Die apostel, Johannes, is daarvoor bekend dat hy alles in sy Evangelie in kronologiese volgorde neergeskryf het. Johannes vertel dus o.a. van Jesus Christus se ewige bestaan, sy geboorte, as Mens, sy doop deur Johannes die Doper, die roeping van die dissipels, sy eerste wonderwerke én sy eerste Paasfees.

En dit is dan hierby waar ons vanoggend gaan stilstaan, nl. die gebeure rondom die Pasga in die stad, Jerusalem. Soos ons weet was dit die gebruik in daardie dae gewees dat al die Jode na die stad, Jerusalem, toe sou gaan om dáár Paasfees te vier. Alle Jode sou na hierdie stad toe reis vir daardie tyd, want dit was daar – in Jerusalem – waar die tempel gestaan het. Die gelowiges van daardie tyd het geglo dat God slégs in die tempel aanbid kon word en dat Hy – in ‘n sekere sin – in die tempel gewoon het. Daarom praat baie mense vandág nog van die “huis van God” as hulle oor die kerk praat. Natuurlik behoort ons te besef dat God alomteenwoordig is, en dat sy almag nooit tussen vier mure ingeperk kan word nie (2 Sam. 7; Hand. 17: 24 en 25).

Dit is iets wat die Here al in Dawid en Salomo se tyd vir gelowiges geleer het – want tóé al is die Tempel in Jerusalem gebou. Hierdie tempel is in die tyd van die Babiloniese Ballingskap vernietig maar ‘n tweede Tempel is in Jerusalem gebou. Hierdie tweede Tempel het in die heilige stad gestaan tot 70n.C waarna dit deur die Romeine verwoes is. Die tyd toe Jesus egter op aarde geleef het, was daar stééds ‘n tempel in Jerusalem, en daarom het Hy – saam met sy volksgenote – gegaan om die Pasga dáár te gaan vier.

Dit is dan hierdie Tempel wat ons in gedagte moet hou wanneer ons die Evangelies lees. In Johannes 2 is Jesus en sy dissipels nou op pad Jerusalem toe om die Pasga te gaan vier. Dit het sommer kort na sy doop gebeur. Sy amptelike dienswerk, as Messias, het dus begin. Uiterlik ontvang Hy die simbool deur Johannes die doper, maar innerlik word Hy met die Heilige Gees, sélf, toegerus. Hy is waarlik die “Lam van God” soos wat Johannes die doper Hom in die vorige hoofstuk bekendstel (Joh. 1: 29). Ja, Hy is die Seun van God, wat deur sy Vader aangewys is om die sonde van die uitverkorenes weg te neem (Joh. 1: 33, 34). En daarom doen Jesus Christus iets baie spesifieks wanneer Hy saam met sy dissipels by die Joodse tempel aankom. Met sy eerste besoek aan Jerusalem, na sy doop, reinig Jesus die tempel.

Van die vroegste tye af word God se kinders met “reinheid” en “heiligheid” geassosieer. God se volk is veronderstel om ánders as die volke rondom hulle te wees, want hulle is deur God afgesonder. God verwag van hulle om ánders as die goddelose wêreld op te tree, want hulle is na sy Beeld gemaak. God het hierdie mense na sy gelykenis geskep – dit beteken dat hulle sekere eienskappe van Hom besit. Deur die Here se genade behoort hulle o.a. opreg en liefdevol en geduldig te wees. ‘n Baie sterk kenmerk van die Skepper is dat Hy heilig is. Sy hele Wese is heilig – sy Naam (Luk.1: 49), sy dade (Ps. 98:1), sy weë (Ps. 77: 13) en sy Woorde is heilig (Ps. 105: 42). En daarom kan die Here voortdurend vir sy kinders die opdrag gee: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 20: 26).

En deur die genade is hierdie nie ‘n té streng opdrag van die Here nie, geliefdes. Die Here is nie onredelik wanneer Hy ons beveel om heilig te wees nie, want die Heilige Gees verbind ons op ‘n onlosmaaklike manier aan ons Skepper vas. Die gawe van geloof stel God se kinders in staat om dít wat ons in die Evangelie lees, prakties uit te leef. Maar hier, in die heilige stad, Jerusalem, het God se volk vergéét wat dit beteken om heilig te wees. Hierdie sg. “godsdienstige” mense het God se heiligheid verontagsaam en gedisrespekteer. Soos ons gehoor het, was daar mense wat onheilige praktyke in God se tempel verrig het. Mense wat ‘n aanvoeling vir besigheid gehad het, het die geleentheid raakgesien om – sommer daar by die tempel – die offerdiere te verskaf. Dit sou beteken dat die reisigers met baie minder moeite hulle tog na Jerusalem toe sou aanpak. Want dit was een van die groot redes waarom die Jode na Jerusalem toe sou optrek – afgesien van Paasfees, het hulle verskeie offers in die tempel laat bring.

Vir gerieflikheids onthalwe het die mense dan sommer bý die tempel die diere gekoop om die nodige offers te bring. Daar was selfs geldwisselaars by die tempel wat dan die reisigers se geld omgesit het in die regte geldeenheid indien hulle ‘n finansiële offer wou bring. Hierdie tipe gedrag en vorms van handeldryf was egter nie aanvaarbaar in die Here se tempel nie. Want hierdie handelaars moes besef dat hulle nou in die heilige God se teenwoordigheid is. Hulle moes weer daaraan dink dat die Here van sy kinders vra dat hulle optrede én ingesteldheid heilig moet wees nét soos Hy heilig is. Maar hulle liefde vir geld en hierdie oormaat van offerdiere het die tempel ontheilig. Want wanneer ‘n mens in die heilige God se teenwoordigheid kom, moet Hy as Heilige beskou en behandel word, geliefdes. Dit beteken dat gelowiges Hom moet eer (Lev. 10: 3), Hom moet loof (Ps. 96: 9) en Hom moet respekteer (Jes. 8: 13).

En daarom verjaag Jesus hierdie mense uit sy Vader se tempel, want hulle ingesteldheid en hulle optrede is onrein. Met sy eerste besoek aan Jerusalem reinig Jesus Christus die tempel want dit is die plek waar sy Vader aanbid word. Dit is die plek waar God op ‘n besondere manier teenwoordig is. Dit is nie die gebou, as sulks, wat heilig is nie, geliefdes, maar die feit dat God daar aanbid word, wat dit heilig maak.

En daarom reinig Jesus die tempel volledig, geliefdes! Selfs die offerdiere word weggeneem en vir die duiweverkopers sê Hy: “Moenie van My Vader se huis ‘n besigheidsplek maak nie!” Of soos Hy in Mattheus se Evangelie sê: “’My huis sal ‘n huis van gebed wees’, maar julle maak dit ‘n rowersnes” (Matt. 21: 13). Met hierdie almagte Woorde en werke van ons Here, Jesus Christus, open Hy weer ‘n pad vir gelowiges om God rég te dien. Hy neem alle hindernisse uit die pad sodat ons sy Vader op die régte manier kan aanbid. En Hy begin by middelpunt van die Joodse aanbidding van sy tyd – Hy reinig die binnekant van die Joodse tempel.

Te danke aan sy Woord wat ewig geldend is, reinig Hy ook gedurig die Christelike kerk vandág. Met sy Woord en Gees dring Hy tot binne-in die hart van gelowiges om ons van alle onreinheid te heilig. Konstant hervorm Hy ons sodat ons God-Drie-Enig op die régte manier mag aanbid. Ja, Hy neem alles weg wat skeiding tussen ons en Hom mag bring – ook die sg. “godsdienstige dinge” wat soms só onskadelik kan lyk, maar wat met sóveel sonde oortrek is. Selfs nádat Hy die tempel gereinig het, vra die Jode van Jesus ‘n teken sodat hulle ‘n bewys kan kry dat Hy hierdie dinge mag doen. In hulle ongeloof dwing hierdie Joodse leiers hulle gesag op Hóm af wat alle gesag in die hemel en op aarde het (Matt. 28: 18). En dan antwoord Hy hulle met die woorde van ons fokusvers en sê: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal ek dit weer oprig”.

Deur die genade van die Heilige Gees besef ons vandag dat Jesus nie hier van die fisiese tempel in Jerusalem praat nie – Hy praat van sy éie liggaam. As Hoogste Profeet kondig Hy vooraf sy dood en opstanding aan en natúúrlik gaan sy Woorde dan in vervulling, geliefdes. Want láter in sy lewe gee Jesus vir hierdie Jode die teken waarna hulle in Johannes 2 opsoek is, maar hulle herken dit nie. Jesus hét die gesag om die tempel in Jerusalem – die plek van aanbidding te reinig. Want wanneer die Jode die Tempel afbreek dan herbou Hy dit in sy almag binne drie dae. Wanneer die Jode sy liggaam doodmaak en Hom aan die kruis laat sterf, dan staan Hy ná drie dae uit die graf uit op! Hy oorwin die dood en sodoende vervul Hy wat Hy sélf aan hulle beloof het. Die wáre tempel – die liggaam van Christus – word herbou! 

Vorm ons deel van Christus se bouwerk?

Sodoende reinig Hy nie net die tempel van onrein offerdiere en onrein mense nie – Hy bring ook die volmaakte Offer. Aan die kruis offer Hy Homself en bring Hy vergifnis vir gelowiges se sonde. En daarom is dit nie meer vir ons, vandag, nodig om offers te bring nie. Ons het in verlede week se preek ook gehoor hoe sý Offer aan die kruis volkome en volmaak is. Deur hierdie een Offer word ons sondes van ons weggeneem, maar ontvang ons ook die genade om deel van die liggaam van Christus te wees.

Telkens in die Skrif lees ons hoe ons, as gelowiges, deel van die liggaam van Christus is. Ons lees bv. in 1 Korintiërs 12 dat ons, as gelowige gemeente, die liggaam van Christus vorm en afsonderlik is elkeen van ons lede van sy liggaam. Efesiërs 2: 20 en 21 sê vir ons: “Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Jesus Christus sélf die Hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ‘n heilige tempel vir die Here, in Wie julle ook saam opgebou word as geestelike huis waarin God woon.

En hierdie gedagte word dan ook baie spesifiek aan die Nagmaal gekoppel. Anders as die Jode in Jesus se tyd, vier ons nie vandag die Pasga nie maar die Heilige Nagmaal. Ons herdenk vanoggend die kruisdood van ons Here, Jesus Christus. Ons dink vanoggend weer aan die feit dat Hy sy liggaam as Offer gegee het sodat ons vandag hier aan Tafel kan kom aansit. Vanoggend ontvang ons die voorreg om deel te hê aan sy liggaam en aan sy bloed. Wanneer ons Nagmaal vier, dan ervaar ons op ‘n besondere manier gemeenskap met Jesus Christus – deur sy Woord en Gees is Hy teenwoordig aan Tafel. En daarom noem ons dit die “Heilige Nagmaal” geliefdes. Hierdie oomblik in die erediens is besonder gewy want ons het deel aan die Heilige God se volmaakte Offer.

Slot

Daarom behoort ons elkeen onsself vanoggend af te vra: “Vorm ek nog werklik deel van die Liggaam van Christus?” “Is hierdie gemeente vir my nog belangrik en beskou ek myself as ‘n lid van hierdie Kerk? “Is ek wérklik ‘n aktiewe lid van Christus se liggaam?” “Of kom ek maar net so nou en dan nog eredienste toe?” “Sien ek myself as ‘n lewende steen van die gebou van God?” “Hoe sien die ander mense my?” Belangriker nog: “Is ek bruikbaar vir die bouwerk waarmee Christus in hierdie gemeente besig is?” Sien ons nog die waarde van die liggaam van Christus, geliefdes? Besef ons watter groot voorreg dit is om deel te wees van sý liggaam? Om deel te hê aan ons Verlosser se lewe en dood?

En dan behoort ons óók aan ons ingesteldheid te dink wanneer ons eredienste bywoon of persoonlik tot God bid. Dink ons aan Hom as totaal en al Heilig en het ons nog die nodige respek vir sy teenwoordigheid? Of doen ons dalk ook maar sekere dinge omdat dit vir ons – oor die jare – gerieflik geraak het? 

God-Drie-Enig blý, van alle ewigheid af, getróú aan sy beloftes! Wanneer Christus sê dat Hy binne drie dae die tempel sal opbou wat sy vyande afgebreek het, dan dóén Hy dit. Wanneer Hy by vanoggend se Nagmaal aan my beloof dat ek mag deel in sy dood en opstanding, dan realiseer dit. Ja, geliefdes, deur sý almag en op grond van sý genade vorm ons élkeen deel van die Liggaam van Christus – wat beteken dit vir jou, persóónlik? Amen.